Boekresensie: Liefde agter tralies deur Carla van der Spuy

  • 0

Titel: Liefde agter tralies
Skrywer: Carla van der Spuy

Uitgewer: Tafelberg (NB-Uitgewers)
ISBN: 9780624087007

Hierdie paartjies is nie reg wys nie, sal jy waarskynlik dink. Wat besiel iemand om met ’n gevangene wat ’n lewenslange vonnis uitdien te trou? Dít is die belangrikste vraag wat Carla van der Spuy in Liefde agter tralies ondersoek. Kenners lewer insette.  

Die skrywer vors al jare lank misdadigers na. Haar niefiksie-werk sluit in: Mens of monster - Die psige van ’n misdadiger; Bloed op haar hande; Mishandel, misbruik, misken - Joey Haarhoof was my ma en Sielsiek. Hierdie keer praat Van der Spuy met die “tronk-geliefdes” self om uit te vind hoe so ’n verhouding werk en of dit kan hou. Misdadigers vertrou haar met hulle stories.

Die voorblad met sy omslagfoto van tralies en ’n tatoeëermerk van ’n gevlerkte hart met die woord Love daarop sal beslis aandag trek. Die inhoud sluit goed by die embleem aan. Die skrywer voer onderhoude met onder andere vroue wat mekaar in die gevangenis ontmoet en nou met mekaar getroud is, die Boeremagbruid, ’n bruid in boeie, en die man wat na Marike de Klerk, oud-presidentsvrou, se moordenaar uitreik.

Die klem val veral op vroue wat vir sogenaamde “bad boys” val. Hoewel sommige van dié vroue voorheen slagoffers van mishandeling en/of geweld was, weet die meeste presies wat hulle doen, ook hoekom. Van der Spuy skryf tong-in-die-kies oor een van die redes: Tronkverhoudings is “mos veel opwindender as om jou man se sokkies of onderbroeke langs die wasgoedmandjie op te tel, voortdurend te hoor ‘wat eet ons vanaand?’ of aan slapeloosheid te ly omdat hy snork”.

Moordenaars kan aanloklik wees. Hulle is dikwels sjarmant en beskik oor “’n sekere seksuele teenwoordigheid”. Die verhouding met ’n tronkvoël wat jare lank moet “sit”, kan nie ontwikkel nie. Dit stagneer in die hofmaakfase en die intense verlange en begeerte na mekaar gedy. Intussen is van die geweldenaars manipulerend.  

Die rede vir ’n tronkverhouding kan beslis seksueel wees. Kontak met ’n geweldsmisdadiger lei dan tot seksuele opwekking. Dié verskynsel staan as “Hybristophilia” bekend.

Die ander potensiële redes vir so ’n verhouding is sielkundig. Hier is enkeles: Die vrou wat op ’n geweldenaar verlief raak, kan sélf ’n “magtige drang” hê om te moor, of sy is patologies woedend. Sy trou dan met hom om haar eie moordgedagtes en behoeftes sosiaal uit te leef. Die man se moord word dus háár moord, skryf Van der Spuy.

Aan die ander kant het tot 30% van vroue ’n intimiteitsprobleem. Wanneer ’n vrou dus kies om ’n tronkbruid te wees, spring sy seksuele eise vry. So ’n verhouding is net emosioneel.          

Waarom gaan gevangenes self tot die troustap oor? Hulle soek waarskynlik finansiële stabiliteit, lees jy. Die een wat buite is, kan vir die regskoste betaal. ’n Vaste adres help ook wanneer parool ter sprake kom.

Die hoofstuk oor gayliefde raak ’n belangrike feit aan: Seksualiteit is vloeibaar. Tronkseks onder geslagsgenote dui daarom nie noodwendig op homoseksualiteit nie.

Al is dit ontstellend om oor die lewe binne die gevangenis te lees, bevat Liefde agter tralies genoeg ligte oomblikke om die spanning te ontknoop en ’n lekkerlees-ervaring te skep. ’n Vrou wat bitter min hare het, word “Drie-haartjies” genoem. Iemand anders is vir moord gevonnis omdat sy haar man “gehelp het om saliger te word”. (Dis dikwels een of ander vorm van mishandeling wat vroue na moord dryf.) Die skrywer self vra aan ’n gay paartjie: “Hoe op aarde kry mens … wel, ’n kans om te kafoefel in die tronk?” Die antwoord sorg vir sappige leesstof. 

Die gevangenes en hul metgeselle buite die tronk vertel hul verhaal in ’n eiesoortige stem. Dis asof karakters in ’n roman aan die woord is. “Kyk … ek dink so 20 persent is werklik gay as hulle daar (by die gevangenis) aankom. Die ander, nou ja, hulle kry ’n lang vonnis, dan dink hulle, shit! Ek gaan nou vir ses of tien jaar sonder ’n man wees,” reken Valerie Willers. “Ek was ’n shoplifter en die rede daarvoor was dat ek wou goed aantrek en dat ek altyd geld wou gehad het. Ek het drugs en alkohol gedoen en ek moes my habit feed …” sê Joybelle September.    

