Hierdie artikel is aanvanklik beplan as vervolg op een wat voor die oorlog verskyn het. Die oorweldigende steun wat Oekraïne wêreldwyd geniet sedert die uitbreek van die oorlog, word ongelukkig nie weerspieël in Suid-Afrika nie. Inteendeel, ondersteuners van Poetin en sý Rusland kom voor in ’n verskeidenheid groepe in Suid-Afrika. Buitelanders maak hierdie steun dikwels af as gebaseer op onkunde. Daarom wil hierdie artikel sekere, moontlik onbekende, aspekte van Poetin se Rusland onder die aandag van Suid-Afrikaners bring. Die artikel verwys gereeld na “Poetin se Rusland” of “Poetin-Rusland” of “Poetin/Rusland”, en daarmee word bedoel die (getransformeerde) Russiese samelewing onder sy bewind. Russiese uitgewekenes wys met nadruk daarop dat Poetin en Rusland nie ekwivalent gestel moet word nie, met ander woorde, Poetin is nié Rusland nie.
In die Weste en in Suid-Afrika vind Poetin en sy Rusland ondersteuning aan beide die linker- en regterkant van die tradisionele politieke spektrum. Hierdie verskynsel moet egter nie interpreteer word as steun regoor die politieke spektrum nie; kritiese denke sal toon dat dit eerder tradisionele opvattings van die politieke spektrum is wat uitgediend is en hersien moet word. Dis merkwaardig hoe ondersteuners aan verskillende kante van die spektrum skynbaar gemaklik is daarmee om verenig te word deur die gemene deler van hulle Poetin-Rusland-steun. Pogings deur regse ondersteuners om hulle te distansieer van linkses, of andersom, is nie in die media te vinde nie. ’n Verklaring hiervoor moet gesoek word in die wêreldbeskouing van Westerse en Suid-Afrikaanse Poetin-Rusland-ondersteuners. Hierdie artikel sal, in die tradisie van analitiese filosofie, aantoon hoe Westerse en Suid-Afrikaanse Poetin-Rusland-ondersteuners se wêreldbeskouing nie daarin slaag om te voldoen aan een van die kerneienskappe wat ’n geldige en geloofwaardige wêreldbeskouing kenmerk nie.
Die vervloeiing en betekenisverskuiwing wat die “linkses” en “regses” van die politieke spektrum gereeld ondergaan, maak dat die gebruik van hierdie terme om die essensie van Westerse en Suid-Afrikaanse pro-Poetin/Rusland-sentimente vas te vang, onvoldoende en nie insiggewend is nie. Drie kategorieë van Westerse en Suid-Afrikaanse Poetin-Rusland-ondersteuners kan eerder identifiseer word op grond van die kernidees wat hulle motiveer, wat beter daartoe sal bydra om die inherente inkonsekwentheid van hulle wêreldbeeld te illustreer:
- Pro-Poetin weens die vermeende behoud van konserwatiewe waardes.
- Pro-Poetin/Rusland op grond van bewondering vir kommunisme en die Sowjetunie.
- Pro-Poetin/Rusland weens Westerse (veral die VSA en VK se) buitelandse beleid.
Hierdie artikel handel oor die eerste soort Westerse Poetin-Rusland ondersteuner – die persoon wie se steun gebaseer is op Poetin se vermeende beskerming van konserwatiewe waardes. Daar moet egter eers rekenskap gegee word van die konsep van ’n wêreldbeskouing.
Wat is ’n wêreldbeskouing?
