Die soet smaak van mondigwording

  • 0

Ek skryf hierdie resensie oor ’n konsert wat net een speelvak gehad het, maar wat ek in Utopie elke aand op ’n ander dorp sou wou sien. Mense sou vooruit stap met pamflette om elke dorpenaar te nooi na die plaaslike skoolsaal, gemeenskapsentrum, kerksaal. En as daar nie ’n saal is nie, sal daar iewers ’n plaasskuur of kerktent of landboukoöperasie se saaddepot wees, oral waarin mense ook al kan vergader. Mense sal na werk hul oorpakke, uniforms, togas, dasse en stetoskope ophang en na die vertoning kom. Daar sal soms genoeg stoele wees, soms hooibale, soms kratte. Maar sit sal almal kan sit.

Daar is dalk iemand wat springmielies of toffieappels verkoop; dalk spookasem of koesisters of lassi of samoesas. Kerrie en rys in die een hoek, boeber in die ander.

Die vertoning waarvan ek praat, is 21. Die plek was die Suidoosterfees, waar 21 die mondigwordingspartytjie van die fees was.

Stel jou voor: drie bekende seremoniemeesters: Marion Holm, Sandra Prinsloo, Vinette Ebrahim. Die Kaapse Filharmoniese Orkes in al sy glorie onder leiding van die begeesterde dirigent, Brandon Phillips.

Anna Davel en Babalwa Mentjies

Corneil Müller

Elzabé Zietsman

Dan ’n groep kunstenaars so wyd soos Anna Davel, Babalwa Mentjies, Coenie de Villiers, Bilqees du Plessis, Early B, André Schwartz, Lynelle Kenned, Elzabé Zietsman, Niël Rademan, Corneil Müller, Nicole Holm, Frazer Barry, Selim Kagee, Sima Mashazi, Edith Plaatjies, Donveno Prins, Nic Miso, Madeegha Anders, Jawaahier Petersen en Loukmaan Adams. Almal een na die ander op die verhoog.

Sandra Prinsloo

En uit die mond van Sandra Prinsloo: Die verhoog en die saal sou baie anders gelyk het as ons vir Taliep Petersen, Lucas Maree, Gloria Bosman, Miriam Makeba en Johannes Kerkorrel ook daar kon hê. Ons sal hulle nooit vergeet nie.

Marion Holm vertel: “As ’n baba gebore word, dan weeg en meet mens hom gereeld om seker te maak hy groei genoeg en niks skort nie. Wel, van 2019 tot 2023 het die Suidoosterfees se bywoning met 119%, en inkomste uit kaartjieverkope, met 125% gegroei. Duidelik het die kind mooi gegroei en is nou ’n volwassene. Volgens die geneesheer Duncan MacDougal se navorsing is die fisiese gewig van ’n mens se siel 21 gram.”

As die verhoogligte in alle kleure van die reënboog oor die gehoor speel, sien jy die demografie van Suid-Afrika. Elke kleur, elke kultuur, elke ouderdom is daar. Hulle is in poniesterte en toetoes; in rolstoele en met krukke. Daar is blink rokke en hoë hakke; daar is sweetpakbroeke en bont tekkies; daar is linnebroeke met dik witsool-seilskoene. Die gemene deler is die kunste; maar belangriker nog, die kunste in Afrikaans.

In my skoot lê die feesprogram, waar die woorde op bladsy 11 alles so mooi saamvat:

Die Suidoosterfees onderskryf en gee uitvoering aan wyle prof Jakes Gerwel, een van die stigterslede, se visie van ’n geleentheid waar alle mense welkom is en sonder enige bedreiging of beletsel hulleself kan wees. Daarom is hierdie fees ’n oop, veilige ruimte vir vrye en diverse artistieke uitdrukking waar geen diskriminasie, in watter vorm of gedaante ook al, geduld word nie.

Dis net so ’n paar bladsye ná Marlene le Roux, uitvoerende hoof: Kunstekaap, se boodskap:

My grootste, nie-onderhandelbare wens vir Artscape is en was nog altyd dat dit ’n tuiste vir almal moet wees; om seker te maak dat die woord inklusiwiteit nie net op papier bestaan nie.

Vanuit die staanspoor is die Suidoosterfees as ’n multikulturele geleentheid geposisioneer, met Afrikaans as die gemene deler. Die fees is ’n belangrike forum vir kulturele kruisbestuiwing, intellektueel en fisies.

Dit is ’n fees vir ONS, vir ALMAL, in sy toeganklikheid en met sy eie besonderse identiteit waar kunstenaars die geleentheid het om onvertelde stories op die planke te bring. En dit is 100% in pas met Kunstekaap se beleid. Ek verwelkom almal met ’n oop hart en ’n oop deur.

Dis die warmte wat jou soos ’n kombersie omvou in daardie twee ure in die donker. Soos een na die ander ster op die verhoog verskyn, kom verskillende dele van die gehoor se lewendigheid na vore. ’n Meksikaanse golf in stadige aksie, op ’n Afrikaïese manier. Vir elke liedjie is daar iemand iewers wat saamsing; vir elke naam wat aangekondig word, is daar iewers iemand wat fluit of klap of asem intrek.

Die staande toejuigings vir kunstenaars verskil ook. Soms staan ’n hele ry op en klap oordadig; ander kere is dit so spikkel-spikkel soos waterpokkies op ’n kind se rug. Dis soos daardie dansspeletjies waar die ligte op verskillende knoppe ophelder en jy moet dans. Die dansvloer nooit heeltemal helder nie, altyd stuk-stuk sodat die pret langer kan hou.

Frazer Barry

Frazer Barry se “Sout vannie selle traan” lê die fondament vir die aand. Ons is inderdaad almal van hier, almal een. Hy sing alleen met die hele orkes. Hy own daai space.

Soos hy beaam “Dis wie ek is, is die wonder, is die stem van die Kaap; dis hier waar ons bymekaar gekom het. Ons is sout vannie selle traan, sout van die oseane”, is dit een gehoor wat klap, nie ten dele nie.

Vinette Ebrahim vertel:

Ons vier nie net musikante en sangers vanaand nie, maar ook ons storiemakers – ons skrywers en digters. Veronique Jephtas is ’n 23-jarige skrywer, aktivis, digter en aktrise van die Paarl.

Sy lees hierdie mooie woorde van Veronique:

Woelie wielie waalie

daa oorie berg
kô die suidooster aangestap
heupe swaai
woelie wielie waai

die berge beweeg oor elke klip mettie
stad se lawaai
’n hallo hie
’n hallo daa
af in Roelandstraat virre lang bier
by Kimberly's bar
tot stil kô sy
nou
daa oorie pad loepie suidooster gou
in hurry soes jy op pay day sou
gepla mettie gewoel
woelie wielie waai
dis ’n onrustige gevoel
’n dalk môre hie
’n sien jou volgenne
wiek daa

af hys toe sonne ’n
ma of pa
daa is sy gebore
in ’n woelige stad
woelie wielie waai
in ou ouma se overall gedraai

Waai waai waai
loep vind jou slaap
langs die
baai.

Dis egter Lynelle Kenned se woorde toe sy vir Bilqees du Plessis aan die gehoor voorstel wat my nog lank sal bybly:

Almal van ons het iewers begin, almal vanaand op die verhoog onthou die eerste keer met ’n simfonieorkes, en die eerste keer wat jy op die verhoog stap en deel raak van die land se musiekfamilie. 

Een van die dinge wat die Suidoosterfees uniek maak, is ’n aantal ontwikkelingsprojekte wat ontluikende skrywers, sangers en kunstenaars oplei en ondersteun en hulle geleentheid gee om saam met professionele kunstenaars en orkeste op te tree. Ons het natuurlik een van hierdie lieflike jong sterre op vanaand se program. Wat ’n lekkerte om te sien hoe ons jong mense die fakkel dra; met trots dan, ’n hele 21 jaar oud, net soos die fees, ’n vorige wenner van Suidoosterfees talentsoektog!

En toe almal amper aan die einde van die konsert saam sing aan “Happy birthday”, voel jy daardie verjaardaggees; die gees van optimisme.

Coenie de Villiers en André Schwartz

Dis ’n groep sangers wat die koortjie van Coenie de Villiers se “Karoonag” eggo:

Ruik jy katbos en ruik jy kambro
As dit reën in die Kleinkaroo
My hantamwind
My optelkind
Vanaand.

Die vlakte van die Karoo kom lê in almal se harte.

Maar dis Amanda Strydom se woorde wat die boodskap van Afrikaans en haar towerkrag verder tuisbring:

En ek kan rock in my taal;
Ek maak amok in my taal;
En ek kan skok in my taal, ja;
Ek kan rock in my taal!

Edith Plaatjies het egter die laaste word met “African dream” waar sy sing van die nuwe môre; maar alleen is haar droom net ’n droom. Al wat sy wil hê, is dat ons harte soos een moet klop. Om die verwarring stil te maak. Dan sal die pyn en die illusie weer verdwyn.

Kan jy jou indink as hierdie twee ure se vreugde na jou dorp kan kom? Wat dit vir jou dorp se eenheid onder mense kon beteken? As ons harte saam kan klop, soos een?

Dat almal vir 120 heilige minute Afrikaans in al sy inklusiewe glorie sou kon vier. Of jy “om die” of “ommie” sê; “hallo” of “awê”; of “dankie” of “sjoekran/shoekran/shukran” verkies; dit maak nie saak nie: dis alles Afrikaans.

Afrikaans. “Dis die taal van my hart.”

Foto’s: Clifford Roberts

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top