Skrywersonderhoud: Carla van der Spuy oor Liefde agter tralies

  • 2

Carla van der Spuy se insiggewende boek, Liefde agter tralies, het onlangs verskyn. Naomi Meyer en Remona Voges het met haar gesels om meer oor haar fassinerende navorsing te wete te kom. 

Carla, jy het al baie navorsing oor die psige van die misdadiger gedoen. Wat was die sneller vir jou navorsing in hierdie veld?

Ek het 'n artikel vir die tydskrif Vrouekeur geskryf oor 10 moordenaars en een kaper wat in maksimum was en 'n teenmisdaadveldtog vanuit die tronk begin het. Ek het gewonder wat daaragter skuil. Het hulle werklik die lig gesien of wil hulle net 'n goeie indruk skep om parool te kry?

Toe gesels ek met hulle in die tronk se kapel en was verstom oor hulle sjarme en vra myself die vraag af of hulle mense of monsters is. Dit het gelei tot die skryf van Mens of Monster en daarna verskeie ander nie-fiksie misdaadboeke.

In Liefde agter tralies is daar baie stories oor mense wat in die tronk verlief geraak het op mekaar en mense wat van buite die tronk op iemand binne-in die tronk verlief geraak het. Is daar enige storie(s) wat jy besonder interessant gevind het? 

Ja, ek dink die storie van die sogenaamde “Boeremagbruid,” Riëtte Pretorius, is een van die interessantste stories. Sy is met Wilhelm Pretorius getroud wat 'n vonnis van 35 jaar weens hoogverraad gekry het waarvan 10 jaar opgeskort is. Daarbenewens was hy ook 11 jaar verhoorafwagtend wat nie van die vonnis afgetrek is nie. Hy sit seker nou al sowat 16 jaar lank, dus moet hy nog 'n baie lang vonnis uitdien. Sy het hom ontmoet nadat 'n gemeenskaplike kennis aan haar vertel het dat Wilhelm graag jongmense wil ontmoet, waarna sy hom gaan besoek het en 'n romanse ontstaan het. Hulle is in die tronk getroud en het nou 'n baba wat met die toestemming van die kommissaris en deur middel van mediese tegnologie verwek is. Sy is 'n intelligente jong vrou en het presies geweet waarvoor sy haar inlaat, maar het aan my vertel sy sien kans vir so 'n huwelik. Sy het 'n aantal verhoudings gehad wat nie uitgewerk het nie en haar verloofde is 'n paar jaar gelede in 'n motorfietsongeluk oorlede, wat vir haar uiters traumaties was. Sy het aan my vertel dat sy 'n man in die tronk verkies eerder as om een aan die dood af te staan. Hulle deel ook dieselfde lewensuitkyk en sy beskou hulle as sielsgenote. Sy doen alles in haar vermoë om sy en ander Boeremaglede se vryheid te bewerkstellig en bedryf ook 'n webtuiste, Boervin, vir hierdie doel.

Is die meeste gevalle waaroor jy geskryf het vroue wat op manlike misdadigers verlief geraak het, of werk dit dikwels ook andersom?

Dit werk beslis ook andersom. In Amerika is daar webtuistes waarop jy die gevangene van jou drome kan ontmoet. Mans en vroue. Dit is dikwels prokureurs en joernaliste wat voor iemand agter tralies swig. Een van die bekendste gevalle was dié van Susan Harris wat deel van die Charles Manson-moordbende was. Sy is tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis. Sy is nooit vrygelaat nie en is sommer twee keer agter tralies getroud. Die eerste keer met 'n cowboy met 'n verdagte verlede wat al dosyne kere voor die kansel gestaan het en die tweede keer met 'n Harvard-regsgeleerde wat hom keer op keer vir haar parool beywer het. Hy het selfs nog 'n aansoek ingedien terwyl sy sterwend aan breinkanker was. Hy het ook 'n webtuiste bedryf waarin hy haar saak bevorder het. Hy was omtrent 14 jaar jonger as sy en getrou aan haar tot haar dood toe.