In filosofiese terme is ’n wêreldbeskouing ’n stel kenteoretiese, etiese en morele oortuigings waarin ’n persoon se uitkyk en gedrag veranker is; met ander woorde ’n stel beskouings wat ‘n mens se kennis, dade en denke onderlê. Filosofies beskou is daar twee hoofvereistes waaraan ’n wêreldbeskouing moet voldoen om “legitiem” te wees: Die oortuigings waaruit dit bestaan moet onderling samehangend en konsekwent wees. “Legitiem” is hier tussen aanhalingstekens, want gewoonlik monitor owerheidsinstansies nie wêreldbeskouings nie, of altans nie direk nie. Monitering word nie-amptelik uitgeoefen deur die samelewing waarin ’n persoon leef en die sosiale kringe waarin hy of sy beweeg. Mense fluister dikwels agter hulle hande of skinder van so-en-so wat “nie lekker is nie” – dít is ’n vorm van monitering, en ’n aanduiding dat iets volgens hulle skort met die persoon se wêreldbeskouing. Let wel: Hierdie soort monitering is relatief; dit behels ’n waardeoordeel, maar dis nie volgens ’n absolute standaard nie, al sou diegene wat die monitering toepas, so wil voorgee. Dis eerder relatief tot die persoon onder bespreking se sosiale kring of samelewing. ’n Wêreldbeskouing wat wenkbroue laat lig in een gemeenskap, is dikwels heel aanvaarbaar in ’n ander, mits dit voldoen aan die vereistes van samehangendheid en konsekwentheid. “Legitiem” in hierdie konteks kan dus beskryf word deur ’n groep woorde soos geldig, aanvaarbaar en geloofwaardig.
Wat beteken samehangend en konsekwent?
’n Stel bewerings is konsekwent wanneer hulle almal gelyktydig waar kan wees, byvoorbeeld:
- ’n Driehoek is ’n geslote tweedimensionele figuur met drie reglynige sye.
- ’n Geslote tweedimensionele figuur wat nie drie reglynige sye het nie, is nie ’n driehoek nie.
’n Stel bewerings is inkonsekwent wanneer hulle nie almal gelyktydig waar kan wees nie, byvoorbeeld:
- ’n Driehoek is ’n geslote tweedimensionele figuur met drie reglynige sye.
- ’n Driehoek is ’n geslote tweedimensionele figuur met vier reglynige sye.
Die meeste mense handhaaf soms teenstrydige oortuigings. Ek hou byvoorbeeld nie van sjokoladekoek nie, maar toe ek vir Willem so lekker sien smul, besluit ek om ook ’n sny te bestel. Hierdie tipe oënskynlike teenstrydighede doen geen afbreuk aan ’n persoon se aanvaarding deur haar gemeenskap nie, mits die oorgrote meerderheid van haar oortuigings konsekwentheid toon op die lang duur. Wanneer iemand se kernoortuigings egter gereeld so inkonsekwent is dat dit haar normale funksionering en interaksie belemmer, sal vrae ontstaan en sielkundige hulp moontlik benodig word.
Samehangend is ’n moeiliker begrip om te verduidelik, en een waaroor nog baie geskryf word in die analitiese filosofie. Die meeste filosowe is dit egter eens dat dit ’n sterker betekenis het as bloot “konsekwent”. Samehangendheid het te doen met die onderlinge verwantskap tussen oortuigings, en hoe hulle mekaar aanvul om ’n teoretiese geheel te vorm. Soos die artikel sal aantoon, slaag Westerse, en veral Suid-Afrikaanse, Poetin-Rusland-ondersteuners se wêreldbeskouing nie die toets vir konsekwentheid nie, wat dit onnodig maak om verder te toets vir samehangendheid.
Die eerste kategorie van ondersteuners: pro-Poetin/Rusland vanweë die vermeende behoud van konserwatiewe waardes
Poetin gebruik dikwels die eerstepersoonmeervoudsvorm ons, maar dit verskil van die VK- koningin se gebruik van we. Hy verwys naamlik na die Russiese nasie, waarvan hy homself as die verpersoonliking sien – die verpersoonliking én die spreekbuis. In ’n neerhalende monoloog oor sosiokulturele sake in die Weste sê hy byvoorbeeld dat “ons ’n gesonde, konserwatiewe benadering sal volg”. Die sake waaroor hy hom uitlaat, is genderkwessies en gayregte, woke kultuur en rasse-aangeleenthede. Die “konserwatiewe benadering” wat “ons” volg, behels, voorspelbaar genoeg, die ontkenning van trans- en gayregte, die verdoeming van woke kultuur as sou dit tradisies wil ondermyn deur klassieke literatuur verdag te maak, en verbaasde verontwaardiging oor die prominensie van rasse-aangeleenthede in die Westerse samelewing, aangesien rasseharmonie een van die boustene van die Russiese Federasie is. Dis natuurlik hierdie soort uitlatings wat die hart van die Westerse en Suid-Afrikaanse Poetin-Rusland ondersteuners verteder. In werklikheid is dinge egter heelwat anders in die Russiese Federasie, en byvoorbeeld wat rasse-aangeleenthede betref, ver van rooskleurig.
