Iemand vertel my nou die dag hoe die Oekraïense taal ’n opbloei beleef. Ek weet daar’s ’n toename in die aantal toepies wat beloof om veral buitelanders Oekraïens te leer, alhoewel ek altyd wonder oor die tyd, en veral die wilskrag wat dit verg om verder te kom as “Tse batko”, “Tse mama”, “Tse titka” “Tse diadko”, “Tse dim”. Dis nou mits jy daarin kon slaag om die Cyrilliese alfabet en al die ongewone klanke baas te raak.
Maar my gespreksgenoot verwys nie na buitelanders nie; die opbloei waarvan gepraat word, behels hoofsaaklik Oekraïners wat nou verwoed Oekraïens leer. Dit op sigself is seker nie vreemd nie; in meertalige samelewings kan jy verwag daar sal ’n persentasie mense wees wat buiten hulle moedertaal geen van die land se ander spreektale magtig is nie. Maar ons weet ook hierdie getalle is onderhewig aan politiek – die politiek van die verlede én van die hede – en dat die verpolitisering van taal een van die oudste aartssondes is.
“Is dit nie ’n bietjie laat daarvoor nie?” het ek pessimisties gevra.
“Nee!” kom die antwoord beslis, “Liewer laat as nooit.”
Inderdaad. Soos Taras Sjeftsjenko al in die 19de eeu geskryf het:
Maar dit raak my diep as sluwe,
bose skelms ons Oekraïne aan die
slaap sus, en haar slegs in die vlamme,
totaal geplunder, weer laat ontwaak ...
dít raak my met die diepste pyn.
(Uittreksel uit die gedig “Dit raak my nie”)
Vir sowat 30 persent van Oekraïners is Russies hulle moedertaal; dis sowat 14,5 miljoen mense. Die meerderheid van hulle woon in die oostelike en suidoostelike gedeelte van die land, in streke wat aan Rusland grens. Maar dis nie ’n homogene verspreiding nie. In die dorp Poltawa en omstreke byvoorbeeld, omtrent halfpad tussen die oostelike grens met Rusland en die Dnieperrivier, hoor mens meer Oekraïens as in Dnipro, 200 km verder suidwes. Die atmosfeer daar is ook kenmerkend Oekraïens, soos in die weste van die land. Hierdie teenstrydighede het alles te doen met geskiedenis, en met industrialisering.
Poltawa, waarvan die geskiedenis terugstrek tot in die 12de eeu, was deel van die Hetmanaat, ’n selfregerende Oekraïense Kosakstaat wat tussen 1648 en 1764 bestaan het. Die Russiese keiserin Ekaterina die Tweede verklaar die outonomie daarvan nietig en gee in 1775 haar troepe opdrag om Zaporizka Sitsj, setel van die Hetmanaat, te vernietig. Die staat se regeringsinstellings word ontbind en die Kosakbeweging verdwyn. Oekraïense verset word ondergronds gedwing, maar nasionalisme beleef ’n opbloei teen die einde van die 18de eeu met die Oekraïense Nasionale Herlewing. Poltawa word ’n belangrike kultuursentrum waar verteenwoordigers van hierdie beweging aktief is. Hierdie tydperk lui ook die moderne Oekraïense letterkunde in met Ivan Kotljarefskii, wie se huis in Poltawa teenswoordig ’n museum is, se verhalende gedig “Eneïda”.
Dnipro se karakter, daarenteen, word bepaal deur sy industriële geskiedenis. Die stad word deur dieselfde Ekaterina in ongeveer 1777 gevestig, toe die Hetmanaat nie meer bestaan nie. Aanvanklik is die plek se naam dan ook Ekaterinaslawa voordat dit verander word na Dnipropetrovsk ná die Bolsjewistiese revolusie. Industrialisering vind vinnig plaas in die laat 19de eeu, na ’n spoorwegverbinding aangelê word tussen Donetsk, waar groot steenkoolneerslae ontgin word, en Krivii Rig, waar ystererts ontdek word. Die kool word benodig vir die smelterye in Krivii Rig, en die spoorlyn kruis die Dnieperrivier by Ekaterinaslawa. In die 1930’s is die stad hoog op Stalin se vyfjaarplan vir industrialisering. Teen die einde van die ‘30’s produseer metallurgie-aanlegte in die stad 25 persent van die Sowjetunie se staal. In 1944 besluit die Sowjetunie se komitee vir verdediging om ’n masjienboufabriek in Dnipropetrovsk op te rig. Die eerste geboue word gebou deur Duitse krygsgevangenes; dit word uiteindelik die Yuzhmaz-missielfabriek, wat onlangs gebombardeer is. Dnipropetrovsk word ’n sleutel- industriële sentrum in Sowjet-Oekraïne vir wapen-, kern-, en ruimtetegnologie, die rede hoekom dit ’n geslote stad bly tot in die 1990’s. Industrialisering bring mee dat Russe in groot getalle na die gebied gestuur word vir administrasie, tegniese en wetenskaplike ontwikkeling, en onderwys. Teen die 1930’s is die russifisering van die streek al goed op dreef. Russies word die taal van handel en nywerheid, wetenskap en tegnologie, opvoeding en onderrig, kuns en kultuur. Die opgevoede, moderne, beskaafde stedeling se taal. Jy hoor vandag nog steeds nie maklik Oekraïens op straat nie. Die mense van die omliggende plase wat hulle produkte langs die strate kom verkoop, praat half-Oekraïens, maar Russies is nog steeds deeglik die omgangstaal, al is Oekraïens sedert 2016 die enigste amptelike taal.
Oekraïens en Russies is deel van die Slawiese taalfamilie, wat ook Pools, Tsjeggies en Bulgaars insluit. Volgens Neil Bermel, professor in Russies en Slawiese tale aan die Universiteit van Sheffield, sou die taal wat sowat duisend jaar gelede in die Russiese en Oekraïense gebiede gepraat is, baie dieselfde geklink het. Deur die loop van die geskiedenis het invloede van elders egter toenemende verskille teweeggebring. Oekraïne was vir lank deel van die Pools-Litouse gemenebes, en het ’n aansienlike hoeveelheid Pools geabsorbeer. Russies is gevorm deur kontak en immigrasie vanuit die noorde en ooste, plus tegniese en kulturele terme van Westerse lande soos Frankryk, Duitsland en Nederland. Teen die 18de eeu was groot verskille wat betref woordeskat, fonetiek en grammatika al duidelik. Teenswoordig deel die twee tale steeds heelwat woordeskat, grammatika en fonetiese kenmerke, maar nie genoeg om as dialekte beskou te kan word nie. Volgens party taalmodelle deel Oekraïens en Russies sowat 62 persent woordeskat, wat beteken sprekers verstaan rofweg vyf uit agt woorde van die ander se taal.
...
Kyiv is bloot die Oekraïense weergawe, gebaseer op Oekraïense fonetiese reëls, en so is Kiev die Russiese weergawe, volgens Russiese fonetiek.
...
Mens sien gereeld twee verskillende spellings van die name van stede, byvoorbeeld Kiev en Kyiv, in Engelse transliterasie. Watter een is reg? Nie een nie – geen een is meer “oorspronklik” as die ander nie. Kyiv is bloot die Oekraïense weergawe, gebaseer op Oekraïense fonetiese reëls, en so is Kiev die Russiese weergawe, volgens Russiese fonetiek. Kyiv het geleidelik Kiev begin vervang in die Westerse media as gevolg van ’n veldtog wat die Oekraïense regering in 1993 in die buiteland geloods het. Die enigste rede hoekom Kiev vroeër die aanvaarde skryfwyse was, is dat Russies die dominante skryftaal in Oekraïne was tydens die Sowjetunietydperk.
Dis ’n groot ding vir Oekraïners dat die hoofstad as Kyiv gespel en uitgespreek word en nie as Kiev nie. Dit beteken vir hulle niks minder as die res van die wêreld se erkenning van Oekraïne se onafhanklikheidstrewe nie. Daar is ’n aanlyn veldtog in dié verband by #KyivNotKiev.
In Afrikaans word daar nog Kiëf geskryf en gesê, maar dis ’n Afrikaanse transliterasie van die Russiese uitspraak, Kiev. Ons benodig die hulp van Afrikaanse taalkundiges om met ’n polities korrekte Afrikaanse transliterasie vir Київ vorendag te kom. Die /y/-klank in Oekraïens (die letter и) is baie moeilik vir nie-Slawe om uit te spreek, dis amper soos die /y/ in uur, maar met jou agterkake op mekaar geklem en jou tong êrens agter in jou keel opgerol terwyl jy ’n hou in die maag kry. Om dinge te vererger gaan dit daarna oor in ’n jie-klank, sodat teen die tyd dat jy by die /v/ uitkom jy so uitgeput is dat dit klink soos ’n /w/ wat as gevolg van ’n gebrek aan energie wegrafel in die niet.
Die beste benadering vir hierdie /y/-klank in Afrikaans is so halfpad tussen /i/ soos in mier en /y/ soos in muur. Die slotklank is ’n w-klank en nie ’n f-klank soos wat dit in die spelling Kiëf lyk nie. Luister hier vir die uitspraak in Oekraïens:
Voorbeelde van ander stede waarvan die Oekraïense spelling en uitspraak bevorder word, is Lviv, in plaas van Lvov, en Kharkiv in plaas van Kharkov – dis daardie stad in die noordooste naby die Russiese grens wat nou al veel erger gebombardeer is as ooit deur die Nazi’s tydens die Tweede Wêreldoorlog.
