...
Die mite van ’n heldhaftige, seëvierende Russiese weermag met die morele hoë terrein aan hulle kant is op hierdie stadium van die oorlog deeglik aan flarde gelê.
...
In ’n onlangse onderhoud met Freek Robinson beweer Gerrit Olivier, voormalige Suid-Afrikaanse ambassadeur in Rusland, dat Rusland voor die oorlog in Oekraïne ’n “groot mag in die wêreld” was, en na die oorlog, met of sonder Poetin, steeds een sal wees. Daarom, vervolg hy, behoort Suid-Afrika hom hierna te skik en sy diplomatieke betrekking met Rusland uit te bou. Hy baseer sy bewering op twee aannames: Eerstens is dit nie ’n gegewe dat Oekraïne die oorlog sal wen nie, want Rusland het deur die loop van die geskiedenis, soos tydens Napoleon en Nazi-Duitsland se invalle, bewys dat hy “veg tot die laaste”. Tweedens sal sanksies teen Rusland nie die Russiese ekonomie grondig skaad nie, want Poetin het “hoogs intelligente” ekonomiese adviseurs om die ekonomie deur te haal. Die onderhoud verskyn hier.
Hoe waar is hierdie bewerings? Wat die Russiese ekonomie betref, lyk die situasie tans glad nie rooskleurig nie. Dis waar dat sanksies tyd neem om die mikro-ekonomie op ’n groot skaal te begin beïnvloed. Dit moet egter in gedagte gehou word dat die instelling van sanksies teen Rusland voortdurend eskaleer, in tandem met die eskalering van Russiese militêre aggressie teen burgerlikes. Die EU het onlangs besluit om ’n agste sanksiepakket teen Rusland in te stel. Die instelling van 'n negende pakket deur die EU se raad van buitelandse sake is in die pyplyn, tesame met besprekings oor die konfiskering van gevrieste Russiese staatsbates en die instelling van ’n spesiale tribunaal om Rusland se aggressie in Oekraïne te hanteer.
Hoe effektief is hierdie sanksies? Op 11 Maart berig NPR (National Public Radio) reeds hoe sanksies gewone mense negatief raak, en gesels met ’n Russiese ekonoom oor die inkrimping van die Russiese ekonomie:
Die roebel se herstel na dit sterk geval het in die eerste weke van die oorlog, het kritici gou laat besluit dat sanksies weinig effek op die Russiese ekonomie het. Die feit is dat die roebel se herstel kunsmatig georkestreer is om as sein aan die Weste te dien, eerder as dat dit verband hou met reële ekonomiese groei, soos die Wall Street Journal op 28 Maart berig.
In The Economist skryf Konstantin Sonin op 5 September dat die soort kapitalisme wat in Rusland heers, waar ministers, burokrate en top bestuurders van staatsindustrieë direk finansieel voordeel trek uit beperkte kompetisie, die soort ekonomiese hervormings wat nodig is om die ekonomie op lang termyn te red (en die oorlog aan te hou finansier), te stewig ingeburger is om verander te word:
Twee vooraanstaande akademici van Yale-universiteit verduidelik in Foreign Policy op 22 Julie dat die Russiese ekonomie inderdaad besig is om in te plof, en dat die omvang daarvan selfs groter is as wat vermoed word, aangesien syfers wat deur Rusland vrygestel word, nie betroubaar is nie:
Daar word voorspel dat Rusland se bruto binnelandse produk (BBP) teen die einde van die jaar VSA$1,4 triljoen sal haal. Dis minder as die Amerikaanse staat Texas s’n vir die jaar 2021 (1,83 triljoen). Rusland se BBP per kapita word geraam op VSA$9 500 teen die einde van die jaar. Time berig dat ’n interne verslag wat vir die Russiese regering opgestel is, voorspel dat in twee uit drie moontlike scenario’s die ekonomie eers na ’n dekade na die vlakke van voor die oorlog sal herstel.
Hoe die bogenoemde strook met die opvatting dat die Russiese ekonomie se probleme van 'n tydelike aard is en deur “hoogs intelligente” adviseurs bestuur word, is moeilik om te begryp. Ten tye van die histerie in Rusland oor die tekort aan roebels (die Kremlin wou toe die Weste dwing om hulle skuld in roebels te betaal) het een van die Kremlin se “hoogs intelligente” adviseurs vol bravade aangekondig dat dit geen probleem is wanneer ’n tekort aan roebels ontstaan nie, want “dan druk ons net meer”!
