Spreekwoorde en ander segswyses
Leon en Amanda de Stadler
Pharos
ISBN: 9781868902194
Leon en Amanda de Stadler praat met Naomi Meyer oor die Pharos-publikasie Spreekwoorde en ander segswyses.
"Spreekwoorde bied ’n instrument waarmee ons ontslae kan raak van grys, verbeeldinglose taalgebruik en waarmee ons kreatief kan uitdrukking gee aan komplekse idees," lees ek in die voorwoord. Was dit Anton Prinsloo se woorde?
Met hierdie boek vereer ons graag vir Anton Prinsloo, die persoon wat die woordeboek jare gelede staan gemaak het. Al is Anton nie meer met ons nie, is hierdie boek in die eerste plek sy boek en het ons maar net verder geskaaf en bygewerk. Daarom staan sy naam steeds eerste en is dit eintlik hy wat die vrae sou moes beantwoord.
Wat was die heel eerste opgetekende spreekwoord in Afrikaans wat julle teëgekom het?
Sjoe, dis baie moeilik om te sê, want toe ons die taak gekry het om die woordeboek te hersien, het spreekwoorde ons van alle kante “bekruip” en ons het maar opgeteken en gekontroleer wat is reeds in en wat nie. Anton se verklarende inligting (in die blou blokke) gee mens wel ’n idee van die oorsprong en ouderdom van sommige van die uitdrukkings. Neem byvoorbeeld ’n saak bewimpel (nie reguit met die waarheid uitkom nie), waar wimpel se betekenis reeds 700 jaar gelede uit Middelnederlands kom.
Afrikaanse spreekwoorde ontspring dikwels in ander lande. So dit sê iets van al die ander tale wat saam Afrikaans help vorm het. Dan het Afrikaans se sprekers ook weer gans verskillende leefwêrelde en dit is ook teelaarde vir uitdrukkings van verskillende oorde af. Wat is julle gedagtes hieromtrent?
As mens noukeurig kyk, sien jy inderdaad die ryke versameling spreekwoorde wat ons op een of ander manier oorgeneem het, veral uit die Nederlandse en Engelse leefwêrelde. Gegee Afrikaans se besondere verhouding met Nederlands, en die naasbestaan met Engels, is dit te verstane. Ons spreekwoordeskat is byvoorbeeld deurspek met seevaartspreekwoorde uit Nederland, soos uit iemand se vaarwater bly (uit iemand se pad bly), maar dieselfde noukeurige beskouing van die skatte in hierdie boek laat ook sien dat ons ’n ewe ryke versameling spreekwoorde het wat op eie bodem (plaaslewe, trekkersweë, ons eie besondere humor, ons ingesteldheid oor familie en kinders, ens) beslag gekry het. Talle van die voorbeelde wat ons verderaan noem, getuig hiervan.
Gegewe die ryke verskeidenheid Afrikaanssprekers: Hoe het julle jul navorsing gedoen?
Die werk het oor ’n periode van twee jaar gestrek en ons wou seker maak dat ons die Afrikaanse spreekwoordeskat behoorlik verteenwoordig kry. Daarvoor het ons ’n magdom bronne geraadpleeg, waarvan sekerlik die belangrikste (en eerstes) die bestaande woordeboeke en korpusse van Afrikaans was. Maar ons het ook ons oë oopgehou en uit ’n groot verskeidenheid literêre en joernalistieke bronne opgeteken wat ons kon vind binne die tyd tot ons beskikking. Woordeboekmakers is uiteindelik woord- en spreekwoordjagters, dws jy is gedurig maar besig om te soek na woorde, spreekwoorde en ander taalgoete wat jy nie ken nie, wat nuut is – dis eintlik nogal erg, want ons kan deesdae glad nie meer net rustig en ongestoord aan ’n Afrikaanse boek of artikel lees nie – ons is gedurig besig om nuwe skatte te vind en met mekaar te bespreek vir moontlike opname!
.............