Russies en Oekraïens het ontwikkel uit dieselfde voorouertaal, volgens professor Bermel, en nie só lank gelede nie, maar “The similarities between the two shouldn’t blind us to their distinct existence as separate entities, nor to the political implications of assuming they are one language.” En: “The differences between Russian and Ukrainian amount to much more than what Putin dismissed in 2021 as ‘regional language peculiarities. By looking for ‘unity’ in language between Russia and Ukraine, he was marshalling an argument that allowed Russia the right to intervene in what he asserted to be Russian space.”
Ek het hierdie flagrante en verdraaide verpolitisering bespreek in ’n LitNet-artikel wat voor die oorlog verskyn het.
Wat Russe dink van die verband tussen Oekraïens en Russies is natuurlik voorspelbaar. Andrii Popik is ‘n Oekraïense ou met ’n YouTube-kanaal waar hy Russe uitnooi vir ’n videogesprek. En die Russe is gretig om te gesels, of liewer, om vir Oekraïners “die waarheid” te vertel, meestal baie verontwaardig, soms kwaad en vloekend. Andrii verdien die grootste bewondering. Hy verloor nooit sy humeur nie, hy skud net sy kop en rol sy oë in ongeloof oor die onkunde en logikakortsluitings. ’n Jong dame vertel in alle erns hoe Napoleon hom vasgeloop het toe hy die Sowjetunie binnegeval het. ’n Ander ewe jong dame verduidelik dat Oekraïne nie bestaan het voor 1991 nie, en beweer dan ’n rukkie later met groot stelligheid dat Lenin Oekraïne “gestig” het.
Andrii praat deurentyd Oekraïens met hulle, en soos vroeër opgemerk, moet sowat 40 persent van wat hy sê, noodwendig verlore wees. Maar dit sal hulle nie erken nie. In ’n vermaaklike onderhoud oor die taalkwessie beweer een aanvanklik dat dit vir hom geen probleem is om Oekraïens te verstaan nie, aangesien dit ’n dialek van Russies is. Andrii verduidelik geduldig wat basies hier bo gemeld is, maar aan die einde van sy verduideliking kom die antwoord: “Ek gee nie om nie. Wat my betref, is dit ’n dialek.” Nou ja, soveel maak taalgeskiedenis saak! Nog vrae volg, en die Rus raak al hoe meer ongemaklik. Dis duidelik dat hy moeite het om alles te verstaan. Uiteindelik bars hy uit: “Kan jy nie £$%* Russies praat nie?” Andrii antwoord besadigd: “Maar ek práát Russies met jou. Jy het mos gesê Oekraïens is ’n dialek van Russies.” Waarna die woedende Rus die gesprek beëindig.
Dis regtig jammer dat hierdie soort goed, vanweë ’n gebrek aan Engelse vertaling, nie vir ’n wyer gehoor toeganklik is nie. En as jy begin wonder hoekom Andrii Popik so iets aan homself doen, dan laat sy kalm reaksie en stil, ondeunde laggie in sy mou mens vermoed hy het dalk ’n agenda wat verband hou met nóg ’n mite wat deur hierdie “oorlog” stewig die nek ingeslaan is: Russe is nié, soos so maklik geglo word, “oor die algemeen slim mense” nie. Maar dis seker onregverdig om te beweer hulle is oor die algemeen dom; dis eerder dat, benewens die opvoedkundige uitdagings wat die vervlegde voor- en nadele van die digitale era kenmerk, hulle ook onderwerp word aan een dreunende narratief van ubernasionalistiese propaganda, met alle toegang tot ander denkwyses geëlimineer – toestande wat nie bevorderlik is vir die ontwikkeling van enigiemand se denkwêreld nie.
Die idee in die Weste en elders dat Oekraïens ’n variant van Russies is, is maar net een van ons talle onondersoekte opvattings waarvoor niemand werklik kwalik geneem kan word nie. Soos dit dikwels die geval is met sulke opvattings, is dit dalk gebaseer op ’n illusie: Rusland – groot land, groot weermag; Oekraïne – klein land, klein weermag. Gevolgtrekking? Oekraïens moet dus ’n dialek, of taalvariant van Russies wees, net soos Roger Shepard se optiese illusie van ’n groot monster wat ’n kleiner monster jaag. As jy dit nie ken nie, volg die skakel. Die monsters is inderwaarheid ewe groot – vat gerus ’n liniaal en meet hulle lengte!
Die twee hartjies is ook ewe groot en lê teen presies dieselfde hoek. Dit hang alles af hoe jy kyk.
In ander omstandighede sou sulke wanopvattings omtrent tale dalk onskuldig wees, maar ongelukkig is dit wat Oekraïens en Russies betref, verdraai en verwring tot ’n kernaspek in die regverdiging van een land se brutale aanslag op ’n ander. As kennis mag is, blyk dit, tragies genoeg, dat onkunde in sommige gevalle magtiger is.
Bron
Lees gerus die volledige artikel deur professor Neil Bermel hier.
Lees ook:
Die Rusland-Oekraïne-konflik: die geskiedenis en Poetin se wêreldbeskouing
Kommentaar
Uistekende verduideliking van 'n moeilike en komplekse taalsaak. Baie dankie, Eben.