Op dees aarde: Die mens het al eeue lank ’n beste vriend, langer as wat ons gedink het

  • 0

Artistieke rekonstruksie van Pınarbaşı ongeveer 15 800 jaar gelede gebaseer op bewyse van argeologiese opgrawings deur die Universiteit van Liverpool: Beeldkrediet: Kathryn Killackey (verskyn met toestemming)

  •  Elsabé Brits skryf ’n gereelde rubriek vir LitNet.

Hulle is die mensdom se beste vriende, en nou het antieke-DNS-ontleding onthul dat die blywende band tussen honde en mense meer as 15 000 jaar oud is.

Dié navorsing, wat in twee artikels in die vaktydskrif Nature gepubliseer is, stoot die oudste genetiese bewyse vir mak honde met 5 000 jaar terug. Dit onthul dat jagter-versamelaars die diere gevoer en rituele begrafnisse gegee het lank voor die opkoms van landbou.

Die honde wat saam met Europese jagter-versamelaars geleef het, is nie vervang met die aankoms van boerderygemeenskappe nie, maar het eerder aansienlik bygedra tot latere en uiteindelik ook moderne Europese honde.

Honde was die eerste spesie wat deur mense mak gemaak is.

Hierdie studie was die grootste genetiese studie tot dusver van antieke oorskot wat tussen honde en die gryswolf onderskei het.

Die oorblyfsels, van die Verenigde Koninkryk, Switserland en Turkye, is 14 000 tot 16 000 jaar oud en stoot die genetiese rekord vir honde met meer as 5 000 jaar terug.

Hulle identifiseer ook ’n vroeë mak hondepopulasie (Canis lupus familiaris) wat oor Wes-Eurasië gestrek het en deur diverse menslike jagter-versamelaargroepe aangehou is. Die diere se genetiese “handtekening” is vandag nog steeds in honde teenwoordig.

Hoewel dit nie bekend is waar en hoekom honde makgemaak is nie, blyk dit wel dat honde tussen verskillende groepe geruil is.

Mense het honde mak gemaak uit ’n Ystydperkbevolking van gryswolwe (Canis lupus). Maar ten spyte van dekades van intense argeologiese en genetiese studie weet wetenskaplikes steeds nie wanneer of waar, wat nog te sê hoekom, dit gebeur het nie.

Deel van die uitdaging was om mak honde van wolwe te onderskei wanneer die oorblyfsels dikwels net fragmente is: Bene so oud as 30 000 jaar is gekoppel aan mak honde op grond van hul vorm

Maar toe het DNS-reeks-bepaling hulle as dié van wolwe bevestig. Voor die jongste studies het die oudste honde-DNS gekom van fossiele byna 11 000 jaar oud, uit noordwes-Rusland.

Antieke-DNS-ontleding het nou getoon dat die oudste genetiese bewyse van mak honde sowat 15 800 jaar oud. En hulle het saam met antieke kulture regoor Europa versprei.

Van die tweede oudstes oorskot van twee honde: Een wat in Gough se Grot in Somerset, Engeland gevind is, en die ander in ’n Pınarbaşı in Turkye.

Die genetiese identifikasie van twee Paleolitiese honde van Gough se Grot en Pınarbaşı verteenwoordig ’n stapsgewyse verandering in die begrip van die vroegste honde. Hierdie monsters het kenners toegelaat om bykomende antieke honde van terreine in Duitsland, Italië en Switserland te identifiseer wat duidelik toon dat honde reeds minstens 14 000 jaar gelede wyd verspreid oor Europa en Turkye voorgekom het.

Merkwaardig genoeg is daar gevind dat al hierdie honde geneties baie soortgelyk was, al is hulle duisende kilometers uitmekaar ontdek en geassosieer met mense wat kultureel, geneties en gedragsmatig baie verskillend was.

Die kaak van ’n hond van sowat 14 500 jaar gelede van Gough se Grot in Engeland is een van die oudstes nog van ’n hond. Foto: Trustees of the Natural History Museum (met toestemming geplaas)

Wetenskaplikes glo dat hulle tussen 20 000 en 40 000 jaar gelede van gryswolfbevolkings geskei het.

Gedurende die vroeë makmaakfases is die geraamtes van honde en wolwe byna ononderskeibaar. Maar meer kan geleer word deur na hul genetika te kyk.