Maar ons het ook ons oë oopgehou en uit ’n groot verskeidenheid literêre en joernalistieke bronne opgeteken wat ons kon vind binne die tyd tot ons beskikking. Woordeboekmakers is uiteindelik woord- en spreekwoordjagters, dws jy is gedurig maar besig om te soek na woorde, spreekwoorde en ander taalgoete wat jy nie ken nie, wat nuut is – dis eintlik nogal erg, want ons kan deesdae glad nie meer net rustig en ongestoord aan ’n Afrikaanse boek of artikel lees nie – ons is gedurig besig om nuwe skatte te vind en met mekaar te bespreek vir moontlike opname!
...............
Is ’n spreekwoord nie ook baie streeksgebonde nie? En sommige Afrikaans-sprekers praat baie anders Afrikaans as ander.
Ons het in hierdie uitgawe begin om ’n behoorlike versameling sg lektiese gevalle op te neem, wat oa streeksgebonde gevalle insluit, maar ook ander tipes variasie. Voorbeelde soos: anderjan se papiere met plat oë lees (ander mense se sake is duister); dala wat jy moet (doen wat jy moet doen); ons dam se ganse (lede van ons familie, groep); die grootmeneer uithang (grootdoenerig wees); op die rims ry (sonder tande eet); ’n groot soutplek hê (’n kaalkop hê); nie om te wat nie (nie om van te praat nie).
Dis egter belangrik om te beklemtoon dat ons nog maar net ’n begin gemaak het hiermee, as ’n soort erkenning van Afrikaans se ryke verskeidenheid. Ons moet beklemtoon dat hier nog baie werk wag wat gedoen moet word – ons stel dit ook duidelik in die voorwoord.
Is dit die doel om almal, of soveel moontlik Afrikaanssprekendes, se spreekwoorde in te sluit? En waarom teken mens iets op – word dit geboekstaaf?
Gegee die beperkinge van so ’n boek (bv wat omvang betref), moet die antwoord nee wees. Dit is onmoontlik om binne die bestek wat ons toegelaat is (tyd en ruimte) alles op te neem. Maar die doel moet uiteindelik sekerlik wees om soveel op te teken as wat menslik moontlik is – die woordeboekmaker se werk as optekenaar is nooit klaar nie. Uiteindelik is dit ’n soort taalekologiese daad, optekening as ’n soort bewarings- en bevorderingsaksie.
Afrikaanse mense lees te min. Boeke is duur, tegnologie volop, die leeskultuur is nie altyd na wense nie. ’n Boek soos hierdie: Kan dit mense opvoed, of stimuleer, of sekere frases weer nuwe lewe inblaas?
.............
Spreekwoorde is ’n prettige boek om sommer net te gryp en ’n stuk uit te lees. En elke keer is dit so lekker om dan spreekwoorde te ontdek wat jy nie geken het nie, of om ’n “ou vriend” weer raak te loop. In ’n ideale wêreld sou mens graag wou sien dat elke kind ’n stel woordeboeke besit wat ook ’n spreekwoordeboek sal insluit.
..................
Ons hoop regtig so, ja. Spreekwoorde is ’n prettige boek om sommer net te gryp en ’n stuk uit te lees. En elke keer is dit so lekker om dan spreekwoorde te ontdek wat jy nie geken het nie, of om ’n “ou vriend” weer raak te loop. In ’n ideale wêreld sou mens graag wou sien dat elke kind ’n stel woordeboeke besit wat ook ’n spreekwoordeboek sal insluit. Kommunikasie waarin ook van beeldende, spreekwoordelike taal gebruik gemaak word, het net soveel meer seggingskrag.
Kalm soos ’n daggawalm, lees ek op die agterblad. Wat is nog lekker spreekwoorde wat julle teëgekom het? Hoe bepaal mens dat dit in hierdie boek moet neerslag vind? Wanneer is dit "algemeen genoeg" vir opname?