Die ander punt wat deur Olivier genoem word, handel oor die “onoorwinbare Russiese weermag” wat tydens Napoleon en Nazi-Duitsland se invalle bewys het dat hulle “tot die einde” veg. Dis goed en wel, maar daar is een belangrike verskil. In bogenoemde gevalle is Rusland op sy eie bodem bedreig en móés hy noodwendig vir sy eie voortbestaan veg. Die situasie is nou omgekeer: Dis die voortbestaan van Oekraïne wat deur ’n brutale inval op sy soewereine grondgebied bedreig word. Oekraïners se heldhaftigheid is geanker in hierdie een belangrike feit: Hulle het geen ander keuse nie. As iemand dus hier gaan “veg tot die einde”, is dit die Oekraïners.
Aan die ander kant het die lae moraal van die Russiese troepe oor die afgelope maande wêreldwyd duidelik geword. Verhale van selfbesering is legio. In hierdie onderskepte telefoongesprek raai ouers hulle seun aan om ’n been of arm te breek ten einde huis toe gestuur te word:
Onlangs het ’n hele peloton na bewering hulle bevelvoerder wat hulle beveel het om aan te val, vermoor en daarna oorgegee.
’n Kitslyn, “Ek wil leef”, wat onlangs deur die Oekraïense weermag ingestel is, bedien Russiese soldate wat wil oorgee van raad hoe om te werk te gaan. Meer as 2 000 oproepe is al ontvang ten tye van hierdie skrywe.
In hierdie onderskepte gesprek beskryf ’n Russiese soldaat die hel waarin hy hom bevind.
Die ongeveer 700 000 Russiese mans wat landuit gevlug het om die jongste mobiliseringsveldtog te ontvlug, is natuurlik gelukkiger, oftewel meer gegoed. Vir die vele minder gegoede Russiese mans bestaan die opsie van landuit vlug nie. En wanneer geld en nuwe motors (Ladas) beloof word as aansporing om te gaan veg, vergemaklik dit dalk die besluit om aan te meld. Dit moet egter bygesê word dat die Russiese motorvervaardigingsbedryf, net soos die vervaardigingsbedryf oor die algemeen, sleg geknou is, en daarom word beloftes van nuwe motors afgeskaal. In die arm sentraal-Asiese streke soos Dagestan word vyf kilogram bevrore vis beloof. Die leuens waarmee die mobiliseringsveldtog ingestel is, kan kwalik vir die Russiese bevolking weggesteek word. Mans, en nie slegs militêre reserwelede nie, word voor die voet opgeroep, en soms in die openbaar voorgelê. Min of geen opleiding nie word verskaf, en so meer.
...
In Suid-Afrika voer die idee van Rusland as welmenende ondersteuner in die stryd teen apartheid nog hoogty. Dit dien as motivering vir baie mense om fatsoenlik “neutral” te staan in hierdie oorlog, of openlike steun aan Rusland te gee.
...
Die mite van ’n heldhaftige, seëvierende Russiese weermag met die morele hoё terrein aan hulle kant is op hierdie stadium van die oorlog deeglik aan flarde gelê. Dis buitendien bloot logies dat die Russiese weermag onmoontlik die morele hoё grond kan beklee in hierdie oorlog, aangesien hulle verantwoordelik is vir die onwettige en ongeregverdigde inval van ’n soewereine land. Mense wat weier om hierdie mite te laat vaar, sien ook nie in dat die misdrywe wat die Russiese soldate pleeg, ’n aanduiding van die degraderende sosio-ekonomiese toestand in Rusland self is nie. Vir die doel van politiekery is dit vir sulke mense noodsaaklik om kontinuïteit tussen die Sowjetunie en die huidige Rusland voor te hou, en vir daardie doel is die mite van die onoorwinlike Russiese weermag van hulp.
In Suid-Afrika voer die idee van Rusland as welmenende ondersteuner in die stryd teen apartheid nog hoogty. Dit dien as motivering vir baie mense om fatsoenlik “neutraal” te staan in hierdie oorlog, of openlike steun aan Rusland te gee. Die steun van die Sowjetunie in die stryd teen apartheid is onbetwisbaar, of dit edelmoedig of met bymotiewe was of nie. Die feit is dat die Rusland van vandag ideologies met die Sowjetunie niks gemeen het nie. Rusland is nie meer ’n kommunistiese staat nie, en allermins ’n werkersparadys waar almal “gelyk” is. As jy teenswoordig ’n ondersteuner van Rusland is, ondersteun jy ’n hoogs ondemokratiese, totalitêre regime waar menseregte en vryheid van spraak geen plek het nie. Rusland het teenswoordig meer politieke gevangenes as op enige tydstip gedurende die Koue Oorlog. Gesinsgeweld, xenofobie en rassisme is endemies en geniet die stilswyende steun van gesagsdraers en wetstoepassers. Die dilemmas wat hierdie feite vir Suid-Afrikaanse Rusland-ondersteuners inhou, is in ’n vroeëre artikel bespreek.
’n Baie belangrike faktor in die oorlog is juis die morele aspek. Neem Izioem byvoorbeeld, ’n dorpie in Oekraïne, sowat 120 km suidoos van Kharkiv op die grens met die Donetsk-streek. Voor die oorlog was daar sowat 46 000 inwoners, nou is daar ongeveer 10 000 oor. Tydens Rusland se inval word die dorp beset. Daar is grootskaalse vernietiging. In September loods die Oekraïense weermag 'n teenoffensief in die streek. Die besetters word verdryf en Izioem bevry. Spoedig word begraafplase vol vlak grafte in nabygeleë woude ontdek.
Die nuus van Izioem lok, net soos vroeër van Bucha, wêreldwyd skok, afsku en verontwaardiging uit. Op 24 September is die opgrawingswerk by Izioem voltooi: 447 liggame is opgegrawe; 22 is dié van Oekraïense soldate, 215 van vroue, 194 van mans, vyf van kinders; 11 liggame is so vermink dat hulle geslag nie vasgestel kan word nie; 30 liggame het beweerde tekens van marteling: toue om die nek, hande agter die rug vasgebind, gebreekte bene, kopskote. Verskeie mans het na bewering geamputeerde genitalia.
Ukrinform, die Oekraïense regeringsnuusagentskap, berig dat Oekraïense wetstoepassers tot dusver 40 233 oorlogsmisdade en misdade van aggressie teen burgerlikes deur Russiese soldate opgeteken het. 423 kinders is gedood en 810 tot dusver in die oorlog beseer. Meer as 100 gevalle van verkragting en seksuele aanranding is deur die VN geverifieer. Die ouderdomme van die slagoffers wissel van 4 tot 82 en sluit meestal vroue, maar ook seuns en mans in (Ukrinform.net, 16 October). 6 221 burgerlikes is ten tye van hierdie skrywe gedood en 9 371 beseer, berig war.ukraine.ua. Laasgenoemde is ook ’n amptelike webwerf, en hoogs informatief. Gaan gerus na die War Crimes-afdeling, maar wees gewaarsku, die inligting en beeldmateriaal daar mag ontstellend wees.
Hierdie gebeure vind, soos die laasgenoemde webwerf beklemtoon, teenswoordig plaas, in die middel van Europa. (Kyk gerus na die Food Security-item om te sien hoe één aspek van die oorlog die hele wêreld raak.) Reeds voor die eerste gruweldade deur Russiese soldate in Irpen en Bucha bekend geword het, begin veldtogte om Rusland op kulturele, sport- en wetenskaplike gebied te isoleer. Ten tye van die Izioem-onthullings begin debatte oor visums aan Russiese toeriste na Europese lande plaasvind. Die bekendmaking van oorlogsmisdade gee telkens verdere impetus aan hierdie prosesse.
Buitelandse Rusland-ondersteuners is soms ruimdenkend genoeg om toe te gee dat Poetin dalk nie die beste leier is wat ’n land kan hê nie, maar hulle erkenning word altyd onderlê deur nog ’n mite: dat alles wel is met Rusland en die Russe – wag net vir Poetin om te verdwyn. Nee, die “Poetin-is-nie-Rusland-nie”-siening is nóg ’n mite wat ook besig is om te verkrummel, en terloops ook een wat graag deur Russiese “liberale” gehuldig word. In werklikheid is die skade wat Poetin tydens sy 20 jaar lange alleenheerskappy aan die Russiese samelewing (die kondonering van groeiende ultranasionalisme), die ekonomie en verhoudings met die buiteland aangerig het, van ’n aard wat dekades gaan neem om te herstel, indien hoegenaamd. Dis nie ’n kwessie van verwyder die man en alles gaan weer reg wees nie. Rusland vandag ís Poetin se maaksel; Poetin is baie dééglik Rusland – die volgende artikels, een deur Time en ’n ander deur Project Syndicate, illustreer hierdie punt.
