
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Titel: Judas Iskariot se ouers
Skrywer: Jopie Coetzee
Uitgewer: Groep7 Drukkers
ISBN: 9780639887623
Judas Iskariot se ouers, geskryf deur Jopie Coetzee, is ’n dramabundel wat volg op sy eerste boek, Aangeraak in die maalstroom van die Paasgebeure. Dit is ’n drama van 100 minute oor dié wat agterbly na ’n tragedie en die ouers van die mees veragte persoon in die Christendom – Judas Iskariot.
Die doelwit van Judas Iskariot se ouers is om ’n empatiese ruimte te skep vir die mens se gebrokenheid. Simon en Cyborea Iskariot se rou oor hulle goue seun is stil en eensaam (erkenning aan NP van Wyk Louw se drama, Germanicus), soos ’n smeulende vuur op ’n stormagtige dag, met die ergste wat nog kom. Hulle weet nie dat hulle seun die mees veragte mens in die Christelike wêreld gaan word nie, dat hulle seun se berou ontken gaan word nie ...
’n Kort oorsig van wie Judas Iskariot regtig was: ’n Mens kan maklik vergeet dat Judas deur Jesus geroep is om een van sy dissipels te wees. Ons weet nie presies wat dit was wat Judas aangespoor het om Jesus te verraai nie. Wat egter duidelik is, is dat Judas se menslike ideale toegelaat het dat Satan hom kon manipuleer. Judas is gedryf deur die sug na mag en begeerte na geld (bl 4). Judas het die ingrypendste beslissing in die geskiedenis van die Christendom gemaak. Hy het self gekies om hom deur Satan te laat meesleur. Ons lees die ontstellende woorde in Johannes 17:12.
Hierdie drama handel egter nie oor Judas nie, maar oor sy ouers, Simon en Cyborea.
Die drama speel af in die geboortedorp van Judas Iskariot, Kerijot-Gesron in die suide van Judea, en beslaan ses tonele.
1) Die opkoms en val van Judas: Die kerngedeeltes oor die opkoms, val en berou van Judas Iskariot word uit die Bybel voorgelees, en deur middel van mimiek en beligting en/of musiek word sy reaksie daarop uitgebeeld. Hierdeur word die Judasverhaal in herinnering opgeroep, die res van die drama in konteks geplaas en die spanningslyn en tuimelrit word afgeskop.
2) ’n Sweer bars oop: In hierdie toneel wag Simon en Cyborea op die Romeinse soldaat wat vir hulle elke maand ’n mandjie kos bring. Voordat die soldaat daar aankom, kom daar ’n vreemde vrou aan wat haarself as Mara voorstel. Hier sien ons hoe Simon en Cyborea moes toekyk hoe hulle seun Jesus verraai het en dat Mara hulle ondersteun het. Die toneel word toenemend emosioneel as gevolg van skokkende onthullings en rou herinneringe. Dit lig die sluier oor eensaamheid en in die naspel van ’n menslike tragedie, en beeld die impak van ’n goeie Samaritaan uit.
3) Cyborea se angsdroom: Hier word Cyborea se smart en wanhoop uitgebeeld waar sy droom dat die gemeenskap haar stenig. Haar angs word teenoor God uitgekreet in sewe temas, een vir elke sarsie klippe. Wanneer sy wakkerskrik, is sy troosteloos en bekommerd oor die lot van haar kleinkind – Judas se babaseuntjie. Die lig word gewerp op hierdie toneel rakende die rou van ’n vrou.
4) Vonke spat by die dorp se waterput: Dié deel is die misterie van ’n sielsgesprek. Mara begin ’n klinies-empatiese en rigtinggewende gesprek met Cyborea. Dit lei tot die ontdekking van haar diepste vrese en ondenkbare hartsbegeerte – om vir Maria van Nasaret, die moeder van Jesus, te ontmoet (bl 64).
5) Simon se geveg met God: Simon konfronteer sy innerlike vrese. Hy verloor selfbeheersing en toe sy humeur opvlam, begin hy ’n geveg met God om sy vrede terug te eis. Hy verloor die geveg en word mank, maar hoopvol gelaat. Hier ervaar die leser/kyker die verborge waarheid agter die rou van ’n man.
6) Die ontknoping: Dit is die ontknoping van sewe raaisels wat Simon en Cyborea teister. Die onverwagse gebeur. In hierdie laaste toneel word die mistieke verband tussen lyding en bevryding uitgebeeld.
Jopie Coetzee het hom oortref met hierdie drama, Judas Iskariot se ouers. Sy karakters is innemend en absoluut geloofwaardig. Die dialoog en uitbeelding van elke toneel is manjifiek geskryf en ek wil die skrywer gelukwens met die visuele wyse waarop die vertelling aangebied is. Dit is ’n kragtige drama, waar die klem val op Simon en sy vrou se sielewroeging toe hulle aanskou hoe hulle seun Jesus verraai het. Dit is duidelik dat hierdie drama, veral momente van spanning en konflik, emosioneel gelaai is. Die leser se verbeelding word aangewakker deur die lewens van die karakters in hierdie drama. Dit is duidelik dat die skrywer sy navorsing deeglik gedoen het. Daar is sorgvuldig oorweging geskenk aan die keuse van karakters, omgewing en agtergrond.
Hierdie tydlose verhaal is ideaal vir lees en herlees. Dit nooi mens uit om soos ’n dramaturg die hele dramabundel te wil skep en tot uitvoer te bring.
Lees ook:
Aangeraak in die maalstroom van die Paasgebeure deur Jopie Coetzee, ’n lesersindruk



Kommentaar
Die Evangelie van Judas is in 2006 deur National Geographic aan die wêreld bekendgestel.
“Die teks is in Kopties geskryf en dateer uit ongeveer die 3de of 4de eeu nC, hoewel dit waarskynlik 'n vertaling is van 'n ouer Griekse teks uit die 2de eeu.” – Gemini.
Op bl 4 van 'The Gospel of Judas': “For Jesus in the Gospel of Judas, death is no tragedy, nor is it a necessary evil to bring about the forgiveness of sins. In the Gospel of Judas, unlike the New Testament gospels, Jesus laughs a great deal. He laughs at the foibles of the disciples and the absurdities in human life. Death, as the exit from this absurd physical existence, is not to be feared or dreaded. Far from being an occasion of sadness, death is the means by which Jesus is liberated from the flesh in order that he might return to his heavenly home, and by betraying Jesus, Judas helps his friend discard his body and free his inner self, the divine self.”