
Prent: Mathias North op Unsplash
- Anke Theron skryf gereelde kinderboekrubrieke vir LitNet.
’n Leeskultuur. Ja, daar is iets soos die kultuur van lees, en hoekom blyk dit dat Suid-Afrikaanse kinders nooit genoeg, goed, vinnig of met voldoende begrip kan lees nie? Hoekom wil kinders nie meer lees nie? Al hierdie vrae hou van die passievolste onderwysers, taalkenners, skrywers en beslis die uitgewersbedryf snags wakker. Tog sê baie mense dit so maklik: “Kinders lees nie meer nie.”
Ek het onlangs van die hoërskoolleerders in my klasse gevra: “Wie van julle hou van lees and do it because it’s lekker?” Twee hande het opgegaan. Stadig. Effens huiwerig.
Dit is nie ongewoon in ons skool nie, maar in ons samelewing het dit glo die norm geword. Ek werk in ’n meertalige omgewing en die meeste kinders het reeds ’n grief teen Afrikaans omdat hulle met taal self sukkel.
Hierdie artikel gaan nie nog ’n statistiekgedrewe argument wees oor hoe sleg ons kinders lees nie, of hoe min kinders lees nie. Ons almal is reeds deeglik bewus van die probleem en daar is reeds verskeie studies wat die aard van die probleem ondersoek en dit probeer aanspreek.
Die fokus in hierdie artikel, en ook die grootste rede hoekom hierdie aflewering so lank geneem het, is om te kyk watter oplossings moontlik is en wat reeds gedoen word om jong Suid-Afrikaners aan die lees te kry vir die plesier daarvan. ’n Positiewe perspektief met ’n “Wat kán ons doen?”-gesindheid.
Daar word reeds algemeen erken dat kinders leer deur modellering, met ander woorde, kinders op ’n jong ouderdom leer hoe om iets te doen deur hul ouers, volwassenes of ander kinders in hul omgewing na te doen. Dit beteken ook dat selfs die aktiwiteit van lees as ’n gemoduleerde gedrag beskou kan word. Die geheim om hierdie kennis tot ons voordeel te gebruik, word in Maritha Snyman se navorsing van 2006 (Die leesvoorkeure en leesgedrag van Afrikaanse kinders) vir ons ontsluit. Kinders wil lees vir plesier, maar wil nie gedwing word om prekerige, didaktiese verhale te lees nie. Dit blyk uit haar studie, asook navorsing wat daaruit voortgespruit het (Lessing-Venter en Snyman 2017), dat wanneer die volwassenes in ’n huishouding lees, onderwysers lees, volwassenes in enige situasie lees, kinders aangetrokke sal voel om ook te wil lees. Dit wil sê dat wanneer die gedrag of aktiwiteit vir hulle gemodelleer word en voorgehou word as iets wat vir plesier gedoen word, selfs tieners, uit hul eie sal begin lees vir plesier.
Dit bring ons by die moontlike oplossing – om voor kinders te begin lees. Ons as volwassenes moet vir kinders wys hoe lekker dit is om te lees. Die leerders in my klasse weet reeds dat as hulle iets soek om te doen, daar altyd ’n boek op my boekrak gevind kan word, of in die skoolbiblioteek. My klas het boeke – ’n groot verskeidenheid daarvan – en dit is geen geheim dat ek lief is vir lees en wegkruip in fantasiewêrelde waar karakters en monsters slegs uit woorde bestaan nie.
’n Aspek waarvan ons ongelukkig nie kan weg kom nie, is hoe tegnologie kinders se aandag weglok van lees. Dit is uiters aanloklik om eerder voor ’n skerm te gaan sit en alles word vir jou aksiebelaaid, in volkleur met klank opgedis. Ongelukkig is dit die realiteit. In baie gevalle is dit so dat ouers makliker oorreed word om eerder ’n videospeletjie, selfoon of elektroniese speelding te koop as ’n boek. Dit is tog waarvoor klein Jannie vra. “My maatjie het die nuwe X-speletjie en ek wil dit asseblieftog so graag hê ...”
.........
