Nuut, alles nuut deur Jopie Coetzee, ’n lesersindruk

  • 0

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Titel: Nuut, alles nuut
Skrywer: Jopie Coetzee

Uitgewer: Jopie Coetzee

Jopie Coetzee se derde boek in sy Paastrilogie is Nuut, alles nuut, ’n lieflike versameling van gedigte en gebede oor die naweek wat die wêreld verander het.

Die ander twee werke in sy Paastrilogie is ’n roman Aangeraak in die maalstroom van die Paasgebeure wat handel oor gewone mense wat meegewerk het om Messiaanse profesieë oor Jesus se dood en opstanding te vervul; en ’n Paasdrama, Judas Iskariot se ouers – ’n lydensweekdrama oor dié wat agterbly na ’n familietragedie, gefokus op die ouers van die mees veragte persoon in die Christendom.

In Nuut, alles nuut word die tydlose Paasverhaal in helder, liriese taal oorvertel; getrou aan die Skrif, maar vars verwoord. Hierdie gedigte volg die gebeure van die lydenstyd en opstanding deur die oë van dié wat gekyk, geween en onthou het. Met beelde wat wissel tussen angs en genade, word elke gedig ’n meditasie oor goddelike liefde en menslike broosheid. Jesus se eie woorde word verbatim uit die Bybel aangehaal.

Nuut, alles nuut neem die leser op ’n tweeledige reis deur die Pase. Eerstens is daar ’n nuutskepping in die Afrikaanse digkuns, ’n heptalogie – sewe gedigte van sewe strofes elk – oor dié wat self daar teenwoordig was se emosionele belewenis van die woorde van óf die profete, óf engele, óf Jesus self. Die heptalogie ontvou chronologies soos die lydensgebeure afspeel, naamlik:

1 Sewe profesieë oor Jesus se laaste dae

  • Oor God se liefde vir die mens
  • Oor verraad teenoor Hom
  • Oor sy onregverdige verhoor
  • Oor sy marteling en vernedering
  • Oor sy kruisiging
  • Oor sy begrafnis
  • Oor sy opstanding

2 Sewe woorde by die tuin van Getsemane

  • Pelgrimstog na verraad
  • Smeek om genade
  • Wag vir verraaiers
  • Verraad
  • Verdedig die Seun van God
  • EK IS
  • Duisternis regeer

3 Sewe woorde in die hof

  • Jesus Christus in die huis van Annas
  • Die Seun van God in die huis van Kajafas
  • Jesus Christus voor die Joodse Raad
  • Die Koning van die Jode in Pilatus se paleis
  • Die Koning van konings in koning Herodes se paleis
  • Die Vredevors in Pontius Pilatus se hof
  • Die Lam van God in die soldate se kwartiere

4 Sewe terugskouings langs die Via Dolorosa:

  • Oor die verkose meisie
  • Oor die aankondiging van sy geboorte
  • Oor ’n bejaarde man se gebed wat verhoor word
  • Oor sy tyd as vlugteling
  • Oor sy bevestiging as Messias
  • Oor sy drie bedieningsjare
  • Oor sy lydenstyd

5 Sewe kruiswoorde

  • Oor vergifnis
  • Oor verlossing
  • Oor verhoudinge
  • Oor verwerping
  • Oor nood
  • Oor triomf
  • Oor hereniging

6 Sewe trane by sy begrafnis

  • Op die negende uur van hierdie dag
  • Net na die negende uur
  • Tussen die negende en tiende uur
  • Op die tiende uur
  • Net na die tiende uur
  • Tussen die tiende en elfde uur
  • Net na die elfde uur, Sabbat binnekort

7 Sewe opstandingswoorde

  • Jesus se profesie oor Homself
  • Eerste getuie
  • Eerste sendelinge
  • Openbaring met die breek van die brood
  • Heilige tydings van sy opstanding
  • Tot ’n hoër doel uitverkies
  • Twyfel word geloof

Die tweede deel van Nuut, alles nuut is ’n versameling van gedigte en gebede uit die skrywer se Paasroman, onder andere:

  • Lasarus van Betanië se gebed vir Jesus.
  • “Wat kan ek doen om Hom teen Annas en sy priesterhoofde te beskerm?”
  • Gebed vir die wagte wat Jesus se graf bewaak het.
  • “Aan sy liefde is daar geen einde nie.”

Daar is vele meer, asook twee pragtige toegifte vir die leser, spesiaal uit die skrywer se hart.

Lees Nuut, alles nuut stadig. Vertoef by die misterie van die grootste liefdesgeskenk van alle tye. Die gedigte lees maklik, geskryf in ’n elegies-verhalende styl. Dit is bedoel vir persoonlike geloofsgroei en ook vir dramatiese voorlesing of verhoogopvoering gedurende die lydenstyd.

Dit is ’n merkwaardige digbundel wat enige leser sal waardeer.

Lees ook:

Aangeraak in die maalstroom van die Paasgebeure deur Jopie Coetzee, ’n lesersindruk

Judas Iskariot se ouers deur Jopie Coetzee, ’n lesersindruk

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top