Oekraïne en die kernopsie: van afskrikking na aanwending

  • 0

Theo Venter (foto: Twitter, met toestemming gebruik)

............
Op die keper beskou is die konflik in Oekraïne ’n streeksgrensgeskil wat ontwikkel het in Russiese oorgrensagressie en ’n militêre inval in die land; dit is boonop ’n geskil tussen mense met ’n gemeenskaplike geskiedenis en baie nabye kultuur en taal. Dit is ’n grensgeskil wat spruit uit die Russiese anneksasie van die Krim-skiereiland in 2014 en wat sedertdien sluimerend was.
..............

Op die keper beskou is die konflik in Oekraïne ’n streeksgrensgeskil wat ontwikkel het in Russiese oorgrensagressie en ’n militêre inval in die land; dit is boonop ’n geskil tussen mense met ’n gemeenskaplike geskiedenis en baie nabye kultuur en taal. Dit is ’n grensgeskil wat spruit uit die Russiese anneksasie van die Krim-skiereiland in 2014 en wat sedertdien sluimerend was.

Dit is egter waar die eng tegniese ontleding eindig, want dié konflik het sedert Februarie 2022 baie dinge op ’n globale skaal beïnvloed en verander, soos wat min ander konflikte dit sedert 1945 verander het, dié in die Midde-Ooste ingesluit. Die feit dat beide Swede en Finland Navo-lidmaatskap oorweeg na die Russiese inval is een so ’n verandering. ’n Verdere globale risiko is die moontlikheid van ’n eskalasie van ’n konvensionele oorlog tot ’n kernoorlog. Hierdie bekommernis word deurlopend aangevuur deur uitsprake en innuendo’s deur veglustige politici en donkerkykers in die politieke arena. Die groot vraag bly steeds hoe geloofwaardig dreigemente van kernoorlog is, nadat die Amerikaners 77 jaar gelede, in 1945, twee kernbomme op Japan gebruik het, en toe nog nooit weer nie.

............
Gebeure in die Oekraïne neem my onwillekeurig terug na ’n meestersklas in kernstrategie onder leiding van Peter Cocks en Carl Lankowski wat ek in September 1983 gedurende my studie in die VSA aan die State University of New York in Albany, NY bygewoon het. Die konteks was Star wars en die druk wat die Reagan-administrasie op die wankelende USSR geplaas het met betrekking tot die kernwapenwedloop. Die buitenste ruimte sou nou die nuwe dimensie van die kernwapenwedloop word.
..............

Gebeure in die Oekraïne neem my onwillekeurig terug na ’n meestersklas in kernstrategie onder leiding van Peter Cocks en Carl Lankowski wat ek in September 1983 gedurende my studie in die VSA aan die State University of New York in Albany, NY bygewoon het. Die konteks was Star wars en die druk wat die Reagan-administrasie op die wankelende USSR geplaas het met betrekking tot die kernwapenwedloop. Die buitenste ruimte sou nou die nuwe dimensie van die kernwapenwedloop word. Die verbrokkeling van die USSR wat in 1989 sou ontvou, was toe nog nie deel van die konteks nie, maar wel die voortdurende politieke uitsprake deur die Withuis dat ’n kernoorlog ’n denkbare moontlikheid was. Carl Sagan was toe op die kruin van sy bekendheid en was die intellektuele teenpool vir Republikeinse denkbaarheidsdenke deur daarop te wys dat ’n kernoorlog net verloorders en nie wenners kan oplewer nie.

Suid-Afrika het in hierdie periode ook aandag geniet, as ’n kantlynaantekening, omdat ons met twee waarskynlike kerntoetse ons weg in die kernklub van daardie era wou baan, waarskynlik met die hulp van Israel. Die een toets is deur die Vela-satelliet in die suidelike Atlantiese Oseaan waargeneem en die ander by Vastrap in die Kalahari noord van Upington. Histories blyk dit dat Suid-Afrika oor ses kerntoestelle beskik het wat teen 1994 uitmekaar gehaal en onskadelik gemaak is onder die wakende oog van die IAEA. Ons is steeds die enigste land wat tot hierdie stap oorgegaan het. Die Suid-Afrikaanse strategie was om die afskrikkingswaarde van die besit van kerntoestelle te gebruik as ’n onderhandelingsinstrument in die Namibiese en Suid-Afrikaanse politieke bestel. Wat die Suid-Afrikaanse strategie egter ondermyn het, was dat die grootste konsentrasie van nywerhede en mense in Suid-Afrika was en nie in ons buurlande nie.

