Nota: Hierdie artikel is oorspronklik op 21 April 2022 geplaas toe Finland en Swede aansoek gedoen het om toegelaat te word tot NAVO. Dit is bygewerk op 13 Julie 2023 toe hulle aansoeke voorlopig goedgekeur is. Oekraïne wil ook deel word van NAVO, iets wat waarskynlik onmiddellik ná die oorlog sal kan gebeur. Tans is Artikel 5 van die NAVO-verdrag ’n rede waarom verskeie lande nie op hierdie stadium toelating steun nie.
...
Die Finne weet hoe dit voel om deur die Russe ingeval te word. Hulle sien hoe die oorlog in Oekraïne besig is om die patroon van hulle stryd tussen 1939 en 1948 te herhaal.
...
Finland en Swede wil skielik by die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo) aansluit ná dekades van neutraliteit. Hoekom?
Poetin.
Poetin se oorlog in Oekraïne kom neer op die dieselfde misplaaste logika as Hitler s’n: Beide leiers se ekspansionistiese drome handel oor ’n ryk wat een was en dit nou nie meer is nie – demokrasie het in die pad van hierdie despote kom staan. (Lees gerus die historikus Bill Nason se uitstekende opsomming hieroor.)
Poetin blameer Navo vir hierdie oorlog, net soos Hitler destyds die Verdrag van Versailles blameer het vir sy optrede.
Die probleem is, mense glo nou vir Poetin, net soos talle destyds blindelings agter Hitler aan geloop het. Hierdie video, waar Russiese tenks met die ou Sowjet-vlag gesien word, is ’n uitstekende voorbeeld van hoe Poetin se leuens versprei word. Luister net hoe generaal-majoor Jaini Navo blameer. Volgens hom wou Poetin nie oorlog hê nie, dit is Navo wat die aggressor is.
Ek beveel hierdie kort video van ongeveer vier minute sterk aan, want dit is ’n uitstekende apologie vir Poetin – en vir die kommunistiese Hamer en Sekel wat op die Russiese tenks wapper.
Jaini is natuurlik verkeerd, maar baie dink soos hy. Hulle sluk Poetin se leuens.
Maar, ís Navo dalk ’n vlieg in die salf? Die antwoord is ja. Navo is tans vir Poetin ’n hengse kopseer – al is dit om redes wat totaal anders is wat Poetin wil voorgee.
Navo is nie die probleem of die aggressor nie.
...
Die massagrafte in Oekraïne is ’n hartseer eggo van massagrafte in Pole tydens die Russe se inval gedurende die Tweede Wêreldoorlog.
...
En tog, al is Poetin hoe verkeerd, ’n mens moet probeer verstaan waarom Navo so ’n probleem is vir hom.
Navo en die Warskou-verdrag
Navo is in 1949 gestig juis om die mag van die Sowjetunie teen te staan.
Stalin was ’n brutale diktator. Reeds voor die Tweede Wêreldoorlog het miljoene inwoners van die USSR het gesterf onder sy genadelose regime.
Tydens die Tweede Wêreldoorlog het Rusland saam met die demokratiese regerings in Europa en die VSA teen Hitler geveg, maar Stalin het ook die oorlog gebruik om sy eie magsbasis uit te brei.
- In 1939 is Finland gewoon ingeval deur die Rooi Weermag. Die Finne het die Russe uiteindelik suksesvol die deur gewys, maar moes 12% van hulle grondgebied en omtrent 20% van hulle ekonomie aan Rusland gee in ruil vir volgehoue onafhanklikheid. Soveel as 97 000 Finse soldate is in daardie oorlog dood.
- In 1940 is drie Baltiese state (Estland, Litaue en Letland) gewoon deur die Rooi Weermag beset en by die USSR ingelyf.
- Die Pole het gou besef dat hulle tydens die Tweede Wêreldoorlog Duitse besetting vir ’n ander aggressor verruil het. (Die massagrafte in Oekraïne is ’n hartseer eggo van massagrafte in Pole tydens die Russe se inval gedurende die Tweede Wêreldoorlog.)