Ten spyte daarvan dat hulle ’n onlangse gemeenskaplike voorouer deel, is die DNS van wolwe en honde baie verskillend. Dit beteken dat navorsers deur genetiese toetsing maklik kan onderskei of ’n monster dié van ’n hond of ’n wolf is.

Ontleding van chemikalieë in die bene van die menslike en hondeoorskot, bekend as dieetisotope, het getoon dat die mense in Turkye die honde waarskynlik vis gevoer het. Dit is dieselfde kos wat die mense self geëet het. Daar is ook tekens dat die honde moontlik doelbewus begrawe is.

Bewyse van soortgelyke interaksies is ook by Gough se Grot gesien. Die hondeoorskot dui daarop dat hulle moontlik na die dood gemanipuleer is op maniere vergelykbaar met begrafnispraktyke wat in menslike oorskot op die terrein waargeneem is.

Sophy Charlton van die Universiteit van York se Departement Argeologie het gesê: “Hierdie studie onthul die begin van ’n band tussen mense en honde wat tot vandag toe voortduur. Dis ’n narratief wat teen die einde van die Ystydperk begin het, maar die grondslag gelê het vir baie van die moderne rasse wat ons vandag sien.”

Selektiewe teling en honde is soos kinders

Soos menslike samelewings ontwikkel en gediversifiseer het, het die rolle van honde ook ontwikkel. Verskillende rasse is ontwikkel om hoogs gespesialiseerde take te verrig.

Oor die afgelope 200 jaar is die meerderheid moderne honderasse deur selektiewe teling ontwikkel. Die proses van selektiewe teling kan egter probleme vir baie honde veroorsaak.

Waarom haas jou hond hom om te “help” wanneer jy na iets soek, terwyl jou kat minder bekommerd lyk? Nuwe navorsing dui daarop dat hierdie verskil moontlik uit diep evolusionêre wortels kan voortspruit – en dat honde in sekere situasies meer soortgelyk aan jong kinders as aan katte optree.

’n Navorsingsgroep het ondersoek ingestel na hoe onopgeleide honde, katte en kleuters van 16 tot 24 maande oud reageer wanneer ’n bekende versorger na ’n versteekte voorwerp soek.

Om dit te toets, het navorsers ’n eenvoudige, natuurlike situasie geskep: Die ouer of eienaar het gesoek na ’n voorwerp wat in die volle sig van die kind, hond of kat versteek was.

Dit is belangrik dat die versorger nie direk om hulp gevra het nie. Die span het waargeneem of die proefpersoon spontaan die ligging van die voorwerp sou aandui – byvoorbeeld deur heen en weer tussen dit en die versorger te kyk, dit te nader of dit na die versorger te bring.

Kinders is reeds bekend daarvoor dat hulle ander op hierdie ouderdom help. Interessant genoeg het die meerderheid van die honde en kinders soortgelyke gedragspatrone getoon. Hulle het geredelik met die situasie omgegaan, en meer as 75% van hulle het die voorwerp óf aangedui óf teruggekry, wat dui op sterk motivering om te help – ten spyte daarvan dat hulle ongeoefen was, geen beloning ontvang het nie, en die versteekte voorwerp, ’n skottelgoedwasspons, irrelevant vir hulle was.

Daar is egter bevind dat katte baie minder geneig was om dit te doen. Terwyl hulle aandag aan die situasie gegee het, het hulle selde gehelp, behalwe in die kontroleproef, toe die versteekte item iets was wat hulle wou hê (hul gunstelinglekkerny of -speelding).

Dit dui daarop dat makmaak, die deel van ons huis en die vorming van noue bande nie voldoende is om spontane, mensagtige hulpgedrag te produseer nie.

In plaas daarvan glo die navorsers dat die antwoord dieper in die evolusionêre geskiedenis lê. Honde het ontwikkel uit hoogs sosiale voorouers en is gevorm deur duisende jare se interaksie met mense.

Katte, daarenteen, het afgestam van alleenstaande voorouers en het eerder as’t ware hulself makgemaak deur hulle naby menslike gemeenskappe te vestig. Anders as honde, is hulle nooit gekies om met mense saam te werk nie.

Lees ook:

Katte, ’n hupstoot vir jou gesondheid

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top