Springmielies: wat weduwees weet

  • 5

Prent van kers: Canva

  • Nini Bennett skryf ’n gereelde rubriek vir LitNet.

1

Een van die heel moeilikste weë om te bewandel, is om oornag ’n weduwee te word.

Ek het aangesluit by verskeie Facebook-bladsye waar weduwees (en wewenaars) mekaar ondersteun. En ek het begin oplet na die plasings, die tipiese “patrone” waardeur dié wat agterbly, gaan. Henry Rollins, musikant en skrywer, het iewers beweer: “I think that humans have a huge capacity to carry pain and sadness. There are things that haunt us our entire lives; we are unable to let them go.” Dit resoneer met Schopenhauer se beskouing dat die mens se vermoë om pyn te ervaar, afhang van so ’n persoon se bewussyn en intelligensie: hoe groter die intellek, hoe groter die kapasiteit vir pyn.

Elke persoon se rouproses is uniek, tog het Elisabeth Kübler-Ross die vyf fases van rou in haar seminale werk, On death and dying, geïdentifiseer, naamlik ontkenning, woede, onderhandeling, depressie en aanvaarding.

Laasgenoemde rouproses is egter nie ’n liniêre proses nie. Jy beweeg nie van A–Z nie; jy “vorder” nie. Selfs jare ná die afsterwe van ’n gade, voel dit (steeds) soos gister. Op die Facebook-groepe wat ek besoek het, was dit duidelik dat die weduwees feitlik almal die geloof huldig dat hulle mans hulle iewers in ’n hemel of nalewe bevind; dat hulle mekaar eendag weer gaan sien. Die weduwees soek ook na “tekens” dat hulle geliefdes nog met hulle is, oor hulle waak ... enige iets van die optel van vere of muntstukke, of die geheimtaal van syfers word voorgehou as bewys, of magiese denke dat hulle geliefdes met hulle kommunikeer.

Na die afsterwe van ’n eggenoot tree daar ’n verhoogde bewussyn in; die brose besef van menslikheid; en ’n groter vermoë tot empatie, tot medemenslikheid.

En natuurlik: Na die dood van ’n geliefde bied die lees en skryf van poësie inderdaad baie troos. Dit is interessant hoe digters oor verskillende tydperke en tradisies heen temas van onsterflikheid, doodloosheid, of die idee dat die dood nie ’n ware einde is nie, verken – dit word byvoorbeeld uitgebeeld as ’n illusie of as ’n oorgang. Die dood is nie ’n vernietigende krag nie; eerder ’n transformasie of voortsetting in ’n ánder of hoër domein. Hierdie idees spruit uit filosofiese, spirituele, mistieke, of panteïstiese beskouings, waar die siel, wese, energie of bewussyn ewig voortbestaan. Vir my is digters die ware sterwensdoulas: die dood word bloot ’n verskuiwing, ’n nie-gebeurtenis binne die konteks van die ewige self/siel/bewussyn. Hierdie perspektief bied troos; dis ’n verset téén vrees en ’n dieper omhelsing van die voortgaande aard van die lewe.

2

Stop all the clocks*

Dit was ’n jaar ná die onverwagse afsterwe van haar man. Die akademikus, digter en ingenieur met die kaalgeskeerde kop.

Die ontsetting van sy lewe, abrup beëindig in haar arms. Hartaanval.

Dag na dag het sy op oorlewing gefokus. Vryskutwerk gedoen in die sukkelende boekbedryf, maar vinnig naam gemaak as ’n troeteldieroppasser in die kompleks waar sy gewoon het. Geslinger tussen felle verdriet en euforie, het sy haar verlossing in dissosiasie gevind. Droomgetye – dit het gevoel of sy ’n karakter in ’n Terrence Malick-film is: Alles was so helder, só oorbelig.

Bedags het sy vir lang tye gaan stap en gewonder oor die verhoogde bewussyn wat intree ná ’n geliefde se dood. “All that we see or seem is but a dream within a dream ...” Sy het die glans van blare in die hoë boomtoppe gewaar; hoe dit suis en blink en verwaai, soos sterre. En die wind, die groot misterie. Sy het gepeins waarom ’n konsep soos die heilige gees analoog word tot ’n bries, of wind. Hoe die kantgordyne roer asof daar iemand is, dog niemand wat met die blote oog sigbaar is nie ...

