
Titel: Sluitstuk
Skrywer: Johann Rossouw
Uitgewer: Umuzi – Penguin Random House South Africa
ISBN: 9781415210031
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Hierdie afgelope tyd het ek gelees aan Johann Rossouw se Sluitstuk en hoe verder ek lees, hoe meer het ek onder die indruk gekom dat hier ’n veelheid van stemme is wat ek sal moet raadpleeg om my speurder-navorser daartoe in staat te stel om ’n lesersindruk oor die boek te skryf.
Ek het bewus geword van Willie Burger se Stiltes en stemme – ’n huldigingsbundel met skryfsels oor Karel Schoeman (my geliefkoosde skrywer); Ria Winters se skryfsels oor Karel Schoeman en die menigte skryfstukke op LitNet oor Karel Schoeman.
En ek het geweet die volgende paar dae sal ek besig wees met my speurtog oor skryfsels aangaande Karel Schoeman. Dit het ’n bruising in my bloed gebring – die akademikus-navorser is terug!
Om vir myself betekenis te vind in hierdie boek en die leser van hierdie lesersindruk ook die vreugde te gee van ’n speurtog, het ek gedink om die antwoorde wat ek gevind het in die menigte artikels en resensies aangaande die boek, wil ek nie die antwoorde hierin gee nie, maar die leser lei om ook al die dokumente te lees.
Die eerste leidraad wat ek gevind het, was in die skrywer van die boek se beskrywing van die hoofkarakter, naamlik dat dit handel oor die maer, lang man; die beste romanskrywer in Afrikaans; ’n “enigmatiese figuur” en sy “vreemde dood” – en ek het goed geweet wat die antwoord hiervan is.
In haar resensie van die boek meld Heilna Du Plooy1 dat die storie ’n outobiografie is en dat die karakters figurante is van Karel Schoeman, Johann Rossouw en die Nederlandse biograaf Ria Winters. Verder meen Du Plooy:
As ’n mens die roman sou reduseer tot ’n spel met feite en die leeservaring daartoe beperk, sou jy die roman ontneem van sy vermoë om as ’n kunswerk op sigself te betower en te boei, om potensiële of werklike gebeure te transformeer tot ’n verrykende leeservaring.
Chris van der Merwe2 meld in sy resensie dat ’n “uiters belangrike invloed van Rudolf op Markus is dat hy hom na die Boeddhisme lei” en dat Markus na ’n Zen-tempel gaan en askese, stilte en meditasie aanleer – iets wat hom help om deur ’n mistieke ervaring versoening met sy pa te kan hê. Van der Merwe skryf nogal heelwat oor Rossouw wat in sy roman die feite omvorm en fiksionaliseer om by algemene waarheid te kom, soos die verwerking van trauma. Daarmee gee Van der Merwe leiding vir die leser om die struktuur van die verhaal te verstaan.
In sy resensie-essay “Spiraal in spiraal ...” gee Rossouw3 baie inligting om die fiksionalisering van die Nederlandse biograaf Ria Winters as Irene Reynders in Sluitstuk duidelik aan te toon, ook Irene se verhouding met beide die fiktiewe Markus en Rudolf in haar verlede.
In bogenoemde resensie-essay word die gedig “Ithaka” aangehaal en dit was nog een van die sleutels tot ’n leidraad in my speurtog, want dit is die gedig wat Rudolf vir Markus stuur, en ek het dadelik dit gebruik om op Google te vind vir wie dit gestuur word in Sluitstuk. Voilà! Ek kom agter dat my hipotese korrek is – dit is naamlik Rudolf en Markus, want “nadat ek die vorige vyftien jaar niks van hom wou lees of aan hom wou dink nie, begin ek weer oor hom dink, oor wat hy my geleer het”.
Joan Hambidge skryf in haar resensie op Netwerk24 (13 Augustus 2023):
Sluitstuk word beskryf as ’n elegiese roman oor verlange, verlies, wraak en versoening. Dit handel oor die komplekse verhouding tussen mentor en student. En ’n biograaf en ’n skrywer. By die dood van ’n geliefde – veral as die verhouding kompleks was – word die rouproses immer ingewikkeld [...].
Sluitstuk lewer verder skerpsinnige kommentaar op dit wat ons dink ons weet van Schoeman, kluisenaar én manipuleerder van die resepsie van sy werk (aldus die fiktiewe biograaf hier) en sy romans. Ons onthou immers sy droewige einde. Lewe en tekste word hier slim vervleg.
Verder meen sy dat dit ’n verslag word van ’n spirituele reis deur die Zen-Boeddhisme vir die gefiksionaliseerde Markus wat sy gewaarwordinge rondom erbarming en helderte beskryf.
Wat is nou die indruk van die skrywer van hierdie lesersindruk?
Voordat ek al my leidrade opgevolg het, het ek reeds voordat ek die boek gelees het, op die agterblad gelees:
Drie jaar ná die dood van Afrikaans se grootste skrywer kom ’n Nederlandse vrou na Suid-Afrika om navorsing vir ’n biografie oor sy lewe te doen. Sy besoek die skrywer se voormalige vakleerling om meer oor die enigmatiese figuur vas te stel [...].
Toe ek hierdie paragraaf gelees het, het ek al geweet dat die verhaal oor Karel Schoeman moes gaan. Die res was vir my onbekend. Algaande het ek besef hier is ’n legkaart wat vir my wag om stukkies inmekaar te pas.
En ek is nie teleurgestel nie. Toe ek eers al my leidrade opvolg, het my belangstelling toegeneem.
Ek hoop dat die lesers van my lesersindruk net so nuuskierig soos ek word en dat my skrywe niemand teleurstel nie.
Dit was vir my ’n heerlike reis.
Viva, Karel Schoeman!
1 https://www.litnet.co.za/sluitstuk-deur-johann-rossouw-n-resensie/
2 https://www.litnet.co.za/sluitstuk-johann-rossouw-n-naglange-gesprek/
3 https://www.litnet.co.za/litnet-akademies-resensie-essay-reise-met-schoeman-in-die-voetspore-van-die-skrywer-deur-ria-winters/
Lees ook:

