Slim Wim kom huis toe

  • 1

Die aangewese Matierektor, Wim de Villiers, het groot planne vir die Universiteit Stellenbosch. Na verskeie draaie in die internasionale en plaaslike akademiese wêreld keer dié medikus wat as Slim Wim bekend staan, volgende maand terug na sy alma mater. Hy volg in die voetspore van die teoloog Russel Botman wat vroeër vanjaar skielik oorlede is. Jean Oosthuizen het met hom gesels oor sy aanstelling en wou by hom weet hoe klop sy hart oor Afrikaans en wat is sy drome vir Matieland.

Wim de Villiers
Jean Oosthuizen

Jy is ’n Stellenbosser in murg en been en het ’n lang verbintenis met die dorp en universiteit. Wat het deur jou gedagtes gegaan toe jy aangewys is as die twaalfde rektor van die Universiteit Stellenbosch?

My eerste gedagte was: “Ek kom huis toe.” Daarmee saam tog ook die idee dat om “suksesvol” huis toe te kom, ek eers ver draaie móés gaan loop voordat ek kan kom terugploeg. Om as Matie-rektor aangewys te word, is ’n eer en voorreg, maar ek is nie naïef om te dink dit gaan maklik wees nie. Om egter as rektor van spesifiek Stellenbosch aangewys te word, is waarskynlik die opwindendste uitdaging van my loopbaan.

Dit kan nie maklik wees om in iemand soos Russel Botman se voetspore te volg nie. Jy praat selfs van posttraumatiese stres waaraan die US na sy dood ly. Wat sal jou eerste prioriteit wees wanneer jy vroeg volgende jaar die warm rektorstoel inneem en wat is jou diagnose van die universiteit?

As medikus is my diagnose van Stellenbosch dat dit fiks en kerngesond is, maar ja, die dood van prof Botman was ’n skok vir die sisteem. My eerste prioriteit is om te kom luister. Ek wil by die Universiteit se belangegroepe uitkom, ek wil wyd konsulteer en na die hartklop luister.

Tydens hierdie “town hall”-gesprekke (soos ek hulle in Amerika leer ken het) wil ek twee vrae vra: Wat maak jou trots op die instelling, en wat dink jy moet jou rektor nóú doen om jou ideale én die van die instelling te verwesenlik? Eers dan kan ek regtig ’n eie visie vir Stellenbosch begin formuleer.

Jy sê jy wil ’n goeie luisteraar wees. Beteken dit jy gaan ook met ’n oop gemoed na die gewone studente op grondvlak self luister?

Beslis. Ek het dit al in my aansoek om die rektorskap duidelik gestel dat studente my prioriteit sal wees. Hul belange en sukses moet vooropgestel wees. Ek wil studente op húlle vlak ontmoet. My kantoor moet oopstaan vir studente, maar ek hoop dat hulle “kantore” vir my ook sal oopstaan. Meer spesifiek wil ek verseker dat studente ’n aangename studente-ervaring het, dat hulle gasvry ontvang sal word en veilig sal wees. Nie net moet ons studie-aanbod aan studente verbreed word nie, ons moet hulle help om as wêreldburgers anders en innoverend te dink. Die heel belangrikste is dat studente ’n uitstekende opvoeding moet ontvang wat hulle ’n mededingende voordeel as afgestudeerdes in ’n snelveranderende wêreld sal gee.

Die taaldebat op Stellenbosch is ’n stryd wat al jare lank woed. Jy betree jou nuwe loopbaan te midde van groot veranderings ten opsigte van die US se taalbeleid. Volgens mediaberigte steun jy die nuwe taalbeleid ten volle. Wat is jou standpunt ten opsigte van Afrikaans as akademiese taal?

Ja, ek is op rekord dat ek die nuwe taalbeleid steun, soos in November 2014 deur die US Raad goedgekeur. Dit beteken ek steun ook die ondersteuning en uitbreiding van Afrikaans as akademiese taal. Ek het kennis geneem van die inisiatiewe in hierdie verband en gaan saam met die Viserektor: Leer en Onderrig werk aan veral drie aspekte: hoe ons dit implementeer, hoe ons dit bekostig en, allerbelangrik, hoe ons dit monitor.