Rassisme in die Russiese Federasie
In teenstelling met wat Poetin verkondig, het rasse-onverdraagsaamheid in Rusland skerp toegeneem tydens sy bewind. In 2006 word al berig gelewer van groeiende rassegeweld in die vorm van aanvalle en moorde op mense van kleur. Die VN se spesiale verslaggewer oor rassisme en xenofobie besoek Rusland in daardie jaar en bevind dat die oorsake gesetel is in, onder andere, ’n gebrek aan duidelike teendiskriminasie wetgewing, laksheid aan die owerheid se kant om rassegeweldenaars op te spoor en te straf, en die rol van die media in die verspreiding van xenofobiese stereotipes en onverdraagsaamheid. Dis belangrik in hierdie verband om te onthou dat die media in Rusland volledig onder beheer van die Kremlin is. Lees meer hier.
Hierdie rassegeweld is nie net gemik teen Afro-Russe (meer as 50 000, boorlinge ingesluit) nie, maar teen almal wat beskou word as nie-Slawies (dit wil sê mense met ’n donker velkleur), en veral dan ook teen mense uit die voormalige Sowjet-Sentraal-Asië. Die Kremlin se toenemende aggressiewe, nasionalistiese retoriek speel ’n belangrike rol in die ontstaan van neo-Nazi-bewegings en paramilitêre groepe wat strate patrolleer en grotendeels verantwoordelik is vir dié geweld. Die slagspreuk “Rusland vir Russe” (bedoelende etniese Russe) word toenemend gehoor sedert die migrasiekrisis in Europa en die opkoms van populisme.
Die Russiese regering se laksheid om teen rassistiese en xenofobiese geweldenaars op te tree moet ook gesien word teen die agtergrond van Poetin se transformasie in ’n populistiese leier. Hy is nou al meer as 20 jaar aan bewind, en ’n gevaar met betrekking tot sulke lank-heersende diktators is altyd dat hulle kontak verloor met die jonger generasie. Poetin se aktiewe bemarking van homself as ’n leier wat ook by die jonger garde aansluiting vind, kan uit hierdie oogpunt verklaar word. Die macho beeld, gesteun deur sy deelname aan sportkompetisies, motorfietsritte (weliswaar op ’n driewiel) saam met die Russiese Nagwolke, ’n ultranasionalistiese weergawe van die Hell’s Angels, en foto’s van ’n ouer man wat ewe hups kaal bolyf perdry, saam met ander ewe macho foto’s is tot onlangs nog jaarliks beskikbaar in kalenderformaat, en aan almal bekend. (Dit kontrasteer, terloops, sterk met die duidelik verswakte figuur wat sittend, ’n kombersie oor die skoot, 9 Mei se grootliks afgeskaalde parade op die Rooi Plein oorskou het. Volgens ’n oligarg in sy binnekring het Poetin bloedkanker.) Bewys van sy suksesvolle transformasie in ’n populistiese leier is die steun en bewondering wat hy geniet van ander Europese populistiese leiers soos Italië se eerste minister en die president van Hongarye, Viktor Orban.
Populisme en ekstreme nasionalisme gaan hand aan hand. Ekstreme nasionalisme word altyd gekenmerk deur ’n definiëring van nasieskap in teenstelling tot die ander: Wat ons A’s maak, is dat ons nie B’s is nie. In die geval van Rusland is hierdie formule tegelyk oud en fataal. Vir eeue al sien Russe hulle identiteit as uitsluitlik gedefinieer in teenstelling tot die Weste. Die werk van Dostojewski is deurspek daarvan. (Sy virulente anti-Poolse siening is bekend, maar lees gerus die novelle The gambler vir insig in sy negatiewe beskouing van Franse, Duitsers en Engelse.) Teen die einde van die 1990’s, toe die besef begin deurdring dat ’n herlewing van die Sowjetunie nie meer moontlik is nie, en dat kapitalisme in Rusland ’n blywende werklikheid geword het, begin anti-Westersisme as ‘n polities mobiliserende instrument sy kop uitsteek. Die Russiese Federasie se eerste minister in daardie tyd, Evgenii Primakof, keer in 1999 terug van ’n besoek oorsee en verklaar die Weste (en die VSA in besonder) as Rusland se grootste vyand. Dit word vinnig die amptelike ideologie van die Russiese owerhede, en die kern van Poetin se politiek, aldus die Russiese politieke ontleder Aleksandr Werkhovskii (sien “The rise of nationalism in Putin’s Russia”.)
’n Tweede aspek wat ekstreme nasionalisme kenmerk, is ’n meerderwaardige beskouing van ras. In die post-Sowjetunie Russiese Federasie is die opkoms van ekstreme nasionalisme problematies, gegewe die multi-etniese samestelling van die voormalige Sowjetunie. Maar Poetin se behoefte om aan bewind te bly gooi hom op die golf van populisme wat tussen 2010 en 2020 oor Europa versprei, en uiteindelik word hy meegesleur deur die ultranasionalistiese bewegings wat Russiese identiteit gesetel sien in etnisiteit in plaas van in ’n breër (vroeëre) imperialistiese identiteit. (Regse Russiese nasionaliste beskou Russe ook as die “rasegte” Slawe; daarom is xenofobiese geweld hoofsaaklik teen vermeende “nie-Slawe” gemik.) Lees meer hier.
Geen wonder dat tydens Poetin se bewind ekstreme nasionalisme en xenofobiese sentimente toenemend akkommodeer word nie. Die vroeëre laksheid om rassisme en xenofobie aan te spreek, transformeer geleidelik in stilswyende steun. In 2021 is dit duidelik dat die stilswyende aandadigheid uiteindelik ook uitgesproke rassisme en xenofobie verdra. In die onderstaande artikel is dit die Russiese ministerie van binnelandse sake wat reageer en die komediant verban nadat ’n staatspropagandis sy grappie op TV oorvertel sonder om konteks te verskaf.
2021 is ook die jaar waarin die laaste oorblywende menseregte-organisasie in Rusland, Memorial Human Rights Center, uit die land geskop word. Die sogenaamde foreign agent-wet wat Poetin in 2012 onderteken het, word toenemend gebruik om nieregeringsorganisasies en burgerregtegroepe te teiken. Die wet is in 2019 aangepas om ook media-organisasies en individue soos YouTube-vloggers te teiken. Nog ’n aanpassing in Oktober 2021 lys 60 onderwerpe waaroor dit verbode is om selfs inligting te deel. Die jongste aanpassing teiken enige kritiek op en verspreiding van inligting oor die oorlog in Oekraïne – en selfs die gebruik van die woord oorlog in dié verband. Dis ook nou wettig vir die Russiese Federasie se regering om ’n lys van “foreign agents” saam te stel. Kritici sien hierin ’n weerspieëling van die kwasiwetlike basis wat Stalin se regime in die dertigs gebruik het vir die arrestasie van “vyandelike agente” tydens die jare van massarepressie. Tussen 1937 en 1938 is meer as 1,7 miljoen mense gearresteer en geskiet of na koelakke gestuur as beweerde vyande van die staat.
(Die anti-Westerse fobie in die Russiese Federasie het nou sulke absurde afmetings aangeneem dat selfs Rusland se mees vooraanstaande wetenskaplike joernaal, Meduza, as ’n “foreign agent” gelys is op grond van internasionale samewerking wat daarin gereflekteer word. In April is aangekondig dat die Russiese Federasie voortaan sy wetenskaplikes verbied om aan internasionale konferensies deel te neem en toe te laat dat hulle gepubliseerde werk op internasionale wetenskapdatabasisse verskyn.)
