Skoolleierskap en die skep van produktiewe leerruimtes in skole
Johann Burger en Aslam Fataar
Uitgewer: African Sun Media
ISBN: 9781991201119
Navorsing bewys dat daar ’n duidelike verband tussen die ruimtelike organisering van ’n klaskamer of skool en ’n positiewe klimaat in die skool bestaan en dat hierdie verband tot verbeterde leerprestasie lei. Hierdie boek, wat oorspronklik ’n doktorale proefskrif in die Fakulteit Opvoedkunde van die Universiteit Stellenbosch [Sjoe, iemand kan gerus sagkens in MlC se oor fluister dat daar geen “van” in die naam van US is nie – ongelooflik dat heelwat akademici wat daar werk, dit verkeerd skryf. Hy doen dit omtrent elke keer.] was, is ’n poging om die konsep en die belangrikheid van ruimte in die skoolopset te verduidelik, asook hoe dit geskep en tot voordeel van die leerder gebruik kan word.
Die boek bestryk die ervaringe van twee skoolhoofde en twee navorsers (Johan Burger as doktorale kandidaat en Aslam Fataar, sy studieleier en promotor) wat elk vanuit ’n ander perspektief na onderwys in Suid-Afrika kyk.
Dink nuut
Reeds in die voorwoord gee Jonathan Jansen ’n voorsmakie van wat die leser te wagte kan wees wanneer hy na hierdie boek verwys as ’n “vars” en “merkwaardige” boek oor die betrokke onderwerp. Die skrywers beklemtoon die feit dat die daarstelling van effektiewe leerruimtes nie groot geld, borge of hulpbronne benodig nie. Al wat nodig is, is om nuut oor onderwys te dink.
.........
Al wat nodig is, is om nuut oor onderwys te dink.
.........
Dit is ’n boek waarmee ek my ten nouste kan identifiseer. Dit is dalk ook ’n goeie tyd om my belange te verklaar. Soos Johan Burger was ek ook ’n skoolhoof en ’n kringbestuurder (albei poste in Stellenbosch). Trouens, Burger het my as kringbestuurder opgevolg toe ek, soos Fataar, in Julie 2009 by die Universiteit Stellenbosch as dosent in opvoedkunde aangesluit het. Ek het dus ten nouste met albei skrywers saamgewerk. Ook Hawkie de Villiers, een van die skoolhoofde wat as respondent dien vir hierdie studie, is goed aan my bekend weens die feit dat ek vir nege jaar sy kringbestuurder was. In welke mate ek dus bekwaam of bevooroordeeld is om oor die boek kommentaar te kan lewer, is iets wat ek aan die leser se goeie oordeel oorlaat.
Gemeenskaplike doel
Jansen noem as voorbeeld hoe hy met ’n enkele woord sy oudskool se skoolhoof gemotiveer het om ’n saal op te rig. Uit eie ervaring kan ek ook getuig dat dit nie duisende rande verg om ’n effektiewe ruimte op te rig waar leerders en die skoolgemeenskap musiek en kultuur kan beoefen nie. Die oprig van ’n skoolsaal kan so eenvoudig wees soos om bloot die ruimte van die natuurlike binneplein van ’n dak en ’n verhoog te voorsien. Dit vereis slegs ’n nuwe ingesteldheid wat getuig van entrepreneurskap enersyds en andersyds ’n skoolhoof wie se aksies van transformerende leierskap spreek.
...........
Soos Jansen in sy voorwoord aandui, vereis die skep van effektiewe leerruimtes vir produktiewe leer slegs goeie skoolleierskap wat die skoolgemeenskap kan saamsnoer met ’n gemeenskaplike doel, naamlik om die lewe van kinders te verbeter. Dis ’n eenvoudige saak – die vraag is nie “Wat gaan ons doen nie?” (want dit is daar vir almal om te sien), maar veel eerder “Hoe gaan ons dit doen?”
.............
Soos Jansen in sy voorwoord aandui, vereis die skep van effektiewe leerruimtes vir produktiewe leer slegs goeie skoolleierskap wat die skoolgemeenskap kan saamsnoer met ’n gemeenskaplike doel, naamlik om die lewe van kinders te verbeter. Dis ’n eenvoudige saak – die vraag is nie “Wat gaan ons doen nie?” (want dit is daar vir almal om te sien), maar veel eerder “Hoe gaan ons dit doen?” In my geval het dit begin met eenvoudige pogings soos ’n skoolbasaar en groente- en vrugteverkope. Die skool is geleë in die vrugbare Dwarsriviervallei waar volop groente- en vrugteboere voorkom.
