Staan op vir die Six: ’n onderhoud met Celeste Slabber-Loriston

  • 0

Foto van Celeste Slabber-Loriston: verskaf en verskyn met toestemming; foto van boekomslag: Jonathan Ball.

Naomi Meyer vra Celeste Slabber-Loriston oor haar Staan op vir die Six, wat onlangs by Jonathan Ball verskyn het.

Celeste, ek sien jy het Staan op vir die Six geskryf en dit word beskryf as ’n soort eietydse Romeo en Juliet-verhaal binne ’n bendegebied. Vertel asseblief wat jou prikkel was om die storie te skryf?

Die tragiese verhale van Romeo en Juliet, asook West Side Story, het altyd iets in my wakker gemaak. Die konsep van verbode liefde en die gevolge daarvan was ’n storielyn wat tot my gespreek het. Ek dink dis die tragedie van onskuldige jong liefde wat my raak. Jong liefde wat eintlik gevul moet wees met nuwe ontdekkings en absolute geluk, maar in beide verhale word hierdie liefde as hartseer ervaar, met tragiese gevolge.

Ek was vir jare ’n drama-onderwyser by New Orleans Sekondêr in die Paarl. Toe ek die onderwys in 2005/2006 verlaat het, het ek ’n musiekspel vir die skool geskryf as my geskenk aan hulle. Die Romeo en Juliet-raamwerk was vir my ’n goeie wegspringplek met hierdie musiekspel. Maar ek wou die storie eie aan die New Orleans-gebied maak. Daarom het ek die my verhaal ontwikkel met die geure, kleure en karakters van die gemeenskap in die Paarl.

Die sukses van die musiekspel het my gemotiveer om die boek te skryf. Die karakters wou graag ’n groter gehoor bereik.

Wie is jou hoofkarakters en wat trek hulle na mekaar toe aan?

Die verhaal word vertel uit die monde van drie hoofkarakters:

Poema – die leier van die Strikers. Hulle besit ook die gebied: die Six.

Rolo – die leier van die Havanna Boys. Hulle besit die res van die gemeenskap en wil die Six ook deel van hulle gebied maak.

Astrid – Poema se suster. Graad 11 en wil graag ’n beter lewe vir haarself en haar ma maak deur hard te werk op skool.

Die opstand begin reeds in die huis, waar Poema en Astrid in konflik is met mekaar. Beide karakters wil veg vir die Six, net op totaal verskillende maniere.

Rolo sien Astrid as lokaas vir haar eie broer om die Six syne te maak. Hy misbruik haar jong onskuld en liefde om Poema te oorreed om die gebied aan die Havanna Boys oor te gee,

Al drie hierdie karakters glo sterk in hul eie oortuigings, met verreikende gevolge vir almal in die gemeenskap.

Hoe weet mens regtig, as jy nie grootgeword het in ’n bendegebied nie, iets van jou karakters se leefwêreld? Durf ons oor mekaar se lewens in hierdie land skryf? Móét dit?

Ek het geweet die vraag sal kom.

......
Die milieu waarin my karakters hulle bevind, is slegs ’n agtergrond vir elkeen se persoonlike oortuigings en hulle aksies of handeling in hul spesifieke omstandighede.
........

Die milieu waarin my karakters hulle bevind, is slegs ’n agtergrond vir elkeen se persoonlike oortuigings en hulle aksies of handeling in hul spesifieke omstandighede.

Woon hulle in ’n bendegeteisterde gebied? Ja.

Maar hoe hulle daarbinne (in die gebied) optree, word eerder gemotiveer deur elke karakter se innerlike stryd en innerlike motivering wat hulle dryf. Hul uiterlike aksies is net die fisiese manifestasie van dit wat hul eintlik in hul binnekant ervaar.

Ek verduidelik:

Poema: Sy familie, met Astrid, Ma en Daddy, was gelukkig toe hy jonger was. Daar was nie baie geld nie, maar daar was liefde en ondersteuning. Met die afsterwe van hul Daddy het Poema se wêreld uitmekaar gespat. Hy was rigtingloos sonder sy pa se liefde. Hy het sy seer en verlange versmoor met die Strikers. Dáár was die leegheid minder. Al was dit net oppervlakkig.