Dis verstommend dat die Boeremagbruid wat in die gevangenis met Wilhelm Pretorius getroud is, steeds onwrikbaar in haar huwelik bly glo. Tronkhuwelike vou dikwels en Pretorius is immers 25 jaar gevangenisstraf vir hoogverraad opgelê. Sy vrou, Riëtte, wat voorheen haar verloofde aan die dood afgestaan het, reken dít was baie erger as om ’n man agter tralies te hê. Die media het intussen – op 26 Maart vanjaar – berig dat Mevrou Pretorius (met behulp van mediese ingryping) swanger is met hul eersteling.

’n Innige liefdesverhaal word ook ingesluit, dié van Jenny en Jonathan Clayton van Hope Prison Ministry (’n bediening vir gevangenes). Clayton is destyds vir swendelary in hegtenis geneem, maar nou is die twee al vir jare gelukkig getroud.            

Daar is sowaar “gewone” mense wat geweldsmisdadigers onder hul vlerk neem. Hulle dra die gevangenes se belange op die hart deur hulle gereeld te besoek en van benodigdhede te voorsien. Jacques Pratt, ’n oud-onderwyser, ontferm hom oor Luyanda Mboniswa, Marike de Klerk se moordenaar. Pratt en Mboniswa het saam met Group of Hope-lede gehelp om die strand digby De Klerk se woonstel ná haar dood skoon te maak. Hy en Pratt het die strandprojek saam begin. Group of Hope is deur gevangenes self gestig. Die brood wat lede vir ’n week prysgee, word aan behoeftige kinders geskenk. Groente uit die tuine wat hulle bewerk, gaan eweneens aan minderbevoorregte mense. Lede van Group of Hope verf ook kinderhuise, help om projekte te beplan en loop self kursusse.

Die spanningselement in Liefde agter tralies kon in sommige opsigte sterker gewees het. Die skrywer kondig vooraf aan dat ’n gevangene se lewensverhaal soos ’n riller, TV-drama of fliek lees. Die leser kan eerder ná die vertellings self dié afleiding maak.

Clichés kom soms voor, soos ’n skaduwee wat oor ’n gesig val. “Haar stem is effens skor,” klink weer na ’n aanhaling uit ’n romanse.

Een van die kenners is hoogdrawend. “Dit het moontlik spekulatief daartoe aanleiding gegee dat …”, sê hy. En wat is die “dubbelbindings” waarna hy verwys? Daar word ook nie verduidelik presies wat die herstellende geregtigheidsprogram (soms met kleinletters, ander kere met hoofletters gespel) behels nie. Daarby sal nie almal weet wat ’n pleitooreenkoms is nie.            

Dis jammer dat gebrekkige proefleeswerk Van der Spuy se toeganklike skryfwerk ’n oneer aandoen. Soos hier: “Sou die verrigtinge bo plaasvind moet jy seker maak jou selmaat onder slaap” (“dat” ontbreek). En: “Die lojale Jenny en sy swaer, Jeremy Fortuin was sy enigste gereëlde (pleks van “gereelde”) besoeker.

Soms word woorde herhaal. Soos: “Jacques sê wat vergifnis betref, het hy groot respek vir Emeritus Aartsbiskop Desmond Tutu het (herhaling) wat die Waarheids-en-Versoeningskommissie op die been gebring het.” En: “Sy is nou al 16 jaar lank op vrye voet is” (herhaling).

Enkele feite word herhaal, soos dat die tronklewe nie ’n piekniek is nie en dat die Boeremagbruid se huwelik met ’n tronkvoël niks is vergeleke met die dood nie.

Leestekens, soos ’n punt aan die einde van ’n sin, ontbreek soms. Aanhalings word ook nie oral gesluit nie.        

“Wie”, pleks van “wat” word twee keer gebruik. Soos hier: “Susan, wie in 2009 op 61 aan breinkanker gesterf het …” En as onderskrif: “Melissa Seegers wie vir bedrog gevonnis was (is?).” 

In die lig van die onlangse Wêreld-selfdoodvoorkomingsdag (10 September), is dit verblydend dat die skrywer die term “selfdood”, pleks van “selfmoord” inspan. Maar “selfdood pléég” is nie juis versagtend nie. Dalk eerder: Hy is aan selfdood (of depressie) oorlede, of hy het aan selfdood (of depressie) gesterf.  

’n Feit wat deur kenners gestaaf word, laat jou ril: Enige mens kan onder gegewe omstandighede moord pleeg. “Ek. Jy. Enigeen. Die onwaarskynlikste mense beland agter tralies.”

Min van ons weet waarskynlik dat daar ’n verskil tussen ’n pedofiel, ’n seksoortreder en ’n molesteerder is. Fassinerende leesstof!           

Ná die lees van hierdie boek sal jy waarskynlik anders na jouself en na gevangenes kyk. Hulle word dikwels verwerp deur vriende en familie, juis wanneer hulle ondersteuning nodig het. Werkgewers diskrimineer teen hulle. Ná vrylating is dit vir gevangenes ’n geweldige stryd om werk te kry. En dís waarskynlik die groot rede waarom baie van hulle weer agter tralies beland.        

In die geheel gesien, is Liefde agter tralies ’n belangrike en welkome toevoeging tot die misdaadgenre. Maar wees gewaarsku: Moenie kos op die stoof sit voor jy begin lees nie, jy sál daarvan vergeet.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top