
Foto: Unsplash
- Nini Bennett-Moll skryf gereelde rubrieke vir LitNet.
Die rouproses ná die dood van ’n geliefde is een van die pynlikste en persoonlikste ervarings wat ’n mens kan deurmaak. Dit is ’n reis deur intense emosies, verwarring en uiteindelik aanvaarding, alhoewel hierdie reis selde liniêr of voorspelbaar is. Wanneer ’n geliefde sterf, word jou lewe skielik ontwrig – nie net emosioneel nie, maar ook fisiek, sosiaal en selfs geestelik. Maar dit is nie net mense wat rou ná die dood van ’n geliefde nie; diere rou ook, en voer selfs rituele uit wat herinner aan die begrafnisrites van mense.
Evolusionêre tanatologie is ’n betreklik nuwe interdissiplinêre veld wat die studie van dood, sterwe en reaksies op die dooies vanuit ’n evolusionêre perspektief benader. Dit kombineer onder meer biologie, sielkunde, sosiologie, primatologie en argeologie om te verstaan hoe mense én ander diere op die dood reageer, en hoe hierdie gedrag deur natuurlike seleksie ontwikkel het. Wetenskaplikes waarsku dan ook tereg teen oormatige antropomorfisme, of om menslike eienskappe aan diere en hulle roupraktyke. Maar dalk is die omgekeerde ook waar, naamlik dat die mens waarskynlik net ’n soogdier met ’n hoër intellek is, en dat die rites van rou deel vorm van ’n veel groter evolusionêre proses. Die mens wat rou oor die dood van ’n geliefde is met ander woorde nie spesiaal of uniek nie, maar bloot ’n voortsetting van die rougedrag wat reeds vir epogge in die natuur by diere bestaan.
Evolusionêre tanatologie is formeel gevestig in 2018 deur navorsers soos James R Anderson, Dora Biro en Paul Pettitt in ’n spesiale tema-uitgawe in Philosophical Transactions of the Royal Society B. Dit beklemtoon dat reaksies op dood nie net menslike kulturele praktyke uitmaak nie, maar deel vorm van ’n groter biologiese en evolusionêre kontinuum wat by baie diersoorte voorkom. Waarom ontwikkel sommige diere sekere gedragspatrone teenoor dooie of sterwende groepslede? Watter voordeel (of risiko) hou dit vir die oorlewing vir hierdie diere in?
Die vergelyking tussen diere se gedrag rondom dood en menslike rituele bied ’n fassinerende blik op gedeelde emosionele kapasiteit, sosiale bande en die verwerking van verlies. Terwyl mense begrafnisse beskou as liminale oorgange (die oorgang van lewe na dood), waar die groep die verlies verwerk, die oorledene eer en die lewendes herintegreer in die sosiale orde (dikwels simbolies, kultureel en geestelik deur middel van begrafnisse, gedenkdienste, grafstene en rituele wat die dood as ’n oorgang na ’n ander staat beskou), toon diere soortgelyke patrone wat egter meer prakties, emosioneel en sosiaal gedrewe is. Dit ondersteun die uitgangspunt dat hierdie gedrag nie uniek menslik is nie, maar ’n evolusionêre basis het in sosiale spesies met sterk groepsbande. Die enigste verskil tussen die roupraktyke van mense en diere is die geestelike of religieuse dimensie wat mense gebruik om die dood van ’n geliefde te verwerk, maar die vraag is: Hoe weet ons of diere nie oor ’n spirituele bewussyn beskik nie? Net omdat dit buite die parameters van die wetenskappe val, beteken dit nie dat dit nié moontlik is of nie bestaan nie.
Menslike rituele behels ’n byeenkoms van familie en vriende rondom die liggaam of graf, waar mense die oorledene aanraak, huil, stil word, of stories deel. By olifante versamel die trop rondom ’n dooie maat, raak die liggaam met hulle slurpe aan, probeer soms die liggaam oplig, of bedek dit met blare, takke en grond – ’n handeling wat herinner aan die “toemaak” van menslike oorskot; ’n “teraardebestelling”. Olifante loop ook in sirkels rondom die dooie liggaam, wat waarnemers vergelyk met sirkelrituele in sekere menslike kulture, soos in Hindoe-tradisies. Die herhalende bewegings dien as ’n manier om die oorgang te markeer. Insgelyks sal olifante vir lang periodes stilstaan en rondom die oorledene vergader, heen en weer wieg, of trompetter (wat soos rougeluide klink). Daar is gevalle gedokumenteer waar die trop ’n dooie kalf na ’n teeplantasie se afvoersloot gedra en dit daar laat sak het, pote in die lug, soortgelyk aan ’n menslike begrafnis.