Wat betref die mislukking van demokratisering in Rusland, hier ScienceDirect se berig.
Dis dalk nie ’n gegewe dat Oekraïne die oorlog sal wen nie, maar hoe Rusland die oorlog kan wen, is duister. ’n Volskaalse kapitulasie aan Oekraïne se kant, soos Poetin in sy geïsoleerde waandenke voor gehoop het, is ondenkbaar. En selfs al gebeur so iets, is dit ewe ondenkbaar hoe ’n verarmde Rusland ’n land van 600 000 vierkante kilometer en 40 miljoen plus opstandige inwoners onder dwingelandy sal kan bestuur. Oorloë van verowering op so ‘n skaal is haas onmoontlik in die 21ste eeu, maar Poetin se denkwêreld is, soos duidelik geword het, stewig veranker in die eerste helfte van die vorige eeu.
Ongeag watter resultaat die oorlog oplewer, is dit duidelik dat Rusland vir dekades daarna ’n verarmde, internasionale paria gaan wees. As dit heelhuids oorleef en nie deur sy eie interne konflikte uitmekaargeskeur word nie, is die enigste manier waarop dit ’n “belangrike mag in die wêreld” sal wees, ’n negatiewe een – ’n terroristestaat (soos reeds deur die Europese parlement benoem) wat die wêreld met kernwapens afdreig en sy bure terroriseer met missielaanvalle op burgerlike wonings en infrastruktuur. Dis kwalik die soort land waarmee dit ’n prioriteit behoort te wees om diplomatieke betrekkinge te handhaaf, soos Gerrit Olivier voor pleit. Dis natuurlik as mens nie willens en wetens aan die verkeerde kant van die geskiedenis wil beland nie.
Die wêreld gaan beslis anders lyk na die oorlog, en dit sal ontwikkelende lande soos Suid-Afrika loon om nou reeds te begin oriënteer ten einde nie in die as (axis) van muishonde van die wêreld verstrengel te raak nie. Die Oekraïense regering beplan ’n program om uit te reik na lande wat buite stemming gebly het tydens die VN-veiligheidsraad se stemming om Rusland se anneksering van Oekraïense grondgebied te verwerp. Dit mag Suid Afrika op die lang duur baat om sy morele kompas op dreef te kry en liewer dáárdie hand te vat.
Lees ook:
Enkele dilemmas vir Suid-Afrikaanse Poetin-Rusland-ondersteuners
Kommentaar
Tydsame artikel. Na die eerste wêreldoorlog, is die Russiese weermag oorrompel deur die veel kleiner, en swakker, Pole in 1920, tydens die slag van Warsaw. Lenin is geforseer om oor te gee.
Die gevoel deesdae is: as Pole die oorwinner was in 1920 teen Rusland, kan Oekraïne ook vandag as oorwinnaar uit hierdie stryd tree.
Wag 'n bietjie, David. Was dit nie Pole wat Oekraïne ingeval en tot duskant Moskou gevorder het nie? En was dit nie Lenin se weermag wat die Pole al die pad tot by Warskou teruggedryf het nie? En het Oekraïne nie toe, in 1922, besluit om by die Sowjet-Unie aan te sluit nie?
Daar is 2 aspekte van hierdie artikel wat my opval. Die eerste is dat dit die "Westerse" vertolking van die gebeure napraat. Die idee dat Oekraïne die oorlog kan wen lyk vir my soos wensdenke. Van dag een af smeek Zelynskyy vir hulp in beide toerusting en soldate terwyl hy in militêre groen T-hempies paradeer en by een land na die ander aanklop vir bystand, 'n erkenning dat sy land nie self die oorlog kan wen nie..