Daar is so baie! Hier is ‘n paar voorbeelde: die snotpsalm aanhef (begin huil en dan loop jou neus) of ’n poep op ’n lappie (gesê van iets of iemand wat onbelangrik, onbeduidend, onbenullig is); iemand vlak kyk/blaai (iemand onderskat); so kommin soos grond; ’n dik boom met ’n klein byltjie kap (met onvoldoende toerusting ’n groot taak aanpak); hangskouers soos ’n kasteroliebottel (lekties) (as jou skouers meer as normaal hang); jy sê daai ding! (lekties) (beaam wat iemand sê); sy neus is onderstreep (hy het ’n snor); iemand sing soos ’n brommer in ’n beeshoring (iemand sing, vals, eentonig, deur sy/haar neus); brandewyn het nie brieke nie (as mens sterk drank drink, verloor jy jou selfbeheersing); iemand het ’n kop so klein soos ’n kuierkierie – en nog vele meer.
Wat die vraag oor opname of nie betref, het ons ons veral laat lei deur die voorkoms van ’n spreekwoord of segswyse in korpusse van geskrewe Afrikaans. As dit meer as drie keer voorkom, het ons al opname oorweeg. Maar ons moet tog iets bely: Soms het ons ’n spreekwoord opgeneem net omdat dit so verdomp veelseggend is en dit ons op een of ander manier geroer het!
............
As dit meer as drie keer voorkom, het ons al opname oorweeg. Maar ons moet tog iets bely: Soms het ons ’n spreekwoord opgeneem net omdat dit so verdomp veelseggend is en dit ons op een of ander manier geroer het!
............
Daar is sekerlik ook van die spreekwoorde wat dalk nie meer in die boek hoort nie (omdat ons wêreld so verander het) en wat maar geskrap kon gewees het, maar ons het tog heel dikwels geoordeel dat daar dan iets, ’n stuk geheue, verlore gaan en dan maar liewer gekies vir behoud. Hierdie boek gee daarom nie voor om in alle opsigte leksikografies verantwoordbaar te wees nie – dit wil ook ’n woordeboek wees net vir die lekkerte van Afrikaans en sy ryke geskiedenis.
Daar staan reeds op bladsy een dat spreekwoorde nie heeltemal afgebaken is nie. Daar is idiome, segswyses, ens. Wat tref mens alles in die boek aan?
Ons het talle uitdrukkings opgeneem wat op een of ander manier as “vas” geag kan word, maar wat streng gesproke nie as ’n idioom of spreekwoord geag sal word nie. So dis redelik maklik om ’n spreekwoord soos Die beste stuurlui staan aan wal as spreekwoord te kategoriseer, maar is vaste verbindings soos tot nog toe of nom de plume nou regtig spreekwoorde in die volste sin van die woord? Dit verklaar ons keuse van ’n titel vir die boek, sodat ons die vryheid kon hê om vaste verbindinge op te neem wat nie volwaardige spreekwoorde is nie, maar tog opname verdien tot voordeel van die gebruiker. Kategorieë (soos die kategorie “spreekwoord”) is nou maar eenmaal nie so presies af te baken nie.
Wie is die ideale leser; vir wie is dit die regte naslaanbron? (Ek wil byvoeg dat my kinders hierin sit en lees het; ek het nie een van hulle al ooit so baie pret hoor hê en hoor lag met ’n woordeboek soos met hierdie een nie.)
Ons dink regtig dat hierdie woordeboek vir almal is. Die verwysing na jou kinders se reaksie is pragtig, want dit is presies wat spreekwoorde so wonderlik maak: Hulle ontsluit ’n hele wêreld van insigte oor wie ons is, waar ons vandaan kom, waaroor ons nadink, wat vir ons spesiaal, snaaks of ontstellend is, en nog soveel meer. Ons hoop die boek sal Afrikaanssprekendes herinner aan die rykdom van hulle taal. En dan is daar ook nog die Engelse taalskat wat saampraat.
Soms voel mens sinies oor die taal wat Afrikaanse mense praat, ondervind self hoe gereeld die Engels heel eerste opduik. Mens is omring deur Engels. So min Afrikaans. Is die boek ook ’n keerwal teen die verlies van alles wat verlore gaan?
