Het Jan Marais Nationale Fonds: 100-jarige viering op 30 Mei 2015

  • 5

Toespraak deur Andreas van Wyk, voorsitter by dinee in Coetzenburg-huis

Andreas-van-WykOp Donderdag 30 Mei 1850 – 165 jaar gelede – was hierdie werf ’n bedrywige plek met ’n eenvoudige huis in Kaapse styl, werfdiere, helpers, ’n ouerpaar en veral kinders. Dit is goed moontlik dat daar daardie dag ook so ’n welkome tipies Kaapse misreëntjie geval het. Petrus Johannes Marais (1802–1865) en Johanna Susanna (1813–1892, gebore Neethling) het reeds agt kinders gehad en mev Marais was verwagtend. Vier maande later gee sy op 8 September geboorte aan haar laaste kind, ’n seuntjie wat na sy oom aan moederskant Johannes Henoch gedoop word.

’n Honderd jaar gelede op 30 Mei 1915 was hierdie werf ’n baie indrukwekkender plek met ’n Victoriaanse herehuis, ’n vooruitstrewende boerdery en een van die dorp se eerste motorvoertuie. Dit was egter veel stiller as vroeër, veral op daardie Sondag toe die treurige nuus van die kinderlose eienaar se dood in Montagu Stellenbosch bereik het. Enkele dae later is Jan H Marais uit hierdie huis begrawe teen Papegaaiberg, waar ons vanoggend kranse by sy graf gelê het. Sy deftige weduwee het nog lank in die huis bly woon, maar oom Jannie was nie meer op die mooi stoep te sien waar hy gereeld beskikbaar was vir ’n gesprek met Stellenbossers van alle agtergronde nie.

Johannes Henoch Marais was met sy dood ’n welvarende en gesiene man, maar het ’n nederige en stil mens gebly. Anders as wat sommiges deesdae mag dink, het sy fortuin nie uit die hemel geval nie. Dit was die opbrengs van harde, uitputtende fisieke werk in die diamantdelwerye onder die Noord-Kaapse son en van inspannende plannemaak en slim dinkwerk. Na skoolopleiding aan die Stellenbosse Gymnasium (nou die Paul Roos Gimnasium) het hy op 19-jarige ouderdom in 1870 saam met drie van sy broers sy fortuin op die nuut-ontdekte diamantvelde aan die sameloop van die Vaal- en Oranjerivier gaan soek. Dit was ’n reis van 20 dae met ’n wa wat deur agt muile getrek is. Na ’n jaar aan die Vaal trek hulle verder na wat nou Kimberley is. In 1891, 21 jaar later, keer Jan Marais (nou darem met die trein) terug na sy geboorteplaas as ’n ryk man, soos ook sy broers geword het.

In Kimberley moes die Marais’s hulle handhaaf teen genadelose mededingers wat op die steun van die Britse imperiale owerhede kon staatmaak, veral die Engelsman Cecil John Rhodes. Marais en Rhodes het nooit langs dieselfde vuur gesit nie, ook nie in hulle latere lewens as politici nie. Marais wou Suid-Afrika ’n beter plek maak, terwyl die belange van die Britse imperium primêr was vir Rhodes, wie se eerste testament van 1877 voorsiening gemaak het vir die skep van ’n geheime vereniging ter bevordering van wit Britse wêreldoorheersing.

U kan gerus weer gaan kyk na die uitstalling oor hierdie merkwaardige broers se prestasies in die Kelder hier langsaan waardeur u vanaand ingekom het. Hierdie uitstalling word nog vir drie weke in die US se JS Gericke-biblioteek, onder die plein en beeld ter ere van Jan Marais, voortgesit. Gaan kyk asseblief ook na die glaspanele wat die herboude huis se voorhuis en agterhuis skei waar hy deur ingegraveerde pikke en grawe erkenning aan sy veeleisende Kimberleyse jare gegee het. En môremiddag om 14:30 saai kykNET ’n fassinerende film deur Herman Binge oor Jan Marais en sy broers uit, waaruit u ook grepe kon sien soos u vanaand ingekom het. Teken asseblief die tyd aan.

Daarom kan daar geen meer gepaste plek wees om sy nagedagtenis te vereer nie as juis hierdie plaashuis op Coetzenburg, nou ’n plek wat wemel van energieke jongmense verbonde aan ’n universiteit van internasionale aansien. Hier, vanaf die walle van die Eersterivier, leef sy erflating voort, nie net in Stellenbosch nie, maar dwarsoor sy vaderland Suid-Afrika waaraan hy so verknog was.

Hierdie universiteit is sy bestaan aan Jan Marais verskuldig; hierdie dorp is vol sierade geskep danksy Jan Marais; een van die land se ekonomiese reuse, Naspers, sou sonder Jan Marais nie bestaan het nie; hierdie land en hierdie dorp sou kultureel en sosiaal veel armer gewees het sonder Jan Marais.