Die olifanttrop besoek selfs later die beendere van die dooie olifant, soortgelyk aan mense wat grafte besoek of die as van ’n geliefde in ’n houer bewaar. Wetenskaplikes beskryf hierdie gedrag as ’n vorm van ’n dodewaak, wat die liminaliteit van die dood weerspieël waar die groep die permanente afwesigheid van die dood probeer verwerk.
Sjimpansees en ander primate, soos gorillas, bobbejane en makake, toon nóg sterker rougedrag as olifante, en die trop word stil (in teenstelling met hulle gewone lawaaierige gedrag); hulle versorg die dooie liggaam, raak dit aan en toon verdriet deur ’n geween of depressieagtige gedrag (soos apatie, of ’n weiering om te eet). Moeders dra hulle dooie kleintjies vir dae of weke rond, soortgelyk aan hoe menslike ouers soms hul dooie kind “vashou” in rou, en weier om te laat gaan. Insgelyks: In een geval by ’n reddingsentrum in Kameroen het meer as 25 sjimpansees in stilte bymekaargekom ná die dood van ’n matriarg, asof in ’n droewige bepeinsing – gedrag soortgelyk aan ’n menslike dodewaak of selfs gebed. Sommige sjimpansees sal die tande van die oorledene skoonmaak met gras, gedrag wat nie by lewendes opgemerk word nie en aan ’n ritueelagtige koestering herinner.
By primate styg streshormone (glukokortikoïede) ná die verlies of dood van ’n lid van die trop – en groepmaats vertroetel, of versorg, mekaar meer as normaalweg om te kalmeer – parallel met menslike troos wat deur aanraking, omhelsings of gemeenskaplike fisieke kontak tydens rou geskied. Die “liefdeshormoon” oksitosien speel ’n rol by beide mense en diere om sosiale bande te herstel. Hierdie gedrag dui op voortgesette sosiale erkenning van die dooie as ’n voormalige groepslid, en nie as ’n objek nie.
Die doodsrituele van sommige diere is dikwels hartverskeurend. Dolfyne en walvisse dra hulle dooie kalwers op hulle rug, teen die voorkop, met die vin, of in die mond – terwyl hulle dit herhaaldelik na die oppervlak lig en boontoe druk om “asemhaling” te stimuleer, asof hulle ’n lewende, bewustelose kleintjie probeer red.
Die bekende orkawalvis Tahlequah het haar kalf só vir 17 dae en oor 1 600 km gedra en laat dryf. Dit weerspieël die menslike drang om die kind wat dood is, “te help”, terug te bring na die lewe, of naby te hou tydens die liminale oorgang, voordat die werklikheid van dood en verlies aanvaar word. Hierdie gedrag onderbreek normale aktiwiteite soos om kos te soek of energie te verbruik, net soos in die geval van menslike rou wat dae, weke, of selfs langer kan duur.
Groepmaats help soms om die lyk drywend te hou; hulle stamp daaraan, of bly in die nabyheid van die moeder. Ander lede van die skool walvisse help beurtelings – hierdie “postmortem attentive behavior” of epimeletiese gedrag wat teenoor dooie kalwers voorkom en dikwels as doodsrituele beskryf word, word binne evolusionêre verband eerder as ’n uitvloeisel van ’n hoogs ontwikkelde sosiale brein en sterk groepsbande beskryf. Dit herinner aan universele menslike praktyke waar ouers ’n afgestorwe kind vashou tydens afskeid, byvoorbeeld in hospitale, of in tradisionele kulture waar die liggaam lank by die familie bly (soos in sommige inheemse Amerikaanse of Australiese Aborigine-tradisies).
Tydens hierdie ritueel, waartydens die kleintjie gedra word, swem ander lede van die skool in beskermende formasies rondom die draer, vergesel van droewige akoestiese seine (klikgeluide en fluite) wat moontlike nood of gevaar aandui, en wat roofdiere afweer. Hierdie gedrag versterk die groep se matrilineale aard, waar langtermynbande oor generasies heen strek.
In evolusionêre terme word sulke rourituele verklaar deur die sogenaamde sosiale-brein-hipotese: Dolfyne se breingrootte het ontwikkel om die kompleksiteit van sosiale lewe in stabiele, samewerkende groepe te bestuur, wat lei tot ’n affiniteit vir mekaar en ’n hoër sensitiwiteit vir die disfunksionaliteit of dood van ’n groepsmaat of afstammeling – gedrag wat moontlik stresverligting bied deur die verlies te verwerk.
........
In evolusionêre terme word sulke rourituele verklaar deur die sogenaamde sosiale-brein-hipotese: Dolfyne se breingrootte het ontwikkel om die kompleksiteit van sosiale lewe in stabiele, samewerkende groepe te bestuur, wat lei tot ’n affiniteit vir mekaar en ’n hoër sensitiwiteit vir die disfunksionaliteit of dood van ’n groepsmaat of afstammeling – gedrag wat moontlik stresverligting bied deur die verlies te verwerk.
........
Kraaie roep mekaar met alarmgeluide, vlieg rond in ’n rumoerige swerm of massa, omring die dooie kraai sonder om dit aan te raak, inspekteer dit intens, en plaas soms takkies of gras naby die liggaam – ’n handeling wat vergelyk word met die lê van ’n krans of blomme by menslike begrafnisse. Hierdie byeenkomste dien moontlik om die jonger kraaie van gevaar te leer (wat het die maat doodgemaak?) en hulle te onderrig, wat ’n sosiale oorgangsfunksie het soortgelyk aan hoe mense rituelekennis en herinneringe oordra. Hierdie byeenkomste kan tot 30 minute duur en dien moontlik om gevaar (soos roofdiere) te identifiseer.
Alhoewel sommige navorsers kraaie se doodsrituele meer as die versamel van inligting beskou en nie as “egte” emosionele rou nie, lyk dit ritueelagtig en word dit vergelyk met ’n menslike dodewaak. Kraaie vorm sterk sosiale bande en toon hoër breinaktiwiteit (in areas vir besluitneming) in die nabyheid van dooie spesiegenote. In vergelyking met ander diere (soos olifante, wat die beendere van dooies “besoek”, of primate, wat lyke versorg), is kraaie se reaksie meer ondersoekend, kognitief en leergerig.
Evolusionêre tanatologie postuleer dat diere soos kraaie ’n venster bied op hoe menslike doodsrituele moontlik ontstaan het. Vroeë hominiede het ook begin om dooies te “versorg” – dalk om soortgelyke redes: om gevaar te assesseer, sosiale bande te versterk, of inligting oor te dra.
Ten spyte van ooreenkomste bly daar belangrike verskille tussen die doodsrituele van mense en diere. Menslike rituele is simbolies en kultureel: Dit behels geloof in ’n hiernamaals, gebede, musiek, spesifieke begrafnis- of rouklere, of grafmerkers, wat die dooie as ’n “persoon” in ’n sosiale of geestelike konteks plaas. Diere se gedrag vertoon meer as ’n direkte reaksie op verlies – nuuskierigheid (waarom beweeg hierdie maat nie?), beskerming teen aasdiere, of die herstel van die sosiale orde. Tog is dit ’n uitbreiding van nieverbale sosiale gedrag by diere, en dit dien ’n aanpasbare doel, soos reeds genoem: om gevaar vir die groep/trop te identifiseer, bande te versterk en die groep se voortbestaan te verseker.
Alhoewel ek na die doodsrituele van net vier spesies verwys het, kom die verskynsel dwarsoor die diereryk voor. Dan is daar nog monogame diere wat sterk paarbande vorm: Wanneer die manlike of vroulike dier sterf, sal die oorlewende dikwels ophou eet, apaties word, hom- of haarself dissosieer/afskei van die groep, en selfs sterf as gevolg van rou. Kenners wys daarop dat terwyl dié gedrag nie ’n “doelbewuste” selfdoodpoging is nie, is die uitkoms dieselfde: Die langslewende sterf uiteindelik weens verdriet.
Hierdie gedeelde evolusionêre erfenis herinner ons dat rou die prys van liefde is – en dat dit nie net by mense voorkom nie. Die erkenning hiervan bevorder empatie, dierewelsyn en -bewaring, en daag ons uit om te aanvaar dat menslike rituele dalk ’n veredelde weergawe van oeroue sosiale meganismes is. Gedrag soos die “view, hide, metamorphosing”-gedrag – oftewel die kyk na die lyk, die wegsteek (verberging) daarvan, en die transformasie daarvan in herinnering, oorvleuel met beide mens en dier se rougedrag. Ook hominiede het hulle dooies in vlak gate en grotte begrawe, soms in ’n fetale posisie, en die liggame met sediment bedek. Die grafte is gemerk met klippe of eenvoudige grafitems soos skulpe, dierebeendere of skilpaaie, wat op die simboliese behoud van die liggaam dui.
Diere se begrafnisagtige rituele rondom die dood toon dat dit ’n natuurlike deel van komplekse sosiale lewe is. Dit verbind ons met die diereryk en beklemtoon dat treur en die ritueelagtige verwerking van verlies inderdaad ’n brug bou tussen spesies. Dié beskouings verander hoe ons na diere kyk – nie net as wesens wat op blote instink reageer nie, maar as wesens met emosies en bande wat ons eie rou weerspieël.
Lees ook:
Op dees aarde: Die mens het al eeue lank ’n beste vriend, langer as wat ons gedink het