Ek moet egter dadelik ook vra waar die ondersteuning van buite is vir die ontwikkeling van Afrikaans as akademiese taal. Waar is die groot pryse vir akademiese skryfwerk in Afrikaans, waar is die finansiële aansporing vir navorsingswerk in Afrikaans? Dit kan tog nie net van die Universiteit kom nie. Bygesê, in hierdie verband verrig LitNet baanbrekerswerk.

Dit is ’n edel motief om Afrikaans as akademiese taal te wil uitbrei. Maar hoe haalbaar is dit as Afrikaans op soveel terreine in die samelewing afgeskaal word en dra die US se nuwe taalbeleid nie daartoe by nie?

Ek is van mening dat Afrikaans sal gedy as dit nie afgedwing word nie, maar op kampus leef naas ander tale. Universiteite kan sorg dat hulle ’n akademiese aanbod in Afrikaans het, maar kan byvoorbeeld nie studente dwing om in Afrikaans klas te loop nie. Aanbod en aanvraag loop saam. Die “verbruikers” van Afrikaans as onderrigtaal is net so verantwoordelik daarvoor as die “verskaffers”. Ouers kan help deur te sorg dat die stroom studente wat in Afrikaans skoolgegaan het, nie opdroog nie. Uitgewers en die nuusmedia kan help deur te sorg dat daar genoeg Afrikaanse leesstof van hoogstaande gehalte is.

Almal is nie so seker daarvan dat die nuwe taalbeleid nie ’n nadelige invloed op Afrikaans as onderrigtaal gaan hê nie. Die president van die US-konvokasie, Christo Viljoen, is byvoorbeeld van mening dat die onlangse raadsbesluit die Universiteit Stellenbosch (US) se 96-jarige spesiale verhouding met Afrikaans verbreek het en die de facto-status van Afrikaans as onderrigtaal afskaal. Wat is jou kommentaar daarop?

Prof Viljoen is geregtig op sy mening. Ek het nog nie die kans gehad om met hom en die bestuur van die konvokasie te vergader nie en sal eers daarna sinvol kommentaar kan lewer. Ek volstaan daarmee dat ek die taalbeleid ondersteun – die toets gaan kom in die implementering, befondsing en monitering. Beoordeel ons aan die hand daarvan.

’n Beleid is net so goed soos die wyse waarop dit toegepas word. Daar rus ’n besondere onus op jou skouers om te sorg dat die bepalings van die nuwe taalbeleid uitgevoer en die doelwitte ten opsigte van die bevordering van Afrikaans nagekom word. Dink jy dit is haalbaar?

Ja. Dit is ’n raadsbesluit en die bestuur moet nou uitvoering daaraan gee. Operasioneel lê die verantwoordelikheid natuurlik by die viserektor: Leer en Onderrig, maar ek sou eerder sê dat die hele universiteitsgemeenskap ’n verantwoordelikheid het om die taalbeleid te implementeer.

Kan jy met ander woorde die versekering gee dat Maties nie sy Afrikaanse karakter gaan verloor nie en terselfdertyd sy Suid-Afrikaanse karakter omarm en uitbou?

My voorganger het herhaaldelik daarop gewys dat universiteite oral ter wêreld in transformasiemodus is ten einde die uitdagings van ons tydvak die hoof te bied. Die bestuur van ’n universiteit se primêre taak is akademiese en navorsingsuitnemendheid. As ons dus enigsins globaal relevant wil wees – of selfs net wil oorleef – moet dít ons “karakter” wees en waarvoor ons bekend staan. ’n Instelling se waardes is ’n belangrike rigsnoer op grond waarvan sy karakter ontwikkel moet word. By die US sluit dit in: uitnemendheid; medeverantwoordbaarheid; empatie; innovasie en diensbare leierskap.

Ons universiteit behoort ’n plek te wees waar almal op gelyke voet welkom kan voel, met blootstelling aan mekaar se kultuurkarakter. Die kampusgemeenskap mag nie verwag dat studente met ’n Afrikaanse kultuurkarakter verskonend daaroor moet wees weens die verlede nie; aan die ander kant mag ons ook nie verwag dat studente eenvoudig ’n ander kultuurkarakter moet aanvaar net omdat dit die instelling se “historiese” karakter is nie. Ons wil ook nie hê mense moet hulle eie agtergrond en karakter prysgee nie; inteendeel – die blootstelling aan mekaar se kultuurkarakters kweek begrip en maak ons ryker mense.

