’n Franse begin
Toe ek in 2023 na Frankryk verhuis het, het ek geweet ek stap ’n uitdaging binne. Frans is nie ’n eenvoudige taal nie. In vergelyking met Afrikaans is dit kompleks en gelaag – met tientalle variasies van die woord is, selfstandige naamwoorde met geslag wat alles rondom die woord beïnvloed, en grammatikareëls met ’n eindelose lys uitsonderings. Ek kan darem nou met trots sê dat ek teen dié tyd weet dat ’n “baard” vroulik en maskara “manlik” is.
Ek het nog altyd daarvan gehou om te lees, maar my eerste Franse roman was oorweldigend. Die sinne was lank, die teks dig, en die betekenis net buite bereik. Dit was nie weens ’n gebrek aan wil aan my kant nie; dit was intimiderend.
Toe ontdek ek die Franse bande dessinée, of BD. Rakke en rakke vol boeke – maar nie die tipe strokiesprente soos Casper en Superman waarmee ek grootgeword het nie. BD gaan nie soseer oor superhelde nie; dit is stories oor die alledaagse lewe, humor en herkenbare karakters. Dis visuele storievertelling waar prente en teks slim saamwerk om betekenis te skep.
Soos Sonya van Schalkwyk – vertaler van die immergewilde Afrikaanse Asterix en Obelix en Kuifie – dit stel: “BD skerts op ’n mooi manier met alledaagse ervarings – nie daardie eksotiese superhero-ding nie.” Dit is juis hierdie herkenbaarheid wat BD so kragtig maak. Ek gaan ook vir die res van hierdie skrywe dan aspris na “BD” verwys en nie “strokiesprente” nie, want die Afrikaanse idee van strokiesprente is nie waaroor hierdie artikel handel nie.
’n Kultuur wat lees normaliseer
In Frankryk is BD nie ’n byproduk van die boekwêreld nie – dit is deel van die kern daarvan. Boekwinkels het uitgebreide afdelings wat uitsluitlik aan BD gewy is. Hierdie genre word nie as minderwaardig of kinderagtig beskou nie, maar as ’n volwaardige kunsvorm en ’n belangrike toegangspunt tot lees.
Navorsing soos La lecture de bandes dessinées (2012), uitgevoer deur die Département des études, de la prospective et des statistiques (DEPS) en die Bibliothèque publique d’information in Frankryk, wys dat meer as driekwart van die Franse bevolking al BD gelees het, en miljoene doen dit steeds gereeld. Dit word dikwels gesien as ’n vorm van ontspanning, maar ook as ’n brug na verdere lees en kulturele betrokkenheid.
Hordes Franse volwassenes lees ook BD. Riad Sattouf, ’n bekende Franse BD-skepper en filmmaker, vertel sy lewensverhaal deur middel van prente in sy bekroonde reeks L’Arabe du futur, waarin hy sy jeug tussen Libië, Sirië en Frankryk verken. Hy beskryf teken as ’n byna hipnotiese ervaring – ’n manier om aan die werklikheid te ontsnap en terselfdertyd kragtig met ander te kommunikeer.
Sattouf skryf sy outobiografie vir volwassenes deur van BD gebruik te maak.
Vir my het BD ’n deurbraak beteken. Skielik kon ek weer lees – nie omdat dit makliker was nie, maar omdat dit toeganklik was. Ek kon deur die storie beweeg in klein, hanteerbare dele, met visuele ondersteuning wat betekenis help dra wanneer my woordeskat te kort skiet.
En dit het my laat wonder: As dit vir my as volwassene werk – wat sou dit beteken vir ’n Suid-Afrikaanse kind wat nét so oorweldig voel wanneer hy of sy ’n boek oopmaak wat ons “dink” hy of sy behoort te kan lees?
Lees of intimidasie?
Ons praat dikwels van ’n leeskrisis onder kinders. Tog bly ek wonder of ons nie eerder met ’n betrokkenheidskrisis te make het nie. Baie kinders wíl waarskynlik graag lees, maar wanneer hulle gekonfronteer word met honderde bladsye digte teks, raak dit oorweldigend. Ek voel in Suid-Afrika het ons lank geglo dat “groot kinders” (ouderdomme 9–12) nie meer boeke met prente hoef te lees nie – asof visuele ondersteuning iets is wat jy ontgroei.
