Die Alfadokument: ’n onderhoud met René van Zyl

  • 1

..........

“Net toe my karakters dink hulle leef nou ‘happily ever after’ ... toe spring daar ’n ding uit die bos uit ...”

..........

Die skrywer René van Zyl tree by die 2020 Toyota US Woordfees op wat 6–15 Maart 2020 in Stellenbosch plaasvind. Sy gesels met Cliffordene Norton oor haar eerste spanningsverhaal, Die Alfadokument.

“Aan die einde van Die Alfadokument is ’n los draad of twee waaraan ek nou lekker torring.” – René van Zyl (Foto: verskaf)

René, baie geluk met jou jongste boek, Die Alfadokument. Hoe sou jy die spanningsverhaal opsom in jou eie woorde en van waar die titel?

Die Alfadokument is ’n nuwe genre in die Afrikaanse mark: Dit is ’n samesweringsroman, basies ’n verhaal waarin daar heelwat geheime agendas en versteekte motiewe is, waar iemand, in hierdie geval, Michaela Cohen en Josh Young, probeer om die geheime te ontrafel sodat die ware kleure van die onderduimse groep openbaar gemaak word.

Die verhaal handel oor Michaela Cohen (’n twintigjarige, loskop sosiale vlinder) wat na haar pa se skynbare selfmoord die internasionale Orde erf wat hy begin het. Die Nikolaïete Orde is ’n suksesvolle en skatryk Christen-organisasie, maar Michaela besef daar is groot fout toe sy sommer op bladsy een van die boek in die tronk beland omdat sy onwetend dwelms na Thailand toe gesmokkel het.

Sy kom gou agter dat die dwelms aan haar geplant is deur die Groot Ses, die oorblywende direkteure wat van haar ontslae wil raak. Hulle wil self in beheer bly van hulle miljoene.

..........

“’n Mens moet altyd alles bevraagteken en jou verstand gebruik. Selfs in jou eie geloof. Ondersoek alles en behou die goeie!”

..........

Die magtige Orde, waarvan die hoofkantoor in Kaapstad gesetel is, se direkteure stuit vir niks om te sorg dat hulle koninkryk veilig in hul hande bly nie – ook nie vir moord nie.

Dit gaan ’n ekstaakmaglid kos om die rykmansdogter te help om die Orde se geheime oop te vlek. Josh Young het sy eie redes waarom hy die onaantasbare maatskappy se onderduimshede wil ontmasker. Saam moet hulle die Orde se geheime Alfadokument opspoor. Dis hulle enigste kans om te wys watse onheilighede werklik agter die sukses van die Groot Ses skuil.

Die soektog neem hulle op ’n gevaarlike ekspedisie regoor Europa met twee moordenaars kort op hul hakke. Min weet hulle hoeveel bose geheime hulle gaan ontmasker.

Geloof en mag sorg dus vir ’n dodelike kat-en-muis-speletjie ... Beide Michaela en Josh sit met groot geraamtes in die kas en dit dra by tot die spanning en wantroue wat ook tussen hulle heers.

Een van die Orde se werktuigkundiges in Kaapstad, die paranoïese Krisjan Coetzee, beland sonder dat hy wou saam met hulle in die malle jaagtog en hy blyk toe tog van groot hulp te wees. Hy is by verre my gunstelingkarakter.  

Die titel van die boek is afgelei van die vermiste Alfadokument, die ontstaansdokument van die organisasie wat die Orde se boosheid en al sy geheime gaan ontmasker. Dit het vermis geraak en die een wat dit eerste opspoor, het die hef in die hand ... ensovoorts!

Godsdiens kan ’n baie sensitiewe tema wees. Het jy enige terughoudendheid ervaar om die tema aan te pak?

Nee, as die vrou van ’n oopkop predikant (’n verligte een boonop, met ses grade agter sy naam – dus is hy meneer Google self) het ek sowaar al alles gesien en gehoor wat met geloof, sektes en misleiding in die godsdiensarena te doen het. Ek is ook baie geïnteresseerd in boeke en rolprente met dieselfde temas, veral waar onderduimse sektes ontmasker word (in fiksie en in die werklikheid).

