Nicoline Woest is op 28 Augustus 1960 gebore. Sy matrikuleer aan Hoërskool Worcester en studeer aan die Universiteit Stellenbosch. In 1986 voltooi sy ’n MA-graad, met die titel “Die kenteringsfiguur in die poësie van NP van Wyk Louw”. In 2006 promoveer sy onder Henning Snyman aan die Universiteit van Kaapstad. Haar proefskrifonderwerp is “Pyn en patos: die kreatiewe krag van pyn vir die skep van patos in en deur die literêre teks”.
Sy hou skool in Stellenbosch, is predikantsvrou in Bothasig en Leonardville (Namibië), gee aflosklasse aan UNAM en hou verder skool aan Windhoek Gimnasium, WAP en WHS. Sy is intensief betrokke by NIED en by die Namibiese kurrikulum, sowel as eksterne eksaminering. Voortgesette onderwysersopleiding by die PVATN is een van haar passies. Op Kanaal 7 en Hartklop FM bied sy onderskeidelik saam met Petronella Genis ’n taalpraatjie, Woordspoor, aan en weekliks ’n kort insetsel oor Afrikaans 100 in Attie van Wyk se Saterdagprogram.