Die merkwaardige nalatenskap van Jan die Gewer

  • 2

nalatenskappe

Een van die grootste filantrope wat Suid-Afrika nog ooit gehad het, Jannie Marais, wat bekend gestaan het as Jan die Gewer, se nalatenskap gaan honderd jaar na sy dood steeds van krag tot krag. Dié beskeie Stellenbosser het nie groot toesprake gehou of opslae gemaak in die pers nie, maar sy nalatenskap van meer as ’n miljard rand spreek vandag nog van sy ongekende onbaatsugtigheid. Jean Oosthuizen het met Pieter Kapp, die skrywer van sy biografie, gesels oor die onuitwisbare spore wat hierdie merkwaardige man in Suid-Afrika nagelaat het.

pieterkapp

Pieter Kapp

Jou nuwe boek, Nalatenskappe sonder einde, het weer die kollig skerp laat val op die enorme bydrae wat Jannie Marais en die Marais-broers van Stellenbosch nagelaat het vir die land en vir Afrikaans in die besonder. Wat het jou geïnspireer om die boek te skryf en waaroor gaan dit kortliks?

Die boek vertel die verhaal van hulle opbou van rykdom op die diamantvelde danksy hulle besondere kombinasie van kundigheid, hardwerkendheid en versiendheid. Na hulle terugkeer na Stellenbosch het hierdie selfde eienskappe hulle op sakegebied, in die onderwys, in belang van Stellenbosch en veral in hulle liefde vir en pionierstoewyding aan Afrikaans gestalte gevind. Belangrik is om nie te vergeet dat dit Jannie Marais se toegewyde en versiende trustees was wat oor die jare die fonds uitgebou en diensbaar gemaak het op ’n wyse wat stellig die grootste Afrikaanse kultuur- en weldoenersaksie in die geskiedenis is.

Ek het oor ’n aantal ander onderwerpe rakende Stellenbosch geskryf, soos oor die studenteraad se honderdjarige bestaan in 2003, oor die Departement Geskiedenis se honderdjarige bestaan in 2004 en oor die pioniersrol van vroue in die beginjare van die Victoria Kollege.

Tydens my werk oor die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (Draer van ’n droom, 2009) en die honderdjarige herdenking van die studente van Victoria Kollege se pioniersrol vir Afrikaans (Maties en Afrikaans 1911–2011) het my paaie dikwels met dié van Jannie Marais gekruis.

Maar die grootste inspirasie vir die werk het gekom van Mike de Vries, eertydse rektor van US en voorsitter van die Het Jan Marais Nationale Fonds. Ek vertel die verhaal in die voorwoord van die boek.

Die skryf van dié boek was dus ’n produk van my eie navorsing oor verwante onderwerpe sowel as ’n morele verpligting wat ek teenoor Mike de Vries en die Het Jan Marais Nationale Fonds gehad het. Sonder hulle steun sou die studie nooit voltooi kon word nie. Nie een van die Marais’s het ’n dokumentversameling nagelaat nie. Ek moes dus op ander bronne staat maak. Maar hulle was so bedrywig op die diamantvelde en op Stellenbosch dat ek wel genoeg inligting kon bekom.

Daar was maar min ryk Afrikaners honderd jaar gelede. Hoe het dit gekom dat Jannie Marais en sy broers sulke ongekende skatte vergader het?

Twee dinge het gebeur. Hulle insig en ondernemingsgees saam met ’n ongelooflike werklus het hulle in staat gestel om kleims te koop en te ontgin waar duisende fortuinsoekers gefaal het en moed opgegee het. Diamante was nie hulle enigste onderneming op die diamantvelde nie. Hulle het plase besit, geboer, hout tot in Basoetoeland verkoop, ’n hotel en winkels bedryf en beleggings aangegaan.