Tweedens voer die skrywer aan dat hierdie oorlog, anders as WOI en WOII, nie op Russiese grond geveg word nie. Korrek, maar 'n halwe waarheid. Die inwoners van die Donbas (soos Krim) is grootliks (90%?) etniese Russe wat sedert 2014 erge onderdrukking en bombarderings ondervind. Die Russiese psige, wat die skrywer mbt vorige oorloȅ meld, is sodanig dat (i) dit daardie gebied en mense as hulle eie beskou, en tot die dood sal verdedig, en (ii) Rusland het nog nooit "skoon" baklei nie en is bereid om opofferings te maak wat vir ons "westerlinge" onaanvaarbaar sou wees.
Ons het dus 'n lang en vuil oorlog op hande, een wat Oekraïne nie op sy eie kan wen nie, en geen Europese land of die VSA het die lus om self daar in te tree nie. Wapens, ja, sanksies, ja, maar nie die voete op die grond wat 'n oorlog wen nie.
Ek is bly die eerste deel van die kommentaar word as vrae gestel. Hier is die antwoorde:
1. Die Rooi weermag se teenoffensief in Junie en Julie van 1920 dryf die Poolse magte terug tot by Warskou. Daar word gevrees dat Warskou gaan val. In die middel van Augustus draai die wending; die Poolse magte kry onverwags die opperhand en behaal ’n beslissende oorwinning met die Slag van Warskou (12 tot 25 Augustus). Dis hierdie slag wat David Willers na verwys. Die Poolse magte sweep weer ooswaarts, en die Sowjette besluit om vrede te sluit – ’n skietstilstand tree in op 18 Oktober. Dus, geen, “toe dryf die Russe hulle weer terug nie.”
2. Oekraïne “besluit toe om by die Sowjetunie aan te sluit in 1922”. Hier is die antwoord nie ’n maklike ja of nee nie. Die geskiedenis van Oekraïne is veels te verwikkeld daarvoor. Teen 1919 byvoorbeeld, was daar ses verskillende waarmagte in onderlinge gevegte op die teenswoordige Oekraïense grondgebied aktief –die Oekraïners, die Bolsjewiste, die “Wittes” (hulle het teen die Bolsjewiste geveg om beheer van Rusland), Franse troepe, Pole en anargiste. Al gehoor van die Oekraïense onafhanklikheidsoorlog van 1917 to 1921? In hierdie oorlog is daar Oekraïense nasionaliste, Oekraïense anargiste, Bolsjewiste, magte van Duitsland en Oostenryk-Hongarye, Wittes, Pole – almal beklei vir die beheer van Oekraïne na die Februarie-rewolusie in Rusland. Alliansies word gesmee en verbreek. Die geskiedenis op die westelike grens van Oekraïne (die Galisië-streek) was baie verwikkeld. In die Oostenryk-Hongaarse ryk, byvoorbeeld, ontstaan Poolse en Oekraïense nasionalistiese bewegings teen die einde van die negentiende eeu. Hierin is die wortels van die Pools-Oekraïense oorlog (1918-1919) geleë. Dit sal heeltemal te lank vat om alles hier uit te lê. Nodeloos om te sê, ’n vereenvoudiging soos “toe val Pole vir Oekraïne binne” is, in die lig hiervan, niksseggend. Mens moet tog maar regtig probeer om meer te wete te kom van hierdie geskiedenis as jy dit wil gebruik om jou “standpunte” mee te begrond, anders bly dit maar op die vlak van speelgrondpraatjies.
.
Kommentaar op die tweede kommentaar:
Kom ons wees puntenerig; op watter manier, byvoorbeeld, is beriggewing oor die marteling en moord van burgelikes in Irpen, Bucha en Izioem ’n “westerse vertolking van die gebeure”? Dis behalwe daarvoor dat dit die kommenteerder “opval” dat ’n “Westerse vertolking gegee word”, maar dit hom terselfdertyd nie opval dat twee belangrike amptelike Oekraïense mediabronne gebruik word nie. Of wil die kommenteerder te kenne gee dat Oekraïne reeds deel van die Weste is? Nee, dis juis waarvoor nou geveg word. Kan daar dan asseblief ’n uiteensetting volg wat elkeen van die feite wat in hierdie stuk genoem word met behulp van ‘alternatiewe inligting’ weerlê? Maar waar sou daardie ‘alternatiewe inligting’ vandaan kom? Die antwoord is voor-die-hand-liggend: teenswoordig is daar net een so ’n bron - die Russies-beheerde buitelandse nuusagentskappe, RT en TAS.