Maar dalk is dit juis waar ons verkeerd kyk.
Van idee tot samewerking
Hierdie insig het gelei tot ’n nuwe vraag: Hoe lyk ’n boek wat Suid-Afrikaanse kinders werklik wil lees?
Ek het besef dat ek die Suid-Afrikaanse mark nie alleen kan aanspreek nie, en het uitgereik na Heléne de Clercq, skrywer van Die emmerskoplys. Haar begrip van die kurrikulum, onderwysers se behoeftes en wat tans in die mark ontbreek, het ’n noodsaaklike dimensie bygevoeg. Ek het besef dat ek dom sou wees as ek haar nie uitnooi om aan so ’n projek deel te neem nie. Groot was my verligting toe sy in hierdie projek begin glo.
Saam het ons begin droom oor iets anders: nie ’n skolerige reeks nie, maar ’n lekkerleesreeks wat kinders self sou kies. En so is BOBBOB gebore – ’n robomeerkat in ’n eg Suid-Afrikaanse konteks en wêreld.
Ons het doelbewus met ’n skuilnaam gewerk toe ons die projek aan ’n uitgewer voorlê. Die manuskripte moes op eie meriete staan. Die reeks is goedgekeur – en eers daarna is die identiteit agter die skuilnaam onthul.
Stories wat kinders respekteer
Van die begin af het ons vier kernbeginsels vasgestel:
Eerstens: Die stories moet boeiend wees. Kinders moet dit wíl lees – nie omdat hulle móét nie, maar omdat hulle nie anders kan nie. Met verskillende karakters wat ons reënboognasie verteenwoordig. Ons karakters is meisies wat krieket speel, seuns wat ook bang raak, kinders in rolstoele wat nie toelaat dat ’n hekkie hulle avontuurlus sal belemmer nie. Party is ryk, ander is arm. Party het tonne geleenthede, ander weer min. Want dít is die Suid-Afrika waarin ons bly.
Tweedens: Ons onderskat nie kinders se intelligensie nie. Kinders dink oor groot dinge – verlies, identiteit, onsekerheid. Ons stories vermy preek, maar bly eerlik en herkenbaar. Daar is kinders daar buite wat byvoorbeeld moet sin maak van ’n ouma wat gesterf het. Ons spreek dit aan.
Derdens: Taal moet speel. Hoëfrekwensiewoorde word subtiel ingewerk, maar ons gebruik ook klankryke nonsenswoorde soos kaboem-krater en slurpslorp wat leespret en selfvertroue bou. Dan ook heerlike klankwoorde vir verskillende letters wat saam hulle leesvermoëns kan verskerp.
Vierdens: Die wêreld moet eg Suid-Afrikaans wees. Nie ingevoer nie. Nie generies nie. Plaaslik, herkenbaar, lewendig. Met heerlike simbole soos springbokke, askoek en proteas.
Om die visie tot uiting te bring
Die laaste stuk van die legkaart was visueel.
Bernard de Jager, ’n kunstenaar wat ek al meer as 20 jaar ken, het by ons aangesluit. Sy werk bring die storie tot lewe op ’n manier wat teks alleen nooit sou kon doen nie. Bernard was nog nooit tevore gepubliseer nie en die mense wat my goed ken, weet ek streef daarna om mense te sien vlieg. Hierdie projek was dalk net die een wat sy talent aan Suid-Afrika kon bekendstel. Julle gaan almal saam wonder: “Waar was hierdie man nog heeltyd?” as julle sien wat hy alles kan regkry met pen en papier. Veral daardie storie-in-die-storie wat BD-vertellings soveel beter as teks kan regkry.
Toe ons uiteindelik die uitgewer nader, het ons dit as ’n span gedoen – storie, ervaring, onderwys, taal en kuns saamgevoeg in een visie.