Ons kan tot ’n mate die verpligte lees vir skooldoeleindes as ’n teenreaksie beskou op hierdie verval van lees teenoor die instant gratification wat ’n rekenaarspeletjie aan ’n jong brein verskaf. Die probleem hiermee is dat dit kinders net nog meer rede gee om nie van lees te hou nie. Dit word as “werk” of “huiswerk” gesien wat hulle móét doen, en daarom is lees self sommer net niks lekker nie.
...........
Ons kan tot ’n mate die verpligte lees vir skooldoeleindes as ’n teenreaksie beskou op hierdie verval van lees teenoor die instant gratification wat ’n rekenaarspeletjie aan ’n jong brein verskaf. Die probleem hiermee is dat dit kinders net nog meer rede gee om nie van lees te hou nie. Dit word as “werk” of “huiswerk” gesien wat hulle móét doen, en daarom is lees self sommer net niks lekker nie. Die bedoeling met leeswerk vir huiswerk het dan onbedoelde nagevolge wat ons nie kan bekostig as ons ’n leeskultuur wil skep in Suid-Afrika nie.
Hoe gemaak? Miskien moet ons kyk na wat ons kinders lees? Kan ons wegbeweeg daarvan dat jong kinders en tieners net romans en novelles met hope teks lees? Wat van boeke met meer visuele elemente? Of tekste wat visuele elemente ontgin soos storieboeke of prenteboeke? Hier het Marion Erskine ’n blink idee die lig laat sien. Sy idees is nie noodwendig nuut nie, maar ’n nuwe benadering tot die saak vanuit ’n heel ander hoek.
Erskine lig ’n kragtige beginsel uit in sy onlangse LitNet-artikel, “Hoe die Franse dit regkry dat kinders lees – en wat Suid-Afrika dalk miskyk”: Kinders lees wanneer lees vir hulle toeganklik, betekenisvol en haalbaar voel.
Dit beteken dat kinders nie net bloot nadoen wat vir hulle voorgehou word nie, maar dat hulle bepalende emosionele reaksies moet hê teenoor die aktiwiteit van lees, sodat hulle meer sal lees. Om meer daarvan te doen, moet lees vir hulle toeganklik, betekenisvol en haalbaar voel. Dit moet hulle nie oorweldig, intimideer of onopgewasse vir die taak laat voel nie.
Erskine vra: “Wat doen ons (veral in skole) wat lees ontmoedig?”, wat die saak tot op die been oopvlek, sodat ons die wortels van die probleem kan sien.
Lees word dikwels op so ’n manier aangebied dat dit gereduseer word tot werk, nie as ’n plesieraktiwiteit nie. Boeke word op skool voorgeskryf en leerders kry nie die kans om te kies wat of waaroor hulle wil lees nie. Daarom sal ons vind dat leerders min sukses met lees ervaar. Die probleem is nie bloot dat kinders nie lees nie. Kinders moet nie eers leer lees omdat dit belangrik is vir skoolwerk nie – hulle moet wil lees omdat dit lekker is. Kinders wat wel lees, lees omdat dit vir hulle toeganklik en aangenaam is. Nie omdat hulle moet nie. Nie omdat daar ’n toets wag nie. Verder toon verskeie studies (ANNAS, PEARLS ens) dat baie leerders reeds in die eerste vier jaar van hul skoolloopbaan sukkel met basiese leesvaardighede en begrip.
Hierdie onderliggende probleem wys verder vir ons op die probleem wat dan uitkring tot die algemene samelewing. Daar moet eers plesier wees om die aktiwiteit te doen voordat die akademiese funksies ten volle bereik kan word. Suid-Afrika het nie ’n gevestigde leeskultuur nie en min mense lees gereeld boeke vir die storie, die lekker, die ontsnapping, die leeservaring.
Erskine is ’n Suid-Afrikaner wat al in verskeie lande gewoon en gewerk het. Hy het in Taiwan gaan Engels gee en het van daar na die Verenigde Arabiese Emirate verhuis. Tans woon hy in Frankryk en probeer self dié Romaanse taal aanleer. Sy ervaring in Frankryk het gelei tot sy interessante vrae en ’n moontlike oplossing vir hierdie tekortkoming in Suid-Afrika.
