...
Your Excellency. Hoe kan dít, komend van ’n Afrika-leier, anders klink of geïnterpreteer word as met die ondertoon van ’n slaafse mentaliteit? Hoe hét dit gebeur dat ons so kort ná die bevryding van een koloniale bewind, gereed is om ’n volgende brutale een te omhels?
...
Van die gesigte sien jy elke aand. Die ou man wat die Yorkshire-hondjie dra, die man wat die babawaentjie op en af stoot, oë op die grond, sy gesig vertrek, van wat, bekommernis, woede, wrok? Daar’s nooit ’n vrou by hom nie, ook nie ’n ma of skoonma nie. Die ou met die spastiese bo-lyf, die netjies-geklede Joodse dame en haar ouer vriendin, die beroerte-slagoffer met die verlamde regtersy, drie, vier keer op en af.
Vroeër was dit net ’n verwaarloosde paadjie van stukkende sementblokke vanaf die supermark in Novokrimskajastraat, tussen ’n plaat kastaiingbome deur tot by die pleintjie langs Jangiljastraat met die standbeeld van die lugvaartingenieur na wie die straat vernoem is. Êrens in die binneste van die munisipaliteit se masjinerie moet daar ’n departement of afdeling wees wat ’n veraf boodskap gehoor het van omsien na die welsyn van inwoners, want ’n jaar of so gelede het hulle ingespring en die area getransformeer - ’n breë, geplaveide wandellaan met lae sementheinings en bankies aan weerskante, ’n omheinde, ovaalvormige baan vir kinders op fietse, skopfietse en rolskaatse, die ou sokkerveld is voorsien van astroturf en nuwe omheining ná soveel vorige pogings tot vernuwing, waarna keer op keer die draad gebreek en afgepluk is. Toe was sulke dade van vandalisme makliker; saans was daar geen beligting nie en die vuil, verweerde bankies rondom die sokkerveld het volgesit met raserige groepies drinkers wat min belangstelling getoon het in die spelers, geklee asof vir die Europese eindstryd, wat saans in alle erns hulle vaardigheid kom slyp.
Danksy daardie boodskap wat die binneste van die munisipale masjinerie bereik het en ten tye van sy uitvoering, genadiglik, nog verstaanbaar was wat betref die oorspronklike bedoeling, het die plek, in tendensieuse terme, ’n binnestedelike “groen” sone geword. En nou, in die snikhete somer van hierdie “tyd van afgryse” ’n bykomende, dalk die belangrikste, funksie van ’n plek van samekoms gekry het. ’n Ruimte vir die bevestiging van jou menswees, of dalk bloot net van jou bestaan. Vergeet vir eers van identiteit en samehorigheid en ander hoër dinge, noudat ons gedwing word om die mees basiese te herontdek.
’n Bestendige stroom elke aand op en af met die “alêja”. Dié wat nêrens het om heen te vlug nie, dié wat nie kán vlug nie, dié wat nie wíl vlug nie. Om nie te vergeet van dié wat al gevlug het maar weer teruggekeer het nie. ’n Parade waarin alle ouderdomsgroepe verteenwoordiging geniet. Heel oues wat kort-kort gaan stilstaan, soos ou mense maak, om asem te skep, maar net om dan meer asem op te gebruik tydens intense gesprekke en ’n beduie met die krukke. Jong mense wat skerp lyk in hulle somersklere, met hulle artistieke tatoes en ontwerpersbaarde, stootwaentjies van ’n wye reeks ontwerpe en kleure, kundig bestuur deur paartjies, of vriende, mans wat hulle plastiekliterbottel met bier onder in die ritssluitersak saam met die wet wipes en die formulevoeding bêre. Groter kinders op helderkleurige, plastiek skopfietsies met wieletjies waarin liggies sit, of kinderfietsies in ’n duiselingwekkende reeks van kleure. Troepe tieners op groter skopfietse, skaatsplanke en rolskaatse, in swart klere en helder pienkrooi of groen of blou gekleurde hare, of met slaprandhoedjies laag oor die oë, almal aan die beweeg op vervoermiddels en met hulpmiddels wat pas by hulle ouderdom. Alle honderasse denkbaar, kleiner soorte, party uitbundig, ander nuuskierig, snuffelend aan alles. Vir die groteres is daar ’n spesiale, omheinde plek, toegang beperk, waar hulle vrylik kan rondhardloop agter stokke en balle aan wat die eienaars lusteloos so ver moontlik probeer gooi. Langs die sokkerveld is ’n omheinde buitelug gym opgerig, glinsterende, oranje masjiene met buise en silwer stange van staal; sonder kundige instruksie gaan jy jouself beslis beseer daarmee, daarom is dit goed so dat toegang slegs verkry kan word deur middel van ’n QR-kode wat by die hek geskandeer moet word. Maar die ouens met hulle enorme biseps wat in die middag kom oefen, dra in elk geval ná die tyd die gewigte se wiele weg en stoor dit in ’n kamertjie by die ingang van die woonstelgebou oorkant die straat. Die QR-kode by die hek verhoed immers nie metaaljagters om oor die heining te klim nie.