Ná die oorlog was dit duidelik dat Stalin lus was om sy mag uit te brei – en om kommunisme in ander wêrelddele te bevorder. Die VSA, Kanada en tien Europese lande het besef dat die kortstondige alliansie wat hulle met Moskou gehad het in hul gesamentlike stryd teen Hitler, nie sou voortduur nie.
Swede en Finland het destyds gekies om nie by Navo aan te sluit nie – hulle het dit gedoen om Rusland se guns te probeer behou. Noorweë, Ysland en Denemarke was wel deel van Navo se stigting.
In 1955 het Wes-Duitsland ook by Navo aangesluit – iets waaroor die USSR glad nie positief was nie.
In 1956 het Moskou toe ’n eie teenvoeter gestig – die USSR het naamlik ’n groot aantal omliggende lande by die Warskou-verdrag betrek. Hierdie verdrag het vir die Russe baie beteken, maar nie veel vir hulle nuwe bondgenote nie. Die Hongare sou dit gou besef, want in dieselfde jaar het die Russe gewoon tenks ingestuur en 2 500 Hongare is gedood toe hulle dit durf waag het om vir groter vryheid van Moskou te vra.
Die USSR en die Warskou-verdrag verbrokkel
Die meeste van ons wat ouer as 50 is, sal die dae onthou toe die Hamer en Sekel oor die magtige Unie van Sosialistiese Sowjetrepublieke (USSR) gewapper het. Die wêreld was in talle mense se koppe ongeveer in twee kampe verdeel: die sogenaamde vrye wêreld en dan die enorme Rooi Gevaar – laasgenoemde het natuurlik ook lande soos China ingesluit.
Teen die middel-’80’s was dit onmoontlik om inligting in die doofpot te hou. Televisie, radio en internasionale reise het gemaak dat selfs inwoners van insulêre lande, soos Suid-Afrika en die USSR, begin besef het dat demokrasie moontlik en verkieslik is.
Mikhail Gorbatsjof het in 1985 die leisels in die USSR oorgeneem. Hy het dadelik met veranderinge begin en selfs ’n mate van demokrasie begin implementeer. Soos Suid-Afrika se PW Botha het hy later bang geword vir dit waarmee hy begin het, en dit sou iemand uit eie geledere, Boris Jeltsin, wees wat hom uiteindelik sou uitknikker, aangesien Jeltsin, sy foute ten spyt, die gemoed op voetsoolvlak beter verstaan het as Gorbatsjof.
As populêre burgemeester van Moskou het Jeltsin ekonomiese en demokratiese hervorming vir die Russe bepleit. Die gewone mense was moeg vir toustaan. En hulle wou McDonald’s eet.
Jeltsin se visie vir ’n reeks onafhanklik en demokratiese republieke het dit ook moontlik gemaak dat die inwoners van Oos-Berlyn uiteindelik die skeidsmuur sou afbreek – ’n daad wat simbolies enorme betekenis ook vir die Weste gehad het.
Die val van die muur is egter anders in die toenmalige USSR gelees.
Toe daardie stuk muur op 9 November 1989 val, het die Weste dit as ’n nuwe begin gesien, maar vir die bittereinders in die USSR was dit eintlik net die roof wat van ’n rou wond afgekrap is.
Reeds op 25 Augustus 1989 het Belarus, ná ’n politieke opstand in Moskou wat Gorbatsjof se posisie verswak het, aangekondig dat hulle onafhanklik sou word.
Op 27 Augustus het Moldova dieselfde gedoen.
Teen September 1989 is ook Estland, Litaue en Letland as onafhanklike state by die Verenigde Nasies (VN) ingelyf. Georgië en Armenië het toe ook besluit om die USSR te verlaat en kort daarna sou Kazakstan en Kirgistan vir groter ekonomiese onafhanklikheid vra.
Berlyn was dus bloot ’n volgende, logiese golf toe die inwoners besef die Russe sal nie vir Erich Honecker, Oos-Duitsland se eens gevreesde leier, te hulp snel nie. Jeltsin het nie meer lus gehad vir baklei nie, maar die val van die muur was tog ’n bitter pil vir die reaksionêre Russiese bevolking. Oos-Berlyn is immers met Russiese bloed vrygekoop van die Nazi’s.
...
In Suid-Afrika word FW de Klerk deur reaksionêre magte as ’n verraaier gesien, want hy het erken dat wit heerserskap nie meer moontlik was nie. Vir talle oudinwoners van die USSR was Boris Jeltsin eweneens ’n verraaier
...
En wie was in Oos-Berlyn toe die muur geval het? Wladimir Poetin, KGB-man.
Jeltsin die verraaier
In Suid-Afrika word FW de Klerk deur reaksionêre magte as ’n verraaier gesien, want hy het erken dat wit heerserskap nie meer moontlik was nie. Vir talle oudinwoners van die USSR was Boris Jeltsin eweneens ’n verraaier.
Hoewel Gorbatsjof nog in naam president van die USSR was, het Jeltsin die kaarte gespeel.
Nie net sou Jeltsin die deure na demokrasie finaal oopskop binne die USSR nie, hy het ook ’n vryemarkekonomie voorgestaan.
Erger nog, Jeltsin het besef die USSR is nie standhoudend nie en was daarom bereid om ’n baie ou deel van die grondwet van die USSR te eerbiedig wat uiteindelik sou toelaat dat elkeen van die republieke in die USSR sou kon kies of hulle onafhanklik wou wees of nie.
Een na die ander het die rooi legkaart van kleur verander.
...
Bush het openlik, en heeltemal tereg, gesê dat hierdie lande Navo wil steun vanweë dit wat hulle onder die USSR beleef het
...
Op 25 Desember 1991 het Gorbatsjof bedank, en die Hamer en Sekel het finaal gesak. So het die USSR totaal opgehou bestaan.
In Rusland is die rooi, wit en blou vlag die volgende dag gehys. Jeltsin het hom toegespits op veranderinge binne Rusland, en die kleiner republieke kon dus hulle eie ding doen.
Toe die USSR in 1991 finaal uitmekaar val, was die Warskou-verdrag ook daarmee heen.
Navo brei uit
In 1994 het Jeltsin, reeds gesien as ’n verraaier van sy eie mense, met ’n reeks gesprekke begin om Rusland se nuwe bestaan langs Navo se bondgenote te bepaal. Hoewel Jeltsin en Bill Clinton, toe die president van die VSA, goed oor die weg gekom het, was die reaksionêre magte binne Rusland glad nie opgewonde oor hierdie pogings nie. Die Oos-Wes-konflik was vir hulle nog te werklik.
Navo het dit nie makliker gemaak vir hulle toenmalige vyande nie.
In 1995 het Navo, ná ’n besluit van die VN, ingegryp om die bloedige burgeroorlog in Bosnië stop te sit. Hoewel dit enorme verligting gebring het vir burgers van daardie land, moes die toenmalige lede van die Warskou-verdrag toekyk hoe Navo nou beheer uitoefen oor ’n gebied wat eens trou gesweer het aan die USSR – dit terwyl die Russe, druipstert, niks kon doen aan die Weste se baasspelerige houding nie.
Erger nog: In 1999 het Pole, die Tsjeggiese Republiek en Hongarye by Navo aangesluit.
Dít het Poetin en die reaksionêre magte in Rusland tot in hulle tone geskok. Skielik was die walglike Weste se missiele en hulle vliegtuie op die Russiese grens.
Navo se uitbreiding het egter nie opgehou nie. Inteendeel.
Op 29 Maart 2004 sluit nog sewe lande by Navo aan. Drie van hulle was voorheen deel van die Warskou-verdrag: Bulgarye, Roemenië en Slowakye. Erger nog, Estland, Letland en Litaue was eens deel van die USSR. Nou was dit hulle wens, as onafhanklike republieke, om hulself teen Russe te beskerm. Die sewende land wat daardie dag aangesluit het, was Slowenië.
George W Bush het by die geleentheid gesê: “Terrorists hate everything this alliance stands for. They despise our freedom. They fear our unity. They seek to divide us. They will fail. We will not be divided. We will never bow to the violence of a few.”
Dié gevleuelde woorde is gespreek weens die VSA se groeiende ongemak met die gebeure in Afganistan en Irak.
Bush was egter hoegenaamd nie skaam om sy vinger onder die Russe, en veral Poetin, se neus te swaai nie. Hy het openlik, en heeltemal tereg, gesê dat hierdie lande Navo wil steun vanweë dit wat hulle onder die USSR beleef het: “They understand our cause in Afghanistan and in Iraq because tyranny for them is still a fresh memory. When NATO was founded, the people of these seven nations were captives to an empire.”
Bush was ook trots om aan te kondig dat nóg drie lande, Albanië, Kroasië en Masedonië, reeds in gesprek was met Navo oor die moontlikheid van aansluiting.
Bush het dus openlik vir Poetin getart, maar hy was reg. Hierdie republieke was “captives to an empire” en dit is presies hoekom hulle na Navo uitgereik het. Hulle het Poetin tóé reeds nie vertrou nie, want toe die inwoners van Tsjetsjnja opstandig geraak het teen volgehou beheer uit Moskou, was dit juis Poetin se troepe wat hulle vinnig van daardie planne laat afsien het.
Nota bene: Oekraïne was nie daardie dag op Bush se lys nie. Oekraïne was op daardie stadium nog onder die leiding van eerste minister Viktor Janoekowitsj, wat ’n pro-Russiese ingesteldheid gehad het.
’n Interessante opmerking wat nog vandag relevant is, sou ook by daardie geleentheid gemaak word. Navo se toenmalige sekretaris-generaal, Jaap de Hoop Scheffer, het naamlik aangekondig dat Navo sou begin met “lugpolisiëring” oor die Baltiese state, en ook dat hy Rusland daaroor ingelig het: “I think that the Russian Federation has very well understood that NATO has, of course, no ulterior motives by air-policing its airspace. I think that NATO and Russia will further build on this partnership.”
Nodeloos om te sê dat baie in Rusland, ook Poetin, dit anders gesien het.
Vir Wladimir Poetin moes Bush se openlike hoon ’n walglike pil gewees het om te sluk. Bush en die VSA was skynbaar almagtig, en Poetin was in beheer van ’n land wat moes toekyk hoe die toenmalige vyand hulle spiere op sy landsgrense kom wys.
...
Wat sou gebeur het as Navo Oekraïne vroeër toegelaat het?
...
Reeds in 2005 het Poetin dit in die openbaar duidelik gemaak dat hy die verbrokkeling van die USSR as die grootste geopolitieke ramp van die 20ste eeu sien.
Oekraïne verander van regering
Teen die einde van 2013 het gewone mense in Oekraïne hul geduld verloor met die regering, wat pro-Russies was. Massabetogings het uitgebreek en tot in Februarie 2014 aangehou.
Uiteindelik, teen die einde van Februarie 2014, moes die regering swig. Viktor Janoekowitsj het gevlug. Politieke gevangenes is vrygelaat en demokrasie is herstel.
Die nuwe regering was glad nie in die sakke van Poetin nie – inteendeel, hulle het begin vra om tot Navo toegelaat te word. (Om meer te lees oor Oekraïne se demokratisering en nader beweeg aan die Weste, sou ek Eben Viktor se essay, geskryf as inwoner van Oekraïne, aanbeveel.)
Vir ’n oomblik wil ek vra: Wat sou gebeur (het) as ...? Geskiedkundiges hou nie van “Wat sou gebeur (het) as ...”-vrae nie, maar ek wil voorstel dat Swede en Finland se skielike ommeswaai alles met hierdie vraag te make het.
