
Prent van tikmasjien: Markus Winkler op Pixabay
- Nini Bennett skryf gereelde rubrieke vir LitNet.
Die menings wat weerspieël word in hierdie rubriek is nie dié van die skrywer nie – maar beriggewing oor bestaande samesweringsteorieë, waninformasie en parodieë wat tans die rondte doen op die internet.
.......
Conspiracy theories is soos moderne mitemaking – en dit speel uit in real time op die internet, wat dit soms moeilik maak om te onderskei tussen werklikheid en fiksie.
........
Conspiracy theories is soos moderne mitemaking – en dit speel uit in real time op die internet, wat dit soms moeilik maak om te onderskei tussen werklikheid en fiksie. Met AI-simulasies van Erika Kirk, weduwee van Charlie Kirk, het die sosiale media ontplof – en dit voel, met al die politieke onrus wat ons verder omring, of die wêreld inderdaad mal geword het. Die narratiewe van conspiracy theories is donker en paranoïed – en tog kry mens die gevoel dat hierdie teorieë by die dag donkerder word. Daaroor later.
Charlie Kirk, die stigter van Turning Point USA (TPUSA), is in die nek geskiet tydens ’n sluipmoordaanval op 10 September 2025 toe hy studente toegespreek het tydens een van sy beroemde/berugte (?) debatsessies, “Prove me wrong”. Onmiddellik het die film, Snake eyes (1998), weer onder die soeklig gekom na aanleiding van beweerde bisarre ooreenkomste. Dit het gelei tot conspiracy theories oor predictive programming: die beskouing dat films toekomstige gebeure kan voorspel, of selfs beplan. Die ooreenkomste is die volgende:
Die slagoffer in die film se naam is Charles Kirkland (redelik na aan Charlie Kirk se volle naam: Charles James Kirk).
Beide Kirk en Kirkland word in die nek geskiet tydens ’n openbare gebeurtenis (in die film: ’n boksgeveg; in die werklikheid: ’n studentedebat by Utah Valley-Universiteit).
Die bokser in die film wat betrokke is by die sameswering, is Lincoln Tyler; die moordverdagte in Kirk se saak se naam is Tyler Robinson.
Sommige plasings op die sosiale media beweer dat die boksgeveg in die film op 10 September plaasgevind het (die datum van Kirk se afsterwe), maar dit is nie akkuraat nie – dit het op die 19de September gebeur.
Ander toevalle: Die film is deels verfilm by die Trump Taj Mahal Casino (Trump was Kirk se groot ondersteuner), en daar woed ’n orkaan, genaamd Jezebel, aan die einde van die film. (In ’n satiriese artikel op Jezebel.com het ’n klomp hekse kwansuis ’n “vloek” op Kirk uitgespreek kort voor sy dood.)
Feitlik al hierdie ooreenkomste is toevallig, oordryf, of toe te skryf aan bevestigingsvooroordeel, en daar is geen bewyse van werklike verbandlegging nie. Owerhede het Kirk se dood as die werk van ’n enkele verdagte beskou, nie ’n groot sameswering soos in die film nie. Snopes.com en ander bronne wat fact-checking doen, het die teorie as ongegrond afgemaak, maar dit het steeds miljoene kyke op die sosiale media gekry.
’n Tweede en baie absurde conspiracy theory is dat Erika Kirk ’n shapeshifting reptiel is. Dit is na analogie van David Icke se boeke, The biggest secret (1999) en Children of the Matrix (2001), waarin hy beweer dat die wêreld beheer word deur vormveranderende, bloeddrinkende reptiele van die Alpha Draconi-sterrestelsel wat duisende jare gelede aarde toe gekom het. Hierdie reptielagtige humanoïede vorm die wêreld se elite, wat oor globale mag beskik en kan shapeshift (van reptiele, terug in menslike gedaantes). Hulle beheer en manipuleer glo gebeure soos oorloë, krisisse en die media om vrees en chaos te skep, waarop hulle dan voed om beheer oor die mensdom uit te oefen. Nodeloos om te sê, Icke se boeke was topverkopers ...