In die kommentaar word groot gewag gemaak daarvan dat Zelenskyy die weste vir hulp vra, asof hy uitgevang is op ’n groot leuen; hy vra die Weste vir hulp want hy kan self nie die oorlog wen nie! Maar enigiemand wat al na een of meer van sy toesprake geluister het, sal weet hy meld voortdurend dat Oekraïne nie die oorlog op sy eie kan wen nie. Dis tog ’n gegewe, en was nog nooit ’n twispunt nie? Wat is dus die punt wat hier gemaak probeer word? Dis tog juis waaroor dit gaan; ’n sterker moondheid wat ’n soewereine buurland militêr binneval. Plus die geskiedenis van daardie invaller se aggressie in Europa, sy imperialistiese ambisies en totalititêre, onderdrukkende regeringsstyl. Hiervan is die Weste goed bewus, en daarom is daar begrip vir die werklike stryd hier; demokrasie versus totalitarisme.
Persoonlik vind ek dit regtig vreemd wanneer mense die “dis alles Westerse nuus/propaganda/leuens/vertolkings” frase gebruik asof hulle daarmee ’n klinkende troefkaart speel. Dis seker omdat ek gewoond is daaraan dat anti-Westerse sentimente van ouer mense wat nog in die verlede (in die Sowjetunie) leef, kom. Amerika/die Weste was toe verantwoordelik vir alles, van die val van die Sowjetunie tot die swak aartappeloes in 1989. Anti-westerse sentiment is eie aan Rusland, al vir honderde jare lank. In Poetin se Rusland bereik dit koorshoogte. Mens hoor dit nou weer van Russiese krygsgevangenes, veral van minder geskooldes uit die armer plattelandse dele – hulle kom Oekraïne toe om te kom veg, want “Amerika wil Rusland vernietig”. Dis natuurlik hierdie mense wat die Russiese media se staaspropaganda geredelik opslurp. Die enigste gevolgtrekking wat hieruit gemaak kan word, ten einde die raaisel op te los van Suid-Afrikaners, met universiteitsopleiding, wat dieselfde anti-Westerse sentimente huldig, is dat hulle dieselfde propaganda geredelik opslurp.
As mens verby die intellektuele teenstrydighede kyk waarmee iemand wat vanuit ’n Westerse leefraamwerk so geredelik die “Weste” afmaak, is daar nog die sielkundige teenstrydighede ook. Hierdie is ekwivalent aan Russe wat luidkeels skreeu teen die Weste, maar graag daar gaan vakansie hou, inkopies doen, en eiendom aanskaf, en nou lang trane huil en kla oor Russofobie as hulle visum-aansoeke geweier word. Russe sien hulleself graag as slagoffers, en dit verhoed hulle dikwels om die verband tussen oorsaak en gevolg te sien – dit net ’n bietjie addisionele agtergrond vir sogenaamde kenners van die “Russiese psige”.
As taalbeskerming regtig die rede vir die oorlog is, hoekom word die hele land binnegeval, aangesien slegs 30% van die land se inwoners Russies as moedertaal het? Dis al lank duidelik dat die taalkwessie ’n voorwendsel was. Onlangs het Poetin in ’n deemoedige bui aangekondig dat dit nooit die bedoeling was om die hele land binne te val nie, dis bloot dat Oekraïne hulle watervoorsiening na Krim afgesny het (nogtans reën missiele neer op woonstelblokke en burgerlike infrastruktuur regoor die land, soos vanoggend weer op groot skaal, terwyl ek hierdie skryf). Lees asseblief Poetin se betoog oor die vermeende eenheid van Oekraïne en Rusland om sy verwronge siening van die geskiedenis as motivering vir die oorlog te verstaan.
90% etniese Russe in die Donetsk en Luhansk streke? Nee, volgens Euracresearch identifiseer 17.3% van Oekraïners as etnies Russies, terwyl ongeveer 30% Russies as moedertaal het. Russies-sprekend is nie ekwivalent aan etnies-Russies nie. Proporsioneel sou dit beteken ongeveer die helfte van die mense in daardie streke identifiseer as etnies-Russies. Dis ook waar dat die mense daar die regering sal steun wat hulle die beste behandel. In die besette gebiede is dit al duidelik dat, ondanks beloftes, niks gedoen word om die inwoners te help nie. Mense in daardie gebiede val na bevryding die Oekraïense magte om die hals met verhale oor hoe hulle vir maande lank nie brood gesien het nie.