Henri Lefebvre se teorie
Die studie steun grootliks op die teorie van die Marxistiese Franse filosoof Henri Lefebvre (1901–1991), en veral sy werk The production of space. Lefebvre het geglo dat ruimte ons denke, gedrag, gemoed en emosies beïnvloed. ’n Kind wat dus in ’n skool sit wat bevorderlik is vir leer, is meer positief ingestel ten opsigte van leer en die lewe in die algemeen as ’n kind in ’n arm woongebied wat onder uitdagende omstandighede moet skoolgaan.
Nogtans stel die skrywers van die boek dit duidelik dat daar ondanks die verskillende agtergronde van skole voortdurend nuwe geleenthede ondersoek moet word ten einde die beskikbare hulpbronne ten beste tot voordeel van die leerder te kan benut, veral aangesien dit – soos deur navorsing bewys – ’n definitiewe impak het op die akademiese prestasie van die leerder asook die algemene welwees van die kind in die klaskamer.
Holisties
Voorts moet die onderwysleier in ag neem dat leer ’n emosionele en persoonlike saak is. Daarom behoort leerruimtes ook die leerder se leer-, emosionele en sosiale behoeftes in ag te neem. ’n Pluspunt in die boek is dat die skrywers uitspel wat die stappe is om fisiese, geestelike (mental) en sosiale ruimtes te skep en met mekaar te integreer sodat die kind se behoeftes holisties aangespreek kan word. Dit lei tot ’n positiewe invloed op die kind se gedrag, aksies en motivering.
.........
Die skep van leerruimtes ontstaan nie vanself nie. Dit vereis agentskap; maw iemand moet verantwoordelikheid daarvoor neem.
...........
Die skep van leerruimtes ontstaan nie vanself nie. Dit vereis agentskap; maw iemand moet verantwoordelikheid daarvoor neem. Doelgerigte aksies en besluite deur skoolleiers wat ’n duidelike visie het van waarheen hulle die skool wil lei, is noodsaaklik. In hierdie opsig is dit belangrik dat die skoolleier alle rolspelers betrokke by leierskap in die skool, naamlik departementshoofde, adjunkhoofde en die beheerliggaam, deel maak van die betrokke besluite, omdat die skep van leerruimtes op almal betrekking sal hê. Geen skoolhoof kan alleen ’n skool na nuwe hoogtes lei nie. Hy of sy het die hulp van die hele bestuurspan nodig om enigsins enige hoop op sukses te hê.
Kreatiewe denke
Die boek stel skoolhoofde en skoolbeheerliggame in staat om te sien wat met transformerende leierskap vermag kan word as hulle bereid is om ’n klein bietjie kreatiwiteit aan die dag te lê, om om hulle rond te kyk en die onontginde hulpbronne wat hulle tot hul beskikking het, te benut.
Die boek is gefundeer in die verskillende agtergronde waarvan die skrywers kom. Dit is juis in hierdie verskillende perspektiewe dat die waarde van hierdie boek lê, omdat dit die navorsers (en hul lesers) soveel ryk data verskaf wat ’n baie meer volledige beskouing van die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel meebring as wat andersins die geval sou wees.
Daarom is hierdie boek ’n noodsaaklikheid vir almal wat in die onderwysprofessie werk of daaroor navorsing doen.
- Michael le Cordeur is professor en visedekaan: Onderrig en Leer in die Fakulteit Opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch.
Lees ook:
Afrikaanse dialekte in die klaskamer: Kô lat ôs praat – ’n onderhoud met Elvis Saal
Watwou “vergunning”! Afrikaans bied dalk juis ’n oplossing in skole!
Kommentaar
Ek is is teleurgesteld in die gehalte van die resensie. In wese is die resensie bloot 'n onkritiese samevatting van enkele hooftrekke van die publikasie, met enkele persoonlike opmerkings. Waarin ek belanggestel het, is om te sien in welke mate die skrywers daaring geslaag het om Lefebvre se teorie van ruimte as verwysingsraamwerk te gebruik om die ervaringe van die twee skoolhoofde te analiseer, en veral watter bydrae hierdie analise gemaak het tot ons kennis van skoolleierskap. Weens 'n armoede van tersaaklike teorieë in onderwysleierskap oor die algemeen, gebruik doktorale studente dikwels toerieë vanuit veral die algemene filosofie om sin te probeer maak van skoolleierskapspraktyke. Hulle doen dit onder dwang van hulle studieleiers. Dikwels is hierdie teorieë misplaas. Doktorale studente gee 'n breedvoerige uiteensetting van die teorieë, maar die teorieë vorm nie die teoretiese raamwerk waarbinne die navorsingsbevindinge geanaliseer word nie. Ek het veral belanggestel om te sien of die navorsers hierdie slaggat vermy het.
Hello Clarence,
Dis Aslam Fataar hier. Dit sal goed wees as jy self die boek lees om jou te vergewis van die teoretiese toepassing op die orderwerp.