Jy sê die US moet ’n navorsingsintensiewe universiteit wees wat relevant op plaaslike vlak en mededingend op internasionale vlak moet wees. Navorsingsprojekte eindig nie met die lewering van ’n magistergraadtesis of doktorale proefskrif nie – dit moet neerslag vind in praktiese toepassing in die gemeenskap. Hoe wil jy dit bereik?

Die universiteit het via die HOOP-projek ’n duidelike keuse vir ’n wetenskap-vir-die-samelewing-benadering. Daardie ingesteldheid is nou deel van die DNS van die instelling. Dit is iets waarop ek sal wil uitbou. Ons navorsing moet toegespits wees op die lewering van praktiese antwoorde vir die groot vraagstukke van ons land en vasteland – veral armoede, ongelykheid en werkloosheid.

Dit gaan egter ook oor hoe ons studente na die samelewing kyk. Ons moet veral ons voorgraadse programme so rig dat Matiestudente weet dat deel van hul opvoeding in en saam met die gemeenskap plaasvind; dat deel van die kurrikulum internskappe in die gemeenskap gaan behels. Die ander kant van daardie munt is dat gemeenskappe moet voel dat húlle deel is van die oplossing, dat hulle bydra tot die navorsingsproses en so deel van die universiteit is. ’n Verdere uitvloeisel is ons fondasieprogramme waaronder die US se hoogs suksesvolle SciMathUS program en HOPE@Maties waarin leerders met potensiaal geïdentifiseer word en hier voorberei word vir naskoolse studie.

Transformasie van universiteite is oral in Suid-Afrika ’n groot uitdaging, veral om swart studente te werf wat verder studeer, maar ook ten opsigte van die personeelprofiel. Hoe behoort regstellende aksie aan universiteite volgens jou benader te word?

Dit hang natuurlik af wat verstaan word onder “transformasie” en “regstellende aksie”. Vir my is transformasie die ontwikkeling van die volle potensiaal van mense. Ek is nie so gesteld op demografiese syfers nie. As ons daarop fokus, mis ons die punt. Ons moet kyk na transformasie in die breë.

Transformasie kan deur opvoeding bewerkstellig word, dit kan deur navorsing bewerkstellig word. Om die waarheid te sê, navorsing is inherent transformerend van aard. Globalisering is transformerend van aard. Ek moet egter ook noem dat daar via die US se institusionele voorneme en strategie duidelike mikpunte gestel is wat die werf van swart, bruin en Indiërstudente betref. Is ons dus in transformasiemodus? Ja. Deur net na transformasie te kyk deur ’n demografiese bril, doen ons myns insiens ons studente en personeel ’n onreg aan. Ons kan hulle baie meer bied.

Die veiligheid van studente op Stellenbosch was die afgelope jaar dikwels in die nuus. Verwyte word rondgeslinger, raad word gegee, en daar word gesê niemand sien die werklike probleem raak nie: Stellenbosch is 200 persent oorbevolk, en daar is nie ruimte om uit te brei nie. Boonop is die dorp se infrastruktuur hopeloos uitgelê. Watter prioriteit is die studente se veiligheid vir jou?

Daar kan geen kompromieë aangegaan word rondom studente se veiligheid nie. Oorbevolking kan egter nie goedsmoeds as rede vir veiligheidsrisiko’s aangevoer word nie. Daar moet juis veiligheid lê in groot getalle – ’n boodskap wat die universiteit by elke geleentheid probeer deurgee: moenie alleen stap nie, beweeg in groot groepe, neem vir jouself en dié om jou verantwoordelikheid. Misdaad is ’n nasionale uitdaging en Stellenbosch is nie daarvan gevrywaar nie. Ek het kennis geneem van nuwe inisiatiewe en dit wat reeds in werking is. Studente- en personeelveiligheid is ’n kwessie wat groot bestuursaandag gaan verg.

Vroeër jare is gesê Stellenbosch staan vir ’n idee. Wat sal jou leuse vir die US wees as jy vandag een moet uitdink vir die toekoms?

Vra my na ses maande in die tuig!

 

Grafika-bron: www.sun.ac.za

  • 1

Kommentaar

  • Slim Wim is deur die ANC rampokker regering na die top pos by US 'ontplooi' in ruil vir die 'eliminasie' van Afrikaans!

    Soos die Trojaanse perd as 'geskenk' vermom is, aan die mense van Troje, het die 'dood' binne die perd geskuil.

    'n Wit Afrikaanse omie sou tog nie skade aanrig aan Afrikaans nie?

    Groot FOUT!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top