
Prent van tuinkabouter: Igor Szoltysek op Pixabay
Dis verstommend aan watse trivialiteite mens snags dink as jy rondrol om te slaap. Só lê en dink ek verlede week aan iets wat ek op sosiale media gesien het, naamlik dat die immergewilde Oreo-koekie kwansuis ’n donker okkultiese simbool bevat. Drieuur die nag besluit ek om self ondersoek in te stel. Wawyd wakker grawe ek toe in my laaie, op soek na ’n vergrootglas – die bedkassie se inhoud het letterlik deur die lug gevlie in my haas (en koors) om die vergrootglas op te spoor. So gesê, so gedaan. En daar sit ek by ’n helderverligte bedlamp, besig om die donkerbruin koekie se komplekse mandala onder die loep te neem. Wat ek geleer het van conspiracy theories is om niks daarvan te glo nie, om wel die narratiewe soos water van ’n eend se rug af te laat rol. Of, om my selfs te verlustig in die absurditeit daarvan.
En my bevinding? Nee, dís nou ’n gedwonge poging om simboliek op iets af te dwing. Die sataniese kruis word omtrent met geweld op die koekie afgedruk – of ingelees. Waarom op dees aarde sou die elite en magshebbers van die wêreld (of die Illuminati) ’n onskuldige koekie gebruik om hulle verwronge ideologieë te propageer?
Terug in die bed, toe ek weer lê en rondrol, dwaal my gedagtes dié keer na tuinkabouters. Ja, daardie oulike ornamente wat veral prominent was in Suid-Afrikaanse tuine in die ’70’s en ’80’s. En dié keer tref die vraag my: Wat het geword van al die tuinkabouters? Hierdie nuwe kwelling noop my om weer die bedliggie aan te skakel en te begin lees. As kind het ek my ma male sonder tal gesmeek om ook vir óns tuin ’n kabouter te koop, maar haar antwoord was telkens dieselfde: Nee, ‘n tuindwerg is kitsch.
Wel, kitsch ofte nie, ek het altyd wanneer ek van die skool af huis toe geloop het, stilgestaan by huise wat wel tuindwerge gehad het, en lánk na die bebaarde karaktertjies gekyk En ja, as jy lank genoeg na ’n tuinkabouter staar, begin hulle voor jou oë te lewe. (In die ’70’s en ’80’s was huise nog nie omhein nie en kon ek etlike genotvolle uurtjies by hierdie aardbewonertjies verwyl.)
Ek het baie stories oor hierdie mitiese figuurtjies uitgedink, soos: Snags, wanneer almal slaap, vergader die tuinkabouters. Sommige van hulle is edel; ánder ... ondeund (die argetipiese bose elwe). Hulle sal blomme of groente uitskoffel en die volgende oggend weer die statiese posisies waarin hulle gestaan of gelê het, inneem.
En só dagdroom ek een middag: Die tuinkabouters kom in opstand teen die nuwe tendens om weg te doen met hulle. In my geestesoog het die voorsitter, een van die oudstes, Gnomus Maximus III, die vergadering gelei. Die kabouters se baarde het verontwaardig gewip toe hulle uitvaar teen die nuwe, voorgestelde tuinplanne wat minimalisme en industriële sjiek voorstaan. “Estetiese fascisme! Hulle sê ons is kitsch!” het hulle gedreunsang, en skielik het ek besef dat dit inderwaarheid ’n geheime middernagtelike vakbondvergadering was … Inderdaad: Die tuinkabouters het toe reeds geweet hulle dae is getel.
Maar terug na die realiteit: Tuinkabouters, of tuindwerge soos hulle ook genoem word, is veel meer as net oulike tuinornamente – hulle dra ’n fassinerende geskiedenis en simboliek met hulle saam.
Tuinkabouters (in Duits: Gartenzwerge) is beeldjies wat as ornamente op grasperke en in tuine uitgestal word. Die kabouters het menslike eienskappe en word tradisioneel as manlike dwerge met rooi gepunte mussies uitgebeeld. Hoewel tuinkabouters oorspronklik as versierings in die tuine van welgestelde Europeërs gebruik is, is hulle ook in die tuine en op grasperke van alle sosiale klasse, oral in die Westerse wêreld, opgemerk.