...
Êrens gelees president Cyril Ramaphosa spreek poetin (nou in geskrewe kommunikasie tussen Oekraïense vriende algemeen om daardie naam, as dit hoegenaamd gebruik móét word, met ’n kleinletter te spel) aan as “Your Excellency”.
...
En so kom ons nou saans as die son se inferno effens bedaar het, uit ons grys, stomende Sowjet-era sauna-bokse om na mekaar te kyk, op ’n ander manier as vroeër. Ons is soos nuwe mense elke dag, maar dis nie die “nuwe” van wedergeboorte nie, dis eerder omdat elke gister so vinnig verder in die verlede verdwyn. Die psige se meganisme om afstand te kry tussen die greintjies hoop wat nodig is om die hier en nou betekenisvol te maak en die desperaatheid van gister se gruwelikheid. Nie dat ons waardigheid agterweë bly nie, ons hou steeds ons koppe hoog en kyk veral nuwe gesigte skuins en versigtig aan. Maar daar is ’n gedeelde wete wat jy weet vlak onder elkeen se vel sit. Wat jou laat dink die uitdrukking op daardie gesig moet wees hoe die effek van hierdie wete jou eie gesig laat lyk. En tog is daar min vertroosting in so ’n afgryse-gedrewe samehorigheid. Omdat jou belewing van die werklikheid uniek aan jou is, bly jou lot nog steeds jou eie. Die Oekraïense digter Kateryna Mikhalitsina verwoord dit aangrypend in een van haar gedigte: (Die volledige gedig verskyn eersdaags op PEN Afrikaans.)
Ek – is ’n teiken,
en teikens huil nie.
En kla nie uit wanhoop nie.
En kla, eintlik, heeltemal nie.
En beskuldig niemand nie.
Nie wanneer hulle in die bomskuilings sit nie.
Nie wanneer dit op hulle neer reën nie.
Op die bankie regs van my het ’n jong familie uitgespan, pa, ma, tienerdogter, geparkeerde stootwaentjie. Die dogter sit kop onderstebo met opgeblaasde mond na die grond en staar terwyl die hondjie met gespitste ore intens na iets hoër op in die wandelpaadjie kyk. Die pa sit sy arm om die dogter, trek haar na hom toe en probeer ’n grappie maak, sonder sukses. Dan staan hy op en haal die baba uit die stootwaentjie. Die kind het ’n welige bos bruin hare en ’n groot mond, ontwikkelings wat lyk of hulle nie strook met die klein lyfie as bewys dat sy nie té lank gelede in hierdie dimensie gearriveer het nie. Die pa tel die kind hoog op en hou haar teen die lig, asof om haar beter te kan sien, of dubbeld seker te maak van haar bestaan. Dan sit hy haar versigtig terug, gaan sit weer op die bankie en gaan deur middel van ’n geskerts voort met sy taak om almal te verseker van sy eweredig-verdeelde liefde.
***
Êrens gelees president Cyril Ramaphosa spreek poetin (nou in geskrewe kommunikasie tussen Oekraïense vriende algemeen om daardie naam, as dit hoegenaamd gebruik móét word, met ’n kleinletter te spel) aan as “Your Excellency”. Wens ek het dit nooit gesien nie. Nog ’n item van wanklank, van tweedrag in die gemoed, met die gepaardgaande skok, die hartklop wat versnel en die maag wat op ’n knop trek as jy vee deur die nuuskoppe vir iets goeds om die bose mee te verdryf – iets slegs wat “hulle” oorgekom het, “goeie nuus” oor ’n sekere persoon se slegte gesondheid. Dis die kern van die daaglikse stryd vir geestelike ewewig.
Beter natuurlik om van niks te weet nie. Maar wie kan bestaan teenswoordig sonder die daaglikse aandagafleiers wat in die naam van die geredelike beskikbaarheid van inligting, elke hoekie van ons bestaan infiltreer? Miskien net die heel oues; hulle is die enigstes wat nog lank kan stilsit. En ook onverstoord blyk te wees deur watter inligting hulle ook al bereik. Op die bankie links van my sit ’n heel ou dame met ’n haakneus, hardhorend, kiertsregop. ’n Jonger dame, maar ook gevorderd in jare, langs haar praat hard in haar oor.
“Het Oekraïne nou al geval?” vra die heel ou dame.
“Nee,” skree die jonger dame in haar oor, en vervolg met lang vertellings en verduidelikings. Die heel oue kyk stip voor haar uit en reageer nie. Sy’s immuun teen inligting, dis net die hooftrekke, die feite wat haar interesseer, die swart of die wit. As jou hare dun is en jou vel vol kreukels, is die vrae eenvoudig en op die man af. Miskien het gemoedsrus iets met hardhorendheid te doen.
’n Ander so ’n heel ou dame wat nou die dag langs my op die bankie sit, kyk ’n rukkie ná die sirene begin loei het na my en vra: “Is dit die sirene?”