Honderde plasings op die sosiale media lewer nou “bewys” van Erika Kirk se koue blou oë, waarin die pupille verander in strepies, soos dié van ’n krokodil. Daar is ook gerugte dat haar tande by tye vlymskerp beiteltande word, dan weer terugkeer na haar menslike gebit. (Die aanhangers van Icke se teorie sê jy moet net mooi kyk, dan sal jy hierdie menslike reptiele sien shapeshift ... maar nee, ek beskik ongelukkig nou nie oor daardie visie [of krag van suggestie] nie, en sien niks).
Candace Owens, omstrede politieke podcaster (van die podsending, Candace), het begin met die “teorie” dat Erika Kirk in wese ’n demoon is. Dít na aanleiding van Erika se gesprek met Bari Weiss, waartydens sy vir Kirk gevra het hoe sy voel oor die leuens wat Owens oor haar versprei, en die duisende dollar wat sy (Owens) uit Erika en Charlie Kirk maak. Erika se gesigsuitdrukking en oë het opvallend verander en sy het ferm geantwoord: “Stop. That’s it. That’s all I have to say. Stop.” Talle kommentators het die video gedeel en verwys na haar “vreesaanjaende” oë, wat selfs vergelyk is met dié van die televangelis, Kenneth Copeland, en dat hulle kwansuis dieselfde demoon huisves. Uiteraard het hierdie diaboliese teorie begin kleintjies kry, en Erika is selfs daarvan beskuldig dat sy ’n lid van die Sinagoge van Satan is. Sjoe! En dan natuurlik die meme dat sy soos Chucky se bruid lyk. Alhoewel al bogenoemde na suiwer onsin klink, kan mens net wonder waarom gebruikers van die sosiale media Erika Kirk so fel aanval. Is dit omdat hulle dink sy is ’n opportunis wat skaars ’n paar dae na Charlie se dood aangekondig het dat sy die nuwe CEO van TPUSA is? Of omdat sy waarskynlik miljoene dollar maak uit haar oorlede man se dood en nalatenskap in die vorm van reuseskenkings, haar openbare optredes, of die verkope van Charlie se boek, Stop, in the name of God: why honoring the Sabbath will transform your life?
Dan doen honderde plasings die rondte dat Erika nie regtig huil voor die kamera nie, want die wegvee van haar denkbeeldige trane lyk nie eg nie. (Terloops, as mens huil, vee jy die trane uit die binnehoeke van jou oë weg, nie bo, of onder aan die buitenste hoeke van jou oë nie. En mens blaas jou neus nádat jy gehuil het, nie vooraf nie.) Talle nabootsers het met parodieë begin en met ’n sakdoek gepink-pink-pink onder stywe, droë oë met die bewering dat Erika Kirk ’n swak aktrise is. ’n Grifter, sê hulle. Die vuurwerke, sequins-pakke en stywe leerbroeke wat sy tydens haar vertonings dra, help natuurlik nie om die beeld van ’n treurende weduwee te versterk nie – inteendeel, beweer hulle: Sy lyk eerder soos ’n popster; van ’n gerou is daar nie sprake nie; sy lyk baie gelukkig! AI-simulasies doen die rondte dat sy in glanspakke aan sirkus-artiestoue tussen vuurwerke deur swaai en rondomtalie, ekstaties.
Wánt, so word verder gespekuleer, Charlie Kirk is nie regtig dood nie. Daar is dan nie ’n ballistiese verslag nie, nie ’n outopsie nie, nie ’n graf nie ... Kirk se familie bevestig wel dat al laasgenoemde bestaan, maar dat hulle dit privaat, in die familie, en weg van Jan Publiek se oë af hou.
Candace Owens beweer ook dat daar geen bloed in die voertuig wat Kirk hospitaal toe vervoer het, was nie. Verder, sê sy, sou ’n .30-06-geweer massiewe trauma en baie bloed veroorsaak het, en daar was nie eens ’n uitgangswond nie.
Op TikTok, Instagram, Facebook en X gons dit dat Charlie voor sy dood eintlik op ’n verhoog met ’n valdeur gesit het en toe deurgeval het onder toe, alles in ’n poging om Israel se wraak oor sy gewaande anti-Semitiese houding te ontkom. ’n Sogenaamde body double is volgens hierdie conspiracy theories in ’n kis geplaas, en dis waarom daar so min foto’s is; slegs van Kirk se hande, wat vreemd gelerig en wasagtig vertoon.