Een van Bernard se vele illustrasies
Die projek: BOBBOB – Die robo-meerkat
Iewers in die ruimte is daar ’n planeet genaamd Ploemplaf. Vol robotte wat van die aarde weet. Een van hulle word deur sy Supreem Hoofrat gestuur om ons aardbewoners se emosies te kom navors. En hy word na die VSA gestuur om dit te doen – want dis mos blykbaar die enigste land waar so iets sal gebeur. (Ek sê dit tong-in-die-kies.) Maar die robot het hom effens met sy berekeninge misgis, en hy tref die atmosfeer bo-oor Suid-Afrika. Met die impak breek nege van sy skip se ploemplafstene af en val – kan jy glo! – in die nege verskillende provinsies van Suid-Afrika.

Nie sedert The gods must be crazy het enige boesmans vreemde vlieënde voorwerpe oor die Kalahari sien val nie, maar in 2026 gebeur dit wraggies weer.

Illustrasies van Bernard de Jager uit BOBBOB, die robo-meerkat
Wat maak BOBBOB anders?
BOBBOB staan uit omdat dit kinders ontmoet presies waar hulle is. Die boeke is bekostigbaar, visueel gedrewe en maklik om te lees – met kort teksgedeeltes en treffende illustrasies wat selfs huiwerige lesers laat aanhou blaai. Deur die grafiese storievertelling van BD geïnspireer, neem dit die intimidasie van lang boeke weg en vervang dit met aksie, humor en ’n gewonder wat volgende gaan kom.
BOBBOB is ook nie bang om ons aardbewoners aan te spreek nie. ’n Voorbeeld hiervan sien ons wanneer die kinders aan hom verduidelik dat diere “vrek” en “vreet”. Hy wil graag weet of ons al die diere gevra het of hulle nie eerder wil “doodgaan” en “eet” nie. Hierdie dinge gaan kinders laat wonder oor dinge en gaan ’n hele ander vlak van begrip van hulle vereis.

Die ontmoeting tussen BOBBOB en twee halflengtes
Terselfdertyd is die stories onbeskaamd Suid-Afrikaans. Die taal, grappies, omgewings en karakters voel eg en bekend. Kinders léés nie net BOBBOB nie – hulle herken hul wêreld daarin. Met interaktiewe elemente, emosionele groei en ’n unieke robot-held bied dit iets skaars: ’n reeks wat lekker, inklusief, opvoedkundig en werklik relevant is.
Iets wat vir BOBBOB byvoorbeeld erg fassineer, is ’n minibustaxi. Selfs nie met Ploemplafiaanse tegnologie kan hulle só baie robotte in één voertuig inpas nie. Dis iets waaroor elke Suid-Afrikaner kan saam lag.
Om lees te herbedink
Hierdie projek is nie die volle oplossing vir Suid-Afrika se leesuitdagings nie – maar ek is doodseker dit gaan help. Lees moet eers toeganklik voel voordat dit ’n gewoonte kan word. Kinders moet sukses ervaar. Hulle moet voel: Ek kan dit doen. BD bied ’n brug na daardie ervaring. Dit verminder leesangs sonder om diepte prys te gee.
’n Laaste gedagte
Suid-Afrika het nie ’n tekort aan potensiaal nie. Wat ons het, is ’n tekort aan verbintenis met lees. In Frankryk sien jy dié verbintenis oral: Mense lees. Jongmense, volwassenes, veral ook mans. En baie van hulle lees BD. Ek wou vir julle skelm ’n foto neem van hoe dit Saterdagoggende lyk in die boekwinkels in Frankryk wanneer jonk en oud op die vloer sit en BD lees. Dit gee my miertieties elke keer as ek dit sien.
Hier is dus my droom vir Suid-Afrika: As ons lees minder intimiderend, meer visueel, meer bekostigbaar en meer herkenbaar maak – as ons met kinders kontak maak waar hulle is – dan kan ons dalk net ’n leeskultuur verander.