Wat sou gebeur het as Navo Oekraïne vroeër toegelaat het?
Navo sou dan geen opsie gehad het nie – hulle sou teen Rusland moes optree.
Artikels 5 en 6 van die verdrag
Die volle verdrag is op Navo se amptelike tuisblad beskikbaar.
Swede en Finland wil, anders as Oekraïne, die Navo-lande se volle steun hê sou Poetin hulle durf inval.
Artikel 5 maak dit duidelik dat enige inval van ’n lidland onmiddellike aksie van die res van die lande sal ontketen.
The Parties agree that an armed attack against one or more of them in Europe or North America shall be considered an attack against them all and consequently they agree that, if such an armed attack occurs, each of them, in exercise of the right of individual or collective self-defence recognised by Article 51 of the Charter of the United Nations, will assist the Party or Parties so attacked by taking forthwith, individually and in concert with the other Parties, such action as it deems necessary, including the use of armed force, to restore and maintain the security of the North Atlantic area.
Sou Oekraïne deel gewees het van Navo, sou daar al dadelik Amerikaanse, Kanadese, Duitse, Britse en Nederlandse vegvliegtuie gewees wat bomme sou laat neerreën op die daardie lang kolonne Russiese tenks.
Boris Johnson is op 1 Maart deur ’n tranerige Oekraïense joernalis daarvan beskuldig dat die Derde Wêreldoorlog reeds uitgebreek het en dat hy niks doen om haar land te help nie. Sy was verkeerd, en dié keer was Johnson ’n staatsman en het hy aangedui dat hy en die res van die Navo-lidlande juis alles sal doen om so ’n wêreldoorlog te voorkom.
Maar Poetin kan dalk self die aggressor wees wat Navo-lidlande gaan dwing om wel tot die oorlog toe te tree, want artikel 6 mag ter sprake kom.
Artikel 6 sê dat enige aanval op enige voertuig, vliegtuig of eenheid van Navo ook artikel 5 sou aktiveer. ’n Daad van aggressie word hiervolgens as ’n aanval gesien op
the forces, vessels, or aircraft of any of the Parties, when in or over these territories or any other area in Europe in which occupation forces of any of the Parties were stationed on the date when the Treaty entered into force or the Mediterranean Sea or the North Atlantic area north of the Tropic of Cancer.
Tot nou toe kon Navo-lidlande enorme hoeveelhede wapentuig per lug of pad na Oekraïne neem.
Poetin raak ongeduldig daarmee, want sy magte word telkens deur hierdie besonder goeie wapens gestuit. Hy dreig nou dat hy moontlik gaan optree teen diegene wat wapens verskaf.
Tot nou toe het hy nie, want soos enige hoërskoolboelie weet – dit mag seer weer om ’n groter opponent aan te durf. Poetin stuur egter kanonvoer in om sy oorlog te voer. Die enigste verloorders is die mense van Oekraïne én die mense van Rusland, nie Poetin nie.
Swede en Finland wil dus ook by Navo aansluit
Die Finne weet hoe dit voel om deur die Russe ingeval te word. Hulle sien hoe die oorlog in Oekraïne besig is om die patroon van hulle stryd tussen 1939 en 1948 te herhaal. Nie net moes die Finne grondgebied afstaan nie, hulle sou ook totale neutraliteit moes pleit om te keer dat Rusland weer sou probeer om hulle land in te val.
Finland het geen geheim daarvan gemaak dat hulle regdeur die Koue Oorlog hard gewerk het om goeie betrekkinge met Moskou te behou nie. Die Finne het byvoorbeeld nie onmiddellik by die EU aangesluit nie – hulle is eers in 1995 tot die EU toegelaat.
Hulle het nog nooit aan Navo behoort nie. Nou wil hulle deel word van Navo.