Xenofobie en haatspraak vanuit Rusland teen Oekraïners het skerp toegeneem in die laaste jare. Sedert die uitbreek van die oorlog het dit egter ’n sinistere toon aangeneem. Op die staatsbeheerde Russiese televisie is daar besprekingsprogramme waarin die wenslikheid daarvan dat Oekraïners toegelaat moet word om bloed, organe of sperm te skenk bespreek word, asook die moontlikheid van hulle gedwonge sterilisasie. Dit word aangevuur deur die ekstreem-nasionalistiese propaganda dat Oekraïners, omdat hulle nie onder Russiese bewind wil wees nie, nie ware Slawe is nie, en gevolglik “naziste” is. Hoe die ontmenslikende effek hiervan deurfiltreer na die Russiese soldate wat dorpies in Oekraïne beset, is duidelik uit die gruwelmoorde, marteling en verkragting van burgerlikes en kinders wat aan die lig kom na die bevryding van hierdie dorpies.
Wat beteken die bostaande vir Westerse en Suid-Afrikaanse Poetin-Rusland-ondersteuners?
Daar is natuurlik ’n onderliggende, implisiete teenstrydigheid wat hierdie persone se wêreldbeskouing logies inkonsekwent, en dus, soos vroeër opgemerk, ongeldig maak. Dis geleë in die uitspreek van steun vir ’n eksplisiet ondemokratiese bestel vanuit ’n demokratiese stelsel waar die reg om die bestel waarin jy jou bevind te kritiseer, grondwetlik beskerm word. Dis soos om lof en steun uit te spreek vir ’n leier wat reddingsbootjies op skepe onnodig vind en daarmee wil wegdoen, terwyl jy self in een sit.
Veral die Suid-Afrikaanse Poetin-Rusland-ondersteuner se wêreldbeskouing is in ’n penarie wat spruit uit spesifieke instansies van hierdie algemene teenstrydigheid. Daar is twee moontlikhede:
- Die Suid-Afrikaanse Poetin-Rusland-ondersteuner behoort tot ’n etniese minderheidsgroep.
Hierdie ondersteuners moet, uit die aard van hulle steun, en gegewe die situasie in Rusland soos hier bo uiteengesit, akkoord gaan daarmee dat geen noodsaak bestaan om beskerming vir etniese minderhede in die wetgewing te beskryf en aktief vanaf owerheidskant te handhaaf nie. As hulle dus besorg is oor moontlike geweld teen hulle etniese minderheidsgroep, en hulle dalk daaroor wil uitspreek, handhaaf hulle twee teenstrydige oortuigings:
- Geen spesiale wetgewing is nodig om etniese minderhede te beskerm nie.
- Daar is spesiale wetgewing nodig om my etniese minderheidsgroep te beskerm.
As hierdie ondersteuners wou alarm maak oor vermeende haatspraak teen hulle etniese groep, sou hulle in ’n soortgelyke inkonsekwentheid verval, aangesien hulle ’n politieke bestel ondersteun waarin menseregte-organisasies geen plek het nie, soos vroeër uitgewys is.
- Die Suid-Afrikaanse Poetin-Rusland-ondersteuner behoort tot ’n etniese meerderheidsgroep.
Hierdie ondersteuners mag, uit die aard van hulle steun vir die Russiese Federasie se populistiese leier en die ras-superieure beskouing wat ekstreme nasionalisme kenmerk, hulle etniese groep in ’n soortgelyke lig beoordeel as wat die “Russia for Russians”-slagspreuk suggereer. Tog sou dit vreemd wees as hulle dan, vanuit ’n Afrika-perspektief, akkoord gaan daarmee dat die xenofobiese geweld in die Russiese Federasie Afro-Russe teiken in die oortuiging dat hulle tot ’n minderwaardige ras behoort. En dit sou verder teenstrydig wees daarmee wanneer hulle dalk die Black Lives Matter-beweging ondersteun. Die teenstrydige oortuigings hier is:
- ’n Land se etniese meerderheid het alleenreg op bestaan en geweld teen minderheidsgroepe is aanvaarbaar.
- Ek ondersteun ’n beskermingsbeweging vir een van die minderheidsgroepe wat in ’n land soos gemeld in i. die teiken van geweld is.