Die oorsprong van hierdie figuurtjies dateer terug na die antieke tye. In die Romeinse era het mense klein standbeelde van gode soos Priapus (die god van vrugbaarheid, tuine en oeste) in hulle tuine geplaas om boosheid af te weer en ’n goeie oes te verseker. Hierdie beskouing van ’n beskermer van die tuin het later ontwikkel tot die kabouterfiguur. Kabouters as magiese wesens is vir die eerste keer in die Renaissance-tydperk deur die Switserse alchemikus Paracelsus beskryf as miniatuurfigure wat nie graag met mense wou meng nie.
........
Die moderne tuinkabouter, met sy kenmerkende puntmus, baard en vriendelike glimlag, het egter in die 19de eeu in Duitsland ontstaan.
.........
Die moderne tuinkabouter, met sy kenmerkende puntmus, baard en vriendelike glimlag, het egter in die 19de eeu in Duitsland ontstaan. Die beeldhouer Philipp Griebel het in die 1870’s en 1880’s die eerste massavervaardigde keramiektuinkabouters gemaak, geïnspireer deur Duitse volksverhale oor dwergagtige wesens. Hierdie wesens was volgens volkskuns aardbewoners wat ondergronds woon, skatte bewaak, plante help groei, en snags in die tuin werk. Teen die laat 1700’s het kabouteragtige beelde van hout of porselein, wat “gnome” genoem is, gewilde huishoudelike versierings geword. In Duitsland het die tuinbeelde se betekenis vervleg geraak met tradisionele verhale en bygelowe oor die “miniatuurvolkies” of dwerge wat volgens oorlewering in die myne en op die plase handjie bygesit het. In die Duitse mitologie en volksverhale, soos dié wat deur die Grimm-broers versamel is, figureer dwergies as hulpvaardige wesens wat soms as helpers optree vir boere en mynwerkers, soos byvoorbeeld geïnspireer deur Bergmännchen (berggeeste) uit die Duitse mynboutradisies. Sonder hierdie diepgewortelde Duitse sprokies en mynwerkerslegendes sou die tuinkabouter waarskynlik nooit sy kenmerkende vorm aangeneem het nie; dit was die volkskuns wat die sprong gemaak het van mites na fisiese tuinversierings.
’n Interessante verwikkeling het in 1847 plaasgevind toe die Engelse Edelman sir Charles Isham 21 van Griebel se kabouters na sy tuin in Lamport Hall, Engeland, laat bring het. Hy het hulle in sy rotstuin geplaas asof hulle mynwerkers is – selfs met ’n bordjie wat protes aanteken vir beter werkstoestande! Een van daardie oorspronklike kabouters, genaamd Lampy, is vandag nog daar en word beskou as die oudste tuinkabouter in Brittanje. Lampy is vir die bedrag van een miljoen pond verseker.
Binne minder as tien jaar het beelde van tuinkabouters van die streke Sachsen en Thüringen vanaf Duitsland na Frankryk versprei. Die renaissance van tuinkabouters is by uitstek ’n Europese, Westerse verskynsel.
Deur die eeue het tuinkabouters hulle simboliese betekenis behou: as aardbewakertjies wat geluk, beskerming en voorspoed vir hulle eienaars bring. Baie mense glo tot vandag dat ’n kabouter in die tuin help om plae weg te hou, plante beter te laat groei of selfs om die grond se “gees” te bewaar.
In die 20ste eeu het tuindwerge meer kitsch en humoristies geword – van visvangkabouters tot bierdrinkendes en selfs kaallopers met oop jasse! Tuinkabouters is gewoonlik manlik en bebaard. Hulle dra rooi Frigiese musse en rook dikwels pype. Hulle word ook uitgebeeld asof hulle ’n rustige tydverdryf, soos visvang of slaap, beoefen.
........
In die 20ste eeu het tuindwerge meer kitsch en humoristies geword – van visvangkabouters tot bierdrinkendes en selfs kaallopers met oop jasse! Tuinkabouters is gewoonlik manlik en bebaard. Hulle dra rooi Frigiese musse en rook dikwels pype. Hulle word ook uitgebeeld asof hulle ’n rustige tydverdryf, soos visvang of slaap, beoefen.
.........
Tuinkabouters was tydelik verbied in Oos-Duitsland ná die Eerste Wêreldoorlog, en party tuinverenigings (byvoorbeeld die Chelsea Flower Show) het hulle as “swak smaak” beskou. Tog het hulle, desnieteenstaande, wêreldwyd gewild gebly. Die gebruik van tuinkabouters het egter ná die Eerste Wêreldoorlog afgeneem, maar hulle het in die dertigerjare weer gewild geword na die vertoning van Disney se animasiefilm Snow White and the seven dwarfs. Meer mense in die werkersklas kon dit toe bekostig om tuinkabouters aan te koop. Tydens die Tweede Wêreldoorlog en die daaropvolgende jare het die kabouterbedryf gesukkel, en die meeste vervaardigers het die produksie van tuinkabouters gestaak.