Swede was tot nou ook neutraal – soos hulle ook gedurende die Eerste en die Tweede Wêreldoorloë was.
In Januarie 2022 het die Sweedse eerste minister, Sanna Marin, dit nog duidelik gemaak dat Navo-lidmaatskap nie deel van haar plan is nie.
Poetin se aggressie het alles op 24 Februarie 2022 verander.
Die toekoms?
Vir Finland en Swede mag Navo ’n lewe-of-dood-situasie wees.
Op hierdie stadium is Navo nog bloot ’n vlieg, dalk ’n brommer, in die salf vir Poetin. ’n Mens sou hoop dat hy kies om nie die gonsende perdebynes oop te skop nie.
Die lidlande van Navo en die jare waarin hulle aangesluit het
1949
- België
- Denemarke
- Die Verenigde Koninkryk
- Die VSA
- Frankryk
- Italië
- Kanada
- Luxemburg
- Nederland
- Noorweë
- Portugal
- Ysland
1952
- Griekeland
- Turkye
1955
- Duitsland
1982
- Spanje
1999
- Die Tsjeggiese Republiek
- Hongarye
- Pole
2004
- Bulgarye
- Estland
- Letland
- Litaue
- Roemenië
- Slowakye
- Slowenië
2009
- Albanië
- Kroasië
2017
- Montenegro
2020
- Noord-Masedonië
Kommentaar
Baie goeie samevatting van wat op die spel is in hierdie oorlog. My vermoede is dat Poetin nie gaan bes gee nie, maar een of ander tyd chemiese wapens gaan inspan en dalk nog 'n kernbom of twee.
Baie dankie, Izak! Nou weet ons gewone mense waarom Poetin en NAVO nie om dieselfde vuurtjie kuier nie.
Die goeie nuus is dat Finland en Swede intussen beide lidlande van Navo geword het. Dis waar dat Navo 'n probleem vir poetin is, maar Izak is reg om te beklemtoon dat sy narratief rondom die saak nie geglo moet word nie. Redelike mense regoor die wêreld (en in Rusland!) verstaan in elk geval al dat niks wat hy sê waar is nie. Dat Navo nou so 'n groot probleem vir hom is, is 'n gevolg van sy eie doen en late. Voor die oorlog het Navo omtrent nog net op papier bestaan. Daar was geen bedreiging vir rusland soos hy beweer nie. Dis 'n stukkie klassieke russiese logika: as jy voorberei om jouself teen my te verdedig, dan bedreig jy my. Rusland koester nog steeds imperiale drome; dis deel van hulle verstarde mentaliteit. En die wêreld is nou weer in twee verdeel as gevolg van daardie "groot geopolitieke strateeg", wat nou 'n ekstra 1300km by die grense wat rusland met Navo-lande deel, gevoeg het. Ook, op die derde dag na die begin van die oorlog het Zelenskyi, om die bloedvergieting te stop, aangekondig dat Oekraïne nooit 'n lidland van Navo sal word nie. Dit het nie gehelp nie. Dink ook, indien hulle Oekraïne sou oorneem, sou die groot imperia 'n grens deel met nóg vier Navo-lande, 'n aansienlik langer grens. Maar hulle het gereken hulle sou gou-gou ook daardie lande oorrompel. Daarom skryf hulle op hulle tenks "Na Berlyn!" Dit was vroeër, nou is twee derdes van hulle tenkarsenaal al vernietig; of die ambisies al afgeskaal is, weet ek nie.
Mens moet ook versigtig wees met die "russiese mense ly net so veel" tema. Dis ook nou weer een wat in hulle media verdraai word om aan te toon dat hulle die eintlike slagoffers is. Ons sien nie dat hulle ly nie; ons sien hoe hulle jubel op sosiale media as woonstelgeboue in Oekraïne aangeval word, en kinders sterf.
Terloops, dis mos VSSR in Afrikaans? USSR is die Engelse afkorting. As mens na aan die oorspronklike wil wees, moet dit SSSR wees, soos in russies.