Nóg ’n teorie lui dat Kirk nie geskiet is nie, maar dat ’n mikrofoon in sy nek ontplof het en hy so vermoor is. Alles natuurlik met video’s wat die grudaad in stadige aksie toon (waarskynlik ge-photoshop ...).
Dan is daar diegene wat beweer dat Hollywood-kenners, wat bekend is met die truuks van special effects, betrokke was by Kirk se dood – dat dit alles oëverblindery was en dat Kirk nog leef en veilig iewers in ’n witness protection-program is.
’n Meer onthutsende samesweringsteorie is dat Erika Kirk deel was van ’n komplot om haar eggenoot te laat vermoor, omdat skenkers uit Israel vir Charlie uit die weg wou ruim nadat hy nie meer so pro-Israel was nie. En omdat hy skynbaar 150 miljoen dollar van die Israelse regering van die hand gewys het, en tydens ’n podcast daarop gesinspeel het dat Israel besig was met ’n volksmoord in Gaza. Erika word beskuldig dat sy as ’n Mossad-agent vir Charlie gebruik het om TPUSA te beheer, en moontlik by sy dood betrokke was om mag oor die organisasie te bekom. Erika Kirk se familie, insluitend haar ouers, wat verbintenisse gehad het met Israel, is noukeurig onder die loep geneem.
Sommige spekuleer dat haar pa bande met Israel en die Department of Defence (DoD) gehad het, en Erika se huwelik met Charlie as ’n strategiese honeypot (lokval) gebruik is om konserwatiewe Christene te verbind aan ’n pro-Israel-beleid, veral deur TPUSA se Judeo-Christelike agenda.
Erika se moeder het glo vir die Departement van Homeland Security (DHS) en genoemde DoD gewerk, met kontrakte in areas soos sekuriteit en die intelligensiediens. Volgens sekere samesweringsteorieë is Erika Kirk se familie deel van ’n internasionale netwerk wat georganiseerde misdaad, finansiële korporasies, regerings en intelligensie-agentskappe insluit, met Israel as sentrale kern.
Volgens ánder teorieë was Erika skynbaar betrokke by kinderhandel in Roemenië, waar sy ’n liefdadigheidsorganisasie/jeugsorgsentrum bedryf het en daar van die kinders verdwyn het ...
In 2012 het sy die skoonheidstitel as Miss Arizona USA verower, ’n kompetisie wat toevallig ook deur een van Trump se maatskappye bestuur is. Ja, fluister die skindertonge, sy het Trump geken lánk voor sy Charlie ontmoet het, en die teorie word ook as “bewys” voorgehou dat sy “geplant” is om Charlie te teiken en met hom te trou. Erika Kirk word voorts gereeld saam met Trump gesien en hulle lyk soos ou vriende. Charlie Kirk het immers die hoogste eer wat ’n burgerlike Amerikaner te beurt kon val, van Trump ontvang: die Presidential Medal of Freedom is postuum aan hom toegeken. Nou wat maak Charlie Kirk so uitsonderlik, vra sosialemediagebruikers? Hy was immers net ’n podcaster en influencer wat met jongmense op kampusse debat gevoer het (en ironies genoeg het hýself uitgeval uit Harper College). Wel, almal weet dat Kirk die jeug se MAGA-mondstuk was en Trump gehelp het om verkies te word as president ...
Kirk was gekant teen akademiese onderrig en het gespog dat hy ’n outodidak was; ook het hy die studente gereeld gewaarsku dat hulle gebreinspoel word deur die ver-linkse propaganda en liberalisme van die Demokrate, en eerder moet gaan werk direk ná skool en so vinnig moontlik moet trou en babas kry. Hy het Christelike nasionalisme aangehang en gepropageer dat “goeie” waardes terugkom. As konserwatiewe aktivis het hy egter baie mense aanstoot gegee met sy haatspraak en neerhalende aanmerkings ten opsigte van Moslems en Islam, gay en trans mense, die breër LGBTQ+-gemeenskap, vroue, swart mense, swart vroue in leiersposisies, immigrante, Jode en die Derde Wêreld gemaak ... Kirk het debat gevoer, maar hy self was nie oop vir debat, oortuiging of ander se idees nie. Sy debatstyl was veglustig, aanvallend en outoritêr, en “Prove me wrong” het nie vryheid van spraak of unifikasie geskep nie, maar verdeeldheid tussen mense. Kirk het graag die linkses as “far left” of sosialiste gedemoniseer, en TPUSA se Professor Watchlist het tot die werksverlies van talle professore gelei (wat kwansuis, en aldus hom, teen konserwatiewe studente gediskrimineer het, maar inderwaarheid eerder gedui het op ’n slagoffermentaliteit aan die kant van regses). Volgens TPUSA se Professor Watchlist was talle akademici die slagoffers van teistering, doxxing, haatspraak en selfs doodsdreigemente.