Die tweede ding wat gebeur het, is hoe hulle in dieselfde gees op Stellenbosch vooruitstrewende boere geword het en talle sakeondernemings aangepak het. Daarmee het hulle intens betrokke geraak by die gemeenskap en op vele terreine die gemeenskap gedien wat juis die inspirasie was vir hulle filantropiese ingesteldheid. Dit is byvoorbeeld nie algemeen bekend dat die rykste van die broers, Christian, sy eie Armenfonds in 1923 met ’n kapitaal van £70 000 gestig het om arm Afrikanerseuns na die Anglo-Boereoorlog aan geleerdheid en eie ondernemings te help nie. Dit is op dieselfde wyse bedryf as die Het Jan Marais Nationale Fonds. Dit is ’n jammerte dat niks van die dokumente van die fonds behoue gebly het nie. Christian se groot rol in Nasionale Pers is nog iets wat in die vergetelheid verval het.

jannie100005
Hulle was nie net harde werkers en vernuftige sakemense nie, maar ook gewers. Jannie Marais het onder studente bekend gestaan as Jan die Gewer. Was hulle dalk die eerste ware Afrikaner-filantrope van wie ons weet, en wat was dit wat iemand soos Jannie Marais aangemoedig het om sy rykdom so mildelik te deel?

Jannie was die toonbeeld van nederigheid en offervaardigheid. Ons dra net beperkte kennis van die individue wat hy gehelp het, want hy het dit nooit aan die groot klok gehang nie. Enkele voorbeelde van sodanige persone word by die naam in die boek genoem.

Min mense weet dat die later beroemde De Wet Broers op Stellenbosch deur Jannie Marais op die been gehelp is. Dan was die onderwys en Afrikaans sy twee ander groot passies. Lank voor hy die £100 000 vir die Victoria Kollege nagelaat het, het hy reeds in 1892 as ’n teenvoeter vir Rhodes se prys vir die studie van Engels ’n prys ingestel vir die studie van Nederlands en het hy en sy broers beurse vir Nederlandstalige studente geskenk om aan die Victoria Kollege te studeer. Hy het die studente gehelp om hulle eie sportvelde te ontwikkel op waar die huidige Jan Marais Plein vandag staan, sodat hulle nie meer van die Braak (Adderley Square in daardie tyd) afhanklik hoef te wees nie. Die verhaal van hoe Coetzenburg as die universiteit se sportterrein ontwikkel het, word ook in die boek vertel.

jannie100004

Twee van Jannie Marais se grootste nalatenskappe was waarskynlik Nasionale Pers en die Universiteit Stellenbosch, wat dalk nie tot stand sou gekom het as dit nie vir hom was nie. Stellenbosch beleef op die oomblik weer ’n taalstryd en die voortbestaan van Afrikaans as akademiese taal is steeds op almal se lippe. Wat sou Jannie Marais vandag daaroor te sê hê as hy nog geleef het?

Ek verduidelik in die boek waarom Chris Brink se argument dat Jannie eintlik ’n tweetalige universiteit verkies het, onhistories is en van ’n wanbegrip getuig. Jannie Marais was ’n parlementslid vir Stellenbosch. Hy het goed begryp dat die atmosfeer wat in die Suid-Afrikaanse Party van Louis Botha geheers het na Uniewording, en veral die grondwetlike voorskrifte oor taalgelykheid, enige eis vir ’n Nederlandstalige/Afrikaanse universiteit op Stellenbosch sou laat misluk.

Self sy groot vriend FS Malan, wat in ’n stadium minister van onderwys was, het dit nie gesteun nie, omdat hulle geglo het dat versoening met die Engelse en Brittanje die belangrikste taak van die Botha-regering was. Die Victoria Kollege se raad het al in 1913, in navolging van die studente se taalkonferensie van daardie jaar, ’n besluit geneem om te vra vir ’n Oktrooi vir ’n Nederlands/Afrikaanse universiteit op Stellenbosch.

Jannie Marais het geweet dat sy £100 000-nalatenskap met so ’n eis nie sou slaag nie. Daarom sy aanbeveling dat die geld gebruik moes word vir ’n universiteit waarin Nederlands in sy beide vorme nie ’n mindere plek as Engels sou beklee nie. Maar hy het sy Stellenbosch-mense geken en geweet hulle sou heel diplomaties en stelselmatig die universiteit oor die loop van tyd tot ’n Afrikaanse instelling uitbou.

Daarom is ek oortuig dat die omgekeerde proses wat vandag op Stellenbosch plaasvind, hom diep sou ontstel. Daarom dat die trustees van Het Jan Marais Nationale Fonds vandag met soveel toewyding Afrikaans as akademiese taal dien en die dramatiese Jan H Marais prys van R500 000 per jaar ingestel het om Afrikaans as wetenskapstaal te bevorder. Daarmee word dieselfde soort inspirasie en motivering vir die toekoms van Afrikaans geskep as wat Jannie Marais in 1915 gedoen het.