En miskien, net miskien, kan ’n klein spannetjie met ’n groot idee help om kinders weer verlief te maak op lees. Dit is BOBBOB se missie op ons planeet, Pliek-plak-plop-plop. (Ploemplafiane ken nie reën nie en dink ons planeet sweet heeltyd!) En ek hoop regtig ons kry dit reg, want as ons dit nie doen nie … wel, dan sal BOBBOB se Supreem Hoofrat vir BOBBOB en my span dalk vir ’n plafknarser voer, of erger, in ’n kaboem-krater insmyt.
Lees ook:
Storieboeke vir "vrylees" net so belangrik as Wiskunde in Nederlandse skole
Goue lint, my storie begint: fantasie en verbeelding in kinderliteratuur


Kommentaar
Ek dink regtig hierdie projek het die potensiaal om baie suksesvol te wees. Prentjies het vir my as 5-jarige ’n groot rol gespeel in hoe ek leer lees het. My suster was in Sub A en het Boet en Saartjie gelees, en ek was mal oor die illustrasies. Ek het altyd bygesit wanneer sy haar huiswerk hardop gelees het.
Op ’n dag het ek vir my ma gesê ek wil ook lees. Sy het dit half speels opgeneem, maar tot almal se verbasing kon ek toe lees.
Dit het vir my gewys hoe kragtig visuele ondersteuning kan wees wanneer ’n kind leer lees. Met Bernard se uitstekende illustrasies en die interessante storielyne, voel dit vir my soos ’n wenkombinasie wat regtig by kinders aanklank gaan vind.
Ek kan nie wag om die boeke self in die hande te kry nie!
Veels geluk aan julle al drie vir hierdie wonderlike idee. Almal wat my ken, weet ek lees wyd ... en beslis ook kinder- en jeugboeke!
Ek stem saam. Ek het Engels so geleer, want ek het alles wat ek kon beetkry gelees en dit het “strokiesboeke” ingesluit – van Look and Learn tot ons eie Vonk en Patrys, van Engelse comics soos Dandy tot Amerikaanse comics van DC, Marvel, Gold Key, ens., en ook Asterix, Tintin, Ompa-pa, Lucky Luke, Lieutenant Blueberry, en talle ander. By sulke boeke het dit nie gebly nie, ek lees feitlik enige genre, met of sonder prente, maar dit het daar begin, beslis. Hierdie jarelange blootstelling aan prent-en-teks-boeke het selfs gelei to my D Phil in Kultuugeskiedenis (’n Kultuurhistoriese ontleding van pikturale humor, met besondere verwysing an die werk van TO Honiball, SU, 2003). Ek is nou 64, en ek lees steeds Asterix, maar daarby moet ek byvoeg, voel ek steeds soos ’n alien in my eie land omdat so min volksgenote van my ouderdom – en reg deur my lewe – dieselfde belangstellig met my gedeel het. Daarom hoop ek meer daarvan sal in Afrikaans geskep en gepubliseer word.
MARION! Wat 'n wonderlike gedagte, wat julle uitgevoer het! Ek hoop dit vlieg!
Ek moet later vandag na drie kleinkinders kyk terwyl hulle ouers hul 15-jaar huweliksherdenking elders gaan vier. Ons het 'n ritueel hier: Ek lees saam met hulle, prentjiesboeke vir die 5-jarige, 'n bietjie moeiliker vir die 8-jarige, en nou lees die 12-jarige trots "books without pictures, Oupa." En wat 'n plesier is dit nie om die lees-oȅ te sien opgaan nie.
Voorspoed met julle projek, Marion. Julle doen goeie werk nie net vir die lesertjies nie, maar ook vir Afrikaans.
Baie dankie vir al die liefde en kommentaar. Ek wil dit net duidelik maak dat daar ongelooflike boeke in Afrikaans reeds is vir kinders. Ons probeer daardie 9 - 12 groep teiken wat nie meer wil lees nie. Daai klompie wat nie wil hê hulle maats weet nie hulle kan nie.
Wonderlik, al hierdie kommentators oor kinderboeke in Afrikaans. Mag dit oeste van Afrikaanse boeke voortbring. En maak dat ons 'n lesende nasie bly (of word?).
Frans Fourie