Wil jy uitbrei op die vloeibaarheid van seksualiteit in ’n tronk waar mans en vroue dikwels baie tyd in ’n klein, intieme ruimte met mekaar spandeer?

Dit lyk vir my of hierdie vloeibaarheid veral ten opsigte van vroue geld. Talle vroue het openlik aan my vertel dat hulle gay-verhoudings agter tralies aangeknoop het al het hulle voorheen heteroseksuele lewens gevoer. Baie was keelvol vir mans en vir ander was dit 'n teenvoeter teen eensaamheid. Baie vroue het mans daar buite wat hulle besoek en ondersteun maar dan knoop hulle gay-verhoudings binne aan. Ander besef eers in die tronk dat hulle inderwaarheid altyd gay was. Dis 'n geweldig verwikkelde situasie. Baie van hierdie vroue wat gay-verhoudings in die tronk het, gaan ná hul vrylating na hul mans toe terug. Ek het die indruk gekry dat dit dikwels net opportunisties van aard is want 'n verhouding agter tralies kan voordelig wees wat emosionele ondersteuning en materiële voorregte betref. Die mans het nie met my oor seks agter tralies gepraat nie. Die vroue het openlik daaroor gesels.

Dink  jy dat liefde agter tralies dikwels 'n “maklike uitweg” is vir mense wat sukkel met intimiteit juis omdat daar so ’n groot fisiese afstand tussen die mense binne en buite die tronk is, en ’n mens in so ’n verhouding nie met die praktiese implikasies van ’n verhouding hoef om te gaan nie?

Beslis. Daar is vroue wat glad nie vir die intimiteit van die huwelik kans sien nie. Deur 'n man in die gevangenis te hê, ontsnap hulle dit maar as hy die dag vrygelaat word, is daar moeilikheid wanneer die man sy huweliksregte opeis. Van die vroue wat met langtermyngevangenes getroud is/was, is selferkende maagde. Ander voel weer seksueel aangetrokke tot die sogenaamde “bad boys.” Om 'n geliefde in die tronk te hê, beteken ook dat jy die daaglikse irritasies van die huwelik vryspring en dat die verhouding nooit werklik verder as die romantiese fase vorder nie. Dit bly dus 'n onwerklike droom.

Jy het al baie opheffingswerk in tronke gedoen soos om boeke vir gevangenes te gee. Watter effek dink jy het lees op misdadigers?

Ek het by die Reading for Redemption-veldtog betrokke geraak wat boeke aan gevangenes bring. Dit verander hul lewens. Gevangenes het my al vertel dit maak hulle rustiger, gee hulle insig en help hulle om uit die vier mure van 'n sel te ontsnap. Baie begin dan ook studeer. Hulle stig selfs boekklubs in die tronke en bespreek boeke. Ek voel baie sterk hieroor want hulle het baie tyd om te lees maar min boeke. Enigiemand kan hierby betrokke raak. Mense kan net die hoof van hul naaste gevangenis bel om skenkings te maak. Gevangenes is veral lief vir geestelike en inspirasieboeke maar hulle lees wyd.

As ’n mens dink aan ’n reeksmoordenaar soos Ted Bundy, is dit vir my altyd fassinerend om te sien hoe mense (in dié geval vroue) die misdadiger se kant kies en hom/haar selfs op ’n troontjie plaas. Hoekom dink jy is dit so?

Ja dis n vreemde verskynsel. Die reeksmoordenaar word 'n soort antiheld. Hoe meer en hoe wreder die moorde en hoe groter die mediadekking, hoe meer vroue hamer teen hul traliedeure. Hulle kry talle huweliksaansoeke. Party vroue wil hulle verander, party hou van die aandag wat hulle kry, ander is gewoond aan mans in hul families agter tralies en dan is daar diegene wat net doodgewoon halsoorkop verlief is. Liefde is mos blind en talle misdadigers beskik oor meesterlike manipulasievermoëns en uitsonderlike sjarme. Talle is uitmuntende verhoogakteurs. Hulle doen hulself voor as ongeslypte diamante, maar hulle is darem nog steeds “diamante”, is die boodskap.

