Suid-Afrika het reeds een maal die Internasionale Strafhof se bevele met die Omar al-Basjir-sage geïgnoreer. Gaan soortgelyke verontagsaming weer gebeur tydens ’n komende Brics-beraad? En indien wel, waarom? Wat sal die gevolge vir ons land wees as die regering hardnekkig weier om internasionale wette en protokolle na te kom? Hoe gaan dit ons ekonomie en ons status in die oë van die wêreld raak?
Freek Robinson gesels met Hennie Strydom, ’n hoogleraar in internasionale reg.


Kommentaar
Baie dankie vir hierdie bondige, op-die-punt-af onderhoud.
Freek Robinson sê Suid Afrika beweeg ‘links’ wat betref sy buitelandse beleid, maar ek wil net sê dat die russiese politiek, byvoorbeeld, nie meer ‘links’ verteenwoordig soos mens dalk sou dink wanneer jy dit koppel aan kommunisme nie. Die russiese regeringsbeleid is lank nie meer kommunisties nie. Dit is outokraties en totalitêr, en slegs in naam kapitalisties. Die ekonomie is gekonsentreer in die hande van ’n paar indiwidue, die sogenaamde oligarge, terwyl die grootste deel van die sameweling buite die hoof metropolitaanse gebiede van Moskou en Sint Petersburg in armoede lewe. Rusland is 137-ste op Transparency International se 2022 korrupsie-indeks. Suid Afrika is 72-ste (1 is die mins-korrupte). Die grote rusland se bruto binnelandse produk is op dieselfde skaal as die staat Texas s’n; die gemiddelde huishoudelike inkomste per kapita is ongeveer R10 000 per maand.
Die mees kommerwekkende aspek wat my betref, is SA se groeiende verbintenis, ekonomies, maar ook polities, met lande wat buite die internasionaal-aanvaarde norme van menseregte staan. Die EFF het onlangs in die parlement navraag gedoen oor SA se lidmaatskap van die Internasionale Strafhof; dis nie vergesog om te dink die regering sal ingee aan druk van daardie kant af om sy lidmaatskap te beëindig nie. Dit moet in gedagte gehou word dat die Strafhof in die lewe geroep is om veral die gruwelike (‘heinous’) misdrywe van volksmoord, misdade teen die mensdom en oorlogsmisdade te hanteer. Suid-Afrika se onttrekking sal hierdie soort misdrywe in SA sonder internasionale aanpreeklikheid laat.
Wat die die russiese inval en oorlog in Oekraïne betref, bestaan daar lank reeds nie meer so iets soos ‘neutraliteit’. Soos Thomas Warrick van die Atlantic Council dit gestel het na die uitreiking van die arrestasiebevel:
Today’s arrest warrant will limit Putin’s diplomatic options, and it will make it harder for anyone to dismiss Russia’s aggression against Ukraine as a "territorial dispute." The real point of today’s ICC arrest warrant is to bring the world to a moment of moral clarity that what Putin is ordering in Ukraine violates the law and moral values of civilised nations around the world.
(Die spelling van rusland met 'n kleinletter is doelbewus)