........
Ek het geen affiniteit of vooroordeel jeens die Kirks nie, maar wat my interesseer, is die narratief van donkerwordende conspiracy theories wat waarskynlik ’n weerspieëling van die zeitgeist is waarin ons leef – en die skadu wat oor Amerikaanse politiek en globale wêreldgebeure hang.
........
Ek het geen affiniteit of vooroordeel jeens die Kirks nie, maar wat my interesseer, is die narratief van donkerwordende conspiracy theories wat waarskynlik ’n weerspieëling van die zeitgeist is waarin ons leef – en die skadu wat oor Amerikaanse politiek en globale wêreldgebeure hang. Dalk is daar nie meer ’n werklikheid nie, slegs ’n Baudrillardiaanse hiperrealiteit van die internet wat die pas aangee – met ’n gepaardgaande verlies aan die reële. Of, soos een kommentator dit gestel het: Dit voel of mens na The Truman Show kyk.
Samesweringsteorieë is so oud soos die menslike beskawing en verteenwoordig ’n diepgewortelde poging om komplekse of ontstellende gebeure te probeer verklaar deur middel van teorieë oor geheimemagte en booswigte wat agter die skerms doenig is. Reeds in die antieke tyd het mense sulke oortuigings gekoester: Die Romeine het byvoorbeeld geglo dat keiser Nero die groot brand van Rome in 64 nC self begin het om plek te maak vir sy paleis. Hierdie narratiewe het gedien om vrees, onsekerheid en sosiale spanning te mobiliseer, en het dikwels gelei tot vervolging en geweld. Met die koms van die drukpers in die 15de eeu het samesweringsteorieë vinniger versprei.
Vandag is daar egter niks nuuts aan hierdie verskynsel nie – die digitale era en multimedia het bloot ’n nuwe en meer dinamiese gedaante daaraan verleen. Sosiale media, video’s, memes en algoritmes verseker dat bepaalde idees blitsvinnig en wêreldwyd versprei word, versterk deur visuele “bewyse” en echo chambers, maar die kernbeginsel bly dieselfde: die soeke na eenvoudige verklarings in ’n chaotiese wêreld.
In Nexus: a brief history of information networks from the Stone Age to AI (2024), wat deur Yuval Noah Harari gepubliseer is, bespreek die skrywer die rol wat inligtingsnetwerke gespeel het in die vorming van die menslike beskawing vanaf prehistoriese tye tot die era van kunsmatige intelligensie. Harari voer aan dat die mensdom se unieke krag spruit uit ons vermoë om diverse netwerke te vorm deur gedeelde stories, mites en inligtingvloei – dikwels met die prioritisering van menslike konneksie bó die aannames van “waarheid”, wat alles moontlik gemaak het, van antieke godsdienste en burokrasieë tot moderne demokratiese en totalitêre regimes. Deur historiese voorbeelde soos die kanonisering van die Bybel, Europese heksejagte en Nazi-propaganda te gebruik, ondersoek hy die gespanne wisselwerking tussen inligting, waarheid, mitologie en mag, en waarsku dat hierdie netwerke gereeld tot wanpersepsies en rampe gelei het.
Inligtingsnetwerke vloei en verander. ’n Goeie voorbeeld hiervan is Fox News, die mondstuk vir MAGA en Trump wat byvoorbeeld sekere propaganda, waninformasie, of samesweringsteorieë voorhou as die “waarheid”. Waar die inligtingsnetwerk vloei, is mense se aandag/energie ook – en so sal netwerke wat waninligting versprei, mense ontneem van besluitneming, of hulle in ’n totale staat van verwarring laat.
Lees ook:
Wat sê Bettina? Regse op regse geweld in Charlie Kirk se sluipmoord