“Ja, hulle het vanoggend weer begin vuurpyle skiet uit die besette gebiede.”
“Wat wil hulle van ons hê?”
Ons weet nie wat hulle van ons wil hê nie. As ons geweet het, was dit dalk makliker. Weet hulle presies wat hulle van ons wil hê? Om te wys sy besef haar vraag is retories, kom die heel ou dame toe orent sonder om te wag vir ’n antwoord en begin wegskuifel.
Net die basiese feite, die beantwoordbare vrae. Maar die res van ons wat verslaaf is aan die aandagafleiers wat as inligting bekendstaan, vee verbete van links na regs en van bo na onder en terug. Wat gebeur, waar, wanneer en hoe? Wie sê wat, waar, wanneer en hoe? En rol rond in die nag en slaap sleg.
***
Your Excellency. Bewonderend. Laat my dink aan hoe iemand vroeër jare spottenderwys Jan FE Celliers se gedig gewysig het: “Ek hou van ’n man wat sy man kan staan/ Ek hou van ’n man wat sy vrou kan slaan...” Your Excellency. Hoe kan dít, komend van ’n Afrika-leier, anders klink of geïnterpreteer word as met die ondertoon van ’n slaafse mentaliteit? Hoe hét dit gebeur dat ons so kort ná die bevryding van een koloniale bewind, gereed is om ’n volgende brutale een te omhels?
Your Excellency. Eers was dit kraamhospitale, skole en kleuterskole – in Kharkiv alleen is meer as 200 in puin gelê. Kollaterale skade natuurlik. Daar’s ’n militêre basis langs elke skool en kleuterskool in Oekraïne. Maar dit was nie genoeg nie. Now Your Excellency is really excelling in excellence. Nou vuur hy sy langafstand kruisermissiele op woongebiede en volgepakte winkelsentrums af. Daar’s natuurlik ’n militêre basis reg langs elke winkelsentrum in Oekraïne.
Die ma het nou die nuwe baba uit die stootwaentjie gehaal en skud haar op en af terwyl sy kort passies maak en die baba blou moord skree. Die tienerdogter lyk al beter. Sy sukkel nog om na die nuwe aankomeling te kyk, maar sy kyk darem al op en om haar rond, en praat. Alles sal regkom. Dit vat tyd om vrede te maak met die wete jy’s nie die enigste in iemand anders se hart nie. Mens wil graag dink dis sulke dinge, ’n familie se omgee vir mekaar, wat onvernietigbaar menslik is, en dit is seker ook, maar watter toekoms lê vir hulle voor, dis te sê ás hulle toegelaat word om ’n toekoms te hê? Teikens het tog gewoonlik nie die reg om hulle eie toekoms te bestuur nie?
Om afstand te kry, te laat gaan vat tyd, geduld, harde werk, en meestal moed. Maar dis die enigste reis wat ons het om ons menslikheid te toon. Om voorbereid te wees vir die finale afskeid, sonder om uit haat en afgunstige wraak agterblywendes leed en pyn aan te doen, dis wat ons menslik, beskaafd maak. Geen strategieë vir die fisiese uitoorlê en vernietiging van opponente, konkurrente, andersdenkendes, werklik of in die verbeelding, kan daarmee help nie. Om die waarheid te sê, dit blyk al hoe meer ons beste, dalk ons enigste toets vir beskaafde menswees te wees. Maar dis nie ’n pluspunt vir mense teenoor diere nie. Baie diere, sover ek weet, sonder hulle af as hulle voel hulle einde is naby. Diere is nie beskaafd of onbeskaafd nie, selfs al is hulle gedrag soms meer beskaafd as dié van onbeskaafde mense. Daarom is dit ongeldig om te sê mense gedra hulle soos diere as hulle onbeskaafd optree. Die skaal vir eties-beskaafde menslike gedrag gly nie by sy onderste punt oor na die diereryk nie. Brutaliteit en sadisme is uitsluitlik menslike gedrag, die laagste vlak van menslike gedrag, ’n ondubbelsinnige teken van onbeskaafdheid.
***
’n Baie dronk ou val op die bank neer langs my. Sy oë rol terwyl hulle op my probeer fokus. Vir ’n ruk is hy stil terwyl hy sy sit, of lê, kry, en dan begin hy mompel. Ek kom agter dis tot my gerig, en dis nie vriendelik nie. Ek hoor die woord “piederaste”, ’n algemene skelwoord, en ’n baie lelike een op die koop toe. Seker sy manier om afstand, ’n greep op “die situasie” te kry. Verskriklik dronk word en dan ander mense vloek. Oorlog maak nie voor die voet engeltjies van alle teikens nie. Maar ten minste vermoor hy nie links en regs nie, neem ek aan.
Ek maak aanstaltes om op te staan. Die familie met die nuwe baba maak ook alles bymekaar om huiswaarts te begin beweeg. Net die wind bly blaas deur die kastaiingbome, die gesuis van die takke moduleer die sirene se klank tot ’n veraf loei wat kom en gaan, ’n oerding se hatige gemor.