Die weduwee was intens bewus van elke mens wat by haar verby gestap het en as die vreemdeling haar groet en glimlag, het dit haar bewoë gelaat – die vonk, die opflikkering van menslikheid wat almal aan mekaar verbind. 

Sy het opgekyk en gesien hoe die wolkformasies verander. Die Cirrus-wolke, kwashale oor die blou ruim. Veerlig. Hoe vinnig wolkgeslagte transformeer. In haar geestesoog het sy ’n dandelion van naderby gewaar – dat dit eintlik ’n galaksie, ’n ontploffende sterrebundel is. Sy het die koorsbome op haar roetes bewonder: die sagte, maar weerbare delirium, of is dit groen koorsdrome? Sy het deur die sproeiers wat oor die wandelpaadjie gefluister het, geloop, want die spel van fluoressente lig teen die sweisreën was manjifiek.

Snags het sy dringend gedroom van aalwyne in die sneeu – ’n SOS. Met tye het sy gevoel of alles om haar honderde kilometer weg was, o, die eufemisme van dissosiasie! Sy het haar oë opgeslaan na die Ougod se oerbeelde, toe hy nog ’n onervare skepper was: berge geboetseer uit magma en lawa, brutaal, maar eteries. Die reliëf in die verte se snydun etsing; die beitelwerk se wisselgang in die nimmereindigende inkleding van skadu’s, groen, pers, blou, grys ... 

Bedags as sy haar skamele inkopies gedoen het, het sy in die soet hart van die werkersklas ingekyk en besef dat hulle waarlik die beërwers van die nuwe aarde is. Die oorwerkte kassier wat opreg bly is as jy ’n special gewaar; die vroue met die naellak wat altyd roes, maar blymoedig hulle monotone werk verrig. Die tuinwerkers met die skurwe hande wat haar vriendelik groet, en sy het die verblindende Lig van menswees vir die eerste maal waarlik herken. The gift of joy behoort aan die werkers – aan dié wat niks het nie, maar alles besit, want hulle het dankbaarheid. Hoop. Sy het nog nie voorheen the gift of joy – hoe sou mens dit vertaal? – by akademici, skrywers of intellektuele teëgekom nie. En veral nie by digters, die mees melankoliese spesie van almal, nie. The gift of joy herken jy in ’n persoon soos ’n lamp wat plotseling aangeskakel word in jou teenwoordigheid – en die aura van menswees verlig.

Soggens halfvyf het sy die eerste voëltjie wat sing, die voorsanger, ingewag, verlig om die klank van lewe te hoor. Die neurale verbinding tussen die voël se oog en brein wat op lig reageer en sy bek laat oopgaan om te sing. Elke voëltjie sing vir sy eie lig, het Breyten Breytenbach in Boek deel een gesê.

Die weduwee was haar lewe lank dromerig en heel moontlik het die verdriet oor haar geliefde bloot hierdie droomtoestande verskerp.

Sy het tydens haar staptogte haar verdiep in haar kennis van poësie. Nie die Bybel, dogma of godsdiens nie, want digters is die ware spirituele mentors en begeleiers; nie die geestelikes, die dominees, die dogmaties ingedoosdes en dolendes en verál nie die sektariese slawe nie. Ware digters is gebore met die voor- en oerkennis van die dood as universele transisie en transendensie. Digters, die dunvelliges, die weekdiere met die brose skulpe, betaal ’n duur prys vir dié wete; gebore uit ’n ultrasensitiewe synsbesef. Emily Dickinson het die dood as metafisiese proses verstaan ... Ook het die weduwee haar tydens haar wandelinge verlustig in Henry Longfellow** se poësie:

There is no Death! What seems so is transition;
This life of mortal breath
Is but a suburb of the life elysian,
Whose portal we call Death.