Dus, “etniese Russe wat sedert 2014 erge onderdrukking en bombarderings ondervind”? Nee, nie met die beste wil in die wêreld kan dit vir mense wat hierdie wêreld ken, voorgehou word as dat daar ’n groep mense daar is wat ernstige onderdrukking ervaar nie. Die kommenteerder tref bloot, onbewustelik, nie-geldige ooreenkomste met ander werklik onderdrukte etniese minderheidsgroepe regoor die wêreld, soos byvoorbeeld die Sjinese Uyghurs. Mens kan die kommenteerder dit vergewe, aangesien hy duidelik nie kennis van die Oekraïense samelewing het nie. Ons vriende van Donetsk lyk soos en praat soos mense in Dnipro, en elders in Oekraïne. Daar’s mense in Donetsk (en in Luhansk neem ek aan) wat dieselfde pro-Russiese standpunte huldig as sommige mense in Dnipro, en elders. Daar’s mense in Donetsk (en Luhansk neem ek aan) wat dieselfde pro-Oekraïnese standpunte huldig as baie mense in Dnipro, en elders. Terloops, die kommenteerder noem Krim – wat van die Tartare? Daar’s nou werklik ’n etniese minderheid wat “erge” onderdrukking onder die Russiese bewind ervaar, selfs al is hulle histories die oudste bewoners van daardie gebied. Van nog minderhede gepraat; in die dorpie Volnovakha in die Donetsk streek het etniese Oekraïners, Russe, Jode, Armeniërs en Grieke vir baie jare lank saamgewoon. Die Russiese weermag het hierdie dorpie totaal vernietig tydens hulle inval. Beskerming van minderheidsgroepe?
“Oekraïne bombardeer Donbas al vir agt jaar lank!” is ’n slagspreuk wat baie gou deur Russiese propagandiste begin gebruik is. Hoe waar is dit? Kortliks, na die 2014 inval deur Rusland word vredesverdrae nie gehoorsaam nie. Die konflik stol in ’n loopgraafoorlog langs ’n 420 km-lange lyn wat deur digbevolkte gebiede loop. Sowat 75 000 soldate is betrokke. In 2020 berig die VN dat 55 000 residensiële geboue vernietig is, aan beide kante van die lyn. Ongeveer 13 000 mense is gedood; 3,375 burgerlikes, ongeveer 4 150 Oekraïense militêre personeel, en ongeveer 5 700 militia’s – pro-Russiese groeperings. Belangrik, die OSCE vind geen tekens van massadood van burgerlikes soos Rusland beweer nie; Rusland het ook tot dusver gefaal om enige getuienis van “volksmoord” op Russiese inwoners van die gebied, soos hulle dikwels beweer, te verskaf.
Gegewe die bostaande, is dit dus nóg ’n dwaling om te beweer die Russiese weermag gaan in Donbas met dapperheid veg tot die einde omdat hulle die Russiese etniese minderheidsgroep daar verdedig (die kommenteerder baseer hierdie op die aanname dat waar daar Russiessprekendes is, die grondgebied wat hulle bewoon outomaties aan Rusland behoort – dis inderwaarheid een van die aksioma’s van die Russkii Mir pseudo-filosofie). Asof alle Russiese soldate wat op die front land begeesterd is om die paar Russies-sprekende mense wat nog oor is daar te beskerm. Het die kommenteerder kennis geneem van die lae moraal aan die Russiese kant wat in die artikel genoem en gestaaf word? Donbas is al grotendeels ’n apokaliptiese, murasie-besaaide niemandsland. Volgens bewering is dit juis ’n plan van Poetin om die gebied onbewoonbaar te maak.
Mens staan altyd verwonderd oor hoe daar in die soort kommentaar wat hier aangebied word, en, bygesê, in sommige onderhoude, ’n omgekeerde verhouding bestaan tussen die agtergrondkennis en die gewigtigheid waarmee groot voorspellings gemaak word oor die uiteinde van die oorlog. In die Oekraïense sensasie-media is tarot-kaartlesers en waarsêers wat die datum van die einde van die oorlog en van Poetin se dood voorspel, baie gewild. Ek geniet dit meer om hulle voorspellings te volg. Ten minste het hulle ’n beter idee waarvan hulle praat.