Reus en Raka? ’n Lesersindruk van Die reus uit die bos deur Piet van Rooyen

  • 0

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Titel: Die reus uit die bos
Skrywer: Piet van Rooyen

Uitgewer: Imprimatur

As jy ’n Van Rooyen-roman lees, kan jy weet daar sal spanning wees, êrens verrassende kinkels en vir seker sal jy moet nadink oor een of ander aktuele of dan betrokke aangeleentheid in die samelewing.

Wat my besonder gefassineer het, is dat NP van Wyk Louw se klassieke epos, Raka, iewers saam met ’n sokkerspan in Die reus uit die bos verskuil lê, maar ook ’n lens vir die lees van die roman is. Natuurlik was ek uiters nuuskierig om self dié reus uit die bos te ontmoet. Die vraag: Is daar enige moontlike parallelle tussen Reus en Raka as karakters en moontlike verbande tussen Reus as roman en Raka as epos na te speur?

Louw se Raka het natuurlik na 85 jaar reeds ’n lywige kanon van interpretasie. Alhoewel Louw self oortuig was van die selfstandigheid en outonomiteit van die gepubliseerde teks, het hy hom wel op navraag in die radiopraatjies wat as Rondom eie werk (1970, Tafelberg) gepubliseer is, uitgelaat oor die interpretasiemoontlikhede van Raka. In “Praatjie no 3” (bl 32) som Louw self die verskillende interpretasiemoontlikhede op wat reeds deur kundiges gegee is. (Gaan die netjiese verduidelikende samevatting gerus na.)

Vir my bly Louw se uiteensetting van die simbool die sleutel van sy praatjie. Hy kontrasteer die allegorie van sy duidelike enkele betekenismoontlikheid met die simbool. Louw dui self aan dat die moontlikheid dan deurskemer: “[...] dat die goeie simbool iets is wat hom nie deur een of ander tydgebonde beskouing wil laat vasvang nie” (bl 33).

En dan:

Maar nou is die simboliese vers juis van dié soort wat nie klaar- en uitpraat nie. U kan hom maar “klitsgras in die poësie” [of prosa] noem; en as hy aan jou kom sit, gaan hy dalk saam met jou. (bl 31)

Verder:

Die simbool toon eerbied vir die rykheid en volheid van die heelal, van die geskiedenis, van die mens; dit wil afstand doen van die pretensie dat die digter [in die geval die romanskrywer] volheid en rykheid met een verstandelike formulering kan vasvat. (bl 34)

Is Reus ’n blote spanningsvolle roman wat aansluit by die gewelddadige wêreld waarin ons ons nou bevind? Of toon Reus met Raka as interteks in jukstaposisie (wisselwerking) “eerbied vir die rykheid en volheid van die heelal”?

Fynkyk na die voorblad en omslag spreek reeds van angs (deur die hande teen ’n ruit?); ’n uiters vae gesig of monster, met die suggestie van laag op laag (palmses) deurdat jy ’n blok / raam / venster op dalk nog ’n blok kry; en die voorkoms van die letters van die titel is onaf, onnet, selfs spookagtig.

Die titel self verwys na iets onwaarskynliks – ’n reus. Dit is egter ’n baie spesifieke reus, want dit is dié reus. Bos roep iets van verwarring, verstrengeling op. Bos is ook ’n moderner weergawe van woud, soos ons dit in Raka aantref. Reus sou simbolies kon dui op ’n uitsonderlik groot of eerder groteske wese – ’n figuur waarvan die impak nie misgekyk kan word nie. Bos of woud verwys tradisioneel simbolies na die primordiale, die oerherkoms.

Hiermee in my agterkop begin my soekende leeservaring van Die reus uit die bos.

Dieselfde volgorde van ontmoetings in Raka word in die roman behou. Trouens die insetsinne van verskillende hoofstukke of eenhede vertoon ’n duidelike parallel met die Louw-epos. Raka begin met: “Die vroue het hom die eerste gewaar” teenoor: “Die vriendinne het hom aanvanklik in die park raakgeloop.” Waar Raka begin met ’n heel eerste gewaarwording, dui aanvanklik en raakgeloop op die voorafbestaan van Raka. In die moderne hede loop die vriendinne die reus raak. Vriendinne dui in ’n groter samelewing op mense wat mekaar as bondgenote selekteer. Anders as die isolasie in Raka, word die teenwoordigheid van ’n ganse samelewing deurlopend geïmpliseer. Die primordiale Raka van die epos leef voort in ’n ganse moderne samelewing en oorbrug tye tot in die hede en toekoms.