Want hy was ’n man met duidelike doelwitte. Dit blyk goed uit die opdrag vir die tweede fonds wat hy met die restant van sy boedel tot stand gebring het. (Die eerste was tot voordeel van sy hartskind, die Universiteit Stellenbosch.) Sy testament, onderteken op 20 Maart 1915, omskryf die doel van hierdie tweede fonds as “de bevordering van de nationale belangen op welke gebied ook van de hollands-sprekende bevolking van Zuid-Afrika in enige deel van de Unie, doch bij voorkeur op het dorp en in het distrikt Stellenbosch”. Daar was geen beperking op grond van ras nie, maar die bevordering van die belange van sy taal- en dorpsgenote was sentraal.

Dit is in hierdie gees dat die trustees van Het Jan Marais Nationale Fonds die afgelope eeu hulle opdrag uitgevoer het. As trustees is ons baie trots op dit wat die fonds tot dusver bereik het, finansieel ook danksy beleggingsadviseurs soos Mof Terreblanche en sy latere kollegas oor vele jare.

Die meeste gaste hier vanaand verteenwoordig instansies wat deur die fonds ondersteun word, nasionaal en plaaslik. U almal maak ’n verskil deur Jan Marais se ideale na te streef op u onderskeie terreine: onderwys, opheffing, gesondheid, kultuur, en veel meer. U is ons vennote in ons strewe om Suid-Afrika en Stellenbosch beter plekke vir almal te maak; u verteenwoordig die volle spektrum van ons dorp en van ons gemeenskap. Baie dankie vir u werk. En ons dank u ook dat u hier is om ons huldeblyk aan ons weldoener te deel.

’n Besondere woord van waardering teenoor prof Pieter Kapp, wat na aanleiding van ’n versoek deur wyle prof Mike de Vries, my voorganger as voorsitter van die fonds, hierdie merkwaardige geskiedenis begin navors het. Die resultaat is die pragboek waarvan u elkeen vanaand ’n eksemplaar sal ontvang. Is u hier as ’n paar, is die een boek bedoel vir u persoonlik en die ander een vir die instelling wat u verteenwoordig.

My eie betrokkenheid by die fonds as trustee en voorsitter sedert 2002 was suiwer vreugde. Nie net kon ek ons gemeenskap dien nie, maar ek kon vele aspekte van ons land en veral van ons dorp intiem leer ken. Daar is egter ’n tyd om te kom en ook om te gaan. Daarom het ek my medetrustees ingelig dat ek op 30 September vanjaar as trustee en voorsitter van die fonds gaan uittree. My opvolger sal later deur die trustees aangewys word. My hartlike dank vir samewerking, vreugde en vriendskap aan hulle en aan die twee sekretarisse met wie ek saamgewerk het, Danie van der Berg en nou Annamia van den Heever.

Ek het volle vertroue in die fonds se toekoms as ’n bron van krag vir Stellenbosch en vir die hele Afrikaanssprekende gemeenskap, ook in hierdie onsekere en selfs stormagtige tye. Afrikaans en Afrikaanssprekendes van alle kleure en agtergronde se wortels is hier, in die Wes-Kaap en elders in ons pragtige Suid-Afrika. Ons is so inheems soos fynbos, kameeldorings en springbokke. Ons moet ons skaduwee wyd gooi tot voordeel van al ons landgenote, ook van dié wat tans afwysend optree en ons as ’n probleem beskryf. Afkamping bied geen veiligheid of groei nie.

Terselfdertyd moet ons ons wortels ken, erken en waardeer. Jannie Marais was die grootste ondersteuner wat die Universiteit Stellenbosch ooit gehad het en waarskynlik ooit sal hê: een honderd duisend pond sterling in 1915 was in huidige waardes meer as een honderd miljoen rand. Die oorweldigende steun vir hierdie viering en ons huldeblyk aan Jan Marais wat ons van die universiteit ontvang het, toon sulke kennis, erkenning en waardering. Daarvoor wil ek u, Meneer die Rektor, baie hartlik bedank.

Dit het die laaste paar maande en weke ook geblyk dat daar enkele mense aan ons universiteit is wat blykbaar nie meer van oom Jannie, sy erfenis en Afrikaans wil weet nie. Natuurlik is die veelrassige en veeltalige Suid-Afrika van 2015 ’n baie anderse plek as in 1915. Ook Stellenbosch het daarby aangepas – na my mening nogal goed – en sal hopelik voortgaan om dit te doen, maar dit maak die woorde van die universiteit se eerste kanselier, prof JI Neethling, by Jan Marais se begrafnisdiens des te belangriker: "Stellenbosch zou haar rechterhand moeten vergeten als zij vergeten zou wat Jan Marais voor haar was." Sou toekomstige Jan Marais’s, diegene wat binnekort met die oog op die US se eie eeufees gevra gaan word om in hulle alma mater terug te ploeg, wil belê in ’n instelling sonder herkoms en geheue?

Het Jan Marais Nationale Fonds is reg om vir die volgende eeu in Afrikaans, en daardeur in ons land, te belê. Daarom wil ek in Jan Marais se gees van vertroue in die toekoms ’n aankondiging maak. Die drie groot bevoordeeldes van hierdie man se vergesig, die Universiteit Stellenbosch, Naspers en Het Jan Marais Nationale Fonds, het besluit om as huldeblyk aan ons weldoener gesamentlik ’n jaarlikse prestigeprys vir ’n uitstaande bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal tot stand te bring.