Dit kan ons maar net hoop, ja. Ons leef in ’n era van gestrooptheid, en dit geld ook vir ons kommunikasie. Dis asof mense die kuns om beeldend te kommunikeer verloor, terwyl die vermoë om te “skilder” met woorde juis so kenmerkend is van goeie kommunikasie. Die mens wat weet hoe om idiomatiese taal reg in te span, het eenvoudig meer kommunikatiewe voordeel en mag.
..........
Ons leef in ’n era van gestrooptheid, en dit geld ook vir ons kommunikasie. Dis asof mense die kuns om beeldend te kommunikeer verloor, terwyl die vermoë om te “skilder” met woorde juis so kenmerkend is van goeie kommunikasie. Die mens wat weet hoe om idiomatiese taal reg in te span, het eenvoudig meer kommunikatiewe voordeel en mag.
............
Sinonieme soos: so min van iets weet soos ’n aap van godsdiens en soveel daarvan weet soos ’n kat van saffraan ... Hoe gereeld tref mens sulke idiome aan wat byna sinoniem gebruik kan word?
’n Mens kry inderdaad baie van hierdie sinonieme of byna sinonieme onder die spreekwoorde. Wat so interessant is van die woordeboek, veral as mens die indeks agterin bekyk, is dat daar sommige konsepte in ons leefwêreld is wat meer spreekwoorde met hulle geassosieer het as ander. Gaan kyk maar na die getal spreekwoorde wat geassosieer word met ’n begrip soos moeilikheid (jy speel op Avbob se stoep; jy krap nou met ’n kort stokkie aan ’n groot leeu se bal; die duiwel sal jou ry en nog vele meer), en sodoende ontstaan daar dan spreekwoorde wat sinonieme of byna sinonieme is juis omdat hulle oor dieselfde idee of konsep handel.
Idiome wat ek hardop voorlees sodat ek dit kan onthou: stil soos ’n bedlampie – sien baie, sê niks; die noordewind in jou broekspype hê; ‘n randeier broei nooit ‘n gesonde kuiken uit nie; ‘n snoek vang; die staf oor iemand breek; iemand ‘n vlieg afvang; die polisieman dans daar voor; so skaars soos ‘n tweedehandse doodskis. Sommige van hierdie uitdrukkings het ek al gehoor, sommige nie. Sommige het ek gedink beteken iets anders toe ek dit lees en was verbaas oor die definisies. Het julle persoonlik alles geken en probeer julle julself keer om dit nie heeltyd in gesprek te gebruik nie?
Nee, ons het beslis nie alle spreekwoorde geken wat oor ons pad gekom het nie, en dit was juis wat so heerlik was van hierdie werk, die goed wat ons ontdek het en waaraan ons ons kon verwonder, en ons soms kon stukkend oor lag. En, ja, dan bly jy dit proe so ’n paar dae lank, en in sommige gevalle word dit byna gesinsbesit, soos die voorbeelde wat reeds genoem is.
Die verklarings tussendeur ... baie waardevolle en interessante toevoeging. Hierdie boek kan met vrug deur skoolkinders gebruik word. Ook vir kinders wat die spreekwoordbordspeletjie Meer bek as binnegoed van die ATKV speel! Ek het sommer by myself gedink: Hierdie boek kan ’n prettige naslaanbron vir kinders wees. In die klas, sowel as speel-speel. Op hierdie manier kan hulle weer nuwe uitdrukkings leer gebruik as dit in onbruik geraak het. Kan julle aan ander maniere as in die klas dink waar kinders, of volwassenes, hierdie boek kan aanwend?
Soos jy tereg opmerk, is die boek nie net ’n naslaanbron nie, maar prettig om te lees. Ons hartewens is dat hierdie taalskat vasgevang kan word in apps en ander hulpmiddele wat so ontwerp is dat kinders en volwassenes dit op hulle selfone en ander elektroniese apparate kan gebruik en geniet. ’n Spelprogram op televisie (soos wat daar bestaan vir skaak en spelvermoëns) sal baie doen vir Afrikaans, maar ook vir individuele uitdrukkingsvermoë. Dink net hoe uitdagend en prettig sal ’n idioomvasvra op ons kunstefeeste kan wees – en ’n nasionale kampioen wat almal die loef afgesteek het (loef is ’n verkorting van die Nederlandse loefzijde, wat die windkant van die boot is).
