
Die drie werke is iets nuuts vir die Afrikaanse letterkunde, naamlik ’n drieluik oor die lydenstyd bestaande uit prosa, poësie en ’n drama.
Jopie Coetzee se idee van ’n Paastrilogie het op 16 Maart 2002 tydens ’n erediens op Palmsondag ontstaan (nav Jesus se intog in Jerusalem waar die skare palmtakke op die pad voor Hom gegooi het) en die werk is in 2025 voltooi.
In ’n nieprekerige skryfstem word die bekende Paasverhaal vanuit drie verskillende en ongewone invalshoeke vars verwoord in moderne Afrikaans.
Die Paasroman: Aangeraak in die maalstroom van die Paasgebeure
Hierdie roman vertel die verhale van veertig randfigure deur wie profesieë oor Jesus se lydenstyd vervul is, soos die eienaar van die twee diensmeisies teenoor wie Petrus vir Jesus verloën het, ’n wag wat Jesus geklap het en die tuinier wat Jesus se graf moes voorberei.
Elke karakter, soos benoem in die vier Evangelies, vertel sy/haar eie Paasverhaal in ’n unieke stem en vertelstyl. Dit plaas die leser in die skoene van elk van hierdie eerste getuies: “O God, vergewe my dat ek U Seun geklap het.” – Annas se lyfwag (Hoofstuk 18)
Die Paasdigbundel: Nuut, alles nuut
Dit is ’n bundel gedigte en gebede oor die Paasnaweek.
In ’n verhalende digstyl – dink aan NP van Wyk Louw se Raka – volg die leser Jesus se laaste voetspore, sy begrafnis en opstanding. Met beelde wat wissel tussen angs en genade, word elke gedig ’n meditasie oor goddelike liefde en menslike broosheid. Elke gedig word verwoord vanuit die oogpunt van dié wat gekyk, geween en onthou het – die goeies en die skurke. Die emosionele belewenis span ’n boog van 2000 jaar gelede tot by vandag se mense: “In donkerste donkerte, / met sy keel kurkdroog, brandend, / smeek die Heer van die hele skepping / – smeek Skrifvervullend: ‘Ek is dors.’” – Jesus van Nasaret (Hoofstuk 28)
Die Paasdrama: Die ouers van Judas Iskariot
Hierdie drama gaan oor dié wat agterbly na ’n tragedie; gefokus op die ouers van die mees veragte persoon in die Christendom, Judas.
Vanuit hierdie ondenkbare oogpunt ontvou ’n seldsame en diep aangrypende drama deur die hart, siel en verstand van ’n vader en moeder wat agtergebly het ná ’n onbegryplike familietragedie.
Deur intieme dialoog en simboliese handeling gee die drama stem aan die gewig van rou, die las van twyfel, die pyn van verwerping en die onbeantwoorde vrae wat voortleef in die stilte van dié wat agterbly – net soos destyds, ook vandag: “Ek ruil my siel vir my kind s’n. Ek moes nie aan hom die lewe gegee het nie.” – Cyborea Iskariot (Hoofstuk 12)
Gesinsvriendelik
Hierdie drie werke, alhoewel fiktief, is geanker in die Skrif en binne die grense van alles wat heilig en dierbaar vir gelowiges is. Die boeke is tydloos, lees maklik en is gesinsvriendelik.
Coetzee se Paastrilogie bied die leser die een nuutskepping na die ander, soos byvoorbeeld:
- Daar is 40 Paasverhale in 40 verskillende vertelstyle. Die verhale word deur Bybelse karakters in Bybelse tye vertel, en ook deur hul moderne argetipes in vandag se tye.
- In een Paasverhaal (Hoofstuk 19) word sewe Afrikaanse tongvalle in dialoog gebruik.
- In iets nuuts vir die Afrikaanse digkuns word ’n dubbele heptalogie – ’n dubbele seweluik, sewe gedigte met sewe strofes elk – as raamwerk gebruik om die leser op reis deur die lydenstyd te begelei met stemme, dié van die profete, engele, Jesus self en die mense wat dáár en betrokke was, oa Pilatus se vrou, die enigste mens wat vir Jesus se onskuld gepleit het. (Hoofstuk 20)
- Die drama oor Judas Iskariot se ouers is – sovêr my kennis strek – nog nooit die afgelope 2000 jaar geskryf nie. Ja, hy ís die mees veragte persoon in die Christendom, maar hy het ’n ma en pa gehad wat oor hom getreur het.
- Coetzee het hierdie trilogie bykans gelyktydig in Afrikaans en Engels geskryf, met kruisbestuiwing tussen die twee tale.
Die trilogie skep geestelike vreugde en verwondering en is geskik vir dramatiese voordrag of toneelspel tydens die Pase.
Met die lees van Coetzee se Paastrilogie was ek op ’n emosionele tuimelrit. Die werk het my groot vreugde gegee en my menswees verdiep. Ek kan hierdie werk sonder huiwering aanbeveel vir ’n persoonlike leesbelewenis, asook vir dramatiese voordrag en opvoering.
Jopie Coetzee
Jopie Coetzee is ’n voormalige ouderling, akademikus en mynbou-ingenieur wat in 26 lande op vyf kontinente gewerk het. Hierdie wye lewenservaring verryk nou sy passie as skrywer, digter en dramaturg.
Vir elke bladsy gepubliseer, plant of skenk hy ’n spekboom – Portulacaria afra. Hy en sy gade, Pieternel, woon in Mosselbaai.
Lees ook:
Aangeraak in die maalstroom van die Paasgebeure deur Jopie Coetzee, ’n lesersindruk

