Goue lint, my storie begint: Van eko-stories tot eko-angs – die planeet in die kinderboek

  • 0

Grafiese elemente geskep onder Cava se gratis lisensievoorwaardes; foto-erkenning by die aardbol: Maria op Pixabay, op die 12de April 2016 gepubliseer, onder Pixabay se gratis lisensievoorwaardes.

  • Anke Theron skryf gereelde kinderboekrubrieke vir LitNet.

In die harwar van die hedendaagse roetine kyk ons baie dinge mis. Die kleure van ander se oë, die geur van blomme en oor die algemeen die natuur. Die natuur is altyd om ons, maar jy moet ingestel wees om dit raak te sien. Die mooi, maar ook die skade – en die meeste van ons begin eers wakker skrik as dit te laat is. Iets soos ’n nuusberig oor renosters waarvan die horings proaktief afgesaag word, wat op ’n Instagram-plasing voor die skool se hek gelees word.

Die ouer generasie het grootgeword met stories waarin die veld eenvoudig daar was – geduldig, vrygewig, ewig. Vandag se jong mense en kinders word groot in ’n wêreld waar die natuur op die voorblad van die (digitale) koerant doodgaan. Dit sou vreemd wees as die Afrikaanse kinderliteratuur nie die twee uiterstes – die idilliese of katastrofiese - op een of ander manier sou uitbeeld of weerspieël nie.

Dit lei ons tot die groot vraag oor hoe hedendaagse Afrikaanse kinder- en jeugboeke die natuur en omgewing uitbeeld en kritiseer. Daar blyk ’n wegbeweeg te wees van die eertydse plaasroman-nostalgie en die idilliese natuurverhaal na iets dringender, ’n meer kritiese en distopiese eko-bewustheid. Dit is een ding om ’n kind te leer om vir sy omgewing om te gee en te sorg. Selfs om vir ’n unieke spesie wat op die rand van uitsterwing is, te baklei. Dit is ’n perd van ’n heel ander kleur om ’n kind bloot te stel aan eko-angs (eco-anxiety) – die knaende vrees dat die wêreld waarin hulle grootword reeds op pad is na sy einde.

Dit is ook die tendens van populêre fiksie, films en vermaak. Dink maar hier aan die nuutste Project Hail Mary wat op Netflix gestroom kan word en gebaseer is op Andy Weir se gelyknamige boek. Nader aan die huis is een van die 2025/26-naaswenners van die LAPA Jeugromankompetisie, Die fluisteraar (Jacolet van den Berg), waar die ergste reeds gebeur het en Kaapstad in ’n tipe woestyn ontaard het. Daar het reeds ’n oorlog plaasgevind oor water en die magiese krag van die hoofkarakter Kato, wat plantegroei met sy blote aanraking kan laat voortspruit. ’n Kortfilm en boek is ook op die Silwerskermfees gewys waar klimaatverandering en aardverwarming die hele verhaal dra: Silas en die ysbeer op Tafelberg deur Annie Klopper en Zandré Coetzer. Die film en boek word in September vrygestel.

Die natuur het nog altyd ’n belangrike en sentrale rol in kinderliteratuur gespeel. Die gesindheid waarmee dit gebruik word in die verhale het wel verander van ’n heilige natuurskoon na ’n ekologiese angs oor die vernietiging van die natuur en die impak daarvan op die mensdom.

Van die plaas na die distopiese

Reinhardt Fourie (2013) noem op LitNet dat ekokritiek in die Suid-Afrikaanse letterkunde nog jonk was in 2013, maar reeds ’n produktiewe toekoms belowe. Vandag is dit veilig om te sê dat hy iets van ver af gesien kom het. Al was dit hoofsaaklik oor die volwasseliteratuur waaroor hy die uitspraak gemaak het, is daar beslis ’n hele rits kinder- en jeugliteratuur wat sedertdien verskyn het. Enkeles om van kennis te neem:

  • Offers vir die vlieë, 2020 (Fanie Viljoen)
  • Die groot koelte, 2019 (Leon de Villiers)
  • Die fluisteraar, 2026 (Jacolet van den Berg)
  • Wolk, 2020; Roet, 2021; en Vuur, 2024 (Hannes Barnard)
  • Die seun met die swaeltjie, 2026 (Fanie Viljoen)

Meyer (2021:87–8) se oorsig van ekokritiese navorsing oor Afrikaanse verhalende tekste bevestig hoe ryk die Afrikaanse prosa en poësie intussen met plek, landskap en die nie-menslike omgaan. Van die woestynromans van Christoffel Coetzee tot die diere- en insekverhale wat deur kritici soos Crous, Barendse en Burger ontgin is (Meyer 2021:89–92). Dieselfde hoeveelheid aandag aan die omgewing het wel feitlik in ’n mindere mate na die kinder- en jeugboekrak oorgespoel. Wat nogal vreemd is, want dit is juis hiér waar ’n samelewing sy volgende generasie opvoed oor hul verhouding met die aarde en hoe dit behoort te lyk.

Die tradisionele Afrikaanse literêre benadering tot die natuur in kinderliteratuur was lank gewortel in wat die plaasroman-nostalgie genoem kan word – die plaas, die veld, die diere as bekendes of selfs vriende, vertroetelde ruimtes waarin die kind sy of haar plek in die wêreld vind. Dink hier aan stories soos:

  • Die stories van Rivierplaas, 1955, heruitgegee in 2007 (Alba Bouwer)
  • Fanie se Veldskooldae, 1948, heruitgegee in 2006 (PJ Schoeman)
  • Brolloks en Bittergal, 1925 (CJ Langenhoven)
  • Patrys-hulle, 1928 (EG Grosskopf)

Dink aan die geslagte kinders wat grootgeword het met diereverhale waarin ’n bobbejaan of ’n jakkals eerder as ’n allegorie as ekologiese katalisator funksioneer – Jakkals en Wolf se stories op die radio en onlangs ook gepubliseer as storieboeke deur Wendy Maartens. Selfs Jan Rabie se werk kom uit ’n era waar die natuur nog oorwegend gesien is as agtergrond vir menslike (en ongelukkig ook dikwels nasionale) selfontdekking, eerder as ’n medespeler met sy eie agentskap.

Hierdie lens kan ook vergelyk word met wat internasionale ekokritici klassifiseer as die vier golwe van ekokritiek (Slovic, Rangarajan en Sarveswaran in Smith 2022:209). Die eerste golf fokus op die wildernis en ’n romantiese ekofeminisme, wat gevolg word deur die tweede golf se stedelike en postkoloniale bewussyn. Daarna kom die derde golf se selfkritiese, vergelykende benadering, wat die weg baan vir die vierde golf se nuwe materialisme en ’n dringende fokus op die sogenaamde Antroposeen – die geologiese era in die geskiedenis van die aarde waar die mensdom die ekologiese en natuurlike balans versteur en onherroeplik verander (Smith 2022:209). Dit is veral hierdie laaste golf, met sy oorlewingsangs eerder as ’n romantiese verwondering, wat toenemend in die nuutste jeugboeke opduik. Waar die ou verhaal gevra het: “Kyk hoe mooi is die veld, so ongerep en ongeskonde.” Vra die nuwe verhale: “Wat het van die veld geword en hoe gaan ons ’n natuurramp oorleef?”

Die Suid-Afrikaanse landskap as karakter

’n Mens hoef nie ver te soek nie om te sien watter Suid-Afrikaanse kwessies toenemend in fiksie vir jonger lesers posvat. Renosterstropery is seker die mees onmiddellike voorbeeld. Eleanor Lombard se Vasbyt Vyf-reeks se nuutste titel Die renosterhelde (2026) is ’n goeie voorbeeld. Daar is ook Ouma Hester en die Arnosterfant (2021) deur Janie Oosthuysen. Dieselfde geld vir waterkrisisse, soos in Die fluisteraar waar die hoofkarakter se pa en dié se vennoot skatryk geword het deur water soos olie te “smous” in ’n wêreld waar water skaarser as olie is. Alles as gevolg van die mens se hebsug om fossielbrandstowwe tot op die laaste druppel te gebruik en groter, beter, vinniger en meer geld te maak.

Smith (2022:206) se pleidooi vir ’n eiesoortige Afrikaanse ekokritiek word relevant, al is haar fokus op Antjie Krog se volwassedigbundel Mede-wete (2014). Smith (2022:206) voer aan dat “plek”, of die ruimte in ’n Afrikaanse ekokritiek, nie bloot vir die mooi is nie, maar direk verbonde is aan identiteit, aan grondbesit, aan ’n gedeelde en komplekse geskiedenis. ’n Kind wat ’n storie lees oor ’n plaasdam wat opdroog, lees dus (bewustelik of nie) ook ’n storie oor grond, oor wie die water en grond besit en oor watter geskiedenis daardie grond dra.

Dieselfde geld vir die uitbeelding van diere. Ou diereverhale gebruik gereeld ’n oorwegend antroposentriese blik. Die dier bestaan om vir die mens iets te beteken: ’n nuwe lewe, kos, oorlewing, ’n verhouding. ’n Praktyk wat sy wortels in die oudste kinderverhale het, soos sprokies en fabels.

Die nuwer jeugliteratuur, wat beïnvloed word deur wat internasionaal bekend staan as animal studies of dierestudies, probeer eerder – soos Woodward (in Meyer 2021:92) in die konteks van Afrikaanse volwassetekste aantoon – die dier as “sentient beings with their own individualities” uitbeeld, nie net as ’n simbool nie. ’n Renosterkalf is dan nie meer ’n metafoor vir verlies nie, maar ’n karakter met sy eie ervaring van vrees, verwarring en oorlewing. Dit vra nie net simpatie van die jong leser nie, maar iets nader aan empatie wat oor die grens van self en spesie strek.

Die eko-angs-vraagstuk

Hier kom ons nou by die kern van die vraag. Nabulya (2018:61–2) wys in haar ontleding van eko-aktivistiese letterkunde daarop dat sulke tekste doelbewus daarop gemik is om ’n gehoor te oortuig en tot ’n ander gesindheid te beweeg. Sy noem dit, met verwysing na Burke (in Nabulya 2018:64), “persuasion to attitude”, in teenstelling met gewone oorreding tot aksie. Vir volwasse lesers is hierdie retoriese strategie relatief onproblematies: Volwassenes kan self oordeel, self afstand hou, self besluit hoeveel emosionele gewig die leser wil dra. ’n Kind of tiener beskik nie noodwendig reeds oor hierdie vaardigheid of emosionele volwassenheid nie.

En dít is presies waar eko-angs as kwessie inskuif. Eko-angs – die knaende vrees vir omgewingsrampspoed, dikwels vergesel deur ’n gevoel van magteloosheid – word toenemend internasionaal as ’n groeiende geestesgesondheidskwessie onder jong mense erken. Angs oor die algemeen het reeds die wêreld aan die vra: “Hoekom?” Gaan kyk gerus na die interessante werk van Jonathan Haidt, The anxious generation, en Addicted to anxiety deur Owen O’Kane. Baie interessante leesstof tot nadenke.

.......
’n Kinderboek wat te sterk op vrees en verlies leun, wat die jong leser nalaat met die indruk dat die aarde reeds onomkeerbaar afstuur op ’n katastrofe, en dat daar niks is wat enigiemand – laat staan nog ’n kind – daaraan kan doen nie, loop die gevaar om dieselfde toestand te kweek wat dit veronderstel is om te voorkom. Dit is ’n fyn balans – die behoefte om ’n kind ekologies bewus te maak sonder om hulle te verskrik, terwyl jy steeds ’n indruk van erns wil laat.
........

’n Kinderboek wat te sterk op vrees en verlies leun, wat die jong leser nalaat met die indruk dat die aarde reeds onomkeerbaar afstuur op ’n katastrofe, en dat daar niks is wat enigiemand – laat staan nog ’n kind – daaraan kan doen nie, loop die gevaar om dieselfde toestand te kweek wat dit veronderstel is om te voorkom. Dit is ’n fyn balans – die behoefte om ’n kind ekologies bewus te maak sonder om hulle te verskrik, terwyl jy steeds ’n indruk van erns wil laat.

Agentskap kan hier tot die gesprek toetree. Agentskap, nie net van die aarde of die dier nie, maar van die jong leser self, word krities belangrik. ’n Suksesvolle eko-bewuste kinderboek gee die jong leser nie net ’n beeld van verlies en hopeloosheid nie, maar ook ’n plek om te staan: ’n karakter wat iets doen, hoe klein ook al, wat ’n verskil maak. Dit is die verskil tussen ’n verhaal wat sê: “Kyk hoe vernietig ons die wêreld” en een wat sê: “Kyk hoe kan jy, ja, jý, iets daaraan doen.” Die eerste kweek angs; die tweede moedig ’n tipe voogdyskap of bewaarderskap aan.

Ouer teenoor nuwer: ’n vergelyking wat inspireer

As die ou plaasroman-geïnspireerde diereverhaal langs die hedendaagse eko-bewuste jeugboeke staan, is die verskil nie net tematies nie, maar ook struktureel. Die ou verhaal het gewoonlik ’n stabiele, ewige natuur daargestel waarteen die mens se stories afspeel. Die nuwe verhaal werk met ’n onstabiele toekoms van die natuur en soms onstabiele stand van sake: ’n rivier wat opdroog, ’n spesie wat kan uitsterf, klimaatverandering, terwyl die kind lees. Dit beteken die verhaalstruktuur self moet aanpas. Waar die ou verhaal gerusstellend kon eindig met die kind (en die natuur) wat onveranderd bly, vra die nuwe verhaal byna outomaties na ’n mate van transformasie. Nie net van die karakter nie, maar ook van die leser se eie verhouding met die wêreld en hul onmiddellike omgewing.

Dit beteken egter nie dat die ouer, meer idilliese benadering waardeloos geword het nie. Inteendeel, dalk is die grootste wins nie om die idilliese natuurverhaal heeltemal te verwerp nie, maar om dit te laat saambestaan met die dringender, meer distopiese stem. Kinders en jong volwassenes het beide kante nodig – die verwondering wat ’n mens aan die natuur bind (sonder verwondering is daar min rede om iets te wil bewaar), én die bewussyn dat daardie verwondering broos is. Dit is presies die spanning wat Estok (in Nabulya 2018:62) as sentraal tot die eko-aktivistiese aard beskou – die vermoë om beide liefde vír, en angs oor, die natuur saam te dra sonder dat een die ander uitwis. ’n Oeroue konsep wat reeds uit die oudste sprokies ontleen word: dat die goeie teenoor die kwaad gestel word.

Suid-Afrikaanse kinder- en jeugliteratuur staan, wat ekologiese bewussyn betref, op ’n baie interessante plek. Ons het ’n ryk tradisie van plaasroman en dierestories om op voort te bou, én ’n dringende, onvermydelike, wetenskaplike werklikheid wat vra om verwoord te word. Stropery, droogte, storms, vloede, klimaatverandering. ’n Ekokritiese blik op hierdie tak van ons letterkunde, wat nog uitgebrei kan word en kan help om te verstaan watter verhale jong lesers werklik kan help en watter verhale, ondanks goeie bedoelings, hulle miskien net banger maak vir ’n wêreld wat hulle by ons gaan erf.

 

Bronnelys:

Fourie, R. 2013. Is ekokritiek die moeite werd? LitNet, 21 Februarie. https://www.litnet.co.za/is-ekokritiek-die-moeite-werd (27 Junie 2026 geraadpleeg).

Meyer, S. 2021. Ecocritical concerns in select Afrikaans narrative works: critical perspectives. Journal of Literary Studies/Tydskrif vir Literatuurwetenskap, 37(4):84–105. https://unisapressjournals.co.za/index.php/jls/article/view/10988 (7 Julie 2026 geraadpleeg).

Nabulya, E. 2018. When ecocriticism and rhetoric meet: environmental persuasion in Terrorists of the Aberdare. Journal of Literary Studies/Tydskrif vir Literatuurwetenskap, 34(1):61–79. https://www.researchgate.net/publication/324533218_When_Ecocriticism_and_Rhetoric_Meet_Environmental_Persuasion_in_Terrorists_of_The_Aberdare (7 Julie 2026 geraadpleeg).

Smith, S. 2022. Op weg na ’n eiesoortige Afrikaanse ekokritiek: ’n ontleding van die gedigreeks “werf” in die bundel Mede-wete (2014) van Antjie Krog. LitNet Akademies, 19(1):205–31. https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2022/04/LitNet_Akademies_19-1_7_Smith_205-231.pdf (25 Junie 2026 geraadpleeg).

Sekondêre bronne:

Burke, K. 1969. A rhetoric of motives. Berkeley: University of California Press.

Estok, S. 2009. Theorising in a space of ambivalent openness: ecocriticism and ecophobia. ISLE: Interdisciplinary Studies in Literature and Environment, 16(2):203–25.

Krog, A. 2014. Mede-wete. Kaapstad: Human & Rousseau.

Slovic, S., S. Rangarajan en V. Sarveswaran. (reds.). 2015. Ecocriticism of the Global South. Londen: Lexington Books.

Woodward, W. 2008. The animal gaze: animal subjectivities in Southern African narratives. Johannesburg: Wits University Press.

Lees ook:

Goue lint my storie begint: Lees is vir ons kinders – én vir die lekker – vir almal

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top