Met die Afrikaners so arm soos wat hulle in 1914 was en met die mislukte pogings van soveel om Nederlands/Afrikaanse koerante en tydskrifte tot stand te bring, sou Die Burger en Nasionale Pers sonder Jannie en Christian Marais se steun nooit tot stand kon gekom het nie, veral Jannie Marais se aandrang dat dit ’n dagblad moes wees; en benewens die kapitaal, was sy aankoop van die drukkery deurslaggewend. En moet nie vergeet dat die mense wat die blad begin het, oorwegend uit Jannie se kennisse van die Afrikaanse Taalvereniging gekom het nie.

jannie100011

In sy testament het Jannie Marais bepaal dat Hollands/Afrikaans geen “mindere plaats” op Stellenbosch sal beklee as Engels nie. Hoe veilig is sy nalatenskap vandag wat dit betref?

Dit is ’n prysenswaardige voorneme van die universiteitsraad om te wil verseker dat Afrikaans nie ’n mindere plek as Engels beklee nie. Maar as jy nie volledige tweetaligheid van alle dosente en studente gaan vereis nie, gaan die praktyk jou noodwendig dwing om elke keer aan Engels toe te gee, wat Jannie Marais diep in sy hart sou tref.

Met die totstandkoming van die Universiteit Stellenbosch is geen nie-Afrikaansmagtige personeellid ooit ontslaan nie. Wanneer hulle dienstyd verstryk het, is die vakrigting en aanbieding eenvoudig verafrikaans. Bestaan die omgekeerde nie vandag dat die universiteit algaande meer sal verengels tot so ’n mate dat Afrikaans later nie meer ’n faktor sal wees nie?

Dit is die groot werklikheid waarmee Stellenbosch nie rekening hou nie. Hoe kan jy jouself ’n meertalige universiteit noem as dit net van die Afrikaanse studente verwag word om meertalig te wees maar nie van die ander nie? Dit is die fundamentele denkfout van die US. Die gevolge blyk al duidelik as studente in Die Burger skryf dat hulle eerder in Engels as in Afrikaans onderrig sal wil ontvang, as intreeredes eerder in Engels as in Afrikaans aangebied word, en as jy soveel dosente het wat geen begrip van Afrikaans het nie. Dit werk deur tot ander lae van die samelewing, soos byvoorbeeld weerspieël in die toenemende getal ouers wat hulle kinders eerder na Engelse privaat skole stuur en die aandrang uit regeringsgeledere dat Afrikaanse skole dubbelmedium moet word.

jannie100008

Een van die sake waarop jy in die verlede gewys het, is dat daar te veel studente en personeel is wat sterk twyfel aan Afrikaans se vermoë en daarom wil hulle liewer na Engels oorskakel. Hoe behoort mens dit te hanteer en is hulle nie dalk reg om liewer na Engels oor te skakel nie?

Dieselfde argument is deur ’n geslag na die Anglo-Boereoorlog gebruik. ’n Seun van ds JH Hofmeyr het aan Britse kant in die oorlog geveg. ’n Seun van die groot kampvegter vir Afrikaans, oudpresident FW Reitz, het verklaar dat hy net op die plaas met sy werkers Afrikaans praat en nie in Kaapstad waar hy parlementslid was nie en Langenhoven was aanvanklik ook ten gunste van die verengelsing van die Kaapprovinsie voordat hy tot ander insigte gekom het. In die globaliserende wêreld waarin ons leef, word te midde van die globalisering opnuut waarde aan die eiesoortige en die eie identiteit geheg. Skotland, Ierland, Katalonië, Noord-Italië en die gewese Sowjetunie, Joegoslawië en Soedan is maar enkele voorbeelde. Om die Afrikaanse kultuuridentiteit in al sy verskeidenheid te behou moet die taal as wetenskapstaal en onderrigtaal op alle gebiede vertroetel en versorg word. Dit is wat Jannie Marais met sy nalatenskap beoog het en wat bereik is. Om dit nou prys te gee is lafhartigheid.