Anders as in die Raka-teks, is daar een vrou, Tia, wat nie teenwoordig is tydens die ontmoeting nie. Sy het egter die visioen of ontmoeting in die gimnasium. Daar is geen parallel in Raka nie. Sy verteenwoordig die moontlikheid van ontmoetings met die reus op enige plek – die park, maar ook in die gimnasium. Dit demonstreer die grootsheid van die reus wat enige plek kan binnedring. Die emosies van die vroue soos in Raka word duidelik beklemtoon: angs, vrees en aan die ander kant fassinering en seksuele of sensuele begeerte.

Die ontmoeting tussen Raka en die kinders vind plaas tydens hulle normale spel by die seekoeigate. In die gemoderniseerde Reus word tegnologiese spel die ontmoetingsplek. Soos in die epos, dring die spel die kinders se gedagtewêreld binne.

In die oorspronklike epos vind ook die ontmoeting tussen Raka en die mans in die eerste sang, getiteld “Raka”, plaas. Doepie besef in Reus die noodsaak om die misterieuse karakter wat die vroue ontmoet, te ondersoek. Hy volg eerste die spoor. Die mans se direkte ontmoeting met die reus, anders as die oorspronklike indirekte ontmoeting deur Raka se jagprooi, vind plaas op hulle jaarlikse jagtog. Die eerste kontak vind plaas by die kitsbank. Die volgende is ’n aanval deur die reus en sy sokkerspan, terwyl hulle die pap band omruil. Met verwoede vaart word die wieldop waarin die moere was raakgery, sodat die wielmoere onvindbaar is. Die reis tot in die jagveld word skielik angswekkend, want “om elke draai is daar die moontlikheid van ’n lokval deur die sokkerspelers”.

Die jag lewer wel sukses, maar dan volg die biltongdiefstal. Die reus verander van gedaante –’n wolf, ’n soort wolf, ’n pootafdruk, ’n mensespoor? Volgens die San is die dief ’n ou bekende – Kxau-gobobob. Al volg hulle die spoor, sal hulle hom nie kry nie. Die spanning bou op terwyl die manne soos Koki in die hitte van die dag die spoor volg vir die jag. Op soek na Raka, het die hitte op Koki neergebrand, “want die stil uur / van die hitte was daar”. Terwyl ek as leser gespanne wag dat die spoor na die wolf sal lei, trap Louis in ’n onsigbare gat vol ysters besmeer met menslike ekskresie. Omdat hy sy been kan verloor, moet hulle dadelik terugdraai. Die spanning duur. Die wolf is nie gevind nie. Verskeie kinkels volg in die roman: huurmoord, kinderverminking, verkragting.

Doepie is die een wat bly soek. Hy volg ’n baie interessante soekreis, soos Koki wat die gevaar wil vind en uitwis. Kry hy dit wel reg? Lees gerus om uit te vind.

Persoonlike perspektiewe na die lees van Die reus uit die bos:

  • Die onvaspenbaarheid van die reus deur sy name en verskillende beskrywings maak duidelik van die reus meer as ’n blote reus en eerder ’n primordiale simboliese karakter.
  • Soos in die begin genoem, bly die reus ’n misterieuse karakter wat bydra tot die mistiek.
  • Die Raka-teks word deurlopend as interteks op ’n subtiele wyse gebruik as verryking en verwysing.
  • Dit blyk duidelik dat, alhoewel die teks op eerste vlak ’n storie wil wees, voorwaar ’n spannende verhaal om te lees, die teks neig na die simboliese.
  • Die Raka-interteks dra by tot die betekenis van die hoofteks.
  • Na my mening sou die Reus-teks deur iemand wat onbekend is met Raka en Van Wyk Louw, ook as simbolies gelees word.
  • Terwyl Raka die teks verryk en vir die leser ’n sleutel gee, help dit ook uiteraard baie. Tog reken ek dat die teks op sigself simbolies gelees kan word.

Hierdie Van Rooyen-teks bied véél vir die leser wat na spanning soek EN die leser wat op die simboliese vlak dieper wil lees.

Lees ook:

Piet van Rooyen (1953–)

Hinterland deur Piet van Rooyen: ’n lesersindruk

Die mens agter die skrywer: ’n lesersindruk van Piet van Rooyen se Die rooi boks

Biebouw-resensie: Reisiger te perd deur Piet van Rooyen

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top