En sy het Arseny Tarkovsky*** se beskouing van doodloosheid bepeins; sy gedigte gememoriseer.

I don’t believe in omens or fear
Forebodings. I flee from neither slander
Nor from poison. Death does not exist.
Everyone’s immortal. Everything is too.
No point in fearing death at seventeen,
Or seventy. There’s only here and now, and light;
Neither death, nor darkness, exists.
We’re all already on the seashore;
I’m one of those who’ll be hauling in the nets
When a shoal of immortality swims by.

Wanneer sy gaan stap het, kon sy in haar geestesoor die hipnotiese stem van ’n eksterne verteller in ’n Malick-film hoor. Was dit haar onbewuste, of gewete, wat met haar gekommunikeer het? Wié?

Soms as ’n Kaapse reënbui uitgesak het, het sy gewag op die eerste geutdruppels soos ’n gebroke metronoom tot die reënstrale ’n vaste ritme gevind het.

Die boodskapper draai
suidoos: sweisblink
bliksems, bloudraad
in die wolke – die reën
is ’n migrerende god.

Sy het talle notas vir toekomstige gedigte neergekrabbel. 

En só het amper ’n jaar verbygevlieg – én -gesleep. Sy het gewag op haar klein pensioen om uit te betaal.

Sy het ’n slag met diere gehad: honde van alle groottes en temperamente; katte; papegaaie – enige diere wat toegelaat is volgens die kompleks se gedragsreëls. Aggressiewe honde het onmiddellik met platgetrekte ore, of op hulle rûe, in haar teenwoordigheid gaan lê. Katte het in Fibonacci-krulle teen haar aangekruip en salig aan die slaap geraak. Die skrillende horingbekke het toegelaat dat sy hulle op haar voorarm optel, terstond grootoog en stil. ’n Mens kry horse-whisperers, het sy gedink, en dan ook dié enigmatiese wesens wat geheime boodskappe in enige dier se oor kon influister. En die weduwee het bekend geword, al was dit binne die klein domein van die kompleks met sy meenthuisinwoners. Geboë, met ’n effense boggel – ’n weduweeskof – het sy met haar Klimt-drasakkie, bewapen met haar selfoon, sigarette, ’n bottel water en notaboek, gestap en diens gedoen aan die kliënte, die troeteldiere wat in hulle eienaars se afwesigheid haar versorging benodig het. En nooit het sy een van haar wollerige of geveerde kliënte gefaal nie.

Ongeveer 11 maande ná haar geliefde se dood het sy hierdie besondere egpaar ontmoet. Tipies, in hulle laat dertigs. Mense wat steeds wag op ’n kleinding van hulle eie, of reeds moed opgegee het en uiteindelik huisdiere as hulle kroos aangeneem het.

Tydens haar onderhoude as potensiële petsitter het sy haar eie, beproefde (maar geheime) raad gevolg: Sy het vooraf lewersmeer geëet, want dan sou die honde onophoudelik aan haar asem ruik en die indruk skep dat hulle haar wou soen. Nie dat dit nodig was nie – dit was bloot ’n special effect, het sy geredeneer, en vir haar eie binnepret.

Haar nuwe opdrag was om die Ebersöhn-hondjies te versorg vir die vyf dae wat hulle ouers ’n wegbreek geniet het.

Dit was eers ná Jenny en Louis se vertrek dat dit die weduwee opgeval het hoe anders dié huishouding was van haar vorige kliënte s’n. Twee tipiese Jack Russels, Tobie en Sussie, was die nuwe customers – honde wat bedags stroopsoet en stip op die rusbanke gesit en na Disney-films gekyk het. Sy het haar verwonder aan hulle gespierde lyfies, so tiperend van die Jack Russel-ras ...

Die weduwee het getrou haar opdrag uitgevoer en twee maal ’n dag ingeloer, die waterbakke vervang met vars yskaswater en die luukse hondepille in die bakkies gegooi. By tye het sy op ’n bank neffens Tobie en Sussie gesit en saam met hulle gekyk na die groot TV-skerm, wat altyd aan was. Haar verlustig aan die honde se intelligensie as hulle Tom & Jerry, stereotipies vergesel van Liszt se Hongaarse “Rhapsodie no 2”, volg en blaf, knor, of selfs tjank, afhangend van die anime. 

Maar by tye was die weduwee verveeld en het sy nuuskierig rondgekyk in haar kliënte se huise. Die mense se onderskeie leefstyle het haar met deemoed vervul. Die smet van die menslike kondisie was oral: ’n toilet wat iemand vergeet het om te trek. ’n Kas vol 2-Minute Noodles, want daar word óf bespaar op kos, óf dis ’n alleenloper wat nie lus voel om vir homself kos te maak nie. Dieselfde met blikke baked beans. Óf – ’n versteekte bottel drank, iewers weggesteek in ’n klerekas. 

Die Ebersöhns se huis was heeltemal anders. Daar was geen deurmatjie voor die voordeur nie. Ook was die huis in ’n perfekte kondisie: die mure vars en kraakskoon, asof gister uitgeverf. Die kos in die yskas was onaangeraak. Daar was ’n vullissak in die kombuisasblik, maar sonder inhoud. En daar was geen vuil, selfs geen stof in die huis nie.

Sy het by tye in die klein tuintjie op ’n plastiektuinstoel gaan sit om te rook. Geen asbak ook nie, maar wat anders sou mens verwag? Mense wat só ’n hoë standaard nastreef is as ’n reël nie rokers nie. Sy het haar verkyk aan die plante en perfek gesnyde grasperk, die walletjies se presisie in hulle 90 grade grasrame. Geen onkruid nie. Dit gebeur, maar dis raar dat mense só netjies en gedissiplineerd leef. Konsensieus in alle opsigte.

Tobie en Sussie was droomhonde. Wanneer sy hulle leirieme gebring het, het hulle afgesak op hulle flanke en geduldig gewag dat sy die knippe kan vasmaak. Die honde het met ’n militêre presisie langs haar gestap, en sy het gewonder in watter hondeskool hulle dié graad van dissipline geleer het.

Maar dag vier van haar opdrag om na die twee Jack Russels om te sien, het dit haar aandag getrek.

Sy het op die bed in die hoofslaapkamer gaan lê (natuurlik met permissie van die egpaar), want dit was ’n troeteldiervriendelike huis en die Ebersöhns het haar aangemoedig om saam met Tobie en Sussie te rus op die bed, met twee klein lessenaarwaaiers op die bedkassies wat, soos die televisie, dag en nag aan was. Want dit was hoogsomer en die hitte het veral smiddae sy tol geëis.

Die spieëlkas se een laai was oop en vir die eerste maal het sy dit gewaar: ’n gevoude dokument wat skeef en argeloos uitsteek, die enigste onreëlmatigheid – slordigheid – in die huis.   

Nuuskierig, want dit kan nie kwaad doen om te loer nie, het sy die laai oopgetrek en die papiere uitgehaal.

Sy het yskoud geword; gevoel hoe haar rugstring saamtrek.

Daar was drie begrafnisbriewe. Die een, Louis Ebersöhn s’n; die ander een, Jenny Ebersöhn s’n; en die derde, ’n brief van die egpaar wat saam, op dieselfde datum, gesterf het.

Sy het gelees. Gevoel hoe die bloed haar kop verlaat en haar sig vertroebel.

In liefdevolle herinnering aan Louis en Jenny Ebersöhn

Louis Johannes Ebersöhn: 20 Januarie 1989 – 25 Oktober 2025

Jennifer Ebersöhn: 15 Maart 1990 – 25 Oktober 2025

’n Viering van Lewe en Liefde.

Louis en Jenny Ebersöhn het saam hulle hemelse reis begin op 25 Oktober 2025. Hulle was onafskeidbaar in die lewe en sal onthou word vir hul passievolle liefde vir mekaar, hulle familie en hulle kosbare hondekinders, Tobie en Sussie. Hulle lewens was gevul met liefde, lag en herinneringe wat ons vir altyd sal koester.

Die begrafnisdiens vir Louis en Jenny Ebersöhn sal plaasvind:

Datum: 1 November 2025

Tyd: 10:00

Plek: Somerset-Wes Begrafniskapel

Ons nooi almal uit om die Ebersöhns se lewens en nalatenskap te vier.

Johannes 14:1–2: Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei.

Die weduwee het verskrik onthou dat die datum 18 November 2025 was. Maar – en dit het sy deeglik besef – ná ’n jaar van alleenwoon en -leef, het sy lankal nie meer ’n klankbord of barometer vir haar geestesgesondheid gehad nie. Na haar geesgenoot se dood het sy die talle afgronde in haar kop gekonfronteer ... en besef dat dit nie beter gaan word met tyd nie. Sy was huiwerig om ’n sielkundige te gaan spreek, want rou is universeel en dood is – wel, doodnormaal.

Daar was net een manier om vas te stel. Die weduwee, wat besonder sensitief was en daarom diskreet ónder die radar geleef het, het die Ebersöhns se voordeur sag gesluit en gestap na Dis-Chem, wat in die winkelsentrum oorkant die kompleks was waar sy gewoon het.

Sy het rondgekyk na die slimhorlosies. Polaroid, ’n goeie maak, was op special. Dalk was dit tyd om weer ’n horlosie te begin dra, het sy gemymer, om weer deel van chronos, van kousaliteit, van die noodsaaklikheid van tyd te word.

“Kan iemand my help?” het sy geroep in die hoop om een van die kletsende winkelassistente se aandag te trek.

Sy het gemerk dat die apteek nie baie skoon was nie, met zig-zag toue wat uit verskillende betaalpunte gemond het.

“Ja, Mevrou?” het ’n dame lui nader gestaan, vaagweg geïrriteerd omdat sy haar gesprek met ’n ander assistent moes beëindig.

“Ek stel belang in een van hierdie Polaroids,” het die weduwee gesê.

“Ja, Mevrou, dis een van die beste brands. Kom ons doen gou ’n passing.”

Die assistent met die naambordjie, Sharon Fredericks, het ’n horlosie met ’n goue bandjie uit ’n glaskas gehaal. Die sleutel in haar hand het haar mag oor haar klein domein bevestig.

Die weduwee het haar arm uitgestrek en Sharon het die Polaroid se bandjie op die regte gaatjie verstel.

“Ag nee man,” het sy ongeduldig opgemerk. “Die battery is flat. Heather!” het sy na iemand in die gang oorkant geroep, “het jy daar ’n Polaroid wat ge-charge is?”

En Heather het ’n gesig gekry en die horlosie gebring, nederig, asof sy ’n soenoffer aan Sharon oorhandig.

“Ons bêre ons horlosies eintlik net in die kas, omdat dit so maklik gesteel word,” het sy vervolg, en die Polaroid se buikkant wat soos opeens ’n vuurvlieg geflikker het, aan die weduwee se pols vasgemaak. “Fully charged,” het sy ingenome beaam, en sagkens op die horlosie gedruk.

“Nou vir Mevroutjie se pols ...”

“... en bloeddruk.”

Sy het gefrons en die horlosie se instellings – op die weduwee se uitgestrekte, dienswillige arm – bly druk.

“Bloedsuurstof ...”

Sharon se frons het verdiep. “Maar hierdie Polaroid is dan fully charged,” het sy met haarself gepraat.

Die weduwee het dit gemerk: hoe die haartjies op Sharon se voorarms soos duwweltjies regop begin staan.

“Nog niks,” het sy gesê, haar stem ’n aks hoër.

En die weduwee het in stadige aksie gesien hoe die assistent se irisse hul kleur verloor en spierwit word soos haar oogballe en haar mond oopgaan en inval soos ’n afgrond, want sy het presies geweet wat sy gaan sê: “Ek verstaan nie, maar Mevrou het dan géén vitals nie.”

*

* Die titel verwys na die gedig van WH Auden.

** ’n strofe uit Longfellow se “Resignation”

*** Tarkovsky se gedig: ’n strofe uit “Life, life”

 

  • 5

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top