
Skermgreep: YouTube
Die suksesvolle paartjie Jaci en JP bevind hulle in ’n penarie wanneer ’n nuwe aanbieding vir ’n babahandelsmerk hulle dwing om die perfekte voorgee-ouers te speel.
Semi-soeter is natuurlik die opvolg van die 2012-Semi-soet (maar dié keer uitgesaai op Netflix vir ’n baie wyer gehoor). 2012 was 13 jaar gelede. Ek kan skaars onthou hoekom ek so pas kombuis toe gestap het, so ek het noodgedwonge my 2012-resensie gaan raadpleeg. Blykbaar het ek gedink die eerste film was so snaaks dat ek met tye moes trane afvee. Goeiste.
As ek hierdie keer trane sou afvee, sou dit wees oor die vermorste geleentheid om ’n breër gehoor te beïndruk met ons verbysterende plaaslike talent. Nie net is die opvolg nie snaaks nie, dit is ook problematies.
Maar wag; lees verder. Dit is nie net slegte nuus nie.
Dit is vreeslik mooi gestileer, geskiet en aanmekaar gesit. Dit is ’n blink advertensie vir Kaapstad en Hazendal-wynplaas. As mens die klank afsit (wat terloops so goed gemeng is dat ek die onderskrifte kon afsit), is die produksiewaardes op dieselfde hoë vlak as die meeste Netflix-produksies.
........
As Hélène Truter uithaal en wys, dan luister jy. Dit is egter omtrent waar die goeie nuus eindig.
........
Die spelers het almal hope talent, niemand mompel nie, en hier en daar styg hul vertolkings bo die draaiboek uit. As Hélène Truter uithaal en wys, dan luister jy.
Dit is egter omtrent waar die goeie nuus eindig.
Semi-soeter is eerstens ’n generiese romkom. Die geykte Hollywood-resep is daar. Die mense en die Kaap is mooi. Die probleem/leuen/misverstand is dat Jaci nie wil sê sy is swanger nie. Die uitdaging is om die yBaB-veldtog te wen, blykbaar met “egte” familiewaardes en ’n kind op die heup. Allerhande lawwe goed gebeur waarvoor niemand verantwoordelik gehou word nie. Jy weet die gelukkige einde is op pad.
Ek weet dit is ’n (romantiese) komedie. Mense wil vermaak word. Jy wil ontsnap van die wêreld waar missiele links en regs afgevuur word. Tog, ’n komedie kan jou laat skaterlag, maar ook wonder oor kwessies. Van die mees ikoniese komedies is ’n perfekte kombinasie van grensverskuiwende humor en kommentaar lewer op die samelewing.
Mens hoef nie derms uit te ryg nie. Vat When Harry met Sally wat bloot vra of mans en vroue platoniese vriende kan wees. Die eerste Bridget Jones het stereotipes rondom vroue en aanvaarde gedrag gebreek. In Groundhog Day moes Billy Murray leer om gaaf te wees. The big sick volg ’n Moslem-, Pakistani-man wat self wil kies met wie hy trou. Something’s gotta give meen mense in hul 50’s en 60’s kan ook verlief raak. Al hierdie komedies word nou nog bespreek, gekyk en selfs oor geskryf. Semi-soeter gaan nie hierdie lys haal nie.
.......
Semi-soeter is tweedens, en belangriker, problematies. Dit word aan jou voorgehou dat Jaci en JP se suksesvolle loopbane en gelukkige huwelik leeg is omdat hulle nie kinders het nie.
.......
Semi-soeter is tweedens, en belangriker, problematies. Dit word aan jou voorgehou dat Jaci en JP se suksesvolle loopbane en gelukkige huwelik leeg is omdat hulle nie kinders het nie. Hulle is dus nie ’n regte familie nie. (Nie my woorde nie.) Sjoe. Hierdie boodskap van die kerngesin – ma, pa, biologiese kinders – was al in die 1950’s misplaas. Dit ontken soveel ander vorme van familie wees, van gelukkig wees. Hulle kon kindervry gebly het? Hul rol as peetouers ernstig opgeneem het? Aangeneem het? Maar nee, in Hertjie se woorde, Jaci moes “vat”.
Dit is in ons huidige klimaat – oorbevolking, hongersnood, oorlog, armoede – ongelooflik toondoof, en volgens die eerste twee internasionale resensies, ’n bietjie agter die brug.
Ek eindig met ’n aanhaling uit die Decider-resensie. “Is aping a creatively bankrupt Hollywood formula for financial success a point of pride for the South African film industry? At the risk of sounding condescending, I must say: I hope not.”
Eina.
Kyk die lokprent hier:

