Spogprys vir wetenskap in Afrikaans

  • 0
jean_oosthuizen_200x200

Jean Oosthuizen

In ’n onderhoud wat LitNet vroeër vanjaar met die rektor van die Universiteit Stellenbosch, Wim de Villiers, gevoer het, is die saadjie geplant vir die toekenning van die grootste prys tot dusver vir uitsonderlike akademiese bydraes in Afrikaans. Die Jan H Marais-prys van ’n halfmiljoen rand word vanaf volgende jaar jaarliks uitgeloof uit erkenning vir uitstaande bydraes tot Afrikaans as wetenskapstaal. In die oorgrote meerderheid van gevalle sal dit soos met die Nobelpryse vir die verskillende wetenskappe, nie net gaan om ʼn spesifieke werk nie, maar om ʼn leeftyd se bydrae.

Prysgeld van ’n halfmiljoen rand word vanaf aanstaande jaar gesamentlik deur Het Jan Marais Nationale Fonds (HJMNF), die Universiteit Stellenbosch en Naspers toegeken aan ’n akademikus of navorser wat in Afrikaans werk en sodoende die taal se aansien as wetenskap- en akademiese taal uitbou. Wat wil julle hiermee bereik?

Die doel van die nuwe Jan H Marais-prys vir wetenskaplike werk in Afrikaans is eerstens die huldiging van ’n man wat in sy testament van 100 jaar gelede die finansiële grondslag vir Afrikaans as ’n akademiese en wetenskapstaal gelê het, al het hy self nie enige hoër onderwys beleef nie. Tweedens is dit bedoel as ’n aanmoediging vir en erkenning van voortgesette wetenskaplike werk in Afrikaans op alle terreine.

Dit is die grootste prys van sy soort in Afrikaans. Wat het julle aangespoor om hierdie gesogte prys toe te ken?

Soos blyk uit die toespraak wat ek op 30 Mei vanjaar by ’n dinee in Jan Marais se huis op Coetzenburg in Stellenbosch gelewer het, is die saadjie vir so ’n prys geplant deur Wim de Villiers, die nuwe rektor van die Universiteit Stellenbosch, in ’n onderhoud met u wat op 11 Desember 2014 op LitNet gepubliseer is.

Andreas-van-Wyk

Hierdie prys is ’n baie noemenswaardige gebaar vir die uitbou en handhawing van Afrikaans as akademiese taal. Maar kan dit regtig Afrikaans as akademiese taal red? Is dit nie ’n gegewe dat Engels die voorkeurtaal is waarin akademiese navorsing in die toekoms gepubliseer gaan word nie – waarom juis nou Afrikaans?

Veral die groot klem op die ewekniebeoordeling van navorsing met die oog op die Anglo-Amerikaans-gedomineerde internasionale ranglyste van universiteite dra wêreldwyd by tot druk om in Engels te publiseer, ook in taalbewuste lande soos Frankryk en die Spaanssprekende wêreld.

Dit geld egter nie tot dieselfde mate vir alle vakgebiede nie en veral buite die natuurwetenskappe word daar op groot skaal ook in ander tale gepubliseer. Sedert die 1930’s het Afrikaans byvoorbeeld ’n groot rol gespeel as toegangshek tot die vastelands-Europese wetenskaplike tradisie op vele vakgebiede: bosbou, ekonomie, filosofie, landbouwetenskappe, opvoedkunde, regte, teologie, taalwetenskap, en nog veel meer. Dit het ons land geweldig verryk om ook te deel in die wetenskaplike denke van Heidelberg, Leuven en Wenen en nie beperk te wees tot Oxford en Chicago nie. Om historiese redes gee selfs Die Burger meer aandag aan die weer in Londen en die geboorte van ’n Britse prinsie as aan groot politieke of ekonomiese nuus uit Argentinië, Franstalige Afrika of Indië. Ons benodig veel meer vensters na buite uit hierdie Engelse/Amerikaanse wêreldbeeld, nie minder nie.

Is daar spesifieke dissiplines wat julle in gedagte het of kan werk in alle dissiplines genomineer word?

Soos blyk uit die reglement vir die prys, kwalifiseer alle wetenskaplike dissiplines daarvoor.

Hoe gaan die beoordeling geskied en wie sal die beoordelaars aanwys?

Deur ’n wetenskaplik verteenwoordigende keurkomitee van vooraanstaande plaaslike en/of internasionale wetenskaplikes, jaarliks spesiaal saamgestel deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Die stigters sal die koste hiervan dra.

Is daar enige voorwaardes vir wie genomineer mag word en hoe sal die nominasieproses geskied?

Die keurkomitee vra vooraf openbare nominasies vir die prys op ’n wyse wat hy goed ag. Die prys is in beginsel vir natuurlike persone bedoel, maar die keurkomitee mag ook besluit om dit aan ’n instelling of vereniging toe te ken wat hom besonder verdienstelik bewys. Sien die reglement vir meer besonderhede.

Hierdie prys is grootliks te danke aan die nalatenskap van Jannie Marais. Hy was ’n man wat hom beywer het vir die gelyke behandeling van Afrikaans aan ’n universiteit in Stellenbosch. Die status van Afrikaans aan die US is gedurig in die spervuur. Hoe raak dit die nalatenskap van Jannie Marais?

Jan Marais het twee verskillende fondse nagelaat in sy testament van 20 Maart 1915. Die eerste een was die aanvanklik veel groter Het Jan Marais Fonds (“die US-Fonds”) met ’n aanvangskapitaal van 100 000 pond sterling, vandag ongeveer R100 miljoen. Die aanvangskapitaal van die tweede Het Jan Marais Nationale Fonds (“die Nasionale Fonds”) was die restant van sy boedel, wat 40 000 pond bedra het (huidige waarde min of meer R40 miljoen). (Dit is terloops ontstellend dat die meeste Afrikaanssprekendes nie meer weet dat “het” in Nederlands die bepaalde lidwoord vir onsydige selfstandige naamwoorde is nie.)

Die opbrengs van die US-Fonds moes aangewend word tot voordeel van die Victoria Kollege op Stellenbosch en dan tot voordeel van ’n universiteit wat uit dié kollege mag ontstaan, “doch meer biezonder van het onderwijs in en door middel van de hollandse taal in zijn beide vormen (dat wil zeggen Afrikaans zowel als Nederlands) en wel te dien einde dat in zodanig onderwijs de hollandse taal in zijn beide vormen als voormeld geen mindere plaats dan de andere officiele landstaal zal innemen”.

Hoe word hierdie opdrag vandag honderd jaar na sy dood uitgevoer?

Die uitvoer van hierdie spesifieke opdrag berus vandag nog by die trustees van hierdie fonds wat ander mense is en nie met die Nasionale Fonds verwar moet word nie. Die beleggingsopdragte aan die twee fondse was vergelykbaar, maar die US-Fonds kon ongelukkig oor die afgelope honderd jaar nie dieselfde suksesvolle opbrengs behaal as die Nasionale Fonds nie.

Die ses trustees van die Nasionale Fonds is volgens Jannie Marais se testament verplig om “de renten van tijd tot tijd uit zodanige beleggingen ontstaande te gebruiken en aan te wenden naar de absolute diskretie van de gemelde kommissie voor en ter bevordering van de nationale belangen op welk gebied ook van de hollands-sprekende bevolking van Zuid-Afrika in enig deel van de Unie doch bij voorkeur op het dorp en in het distrikt Stellenbosch”.

Hierdie opdrag sonder enige rasse-element is vandag nog juridies bindend vir die hede en die toekoms en word getrou deur die trustees uitgevoer.

Die Nasionale Fonds ondersteun ook bepaalde aksies en inisiatiewe aan die US mits dit tot voordeel van Afrikaanssprekendes en die Afrikaanstalige gemeenskap is. Dit strek van die universiteitsargief tot beursfondse, oorbruggingskursusse en die Woordfees. Die Nasionale Fonds is egter nie verantwoordelik vir die opdrag van die US-Fonds nie.

Pieter Kapp, die skrywer van Jannie Marais se biografie, Nalatenskappe sonder einde, het in ’n onderhoud met LitNet gewys op die toenemende verengelsing by die US. In sy testament het Jannie Marais bepaal dat Hollands/Afrikaans geen “mindere plaats” op Stellenbosch sal beklee as Engels nie. Hoe veilig is sy nalatenskap vandag wat dit betref?

Soos ek reeds gesê het, is die Nasionale Fonds nie verantwoordelik vir die opdrag van die US-Fonds nie.

Jy is tans voorsitter van Het Jan Marais Nationale Fonds en ook voormalige rektor van die US. Pieter Kapp skryf in sy boek die beweging om die US se verbintenis met Afrikaans af te skaal deur dubbelmedium onderrig en selfs Engelse enkelmedium onderrig nagraads in te voer, het groot kommer in die geledere van die trustees van die fonds veroorsaak. Het dit enige invloed op die toekennings wat die HJMNF aan die US maak?

Soos ek reeds gesê het, ondersteun die Nasionale Fonds ook aksies en inisiatiewe aan die US mits dit tot voordeel van Afrikaanssprekendes en die Afrikaanstalige gemeenskap is. Dit is en sal die Nasionale Fonds se riglyn bly.

Marais se testament bepaal spesifiek dat die geld wat hy nagelaat het, aangewend moet word vir die bevordering van Afrikaans aan ’n universiteit in Stellenbosch. Maar wat staan julle te doen as die US nie meer Afrikaans wil bevorder nie?