Die verskil tussen die tyd waarin Jannie Marais geleef het en vandag is die politieke magsituasie. Afrikaners is nie slegs ’n politieke minderheid nie, maar baie Afrikaners stel eenvoudig nie meer daarin belang om op te staan vir Afrikaans nie. Watter gevolge het dit vir die nalatenskap van mense soos Jannie Marais en vir Afrikaans?

Onthou net dat in Jannie Marais se tyd Britse imperialisme en Engels veel meer dominant was as wat dit vandag is. Daar was geen sprake van politieke mag nie en verset soos met die Rebellie van 1914 was fataal. Langsame, geduldige opbou met lojaliteit en diensvaardigheid en leierskap was die deurslaggewende faktore. Wat Jannie Marais se nalatenskap vir ons leer, is dat jy toegewyde en idealistiese mense nodig het om die pas aan te gee en die visie te skep.

jannie100006

Coetzenburg se plaaswerf soos dit in Jannie Marais se tyd gelyk het. Bron: S Play, The Cape Colony

Ten tye van sy dood was hy ’n sterk simpatiseerder van die Nasionale Party en hy het ook ’n groot rol agter die skerms gespeel in die Afrikaner Broederbond. Hoe raak dit sy nalatenskap as mens dit vandag beoordeel in die lig van die huidige politieke klimaat?

By sy dood was Jannie Marais net nog in naam lid van die Suid-Afrikaanse Party. Hy was nie lid van die Nasionale Party nie, hoewel sy sekretaris, Bruckner de Villiers, reeds lid was. Hy was ook versigtig om nog nie te openlik vir Hertzog te ondersteun nie, waarvoor sommige van sy vriende hom kwalik geneem het. Die Broederbond het eers in 1918 in die noorde ontstaan en was geen faktor in Jannie Marais se tyd nie. Daarom speel die twee sake geen rol in die beoordeling van Jannie Marais nie.

In jou boek verwys jy ook na Lang Piet Marais wat, as ek reg is, ’n oom was van die digter Eugène Marais. Kon jy in jou navorsing vasstel of daar enige ander bande was tussen die vier Marais-broers en die Marais-familie aan Eugène Marais se kant?

Lang Piet Marais was ’n ruk lank saam met die Marais-broers op die diamantvelde, maar het sy rykdom op die goudmyne gemaak, waar hy ’n miljoenêr geword het. Later het hy, soos Jannie, ’n volksraadslid van die ZAR geword en was hy ’n groot vriend van Paul Kruger. Hy is in 1918 in Kaapstad oorlede. Sy pa Charles Gerhardus, wat op die plaas Nektar in die Stellenbosch-distrik geboer het, was ’n broer van Jannie se pa. Ek kon geen verwysings na Eugène Marais in die dokumente oor die Marais-broers vind nie.

’n Eeu na Jannie Marais se dood word Het Jan Marais Fonds en Het Jan Marais Nationale Fonds, wat meer as ’n miljard rand beloop, steeds aangewend in diens van dit wat vir hom belangrik was. Hoe word die fonds vandag aangewend en wie baat almal daarby?

Daar was twee fondse. Die oorspronklike £100 000 aan die universiteit moes belê word en net die rente kon aangewend word. In die boek gee ek ’n uiteensetting van hoe die fonds in die eerste jare aangewend is. Het Jan Marais Nationale Fonds het £40 000 bedra. Die bronne tot 1955 bestaan nie meer nie. Die begunstigdes in die jaarstate vanaf 1955 is sistematiese verwerk en is in 13 kategorieë verdeel wat in ’n tabel in die boek verwerk is.

Naas die Universiteit Stellenbosch en die dorpsgemeenskap was die ander top-begunstigdes die skole, tehuise en bejaardes, welsynsdienste, Afrikaanse nasionale aktiwiteite, kerklik-godsdienstige instansies, studiebeurse en publikasies en video’s in Afrikaans. In die argief van Het Jan Marais Nationale Fonds is ’n volledige lys van watter organisasie watter bedrag oor die tydperk 1947 tot 2014 ontvang het.

jannie100009

Waaraan kan dit toegeskryf word dat die fonds vandag so sterk is?