Het jy in jou navorsing bevind dat liefdesverhoudings in die tronk gewoonlik uitwerk sodra die persoon vrygelaat word?

Dit werk selde uit. Sulke verhoudings hou volgens kenners gemiddeld twee jaar. Dis 'n geweldige aanpassing vir beide partye as die gevangene vrygelaat word, maar daar is beslis uitsonderings. Om impulsief met 'n gevangene te trou vir wie jy nooit voorheen geken het nie, is 'n resep vir rampspoed.  Tronkhuwelike is ook nie iets wat deur die Department van Korrektiewe Dienste aangemoedig word nie, maar hulle verbied dit ook nie. As dit plaasvind, gee hulle gewoonlik hulle volle samewerking.

Is jy van mening dat mense in die tronk gerehabiliteer kan word?

Die amptelike rehabilitasiesyfer is bitter laag. Maar daar is veel meer hoop op rehabilitasie as hulle die Herstellende Geregtigheidkursus deurloop het soos wat deur eerw Jonathan en Jenny Clayton aangebied word. Jonathan was self 6 jaar agter tralies maar hierdie paartjie is al 27 jaar lank doodgelukkig getroud. Ek is ook van mening dat ons gevangenes moet bystaan en besoek. Ek dink dis 'n Bybelse opdrag. Verwerping is gevangenes se grootste probleem. Watter motivering het hulle om te rehabiliteer as hulle deur hulle families en geliefdes afgeskryf word?

Jy hoef nie die vraag te beantwoord nie, maar as jy wil: kan jy uit ’n persoonlike oogpunt verstaan dat liefde agter tralies plaasvind?

Ek verstaan dit heeltemal. Die gevangene fokus al sy aandag op jou, die vrou daar buite. Hy vlei jou, skryf vir jou die mooiste gedigte en liefdesbriewe en jy word die spil waarom sy heelal draai. Dis besonder goed vir die ego. As jong hofverslaggewer het ek, ander hofverslaggewers en maatskaplike werkers vir 'n baie aantreklike en gladdebek gewoontemisdadiger in die tronk gaan kuier nadat ons sy verhoor getrou bygewoon het. Ons was almal so 'n klein bietjie verlief op hom.  Ek dink dit het ook vir ons oor opwinding en nuuskierigheid gegaan. Hy het die voorkoms van 'n rolprentster gehad en het lank vir my vanuit die gevangenis geskryf. Ek moes sy adresboekie (swart boekie) veilig bewaar en het natuurlik daarin geloer. Toe sien ek die name en telefoonnommers van skoonheidskoninginne, rolprentsterre en selfs joernaliste daarin met regmerkies of verkeerdmerkies agter hul name. By my naam was 'n groot vraagteken, nogal. Praat van 'n Cassanova in oranje!

Mens of monster – ontbyt agter tralies

Boekresensie: Liefde agter tralies deur Carla van der Spuy

  • 2

Kommentaar

  • Peter Groenewald

    Briljante artikel. Ek was self n bewaarder wat 'n senior pos in Korrektiewe Dienste beklee het met 20 jaar diens ondervinding. Die artikel is korrek saamgestel en die feite puik beredeneerd. Het self ook met Pastoor Clayton en sy vrou nou saamgewerk. Ek kan getuig van hulle puik werk en toewyding in Pollsmoor. Ek sal beslis die artikel aan my gewese seniors stuur.

  • Carla, daar is baie meer oor Riëtte wat niemand ooit noem nie. Alles is nie waar nie. Hoe ek jou ooit die waarheid kan gee sal ek nie weet nie en sal seker nooit oorvertel word nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top