Vandag reis kabouters selfs – danksy die “Travelling gnome”-grappie (soos in die Franse film Amélie), en word daar foto’s geneem van kabouters wat dwarsoor die wêreld vakansie hou.
Kortom, agter elke tuinkabouter skuil ou magie, Duitse volksoorlewering en ’n skeut humor. Hulle is nie net dekor nie – hulle is miniatuurtuinbewakers met ’n lang geskiedenis en bloedlyn wat al eeue lank ons tuine bewoon.
Die nageslag van Philipp Griebel vervaardig steeds tuinkabouters: Teen 2008 was daar na raming 25 miljoen tuinkabouters in Duitsland.
Die afname in die voorkoms van tuinkabouters in Suid-Afrika vandag, in vergelyking met die ’70's en ’80's, weerspieël op sy beurt ’n wêreldwye verskuiwing in tuinontwerptendense en kulturele persepsies. In laasgenoemde dekades het tuinkabouters ’n herlewing beleef danksy humoristiese en massageproduseerde weergawes, geïnspireer deur globale invloede soos die reeds genoemde Disney-film, Snow White and the seven dwarfs. En skielik was tuinkabouters oral te sien, ook in middelklastuine in Suid-Afrikaanse voorstede. Ongelukkig het die produksie van plastiek- en goedkoop kabouters ’n kitschreputasie gevestig, met onlangse meningspeilings, soos een in die VK, wat toon dat 94% van mense nie meer die kabouters in hulle tuine wil hê nie, aangesien hulle as “tacky” en uit die mode beskou word. In Suid-Afrika het dié beskouing saamgeval met ’n verskuiwing na minimalistiese, inheemse tuinontwerpe, en ’n fokus op volhoubaarheid eerder as Europese volkskunsfigure, aangedryf deur ekonomiese verandering en verstedeliking wat kleiner, dikwels onderhoudvrye ruimtes bevoordeel. Sedert die ’90’s het baie mense ook verhuis na sekuriteitskomplekse met kleiner, eenvormige tuine, onderworpe aan die gedragsreëls van die betrokke woonkompleks. Die wegdoen met tuinkabouters is intussen vervang deur ’n kulturele identiteit waar plaaslike ikonografie soos uile of Afrikaïese motiewe bó kabouters verkies word, al bly hulle ikoniese simbole van nostalgie in sommige gemeenskappe.
Nou ja – dalk raak ek kens, maar verlede nag het ek besluit om vir my ’n tuinkabouter aanlyn te bestel. En nee, ek het nie ’n tuin nie, maar wel ’n balkon met twee groot potte waarin pamlelies (yuccas) fluks groei. My kabouter kan dié twee potplante maar bewaak. Want kitsch of oudmodies, dit maak nie saak nie. Ek onthou daardie magiese tydjies wat ek my as kind met “ander mense” se tuinkabouters kon verbeel – en dalk, net dalk, kan ek nog iets van daardie verwondering herroep. (Nodeloos om te sê, ek is nogal oortuig dat daar waarheid in die stories steek dat hierdie kabouters méér as net ornamente is ...)
Lees ook:
Springmielies: Die Kirks – die donker narratiewe van samesweringsteorieë


Kommentaar
Soos altyd is Nini se stuk leersaam en vermaaklik.
Viva tuindwerge en uile, viva!
Ek het 'n stukkende Checkers-tuindwerg in my tuin, wat duidelik nie aan die plant gewerk het waaronder ek hom staan gemaak het nie, toe groei die dietes grandiflora (wilde-iris) hom onderstebo (die rede vir die gat in sy kop.)
Naby die voordeur staan 'n Nieu Bethesda-uil tussen wilde salies.
Binneshuis is daar 'n goudkleurige dwerg, jare gelede in die Louvre se winkel (ja, die een in Parys, nie 'n Franse woord vir "kleinhuisie" nie) gekoop. Ta staan middelvinger in die lug en was deel van 'n installasiekunswerk van die Duitser Ottman Hörl. En nog 'n uil, hierdie een met 'n lig wat aankom as die sitkamerlig aangeskakel word.
KITSCH?
Watwo! Dis herinneringe aan reise (ook na die Middelwêreld).
Geniet jou dwerg!