Hy het uit sy eie ervaring die bande dessinée, of BD, ontdek, asook die Franse se lewendige leeskultuur. Vir die gewone boekwurms en leke onder ons: bande dessinée is Frans vir “strokiesprentboeke” of soortgelyk aan wat die ouer geslag dalk kan onthou as fotoboeke – Ruiter in die nag, Mark Condor, Hospitaal Saal 5 en vele ander.
“BD gaan nie soseer oor superhelde nie; dit is stories oor die alledaagse lewe, humor en herkenbare karakters. Dis visuele storievertelling waar prente en teks slim saamwerk om betekenis te skep,” skryf Erskine.
Die sukses in leeskulture soos dié van die Franse is, volgens Erskine se ervaring, die fokus wat op die samewerking tussen storie, kuns en onderwys geplaas word. Die boeke is aantreklik, visueel en kreatief.
Die probleem kom dus in by ons onderwysstelsel, wat streng klem lê op assessering, leesbegrip, prestasie, spoed en die bemeestering van kompleksiteitsvlak. Daar word van alle kinders van dieselfde ouderdom verwag om dieselfde boek – dus dieselfde onderwerp en geletterdheidsvlak – te lees en dit met dieselfde sukses te bemeester.
Volgens Erskine se ervaring en waarnemings behoort die klem op leesgenot eerder as assessering te wees. Kinders moet voel hulle kan lees, dus dat dit wat ek lees, doenbaar, toeganklik en interessant is. Spesifiek dat dit alledaagse ervarings moet wees. Die leeservaring moet op ’n sekere vlak bekend of herkenbaar wees vir die leser, maar steeds genoeg nuuskierigheid prikkel.
.......
Kinders moet voel hulle kan lees, dus dat dit wat ek lees, doenbaar, toeganklik en interessant is. Spesifiek dat dit alledaagse ervarings moet wees. Die leeservaring moet op ’n sekere vlak bekend of herkenbaar wees vir die leser, maar steeds genoeg nuuskierigheid prikkel.
..........
As ’n onderwyser wat bevoorreg is om in die privaatonderwyssektor te werk, kan ek bevestig dat wanneer ek dit wat ons kinders in Engels en Afrikaans lees, vergelyk met wat ons buurskole (staatskole) gebruik, is die privaatskole s’n beslis meer toeganklik vir tieners. Ons het onlangs oorgeskakel na nuwe kombinasiebundels wat saamgestel is deur Marita Nel vir ons leerders in graad 10 (Die skool vir gruwelike talente) en 11 (Tyd is ’n bl**em). Alhoewel dit tyd neem en moeilik is om tieners se opinies te swaai of om hulle selfs te oorreed dat Afrikaans nie vervelig of só moeilik is nie, is daar wel ’n verandering in hul gesindheid, al is dit nog early days.
Maritha Snyman (2006) en hope ander navorsing bevestig reeds: Motivering is die sleutel tot lees – kinders wat gemotiveerd is, lees meer en beter. Ons sal dus die situasie dophou en kyk wat gebeur oor die volgende jaar of twee met ons Afrikaans Eerste Addisionele Taal-(EAT-) lesers. Kyk hoe hulle gesindheid teenoor die vak asook die taal verander gebaseer op die tekste waaraan ons as onderwysers hulle blootstel.
Dit is ook interessant dat slegs ’n baie klein gedeelte van die Afrikaans EAT-assessering eintlik fokus op storieprente en spotprente. Tog verwag ons leerders moet hierdie vrae foutloos kan beantwoord. In dieselfde asem gee ons nooit dieselfde lesers kans om visuele tekste te lees nie. Volgens die kurrikulum moet leerders gedigte, kortverhale, dramatekste of romans/novelles lees. Humor en visuele tekste word onderskat en as onderwyser en leser stem ek met Erskine saam.
