Watwou “vergunning”! Afrikaans bied dalk juis ’n oplossing in skole!

  • 4

Die debat oor of Afrikaans as onderrigtaal steeds bestaansreg sou hê, fokus alte veel op ’n polities gelaaide en geykte historiese beeld van Afrikaans. Die uiters lae vlak van leesvaardigheid van Suid-Afrikaanse kinders is welbekend, maar in hul poging om die kern van die kwessie raak te vat, spreek die meeste stemme slegs tot die historiese, politiese, sosiale en psigologiese faktore wat leesvaardigheid beïnvloed. Hierdie skrywe beoog nie om die debat oor moedertaalonderrig, en in welke mate dit kinders die toegang tot kennis sou kon bied, te betree nie. Die meeste kinders in Suid-Afrika ontvang in ’n ander taal as hul moedertaal onderrig. Die meeste kinders sukkel om betekenis te vind in wat hulle lees, en twee derdes van kinders in die land word in armoede groot – meestal met ’n gebrek aan juis daardie hulpbronne wat hul leesvaardigheid positief sou kon beïnvloed. Die omvang van hierdie krisis behoort diegene wat die belange van kinders voorop stel, uit hul polities-historiese bekgevegte wakker te ruk en te laat soek na werkbare oplossings vir skole, eerdat nog ’n generasie kinders so te sê ongeletterd die werksmark betree.

Afrikaans as onderrigtaal ondervind tans hewige teenkanting. Afrikaanse skole word in dubbelmedium Engels-Afrikaanse skole omskep en daar word gepraat van “spesiale vergunning” om Afrikaans as onderrigtaal in skole en universiteite te behou. Opvallend word hierdie debat meestal deur akademici en politici en in die media gevoer. Dit bring mee dat Engels voorop gestel word as die taal wat kinders toegang tot die werksmark sou bied. Maar hierdie sienswyse weerspieël dalk nie die gevoel van die wyer publiek nie. Hiermee bied ek dan ’n alternatiewe blik op die situasie soos wat dit op voetsoolvlak, daar waar ouers hul kinders by ’n skool inskryf, uitspeel.

’n Ontleding van die statistiek van inskrywing in Gauteng volgens die Departement van Onderwys se syfers (2015) wys dat die ouers van 34 381 kinders wat Engelsmedium-skole bywoon, sou verkies dat hul kinders liefs in ’n ander taal as Engels onderrig word. Sou mens ’n leerdertal van 800 leerders per skool aanneem, dui dit op ’n ooraanbod van knap oor die 42 Engelsmedium-skole, in Gauteng alleen. Dit sou verder ook blyk dat rofweg 23 264 kinders – gelykstaande aan 29 skole – wat nie Afrikaans as huistaal het nie, Afrikaanse skole bywoon. Wat meer is, 21 635 nie-Afrikaanssprekende ouers het aangedui dat hulle sou verkies om hul kinders in ’n Afrikaansmedium-skool te laat skoolgaan, wat beteken dat daar ’n tekort van 27 Afrikaansmedium-skole in die provinsie is.

Hierdie statistieke laat mens wonder of die verskuiwing na Engels as onderrigtaal en die aannames wat die verskuiwing rugsteun, enigsins deurdag is en of ouers nie daardeur ontneem word van die reg om te kies in watter taal hul kinders onderrig moet word nie.

Gehalte-onderrig bied toegang tot beter loopbaangeleenthede en hoër inkomstepotensiaal. Sou mens vir ’n oomblik die politiek tersyde kon stel en na taal kyk – bloot as instrument wat kinders toegang tot kennis moet bied – blyk dit dat Afrikaans, eerder as Engels, ’n instrument sou kon wees wat die ongelykheid van mense in die land sou kon aanspreek. Alle tale bied helaas nie gelyke toegang tot leesvaardigheid en kennis nie, en van al die tale wat van die alfabet gebruik maak, is Engels die moeilikste om in te leer lees. Dink maar aan die klanke wat deur die lettersimbool a uitgebeeld word in Afrikaans: daar is maar twee uitsprake – kort “a” soos in kat en lang “aa” soos in skape. In Engels is daar egter etlike klanke wat deur dieselfde lettersimbool a voorgestel word, byvoorbeeld in die woorde cat, about, ball, dare, mate en swan – en dis nie almal nie. In Engels kan een klank ook op vele maniere voorgestel word, byvoorbeeld die “k”-klank in woorde soos kit, cat, charisma, folk, queen, rack, box en accent. Hierdie wisselvalligheid in spelvorme bring mee dat die jong leser dit moeilik vind om die simbool by die regte klank uit te bring en andersom – om die regte klank te uiter wanneer ’n sekere lettersimbool voorkom. Die Engelse ortografie is trouens so obskuur dat dit Engelssprekende kinders twee tot drie jaar langer neem om tot dieselfde vlak te leer lees as sprekers van ander Europese tale soos Italiaans of Nederlands.

Uit navorsing by ’n Afrikaansemedium-skool waar 40% van die kinders Setswanasprekend is, blyk dit dat die Setswanasprekende graad 1-kinders die aspekte van leesvaardigheid teen dieselfde tempo as hul Afrikaanssprekende klasmaats baasraak (https://repository.nwu.ac.za/handle/10394/25056). Dit is omdat die betreklik deursigtige ortografiese diepte van Afrikaans die aanwending van veel minder leesstrategieë verg as by Engels.

In stede daarvan dat Afrikaans as onderrigtaal afgeskaf en uitgefaseer word, behoort dit opnuut pragmaties geevalueer te word as effektiewe werktuig tot kennisverwerwing – veral vir kinders wat die negatiewe effek van armoede die hoof moet bied. Die afskaffing van Afrikaans in skole behoort vir eers tersyde gestel te word terwyl daar mooi nagedink word oor die moontlike aanwins wat die behoorlike toepassing van ’n reeds beskikbare opvoedkundige hulpbron vir die land en die ekonomie sou kon beteken. As kinders effektief leer lees, stel dit hulle in staat om kennis makliker uit geskrewe tekste te bekom. Diegene wat nie bereid is om objektief na die moontlikhede van Afrikaans as instrument tot leesvaardigheid en kennisverwerwing te kyk nie, saboteer die optimale ontwikkeling van die land se kinders – veral siende dat Afrikaans reeds volledig as wetenskaptaal ontwikkel is.

  • Sonja Brink is ’n navorsingsgenoot in die Universiteit van Johannesburg se Centre for Education Practice Research en die Suid-Afrikaanse Nasionale Navorsingstigting (NRF) se Leerstoel in Studie van Taal, Wetenskap en Wiskunde.

Ongelykheid in skole, en hoe blind almal daarvoor is

Rolspelers in die onderwys in gesprek: ’n Uiters suksesvolle nasionale beraad

Suid-Afrika se onderwys is ’n “katastrofiese mislukking”

  • 4

Kommentaar

  • Afrikaans is die beste, en sal bly floreer! Hoe meer teenkanting van owerheidsweë se kant af, hoe meer gedui dit. Asb, gaan voort daarmee om ons taal te probeer onderdruk.
    Dankie vir die wetenskaplik-gefundeerde artikel.
    Afrikaans Leef!

  • Goeiedag, waarom die "gemor", analise en redenasies? Ons is tog nie afhanklik van die staat om ons taal as onderrigmiddel en wetenskapstaal te laat gedy en dit sodoende volhoubaar te hou en laat ontwikkel nie - hoogtyd vir 'n kopskuif, of hoe?
    Selfs al sou die ANC-regering vandag 'n verbod plaas op alle Afrikaanse skole, sou Afrikaanses vinnig alternatiewe skole en sisteme in werking stel wat dan in elk geval immuun is teen staatsinmenging en hul ideologiese geboelie. Miskien is dit die aangewese koers? Niemand gaan tog ween oor die verlies aan Afrikaanse staatskole nie want daar word reeds deur Solidariteit en die AON aan 'n alternatief gewerk of dit is reeds in plek - weer wil ek dit net benadruk - dit sal geen verlies wees nie, maar Afrikaners en Afrikaanses eerder bevry. Swart mense gaan ook eers bevry wees die dag wanneer hulle hul kinders in hul moedertaal kan laat skool, en wanneer daardie kopskuif gemaak gaan word, gaan dit wonderlik en onomkeerbaar wees. Dankie.

  • My ma het laat hoor dat sy een of ander tyd (sy vermoed dat sy dit op die radiostasie RSG) gehoor het dat privaat Afrikaanse skole in die Wes-Kaap soos paddastoele opspring?
    Kan iemand dalk bevestig of dit so is? (ek twyfel nie daaraan nie)
    Indien dit wel bevestig kan word se ek hoera!
    Soos die artikel uitwys is dit in die beste belang van almal indien daar mees Afrikaanse skole (synde privaat) gebou word; en hunker anderskleurige kinders se ouers ook sterk na kwaliteit Afrikaanse onderrig; nieteenstaande die amptelike verdelende retoriek van die ANC regering se kant af!!

  • My ma het laat hoor dat sy een of ander tyd (sy vermoed dat sy dit op die radiostasie RSG) gehoor het dat privaat Afrikaanse skole in die Wes-Kaap soos paddastoele opspring?
    Kan iemand dalk bevestig of dit so is? (Ek twyfel nie daaraan nie.) Indien dit wel bevestig kan word se ek hoera!
    Soos die artikel uitwys is dit in die beste belang van almal indien daar meer Afrikaanse skole (synde privaat) gebou word; en hunker alle kinders se ouers ook sterk na kwaliteit Afrikaanse onderrig; nieteenstaande die amptelike verdelende retoriek van die ANC regering se kant af!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top