Aangeraak in die maalstroom van die Paasgebeure deur Jopie Coetzee, ’n lesersindruk

  • 1

Titel: Aangeraak in die maalstroom van die Paasgebeure
Skrywer: Jopie Coetzee
ISBN: 9780620795944
Uitgewer: Groep 7 drukkers
Koop die boek by Graffiti.

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

...
Elkeen van hierdie 42 verhale staan op sy eie, maar vorm saam ’n geheel as roman. Wat opvallend is, is hoe die skrywer in al hierdie verhale met slim taktiek en fyn nuanses die leser lok om dieper te lees, dieper na te dink en emosies te ervaar asof die leser self dáár was
...

“[...] die Lewende God wat Hemel en aarde geskep het. Hy heers nie deur middel van vrees en wraak nie, maar deur Liefde en Genade. Hy het Sy Seun gestuur sodat jy kan lewe.”

Jopie Coetzee se Paasroman lok baie belangstelling uit. Hierdie Christelike roman is ’n eerste in dekades. Ander soortgelyke werke is CJ Langenhoven se Skaduwees van Nasaret (Hertzogpryswenner van 1927) en FA Venter se epiese Man van Cirene (1957).

Met ’n sterk stylvorm, verteltrant en diep menslike karakterisering neem Coetzee die leser op ’n wonderlike reis na die Paasgebeure soos vertel deur gewone mense wat meegewerk het om die profesieë oor Jesus se kruisiging te vervul – sommige naamloos, ander vergete.

Met keurige en goedversorgde taalgebruik, en ’n tikkie humor, lees ons van Donkie Eienaar wie se donkie vir Jesus se intog in Jerusalem opgekommandeer is (Markus 11:1ᴮ–2). Hy het later besef dat hy deel was van God se raadsplan.

Daar is ook die naakte hartseer van Judas Iskariot se moeder, toe sy besef wat haar seun gedoen het (Matteus 26:24ᴮ). Dan is daar die dapper “Albasterflesvrou” wat Jesus met duur nardusolie gesalf het, onwetend ter voorbereiding van Sy dood. Die berou van die wag wat gedwing is om sy hand teen Jesus te lig, is hartverskeurend.

Elkeen van hierdie 42 verhale staan op sy eie, maar vorm saam ’n geheel as roman. Wat opvallend is, is hoe die skrywer in al hierdie verhale met slim taktiek en fyn nuanses die leser lok om dieper te lees, dieper na te dink en emosies te ervaar asof die leser self dáár was soos die Paasverhaal in werklikheid, en in die boek, ontvou:

  • Deel 1: Jesus se salwing in Betanië tot die Laaste Avondmaal
  • Deel 2: Verraad, verhoor en vonnisoplegging
  • Deel 3: Geseling, bespotting tot Kruisiging
  • Deel 4: Begrafnis en Opstanding
  • Deel 5: Die Vroue wat Jesus uit hulle eie middele versorg het

Ek wil die skrywer gelukwens met hierdie unieke boek, veral met die visuele wyse waarop die vertelling aangebied is. Die beskrywende gebeure beeld naakte emosies uit wat die leser sal aangryp.

Mag elkeen wat hierdie kragtige en stylvolle verhaal lees, aangeraak word soos baie deur die eeue heen, en nog steeds verwonderd wees dat Hy gekruisig is vir jóú.

Die boek is deur Groep7 uitgegee en bevat 285 bladsye in A5-sagtebandformaat.

’n Volledige boekbekendstelling is op YouTube by https://youtu.be/b_OdE0XzTSQ beskikbaar.

Lees ook:

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top