Dit is beslis nie ’n blinde kritiek teenoor die onderwys nie, maar as ’n onderwyser sien ek self hierdie “gat” in hoe lees onderrig en geassesseer word. Iewers in die vreeslik beknopte KABV-stelsel verloor ons iets belangrik: die ervaring van lees self – nie net ’n vaardigheid wat aangeleer word bloot omdat ’n kind dit moet kan doen om tot die volgende graad of fase te vorder nie, maar ’n ervaring wat aangeleer moet word. Dit verg ’n eenvoudige denkskuif.
Lees moet nie ’n taak word nie, want kinders is ongelooflik goed daarmee om take te vermy wat hulle laat voel soos ’n mislukking of dat hulle dit nooit gaan regkry nie. In Suid-Afrika, en veral in ons onderwysstelsel, het lees ’n plek van mislukking en gedwonge werk geword.
Ons het natuurlik ons eie uitdagings in Suid-Afrika: ongelykheid, taaldiversiteit, beperkte toegang tot boeke, armoede ens. Dit speel alles ’n rol, maar selfs in privaat en uitstekend toegeruste skole vind ons dieselfde probleem: Lees is werk. Die verwagtinge verskil nie; almal kry dieselfde teks, dieselfde vrae, en die assesseringsverwagtinge bly dieselfde. Daar word verwag dat kinder moet lees vir prestasie
Miskien lê die wending net om die draai, want ’n beweging wat deur sosiale media gedryf word, bekend as The silent book club, begin al hoe meer traksie kry. Die jongman wat die Kaapstad-tak begin het, Shawn Buck, het juis op sy manier probeer om weer die genot van lees by volwassenes, en veral jong volwassenes, te kweek. Dié byeenkomste is gratis, en dit word ’n paar keer per maand in verskillende plekke gehou, van Kirstenbosch-tuine en Langstraat in die stadskom, tot by die Aegar-brouery in Noordhoek, waar Buck sy eintlike besigheid begin het. Daar was al verskeie projekte waarby die klub betrokke geraak het. Soos om geld en boeke in te samel vir The Bookery, ’n niewinsgewende organisasie wat help om biblioteke by skole en minderbevoorregte gemeenskappe te bou. Die beste deel van hierdie byeenkomste is dat daar geen voorgeskrewe teks is of dat jy dit moet klaar lees nie. Jy kan net kom sit en lees vir ’n uur wat ook al jy wil lees, en jy hoef dit nie klaar te maak nie. Daar is dus darem ’n kers in die wapad wat die bevordering van lees vir plesier betref.
Ten slotte moet ons dalk ander vrae begin vra rondom hoekom kinders nie lees nie en hoekom die statistieke so “sleg” lyk. Waarom sou kinders wil lees? Wat sou dit vir hulle aanloklik, toeganklik en lekker maak?
Marion Erskine het ook ’n wonderlike projek aan die rol gesit deur ’n boek vir kinders te help skep, getitel BOBBOB. Hou die koerante, sosiale media en ander Ploemplafiaanse kanale dop vir enige nuus oor die publikasiedatums en vrystellings van ’n eg Suid-Afrikaanse strokiesprentboeke wat gaan help om die lesers van die toekom te wys hoe lekker lees kan wees, met baie prentjies.
Bibliografie
Erskine, M. 2026. Hoe die Franse dit regkry dat kinders lees – en wat Suid- Afrika dalk miskyk. LitNet. litnet.co.za/hoe-die-franse-dit-regkry-dat-kinders-lees-en-wat-suid-afrika-dalk-miskyk.
Lessing-Venter, N en M Snyman. 2017. Aspekte wat kinders se leesmotivering beïnvloed. LitNet Akademies, 14(3). https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2017/12/LitNet_Akademies_14-3_LessingVenter-Snyman_866-895.pdf.
Mediamense. S j. https://mediamense.com/fotoverhale-het-lesers-na-koerante-en-tydskrifte-gelok.
Snyman, M. 2006. Die leesvoorkeure en leesgedrag van Afrikaanse kinders. Mousaion, 24(1). https://journals.co.za/doi/abs/10.10520/EJC78895.
Lees ook:
Hoe die Franse dit regkry dat kinders lees – en wat Suid-Afrika dalk miskyk