...........
Wat is die vraagstuk met betrekking tot die gebruik van kernwapens in oorlogvoering en waarom die globale bekommernis daaroor?
..............

Wat is die vraagstuk met betrekking tot die gebruik van kernwapens in oorlogvoering en waarom die globale bekommernis daaroor?

Die omvang van die vernietiging wat met ’n kernontploffing gepaard gaan, die onmenslike humanitêre trauma en die radioaktiewe bestraling is drie van die belangrike faktore wat uit Nagasaki en Hirosjima voortspruit. Kernwapens verteenwoordig ’n soort tegnologiese ontwikkeling waarmee die mensdom gekonfronteer word sonder om die implikasies van die tegnologie behoorlik te deurdink. Ons tegnologiese voortuitgang is dikwels vinniger as die begrip wat ons het vir die etiese en morele aanwending daarvan. Fred Kaplan wys in sy Wizards of Armageddon (1983) gesaghebbend daarop hoe die Amerikaanse politieke en militêre denkers van 1945 tot in die ’60’s van mening was dat ’n kernbom eintlik net ’n massiewe groot konvensionele bom was en dus militêr-strategies aangewend kon word. Hulle denkraamwerke hieroor is in die Tweede Wêreldoorlog gevorm met verskillende benaderings tot die bombardering van veral Duitsland. Na die val van die Berlynse Muur en die verval van die USSR moes Rusland al sy kernplofkoppe uit lande soos Kazakstan en Oekraïne na Rusland verskuif en blyk dit dat Poetin weg beweeg het van ’n kernbalans tussen moondhede na die strategiese aanwending van kernwapens as dit noodsaaklik sou word.

Erkenning: https://www.abebooks.com/Thinking-Unthinkable-1980s-Kahn-Herman-Touchstone/30765311923/bd

In sy bekende boek Thinking about the unthinkable in the 1980s (1962) wys Herman Kahn van die Rand-korporasie op die dilemma van onderontwikkelde strategiese denke oor kernwapens en ontwikkel ’n paar scenario’s rondom die effek van ’n kernoorlog in die konteks van die Koue Oorlog tussen Moskou en Washington. Hy bevraagteken veral die konsep van ’n beperkte kernoorlog wat vandag bekend staan as die aanwending van taktiese kernwapens op die slagveld teenoor strategiese kernwapens of interkontinentale wapens. Latere kritiek op Kahn het daarop gewys dat sy boek eerder Unthinking about the thinkable as titel moes gehad het. Die vraagstuk is natuurlik op die spits gedryf deur die Kubaanse missielkrisis in Oktober 1962 toe beide die VSA en die USSR hulle kernarsenale op uiters hoë gereedheidsgrondslag gehad het. Die groot klem is op afskrikking geplaas, wat eintlik ’n soort magsbalans daargestel het. In hierdie era van kernafskrikking het kleiner konvensionele oorloë egter gedy.

Erkenning: https://www.goodreads.com/book/show/113730.Arms_and_Influence

Thomas Schelling wys in sy boek Arms and influence (1966) dat kernwapens eintlik onbruikbaar is en dat hul waarde vir die strateeg in hul afskrikkingsvermoë lê. Dit is presies wat Poetin tans in die konflik in die Oekraine demonstreer. Afskrikking staan reglynig teenoor aanwending en hier lê die verdere kerndilemma. Dit is die afgelope 77 jaar nog nooit weer gebruik nie, alhoewel daar dikwels dreigemente was. Oorlog is in sy wese ’n onderhandelingsproses, suggereer Schelling, om aan die einde van die oorlog die vredesgesprek te kan domineer of te bepaal. Dit is om hierdie rede dat lande soos Kanada en Europese lande kernoorloë vrees, omdat die aanwending nie in die VSA of Rusland sal plaasvind nie, maar dat die doodsakkers eerder op hulle grondgebied sal wees. As oorlog egter ’n vorm van onderhandeling is, waaroor word dan onderhandel?

.............
Dit is om hierdie rede dat lande soos Kanada en Europese lande kernoorloë vrees, omdat die aanwending nie in die VSA of Rusland sal plaasvind nie, maar dat die doodsakkers eerder op hulle grondgebied sal wees. As oorlog egter ’n vorm van onderhandeling is, waaroor word dan onderhandel?
...............