Die Nasionale Fonds se opdrag is om die belange van Afrikaanssprekendes in Stellenbosch en elders in Suid-Afrika te bevorder. Dit kan ons aan enige instelling en in enige omgewing doen.

Daar is skeptici wat reken julle is maar net besig met nog ’n taalstryd wat kon gebly het. Hulle meen dit sal baie meer versoenend wees as almal in die land aanvaar Engels is tog maar eintlik die taal van die akademie in die nuwe Suid-Afrika. Wat is jou kommentaar hierop?

Ek vind dit vreemd dat diversiteit deesdae as uiters wenslik op alle terreine van die samelewing aangeprys word en selfs direk en indirek deur die owerhede en die samelewing afgedwing word. Diversiteit gemeet aan die rasse- en geslagsamestelling van ’n instansie se menslike komponent word tereg as ’n positiewe kenmerk gesien, maar om een of ander rede word taaldiversiteit in Suid-Afrika as negatief gesien, ten spyte van die uitdruklike grondwetlike erkenning daarvan.

Dit is veral die gevolg van die koloniale ervaring in Afrika, wat tot ’n eienaardige ambivalensie oor inheemse tale op ons vasteland gelei het. Lees maar die werk van die eerste president van die onafhanklike Senegal, die Franstalige digter Léopold Sédar Senghor (1906–1980) oor hierdie kulturele verskeurdheid. Dit is ’n stryd wat Afrikaanssprekendes reeds ’n eeu gelede agter hulle gelaat het toe hulle vir die gebruik van die inheemse kombuistaal Afrikaans in stede van die deftige Europese Nederlands gekies het.

Die HJMNF skenk jaarliks meer as R20 miljoen aan skole, universiteitsprogramme, hospitale, kultuurprojekte, regsklinieke en verskeie ander organisasies en projekte in veral Stellenbosch. Die fonds se betrokkenheid strek egter veel wyer as net Stellenbosch. Vertel so ’n bietjie meer watter instansies baat nog daarby.

Alle organisasies wat hulle op nasionale vlak met die saak van Afrikaans bemoei, word deur die Fonds ondersteun. Dit sluit in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT), wat toevallig in Stellenbosch gesetel is, die Afrikaanse Taalraad (vir ons ’n belangrike rolspeler, omdat dit werklik inklusief probeer wees), die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, die Helpmekaar Fonds, die Rapport Onderwysfonds en Pendoring.

Ook meer plaaslike inisiatiewe soos die KKNK op Oudtshoorn, die Breytenbach Sentrum op Wellington en Afrikaans in Nederland ontvang hulp. Werklik belangrike literêre projekte in Afrikaans is ook al deur HJMNF befonds: Stephanus Muller se baanbrekende Nagmusiek oor die lewe en werk van Arnold van Wyk en wyle John Kannemeyer se biografie (in Afrikaans) van John Coetzee is so moontlik gemaak. In heelwat gevalle is daar ’n vennootskap met die meer noordelike Dagbreek Trust en die Kaapstadse Hiemstra Trust ter sprake.

Jy is al vir langer as twaalf jaar aan die stuur van Het Jan Marais Nationale Fonds. Hoe sien jy die toekoms van die fonds en wat is jou drome daaroor vir die volgende dekades?

Ek tree einde September vanjaar uit as voorsitter van die fonds se raad van trustees, omdat ek glo dat mens moet gaan voordat daar agter hande gevra word wanneer die ou donner dan gaan loop. So ’n paar jaar gelede het ons in elk geval ’n aftree-ouderdom van 70 vir alle nuwe trustees aanvaar. Die trustees sal in die volgende paar maande oor ’n nuwe voorsitter en ’n vervangende trustee besluit. Ek is trots op heelwat vernuwings waarop die afgelope twaalf jaar besluit is. Die raad van trustees is verjonk en met breër kundigheid verryk. Ons werkswyses het meer professioneel geword. Ons beleggingsprestasies was uitstekend, met die gevolg dat ons tans oor ’n kapitaal van byna een en ’n half miljard rand en ’n jaarlikse inkomste van meer as R30 miljoen beskik. Die belangrikste was egter die veel breër en meer toekomsgerigte ondersteuningsbenadering wat ons aanvaar het en wat veral op die onderwys fokus.

Die fonds staan tans sterk en ek is vol vertroue dat dit so sal bly. Jan Marais wou sy dorp en sy gemeenskap versterk en dit sal die fonds se opdrag en strewe bly. Terselfdertyd vra die onsekere tye vir nog nouer samewerking met die Dagbreek Trust en ander organisasies met soortgelyke doelstellings. Eendrag maak nog altyd mag.

JanHMarais-prys650

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top