Jannie Pretorius lees graag oor die verlede en gebruik KI om ou foto’s ’n nuwe lewe te gee. Klik op die foto om te vergroot.

Frederik Rothmann was die nimlike tant Miem Rothmann (MER) se broer. Sy dagboekinskrywings strek van Mei 1900 tot Desember 1901. MER het sy inskrywings met moeite gelees, want dis met potlode van wisselende kwaliteit, en so klein as moontlik geskryf om papier te bespaar. Sy dagboek is in 1947 – 15 jaar na sy dood – gepubliseer.
In haar deeglike inleiding skryf sy:
En nou kom dit my ook voor hoe duidelik die man self in sy aantekeninge leef; miskien is dit omdat ek ho so goed geken het dat die aantekeninge vir my met sy stem praat en dat ek sy gesigsuitdrukking by die lees daarvan voor my kan sien verander.
Ek wonder wat sy van die meegaande nuut geskepte foto sou sê.
Rothmann se dagboek, in keurige taal geskryf, bevat heelwat juwele. So vertel hy van vyf burgers sonder perde wat een oggend vroeg die Engelse gaan voorlê om perde te bekom. Twee ure lange skermutselings volg, waartydens die 400 Engelse selfs met kanonne op die manne vuur, maar hulle slaag tog daarin om drie perde te konfiskeer – en selfs om 14 Kakies om te klits.
Een van die Boere is lig gewond.

(Só lyk die oorspronklike foto.)
Bron
Rothmann ME (red). 1947. Oorlogsdagboek van ’n Transvaalse burger te velde: 1900–1901. Kaapstad: Nasionale Pers Beperk