Sommige mense kan soos skape gelei word om ’n charismatiese leier of ’n ideologie te glo wat teen die meeste mense se gesonde intellek indruis. Dit fassineer my. Ek het met Die Alfadokument ’n fiktiewe geloofstelsel versin met vreemde reëls en regulasies en ’n wêreldwye gevolg geskep, maar tog kan dit sin maak vir sommige mense, op ’n vreemde manier.

..........

“Uiteindelik het ek ’n te lang boek geskryf en nadat dit aanvaar was, moes ek dit drasties verkort om verskeie redes, maar dit was die beste ding wat met die boek kon gebeur het. Ek het so baie geleer in die proses.”

..........

En daar is regoor die wêreld mense wat vreemder sektes aanhang. Ek glo mense moet ingelig word van hoe maklik enige mens op ’n dwaalspoor gelei kan word. ’n Mens moet altyd alles bevraagteken en jou verstand gebruik. Selfs in jou eie geloof. Ondersoek alles en behou die goeie!

Ek is boonop ’n oudjoernalis en my motto bly steeds: Lig in, voed op, en vermaak. Ek glo ek dat ek inspireer. Dis belangrik.

Ek kan bysê dat ek jare gelede met die skryf van my eerste boek, Wee Monk’s Tale, the secret of immortality, alreeds in die geskiedenis van die Christengeloof gediep het.

Die boek speel af in die Middeleeue in Skotland en Ierland, waar daar vreeslike bygelowe en vrese oor godsdiens bestaan het. Ek glo ek het die leser hier reeds aan konsepte blootgestel waarvan min gewone mense geweet het, soos dat Vikings en Druïdes, na alles tog ver-Christen het as gevolg van gewone Christene se deursettingsvermoë en vreesloosheid.

Ek wil graag mense inlig en opvoed om hulle eie geloofspad beter te verstaan, asook dié van ander. Of dalk net om hulle verder te laat dink oor die saak!  

Hoeveel navorsing het die boek geverg? Hoeveel van die werklikheid vind neerslag in die boek?

Ek het die boek in 2012 begin skryf. Die navorsing was nogal ’n groot deel van die hele proses. Ek het ’n paar idees gehad wat ek uit koerantberigte of tydskrifartikels gekry het en wat in my kop rondgedraai het.

Uiteindelik het al die idees bymekaargekom en ’n dinamiese storie van sy eie ontwikkel. Dit was ingewikkeld en uitdagend om te skryf, aangesien ek boonop nog drie tieners in die huis gehad het, van wie een ernstig breingestremd is.

Daarby was ons besig om ’n skool vir breingestremdes te ontwikkel, en ’n onafhanklike kerk te bedryf, en dit alles het sy pond vleis geëis. Soms kon ek vir weke nie aan die boek vat nie, net om weer van voor af myself te vergewis van waar staan ek en wat gaan nou weer aan in die storie. Dit was ’n enorme proses om al die balle in die lug te hou.

Uiteindelik het ek ’n te lang boek geskryf en nadat dit aanvaar was, moes ek dit drasties verkort om verskeie redes, maar dit was die beste ding wat met die boek kon gebeur het. Ek het so baie geleer in die proses. Dit was ’n reusagtige werk op sigself, want daar is soveel geheime en misverstande en karakters en lesers wat in die duister gehou moet word. Naderhand weet jy self nie meer wie mag wat weet nie en wanneer vind wie wat uit! Ek moes kophou soos ’n dronk weeluis.

Werklikheid? Alles was, is en bly uiteindelik bloot fiksie, behalwe in my kop – daar is alles realiteit. Ek verlang na my karakters (my verbeeldingsvriende) en daarom is ek reeds besig met die opvolgboek.

Hoe verhoed jy dat die navorsing nie jou storie oorweldig nie?