Rolo: Rolo word groot in die armste gebied van die gemeenskap. Die plek waar kinders saam met honde soek vir kos. Hy het nooit ingepas nie. Het gevoel dat hy nie goed genoeg is nie, en homself belowe dat hy dit gaan maak. Op sy eie. Hy het eers probeer om dit op die eerbare manier te doen, maar soos hy self sê: Niemand wou ’n niks inneem nie, ’n kans gee nie. Daarom het die mag wat die bendes aan hom as leier gegee het, sy dryfkrag geword. Omdat hy besef het hoe hy mense kan manipuleer sodat hy kan kry wat hy wil hê.

Astrid: Sy word in dieselfde huis as Poema groot, maar neem ’n ander pad. Sy wil graag ’n beter lewe maak. Sy word gedryf deur haar onskuldige menslikheid en sterk leierseienskappe om ’n verskil te maak in haar gemeenskap. Dis haar durf en vasberadenheid wat haar dryf om op te staan teen haar broer, maar ook vir vrede in haar gemeenskap.

Ek glo dat alle mense in ons land dieselfde elemente ervaar: pyn, minderwaardigheid, hoop, liefde. Ek glo dat lesers (ongeag ras of kultuur) sal voel saam met die karakters, want wat hulle ervaar, is universeel. Hul ervaring is net in ’n bendegeteisterde gebied.

Hierdie is ’n storie van menslike ervarings waarmee ons almal kan identifiseer.

Ek bly by dieselfde tema: Hulle sê skryf oor iets waarvan jy weet. Het jy hiervan geweet? Het die leefwêreld so veel saak gemaak soos die universele menslike komponente van liefde, verlies, verraad, onsekerheid, identiteit en alles wat saamgaan met wie jou jong karakters is? En dit wat jy nie geweet het nie: Hoe het jy navorsing gedoen?

As drama-onderwyser by New Orleans Sekondêr het ek hierdie ervarings van my karakters telkens (indien nie daagliks nie) by my leerders gesien en beleef. Ek het die impak van die uitdagings van hul gemeenskappe saam met hulle ervaar in hulle vertellings, hulle improvisasies in die dramaklas en hulle gebreekte moed oor talle uitdagings. ’n Dramaklas bied soveel geleenthede vir deel en saam voel. As jong onderwyser was ek baie betrokke by my leerders. Ek het probeer help waar ek kon, geluister as hul ’n oor nodig gehad het en hulle altyd aangemoedig om ’n beter lewe vir hulself te soek.

Daarom het ek die musiekspel geplaas in hul omgewing sodat dit relevant sal wees en bly vir hulle ervaring.

Ja, hierdie verhaal (soos hier bo genoem) kan eintlik in enige gebied afspeel, omdat die broosheid van jong liefde, ambisie vir iets beter, en teleurstelling, en moed opgee deel van almal is.

Ek het dit wat ek onthou het van die gemeenskap (Mobile-winkel, woonstelle, kinders sonder skoene, mure vol tekens, ens) wel ervaar soos wat ek my leerders se lewens ervaar het.

Ek was benoud hoe die boek ontvang sal word, omdat ek nie in die gebied opgegroei het nie. Maar die hartklop van elke karakter het my gemotiveer om hulle in boekvorm te skryf sodat almal in ons land meer sal verstaan waarom mense optree soos hul optree in seker situasies, omdat dit die enigste manier is om te oorleef as individue.

Wie is jou ideale leser – spesifiek van hierdie boek?

Ek glo die verhaal is geskik vir lesers graad 10–12, asook volwasse lesers.

Ek glo dat mense wat opgroei in soortgelyke gemeenskappe, aanklank sal vind by die verskillende karakters. Dat hulle ervarings in hulle eie gemeenskappe sal raaklees, want die verhaal vertel die storie van so baie jongmense in ons land. Jongmense wat elke dag groot uitdagings in hul lewens ervaar.

Ek glo dat hierdie verhaal ook begrip sal bring by lesers wat nie noodwendig in so ‘n gemeenskap opgroei nie. Omdat die innerlike handeling my karakters dryf, sal enige leser van enige ras of kultuur saam met my karakters kan voel en ervaar.

.......
Want ons almal se bloed is rooi.
Ons almal se harte klop vinniger vir liefde.
..........

Want ons almal se bloed is rooi.

Ons almal se harte klop vinniger vir liefde.

En ons almal wil oorleef in ons omstandighede. Maak nie saak waar dit afspeel nie.

Lees ook:

Goue lint, my storie begint: Van eko-stories tot eko-angs – die planeet in die kinderboek

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top