In die hand van ouers wat die waarde van effektiewe taalgebruik verstaan, kan hierdie boek ’n instrument word waarmee hulle by hulle kinders ’n liefde en waardering vir die rykheid van Afrikaans kan kweek, oa deur kinders uit te daag om spreekwoorde aan te leer en te leer gebruik.
Daar is so baie sosiologie in uitdrukkings. Soveel uit die Bybel, soveel met ’n skurwe agtergrond. Sekerlik was daar ook uitdrukkings wat om verskeie redes nooit hierdie boek sou haal nie. ‘n Taal se sprekers veroordeel, stereotipeer, en beledig. Hoe bepaal mens wat kan verskyn en wat nie? Die boek is op ‘n manier ’n spieël vir die Afrikaanssprekende, ook al kyk mens soms terug in die geskiedenis. Wat het julle ontdek?
Daar skuil inderdaad ’n hele hoop sosiologie, taalgeskiedenis, ons kulturele leefwêreld en nog vele meer in ons spreekwoordeskat. Daar is inderdaad ’n groot versameling spreekwoorde wat Bybelse verwysings bevat, wat inderdaad dui op die verbondenheid van die Afrikaanse taalgemeenskap met die Christelike geloofswêreld, soos ’n Judasstreek; die linkerhand weet nie wat die regterhand doen nie (Matt 6:3); as Petrus by is, praat mens nie van ’n haan nie; die sprinkaanjare (moeilike jare) (Joël 2:25). Die rol van humor (en daarmee saam ’n groot stuk stoutigheid) in ons sosiale omgewing is duidelik te sien in talle spreekwoorde, soos dié wat reeds hier genoem is. En natuurlik is daar ook spreekwoorde wat kan kwets, maar ook hieroor moet die woordeboek natuurlik sy opvoedkundige rol vervul – ons was wel versigtig om tog maar die ergste rassistiese gevalle uit te hou.
...........
Natuurlik is dit nog veel komplekser as wat ons dit hier in ’n enkele opmerking of twee kan voorstel, maar dit bring ons maar net weer terug by Anton Prinsloo se woorde in sy voorwoord by die eerste weergawe van hierdie woordeboek: “Spreekwoorde en uitdrukkings openbaar die siel van die gemeenskap.”
............
Maar seker een van die interessantste verskynsels sien mens as jy die konsepindeks bekyk, naamlik die vraag watter konsepte in ons leefwêreld deur meerdere spreekwoorde belig word. Hier is ’n klompie konsepte wat ons vinnig geïdentifiseer het: aanval, armoede, baklei, beledig, berispe, dom, dood, dronk, goed en sleg, humeur, huwelik, kinders, kwaad, maklik en moeilik, moeilikheid, onkunde, praat, slaan en slae, stadig, sterf, sukkel, tevergeefs, tronk, verstaan, voorkoms, vry (die seksuele een!), werk. Hierdie is maar ’n paar voorbeelde, maar wat mens gou sien, is dat ons ons veral besig hou met dit wat vir ons belangrik is (huwelik, kinders, praat, verstaan, werk) en dit wat vir ons sleg is, waarvoor ons bang is, ens. Natuurlik is dit nog veel komplekser as wat ons dit hier in ’n enkele opmerking of twee kan voorstel, maar dit bring ons maar net weer terug by Anton Prinsloo se woorde in sy voorwoord by die eerste weergawe van hierdie woordeboek: “Spreekwoorde en uitdrukkings openbaar die siel van die gemeenskap.”
Lees ook:
Die aap is uit die mou: Pharos se skoolwoordeboeke sal iets vir elke kind beteken
Pharos Woordeboeke en alle Suid-Afrikaanse tale as nasionale bate: ’n onderhoud