O, dis moeilik vir my opgeklitste regterbrein. Wanneer ek van die inligting google, raak en so geïnteresseerd in die verskillende feite en stories dat ek myself moet dwing om na my eie verhaal terug te keer.

Ek dink egter dat my verbeelding en die navorsing ’n goeie span vorm en my op die regte koers hou. Dis die lekker van skryf. Jy kan jou eie wêreld skep. En sonder sterk koffie regdeur die dag is niks hiervan moontlik nie!  

Speel die verwagtinge van lesers ooit ’n rol in jou skryfwerk?

Ja, beslis. Ek dink ek skryf in die eerste plek vir myself, want ek sukkel dikwels om boeke te kry wat my verbeelding en anderster leesbehoeftes werklik aangryp. Ek glo ook dat daar mense soos ek is wat iets anders soek as die meer bekende misdaadroman, en daarom skryf ek. Dus om my eie nuuskierigheid te bevredig en dié van die leser wat soos ek is. In die proses hoop ek om lesers iets te gee wat nie andersins in Afrikaans beskikbaar is nie en om hulle belangstellingsveld te verbreed.

Die Alfadokument is jou eerste spanningsverhaal. Wat is volgende? Is jy besig met ’n opvolgverhaal? Wil jy as skrywer in hierdie genre groei?

Ja, ek is besig met die opvolg en geniet die navorsing nou al klaar te veel, want daar is soveel interessante stories, gelowe en misterieuse organisasies in die wêreld.

Ek het al ’n lekker stuk geskryf, maar ek weet daar lê nog baie werk voor voordat ek tevrede gaan wees. Aan die einde van Die Alfadokument is ’n los draad of twee waaraan ek nou lekker torring.

René van Zyl

Hierdie genre was eintlik die eerste een waarmee ek in Afrikaans begin het na my genoemde Engelse jeugboek, Wee Monk’s Tale, wat ’n stukkie van die Bybelgeskiedenis in die Middeleeue weergee tesame met ’n spul onheilige Vikings, Druïdes en drie dapper tieners wat met ’n Altaarbybel moet vlug.

Ek wou iets anders in Afrikaans uitgee en al was dit ’n risiko, is ek bly ek het deurgedruk. Al die harde werk was die moeite werd. Ek moet bysê dat ek Desember 2019 die hele maand gerus het.

Die Alfadokument het veral hier na die einde se kant toe, net voor die drukproses in Oktober, met al die proeflees en veranderinge wat steeds moes sin maak, sy tol geëis. My brein was opgebruik. Nou is ek reg om voluit aan die opvolg te werk.

Net toe my karakters dink hulle leef nou “happily ever after” ... toe spring daar ’n ding uit die bos uit ...

Na watter items sien jy uit by vanjaar se Woordfees?

Ek verstaan die fees is 21 jaar oud? Dit is al klaar iets om na uit te sien, want dit gaan dus besonders wees hierdie jaar. En die tema, Die liefde is aanhou beweeg en geraas maak, is een van my gunstelingaanhalings in die Afrikaanse letterkunde (van skooldae af).

Ek gebruik daardie sinnetjie dikwels in my boeke en in my woelige alledaagse lewe. Ek was nog nooit so gelukkig om ’n Woordfees by te woon nie, dus is ek opgewonde oor net mooi alles. Ek gaan my gate uit geniet en al die pad beweeg en geraas maak!

Ek sien vreeslik uit na my boekpraatjie op 6 Maart om 15:30 saam met Anel Heydenrych en Lize Spit in die boektent. Die befaamde Jono Amid gaan ons bombardeer met vrae en ek is mal oor hom. Hy het ’n besonderse insig in die skrywer se brein en hy is skerp soos ’n skeermeslemmetjie! Dit is vir my ’n groot voorreg om genooi te wees en ek hoop om sommer baie skrywers te leer ken.

Kom luister by die Toyota US Woordfees na René van Zyl tydens die Boosheid in ’n vrou se hand-gesprek: 6 Maart by die Boektent.
  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top