Dit kan wees oor die aard van die oorlog of konflik; dit kan wees met die oog op vrede na die oorlog; dit kan selfs interne onderhandeling wees binne strydende partye; dit kan wees oor grondgebied soos in die Oekraïne; of dit kan oor die ontwapening van die opponent wees; laastens gaan dit oor regimeverandering in ’n land, ook een van die Russe se duidelike doelwitte in Oekraïne.

Kernstrategie het natuurlik sedert 1945 deur baie fases gegaan sedert die VSA in 1945 ’n kernmonopolie gehad het en die Russe teen 1950 daardie agterstand begin uitwis het en lande soos Frankryk en Groot Brittanje hulle by die eksklusiewe klub aangesluit het. Soos wat die veeldimensionele aard van die kernwapenontwikkeling voortgegaan het van strategiese bomwerpers na strategiese interkontinentale missiele, na kernduikbote met missiele, na strategiese missiele met meervoudige plofkoppe, moes die strategie en konsep van strategiese kernoorlogvoering noodwendig aangepas word. Intussen het onder andere China, Indië, Pakistan, Israel, Noord-Korea en Suid-Afrika (1976–1993) hulle by die kernklub aangesluit. Taiwan, Brasilië, Argentinië en Iran het ook kernwapenambisies en dit het tot verskeie ontwapeningspogings (SALT 1, SALT 2 en START 1 en START 2) gelei. Vandag leef ons in ’n era waarin daar ’n soort kernskaakmat bestaan en waar ’n kernkonflik tot wedersydse vernietiging in ’n volskaalse oorlog sal lei. Die kernmoondhede het meestal meervoudige kernleweringsplatforms ontwikkel om te verseker dat daar voldoende slaankrag sal wees na ’n eerste verassingsaanval. Dit het aanleiding gegee tot die letternaam MAD (Mutually Assured Destruction – wedersyds versekerde vernietiging), wat ’n soort magsbalans verseker het. Die oormaat van kernplofkoppe is duidelik uit die volgende syfers sigbaar: Rusland (6 257), VSA (5 550), China (350), Frankryk (290), Groot-Brittanje (225), Pakistan (165), Indië (156) en Israel (90). Daar is onduidelikheid oor die situasie in Noord-Korea, maar daar word algemeen aanvaar dat die land wel oor kernpotensiaal beskik.

...........
Een van die interessante ontwikkelinge in die afgelope sewe dekades was natuurlik hoe daar strategies gedink is oor die ontstaan van ’n globale kernkonflik.
............

Een van die interessante ontwikkelinge in die afgelope sewe dekades was natuurlik hoe daar strategies gedink is oor die ontstaan van ’n globale kernkonflik. Dit het aanleiding gegee tot baie gesofistikeerde teorieë, waaronder die spelteorie en die gevangenedilemma-teorie en die bekende “chicken”-spel. Dit was hoogs wetenskaplik en het probeer om wetenskaplik en wiskundig te bereken wat die moontlikhede van ’n eerste aanval kon wees, wat die kanse op ’n suksesvolle oorlewing en tweede aanval sou kon wees. Hierdie faktore het veral in die Reagan-era gesorg vir groot bekommernis onder kiesers vanweë die strategiese denke rondom die uitvoerbaarheid en oorlewing van ’n kernoorlog; vandaar die boek With enough shovels deur Robert Sheer, wat basies geskryf het dat elkeen in die VSA maar ’n bomskuiling in sy erf moet bou vir die D-dag, juis omdat strategiese denkers nie meer hipoteties gedink het oor die aanwending van kernwapens nie, maar in praktiese terme.

Die grootste gevaar is die versteuring van die fyn kernmagsbalans wat in die konflik tussen Oekraïne en die Russiese Federasie bestaan. Die grootste bekommernis is geleë in die vraag wat die Russe en Poetin gaan doen as hulle in ’n hoek gedryf word in die nou reeds uitgerekte semikonvensionele oorlog in die land. Die kernbedreiging wat deel geword het van die konflik in Oekraïne het natuurlik ook die Tsjernobil-ramp as konteks. Toe daardie kernkragstasie in 1986 ontplof het (Oekraïne was toe nog stewig onder USSR-beheer), het die radioaktiewe bestraling die hele Europa vir maande geraak, van Noorweë tot die Verenigde Koninkryk. Ook interessant dat Russiese soldate sedert Februarie 2022 deur Tsjernobil beweeg het, klaarblyklik sonder bekommernis oor die radioaktiewe gevaar wat daar steeds bestaan. Verskeie innuendo’s en direkte aanduidings dat die Russe die kernopsie oorweeg, weliswaar in taktiese terme, of dan in terme van beperkte kernoptrede, kan gesien word as strategiese intimidasie eerder as ’n direkte bedreiging.

Ons leef in ’n era waarin die groot kernmoondhede in relatiewe balans is, ten spyte daarvan dat daar heeltemal te veel kernplofkoppe in arsenale, missielsilo’s, mobiele missiele en duikbote bestaan. Die groot vrees is die moontlike optrede van kleiner kernlande, soos Israel en Noord-Korea, en die moontlikheid dat kernwapens of selfs kernafval om ’n “vuilbom” te bou in die hande van terreurgroepe kan beland. Die konflik in Oekraïne het die potensiaal om hierdie globale fyn balans te versteur.

.............
Die konflik in Oekraïne het die potensiaal om hierdie globale fyn balans te versteur.
................

Die waarde van die kernopsie is geleë in die afskrikkingspotensiaal, en dit word op die oomblik oordryf, asook die gevaar van chemiese wapens. Die gevaar daaraan word oordryf deur die Navo-lande om die dringendheid van ’n gemobiliseerde poging te kan bly handhaaf en politieke bewussyn op ’n hoë vlak te handhaaf. Westerse lande is baie afhanklik van openbare steun om enige oorlogspoging suksesvol te kan uitvoer. Die openbare steun is egter nie Poetin se grootste risiko nie en die kernopsie word deur die Russe lewend gehou om as afskrikmiddel te dien en beperkings te plaas op Navo en vennote se buigsaamheid in die militêre terugvegpoging saam met Oekraine. Dit is waarskynlik net die kernafskrikking wat Navo-lande daarvan weerhou om fisies in Oekraine in te meng, en daarom sien ons slegs wapenvoorsiening en humanitêre and aanverwante hulp aan die regering in Kiëf. Kernafskrikking weerhou Navo-lande ook daarvan om ’n vliegverbod oor Oekraine in te stel of om militêre vliegtuie aan die land te voorsien, omdat dit gesien sou word as een stap te naby aan die eskalering van die oorlog.

Die Russiese inval in Oekraine het weer eens gewys dat die gebruik van kernwapens in oorlogvoering nie maklik oorweeg sal word nie, al het die wêreld al ’n paar maal baie naby aan dié punt beweeg. Die einde van die Koue Oorlog het nie die einde van die kern-era beteken nie, Kernmoondhede het hulle vermoëns behou en meer gesofistikeerde tegnologieë ontwikkel, veral om inkomende kernmissiele te identifiseer en te vernietig. Op ’n sekere manier het die wêreld wel veiliger geword na die Koue Oorlog, maar, paradoksaal, veiliger vir kleiner oorloë. Die Russiese militêre inval in Oekraine is so ’n voorbeeld van ’n streekskonflik wat onder die kernsambreel plaasvind! Dit demonstreer dat die na-Koue Oorlogse kern-era meer onseker geword het, met nege kernmoondhede en nog vier of vyf lande wat kernwapenambisies het.

.............
Die konflik in Oekraine sal in alle waarskynlikheid nie eskaleer in ’n kernoorlog nie, omdat alle partye weet dat daar geen wenners uit ’n kernoorlog kom nie. Die Russe mag barbaars en wreed in hulle onmenslike optrede wees, maar hulle staan nie onverskillig teenoor die moontlikheid van selfuitwissing vanweë ’n kernoorlog nie.
...............

Die konflik in Oekraine sal in alle waarskynlikheid nie eskaleer in ’n kernoorlog nie, omdat alle partye weet dat daar geen wenners uit ’n kernoorlog kom nie. Die Russe mag barbaars en wreed in hulle onmenslike optrede wees, maar hulle staan nie onverskillig teenoor die moontlikheid van selfuitwissing vanweë ’n kernoorlog nie. Die konflik gaan langer aanhou as wat die meeste verwag het, en sal ’n kombinasie van konvensionele oorlog, semikonvensionele oorlog en ’n goeie skeut burgerlike weerstand word. Daar sal uitgerekte onderhandelinge wees met ’n tipiese vertragingstaktiek aan beide kante, maar die kernafskrikking sal ’n alomteenwoordige party in al die gesprekke wees.

Lees ook:

Oekraïne: Berigte te velde

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top