Die minderheidsgroep-SA-Poetin-Rusland-ondersteuner mag natuurlik dieselfde Afrosentriese oortuigings hê soos gemeld in die geval van die meerderheidsgroep-SA-Poetin-Rusland-ondersteuner. In hierdie geval sal hulle dan ’n dubbele stel teenstrydige oortuigings hê: dié genoem onder (1), plus dié genoem onder (2) hier bo. Hulle dilemma is nog groter: Hoe meer van jou oortuigings in teenstelling is met wat geld as die norm in Poetin se Rusland, hoe minder is jou gronde om jouself ’n Poetin-Rusland-ondersteuner te noem.
Huishoudelike geweld en geweld teen vroue in die Russiese Federasie
Daar is nog meer elemente van die vermeende Poetin-Rusland se bewaring van konserwatiewe waardes wat die Westerse en Suid-Afrikaanse Poetin-Rusland-ondersteuner se wêreldbeskouing beduiwel, maar die volgende word ten laaste ondersoek.
Die nieregeringsorganisasie Human Rights Watch berig in 2021 oor die tragiese stand van pogings in Suid-Afrika om geslagsgeweld, waarvan huishoudelike geweld ’n subkategorie vorm, hok te slaan. Hierdie geweld maak Suid-Afrika een van die onveiligste plekke ter wêreld vir vroue, waar na bewering een vrou elke drie ure vermoor word. Die Wêreldgesondheidsorganisasie bevind in 2019 dat Suid-Afrika volgens statistiek van die hoogste geslagsgeweldsyfers ter wêreld het. Volgens sosioloë is die probleem gesetel in Suid-Afrika se patriargaal-georiënteerde samelewing.
Talle organisasies fokus op hierdie sosiale probleem, die bekendste waarvan seker POWA is. Regeringsorganisasies is ook betrokke by programme om die geweld te bekamp, maar hulle benodig glo meer befondsing om ’n impak te hê. President Cyril Ramaphosa noem geweld teen vroue die “tweede pandemie” in Suid-Afrika naas COVID-19.
Wat is die situasie in Rusland wat betref geweld teen vroue en huishoudelike geweld? In 2017 teken Poetin ’n wysigingswet wat sekere vorme van huishoudelike geweld dekriminaliseer. Voortaan is fisieke geweld teen eggenote en kinders wat tot kneusplekke en bloeding aanleiding gee (breuke uitgesluit), strafbaar met 15 dae gevangenisstraf, mits dit nie meer as een keer per jaar gebeur nie. Voorheen was dit strafbaar met twee jaar gevangenisstraf, maar nou is dit ’n administratiewe saak in plaas van ’n kriminele een. Kritici sê dit stuur ’n verkeerde boodskap in ’n land waar huishoudelike geweld pandemiese afmetings aanneem. In 2018 is 8 300 vroue in Rusland tydens huishoudelike geweld vermoor. Dit kom neer op 22 per dag. Konsepwetgewing wat interdiksie insluit om huishoudelike geweld te bekamp, stol in die parlement. Die Russies-Ortodokse Kerk se hoof gemoeid met familiesake sê die idee dat die staat sy neus in familiesake moet steek, is ’n Westerse konsep wat op Rusland afgedwing word.
’n Russiese vroueregteaktivis, Alena Popova, organiseer in 2017 ’n aanlyn veldtog om die nuwe wysigingswette teen te staan. Duisende vroue deel hulle verhale van geweld en verkragting. Baie Russe is geskok, en ’n debat wil-wil ontstaan, maar daar is ’n groot gaping tussen die Russiese stedelike middelklas en die landelike gebiede. Volgens Maria Lipman, ’n politieke ontleder, is daar ’n enorme kieserskorps in Rusland waarvoor tussenbeidetreding in familiesake net nog ’n voorbeeld is van hoe die Weste hulle sienings op Rusland wil afdwing. Pogings om te beding vir sterker wetgewing wat interdiksie en beskerming vir slagoffers insluit, het tot dusver misluk. In 2019 is ’n voorstel vir swaarder strawwe teen eerste oortreders, insluitend gevangenisstraf, deur konserwatiewe groepe en die Ortodokse Kerk teëgestaan. ’n Ope brief aan Poetin, geteken deur meer as 100 organisasies, noem die voorstel destruktief en die produk van die radikale antifamilie-ideologie van feminisme.
Wat impliseer die bostaande vir die Suid-Afrikaanse Poetin-Rusland-ondersteuner?
As Suid-Afrikaanse Poetin-Rusland-ondersteuners ’n voorstander is van huishoudelike geweld en geweld teen vroue, of ten minste geen probleem daarmee het nie, is daar natuurlik niks teenstrydig in hulle wêreldbeskouing nie. Hulle mag hulle dalk wil uitspreek teen die hulp, byvoorbeeld in die vorm van tyd en geld, wat nieregerings- en regeringsorganisasies verleen, maar sodra hulle openbare media wil gebruik om hulle standpunt te laat hoor, verval hulle dadelik in ’n teenstrydigheid. Hierdie teenstrydigheid is daarin geleë dat hulle ’n staat ondersteun wat vryheid van spraak en openbare debat onderdruk en geen onafhanklike media verdra nie, terwyl hulle juis op die beskikbaarheid van ’n vrye en onafhanklike media in Suid-Afrika staatmaak om hulle standpunt te laat hoor.
’n Tweede moontlikheid is dat hierdie ondersteuners in hulle stilswye gekant is teen huishoudelike en ander geweld teen vroue, en dit eens is met pogings om dit te bekamp. Hulle handhaaf dan die volgende teenstrydige oortuigings:
- Ek steun ’n staat wat nie pogings om huishoudelike en ander geweld teen vroue te bekamp, ondersteun nie op grond daarvan dat sulke pogings ’n Westerse, volksvreemde idee is.
- Ek ondersteun pogings van regerings- en nieregeringskant in my land om huishoudelike en ander geweld teen vroue te bekamp.
Slotsom
Die Westerse en Suid-Afrikaanse Poetin-Rusland-ondersteuner se wêreldbeskouing berus op ’n intrinsieke teenstrydigheid gesetel in die ondersteuning vir ’n bestel wat die een waarin jy jou fisies bevind as vyand sien en die vernietiging daarvan verkondig. Dis egter die Suid-Afrikaanse Poetin-Rusland-ondersteuner se oortuigings wat, vanweë sekere ooreenkomste tussen die Russiese en Suid-Afrikaanse samelewings op die gebied van multi-etnisiteit en geweld teen vroue, mank gaan aan teenstrydighede wat dit ongeloofwaardig maak as ’n konsekwente en samehangende wêreldbeskouing.
Hierdie ondersteuners kan uit hierdie penarie probeer ontsnap deur slegs sekere eienskappe van Poetin se bewind te ondersteun. Die vraag is egter watter en hoeveel elemente uitgesny en watter behou kan word sodat die oorblywende oortuigings nog hoegenaamd as steun vir spesifiek Poetin en sý Rusland gesien kan word. Die onus sal op die Suid-Afrikaanse Poetin-Rusland-ondersteuners wees om hulle steun duidelik te definieer en die aspekte waarvan hulle hulle distansieer, duidelik uit te spel. So ’n deeglik verantwoorde beskouing het tot dusver nog nie vorendag gekom nie, en solank as wat die hierdie ondersteuners se steun deurspek is van onkunde en ’n klakkelose napraat van Kremlin-retoriek, bly dit op die vlak van ’n blote waardeoordeel, weliswaar ’n uiters onbesonne en gevaarlike een.
Lees ook:
Die Rusland-Oekraïne-konflik: die geskiedenis en Poetin se wêreldbeskouing


Kommentaar
Baie indrukwekkend, Eben. Net jammer die ondersteuners van Poetin-Rusland sal dit waarskynlik nie lees of verstaan nie.
Inderdaad. Om Poetin se aksies te ondersteun maak geen sin nie. Op nasionale vlak het SA se beleid oor internasionale aangeleenthede in die verlede veel te wense oorgelaat en die neutrale beleid teenoor die oorlog in Oekraïne word, met reg, wyd gekritiseer. Die irrasionele Suid-Afrikaners wat Poetin ondersteun, laat my woordeloos.
Briljant!