Die fonds was aanvanklik testamentêr verplig om die geld in verbande te belê. Mettertyd is verlof verkry om die geld deur beleggingsbestuurders in aandele en effekte te belê. Dit is hierdie beleid wat tot die drastiese groei van die fonds gelei het. Die indrukwekkendste groei was die belegging in Naspers-aandele en deur die aandele in Tencent.

Jannie Marais wou in sy testament verseker dat die dinge waaraan hy waarde geheg het, ondersteun sou word op ’n wyse wat hulle voortbestaan waarborg. Kan ons gerus wees dat sy wense in die toekoms steeds nagekom sal word?

Die trustees het hulle nog keer op keer verbind om te bly by Jannie Marais se testamentêre voorskrif oor waarvoor die geld aangewend moes word: tot voordeel van Afrikaans en Stellenbosch. Dit is nog konsekwent gedoen en sal nie in die toekoms verander mag word nie.

Anders as baie skatryk mense was Jannie Marais ’n beskeie man. Hoe sou jy sy persoonlikheid in ’n paar woorde opsom?

’n Nederige, lojale, hardwerkende en versiende man wat sy eie eer en status nooit op die voorgrond gestoot het nie. Hy wou nooit in die kollig wees nie. Diens aan ’n saak was sy leitmotiv.

jannie100002Jou boek oor Jannie Marais en die Marais-broers is die derde van ’n trilogie wat elkeen ’n eeu in die geskiedenis van Afrikaans belig. In Draer van ’n droom (2009) vertel jy die verhaal van die Suid-Afrikaanse Akademie en Kuns sedert 1909 en Maties en Afrikaans handel oor 100 jaar Afrikaans in Stellenbosch. Kan ons nog iets uit jou pen verwag en is jy optimisties dat daar oor 100 jaar nog sulke boeke in Afrikaans geskryf sal word?

Daar is nog een onvervulde ideaal en dit is om reg te laat geskied aan die een groep mense (aangetroude familie) wie se paaie ten nouste met Jannie Marais s’n gekruis het en wat ook veel vir Stellenbosch en Afrikaans gedoen het. Of my gesondheid my sou toelaat om dit te voltooi, is ’n ander vraag. As die idealisme en toewyding van die afgelope 100 jaar by Afrikaanse mense in totaal nuwe omstandighede voortbestaan en veral onder die intelligentsia en die sakelui die gees van Jannie Marais adem, sal daar oor 100 jaar beslis boeiende werke geskryf kan word oor hoe Afrikaans die aanslag van na 1994 oorwin het en ook op dié terrein aan die wêreld ’n voorbeeld gestel het van hoe ’n taal en kultuur homself te midde van ongunstige omstandighede kan uitbou en versterk.

  • 2

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    Die Universiteit Stellenbosch en by name sy rektor, Wim de Villiers, het tydens die herdenking van Jannie Marais se dood (30 Mei) geen poging aangewend om hom te verbind tot Marais se stigtingsvoorwaarde dat Afrikaans nie 'n mindere plek as Engels aan die US mag beklee nie. Daar is selfs geen poging aangewend om Marais op die Rooiplein by sy standbeeld te gedenk nie.

  • Andreas van Wyk
    Andreas van Wyk

    Johannes Comestor se opmerking oor 'n viering van Jannie Marais by sy standbeeld op wat deesdae die Rooiplein genoem word (die werklike naam is die Maraisplein) is nie billik nie. Met die US se volle ondersteuning is daar die oggend van 30 Mei 2015 (presies 100 jaar na Jannie Marais se dood) kranse by sy en sy familie se grafte teen Papegaaiberg gelê deur die drie instansies wat mens as sy 'kinders' kan beskryf: Naspers, die Universiteit Stellenbosch en Het Jan Marais Nationale Fonds. Naspers is verteenwoordig deur mnr Bun Booyens, die redakteur van Die Burger, die US deur prof Wim de Villiers, die Universiteit se rektor en visekanselier, en HJMNF deur myself, voorsitter van die Fonds en oud-rektor van die US. Ook verskeie lede van die Marais-familie was daar teenwoordig. Al die voorafgaande persone was ook daardie aand eregaste by 'n groot dinee ter ere van Jan Marais in sy opstal op Coetzenberg. Hierdie dinee sou nie moontlik gewees het sonder die heelhartige ondersteuning van prof De Villiers en sy bestuurspan nie. Groot dank aan hulle.
    Andreas van Wyk

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top