
Titel: Sigeunerliefde
Skrywer: René van Zyl
ISBN: 9781779871596
Uitgewer: Romanza
...
Die boek is ’n sintuiglike aanslag. Deurentydse verwysings na en belewenisse van die ou stad, historiese geboue en intieme eetplekke, musiek en tradisionele Spaanse danse en frases het my byna laat vergeet ek lees ’n boek en is nie self daar nie.
...
René van Zyl, ’n veelbekroonde en veelsydige skrywer, en haar man, ’n predikant, woon op ’n plaas in die Hartbeespoort-distrik. Hulle het twee volwasse dogters en ’n breingestremde seun. Haar biografie op Lapa Uitgewers se webtuiste noem dat sy ’n blogger en oudjoernalis is. Sy beskryf haarself ook as ’n aweregse Mevrou Dominee.
Daar is byna twee dosyn gepubliseerde boeke op haar kerfstok, waaronder twee samesweringsrillers, getiteld Die Alfadokument en Die Omegakomplot, en twee jeugverhale, getiteld Die monster in my melkskommel en Tuimeltrein. Tuimeltrein is voorgeskryf vir graad 12-IEB-skole en AET vanaf 2026.
’n Hele rits Romanzas het al uit René se pen verskyn. Onlangse titels is Liefde in die boendoes (2021), Strandwolf (2021), Die hart soek wat hy soek (2022), Roekeloos verlief (2023) en Toe gebeur Vegas (2024). Sy het in 2020 die gesogte Imbali-toekenning van die Romance Writers Organization of South Africa (ROSA) verwerf vir haar super-Romanza Storm vol liefde (Lapa). Sy is ook bekroon met die 2024-ATKV Woordveertjie vir romanses vir haar treffer-Romanza Belle, met die hart vol blomme.
Ek het pas René se jongste Romanza, getiteld Sigeunerliefde, gelees en dit sommer baie geniet. Dit word onder die afdeling “Reis” uitgegee. Dit is uit die staanspoor duidelik dat ’n vaardige woordsmid die storie geskep het. Ek is deur die verhaal ingesluk, waar Karmen da Silva se trein by ’n metrostasie naaste aan Barcelona se gotiese Oudorp inskommel.
Karmen klou aan ’n paal om staande te bly toe die trein met ’n uitasem snak tot stilstand kom. Dieselfde snak sidder deur haar toe die deur oopskuif en tientalle warm lywe haar hardhandig eenkant toe stamp om uit die bedompige trein te kom. Een van die stormramme skop haar bonkige reistas uit haar hande. (5)
Karmen, ’n selferkende sigeuner sonder wortels wat Europa deurkruis, moet haar ongenaakbare ouma Mercedes se woonstel gaan oppas toe dié op ’n bootreis vertrek. Haar ouma blameer haar vir die vliegongeluk waarin Karmen se ouers 13 jaar gelede oorlede is en waarvan Karmen die enigste oorlewende is. In Barcelona ontmoet Karmen vir Marco, ’n troebadoer wat hobo-chic-klere dra, ’n viool op straathoeke bespeel en vriende met boemelaars is. Ná ’n aanvanklike misverstand en hittige skermutseling op die treinstasie, begin sy en Marco mekaar se geselskap geniet en wys hy haar meer van die ou stad. Op ’n stadium dink sy aan hulle as “twee afvlerkvoëls met baie hartseer” (113).
René se ruimtelike beskrywings is atmosferies en sensories uitstekend. Hier is enkele voorbeelde:
Mercedes se gunstelingparfuum. Dit fladder soos ’n onsigbare kus teen haar wange vas, dwing ’n onthoupad deur haar neusvleuels en ruk ’n geraamte wakker wat rustig in die hangkas van haar siel gesluimer het. Die geur van amber, sandelhout, vanielje en wierookagtige patsjoelie is ’n resep wat haar hartklop ballisties laat wegtrek. (15)
Sy verkyk haar aan stukkies gekleurde keramiek en glas wat orals in mosaïekmure, dakke en vloeroppervlakke vervleg is en ’n helder kleurpallet skep. (120)
Terwyl sy die besige stad luid om haar beleef, die reuk van varsgebakte brood, die gedruis en getoet van die motors om haar en die gemurmel van toeriste, ervaar sy ’n grootsheid binne-in haar. Hierdie gebou is nie net ’n kerk nie, dis ’n monument wat die mensdom se drome, kreatiwiteit en vasberadenheid uitskree. (139)
Die leser word getrakteer op die karakters se emosionele én liggaamlike ervarings, nie net ten opsigte van hoe hulle deur die loop van die storie seermaakdinge uit die verlede verwerk nie, maar ook ten opsigte van musiek en dans. Die wyse waarop René Karmen die flamenco eers as toeskouer en toe as danser laat meemaak, is absoluut meesleurend. Soos Marco tereg opmerk: “Jy het ’n ingebore hartstog, ’n rou emosionele aanvoeling vir die musiek” (133). Die liefdestonele is ietwat gewaagd, maar wel sensueel, smaakvol en uitnemend beskryf. “Sy laat haar lei. Sy is immers in die hande van ’n maestro wie se bekwame vingers oor haar vel streel asof sy ’n kunswerk is wat delikate klanke voortbring. En dis wat sy doen” (99).
René beskryf nie net emosionele en liggaamlike ervaringe nie. Die geestelike bly nie agterweë nie. Sy verweef dit op ’n baie subtiele wyse in die storie sonder dat dit enigsins prekerig of met opset voorkom. Dit word veral duidelik tydens ’n gesprek wat Karmen en Marco in die Sagrada Familia-basilika voer. Daarmee saam kom lê ’n belangrike besef in Karmen se hart, een wat haar op die pad na innerlike genesing plaas.
Getrou aan ’n René van Zyl-storie is Sigeunerliefde vol interessante, geloofwaardige newekarakters, meer as ’n tikkie misterie, ’n tergende geheim of twee, konflik, spanning en uiteindelike ontboesemings en bevredigende ontknopings. Die boek is ’n sintuiglike aanslag. Deurentydse verwysings na en belewenisse van die ou stad, historiese geboue en intieme eetplekke, musiek en tradisionele Spaanse danse en frases het my byna laat vergeet ek lees ’n boek en is nie self daar nie.
Ek het Sigeunerliefde boeiend en goed geskryf gevind. Hoewel traumatiese insidente uit die verlede telkens opduik, oorheers dit nie die storie nie. Dit verklaar wel die karakters se beweegredes en optredes, maar verleen ook stukrag en motivering om die verlede en skuldgevoelens vir eens en vir altyd agter te laat.
Lees ook:
Belle, met die hart vol blomme deur René van Zyl: ’n resensie van ’n waardige Romanza-wenner
Oor blou melkskommels en zombies: Izak gesels met René van Zyl