Die prys sal wetenskaplike werk en publikasies op hoë vlak en van hoë gehalte in Afrikaans bekroon. Uitnemende werk binne en buite Suid-Afrika, in alle dissiplines –geesteswetenskappe, natuurwetenskappe, gesondheidswetenskappe en tegnologie – kan vir die prys genomineer word.

Ek gee graag in hierdie verband erkenning aan prof Wim de Villiers vir die saadjie wat hy geplant het. Ná sy aanwysing as die volgende rektor van die US in Desember 2014 het hy in ’n onderhoud gesê: “Ek moet egter dadelik ook vra waar die ondersteuning van buite is vir die ontwikkeling van Afrikaans as akademiese taal. Waar is die groot pryse vir akademiese skryfwerk in Afrikaans, waar is die finansiële aansporing vir navorsingswerk in Afrikaans? Dit kan tog nie net van die Universiteit kom nie.” Hierdie is ’n reaksie op sy uitdaging.

Die prys sal bekend staan as die Jan H Marais-prys en die prysgeld sal ’n halfmiljoen rand per toekenning bedra.

Navorsers van oor die wêreld wat in Afrikaans publiseer, kan vir die prys genomineer word. Keuring sal gedoen word deur ’n wetenskaplik verteenwoordigende komitee van vooraanstaande plaaslike of internasionale wetenskaplikes, jaarliks spesiaal saamgestel deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Die eerste oorhandiging sal in Mei 2016, soos ook toekomstige toekennings, op Stellenbosch plaasvind. Die prysgeld sal aangewend kan word na goeddunke van die ontvanger.

Ek vra u om ’n heildronk te drink op Johannes Henoch Marais en op die verlede, hede en toekoms van sy nalatenskap sonder einde, Het Jan Marais Nationale Fonds.

  • 5

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    Marais se stigtingsvoorwaarde, dat Afrikaans nie 'n mindere plek as Engels aan die Universiteit Stellenbosch mag beklee nie, word nie genoem nie. In die talle berigte tydens hierdie eeu-viering is dit konsekwent nie vermeld nie. Is dit om die toenemende verengelsing van die US aanvaarbaar te probeer maak?

  • Andreas van Wyk

    Die kommentator kan of wil nie aanvaar dat die taalbeleid van die Universiteit Stellenbosch NIE die verantwoordelikheid van die trustees van Het Jan Marais NATIONALE Fonds is nie. Die beroemde voorwaarde waarvan ons uiteraard bewus is, is opgelê aan die trustees van die Jan Marais Fonds ten bate van die Universiteit (hierna die US-Fonds genoem). Dit gaan om twee verskillende fondse met verskillende opdragte en verskillende rade van trustees. Ek weet nie eers wie tans die trustees van die US-Fonds is nie. Einde Mei vanjaar is die eeufees van die NASIONALE Fonds deur sy trustees en honderde Afrikaanse bevoordeeldes ter ere van Jannie Marais in sy geboortehuis gevier. Die Nasionale Fonds bestee jaarliks miljoene Rande landswyd en in Stellenbosch ter bevordering van Afrikaans en in die belang van Afrikaanssprekendes. Die aantygings van die kommentator is totaal onaanvaarbaar.

  • Johannes Comestor

    Ek is diep bewus van die twee Marais-fondse en dat Van Wyk by die "nie-skuldige" fonds betrokke is. Hy staan dus nie in die beskuldigdebank nie, hoewel niks hom verhoed het om by die eeu-herdenking die US-stigtingsvoorwaarde in te vryf nie; des te meer omdat Afrikaans reeds jare lank ongetwyfeld aan die US afgeskaal word. Dit is en bly hoogs eienaardig dat hierdie belangrike Afrikaanssaak so konsekwent verswyg word.

  • francois verster

    Mnr Comestor, is jy moedswillig of wat? As dit so belangrik is vir jou, was jy by die boekbekendstelling? Dan sou jy gehoor het dat niemand uitgesluit word nie, maar op voorwaarde dat Afrikaners OOK begunstig word in trans-kulturele skenkings. En dat Jannie Marais 'n Afrikanerbond-man was en goeie vriend van Onze Jan, DIE taalstryder van sy tyd.

  • Johannes Comestor

    Francois Verster, ek is nie moedswillig nie en jou skrywe raak nie kant of wal nie. Jannie Marais se stigtingsvoorwaarde vir die US is dat dit oorwegend 'n Afrikaanse universiteit moet wees. Daar is ernstige kommer of dit steeds die geval is of die geval gaan bly. Kan dit moedswillig wees as ek sterk daaroor voel dat daardie uitdruklike voorwaarde tydens die eeuherdenking prominensie moet kry? Dit gaan nie om eiebelang nie maar om die heil van Afrikaanssprekendes en Afrikaans.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top