Rassisme in Suid-Afrika vra vir ’n multidimensionele benadering

  • 2

Verskillende kleure pastelle: Canva

Rassisme in Suid-Afrika dateer terug na die vroeë 1600’s sedert die eerste interaksies tussen volke van Afrika, Asië en Europa langs die kus van Suider-Afrika. Jan van Riebeeck se voet aan wal sit hier byna vier eeue gelede, in 1652, het die begin van die Nederlandse kolonisasie van Suid-Afrika ingelui. Voor die demokratiese bestel wat in 1994 gevestig is, het wit Suid-Afrikaners baie voorregte en regte geniet wat inheemse volke van die land nie beskore was nie. Voorbeelde van sistematiese rassisme in Suid-Afrika se geskiedenis sluit in gedwonge verskuiwings, rasse-ongelykheid, onregverdige hulpbronverdeling en segregasie.

Koloniale rassisme

Die suidelike punt van Afrika wat die moderne Suid-Afrika sou word, was gunstig geleë vir die Europese (hoofsaaklik Portugese en Nederlandse) handelaars wat in Oos-Indië handel gedryf het. In 1652 het die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie die Kaapkolonie aan die Kaap van Goeie Hoop gestig sodat Nederlandse skepe wat van en na Batavia vaar, vars voedsel sou hê, aangesien baie seevaarders en matrose van hongersnood omgekom  het. Talle Nederlandse setlaars het na die Kaap geëmigreer en nedersettings hier gestig.

Die werk was baie en die hande min. Nederlandse slawehandelaars het begin om slawe op groot skaal in te voer, en teen die laat 18de eeu het Arabiese en Europese handelaars krale, brons, lap, alkohol en vuurwapens verhandel in ruil vir slawe, ivoor, goud en leer. Indiërs is reeds sedert die 1600’s as slawe na die kolonie gebring, en teen die vroeë 18de eeu was 80% van die slawe afkomstig van die Indiese subkontinent, Batavia, Java en Madagaskar. Krotoa se man, Pieter van Meerhoff, het op ’n slawe-ekspedisie na laasgenoemde eiland gesterf.

........
Vir die Nederlanders was slawe net eiendom wat gekoop of verkoop kon word.
........

Vir die Nederlanders was slawe net eiendom wat gekoop of verkoop kon word. Voorbeelde van diskriminerende praktyke teenoor slawe tydens die koloniale tydperk is volop en sluit in geseling (geslaan met swepe), honger, gedwonge arbeid vir lang ure, die dra van verpligte paspoorte, ‘n verbod op verblyf of werk in sekere gebiede, en die verbod om skoene te dra (sonder skoene was dit moeilik om te vlug); hulle mog ook nie op die sypaadjies loop nie.

Rassisme tydens apartheid

Apartheid was ’n stelsel van rassesegregasie wat deur die wit minderheidsregering van die Nasionale Party (NP) van 1948 tot 1994 afgedwing is. In dié tyd het baie apartheidswette die regte van Indiërs en swart en bruin Suid-Afrikaners ingeperk:

  • Die Bevolkingsregistrasiewet het burgers gedwing om hulself as ’n spesifieke ras te registreer, wat die grondslag gevorm het vir rassespanning in Suid-Afrika.
  • Die Wet op Bantoeselfregering van 1959 het die verskuiwing van swart mense na swart “tuislande” soos die Transkei en Zoeloeland afgedwing. Dit het baie minder grondgebied vir swart burgers gelaat ten spyte daarvan dat hulle die meerderheid van die bevolking uitgemaak het. Swart mense wat na hierdie gebiede verhuis het, het hul status as Suid-Afrikaanse burgers verloor.
  • Die Groepgebiedewet van 1950 het duisende mense ontheem gelaat toe hulle gedwing is om hul huise agter te laat en na gebiede ver van die stadskern gestuur is om daar ’n nuwe lewe te begin.
  • Die Paswet van 1952 het swart Suid-Afrikaners gedwing om altyd hul pasboeke by hulle te hê. Sou hulle sonder hul pasboek gevind word, is hulle in hegtenis geneem. Dit het tot groot ongelukkigheid en woede onder die swart bevolking gelei, en tot die historiese optog waar duisende vroue op 9 Augustus 1956 (vandag Vrouedag) na die Uniegeboue opgeruk het.
  • Gedurende die 1970’s en 1980’s het swart vakbonde ’n belangrike rol in die sg struggle (anti-apartheidstryd) gespeel. Organisasies soos Cosatu het stakings afgedwing wat besighede ontwrig en die apartheid-ekonomie verswak het.

Vryheidsmanifes

Apartheidswette het weerstand binne die swart gemeenskap ontketen, wat gelei het tot die ontstaan van verskeie bevrydingsbewegings. In 1902 stig Abdullah Abdurahman die African Political Organisation (APO). Die ANC is in 1912 gestig, die South African Indian Congress in 1921 en die South African Coloured People’s Organisation in 1953. Op 26 Junie 1955 het genoemde organisasies byeengekom in Kliptown, Soweto om hul doelwitte te formuleer, wat tot die ontstaan van die Vryheidsmanifes gelei  het.

Sharpeville-bloedbad

Op 21 Maart 1960 het die Pan Africanist Congress (PAC), ’n wegbreekgroep van die ANC, protesaksies teen paswette georganiseer wat tot die Sharpeville-bloedbad gelei het toe die polisie met lewende ammunisie op protesgangers geskiet het en 69 mense gesterf het. Dié voorval het skokgolwe deur die wêreld gestuur en sou tot die wêreldwye veroordeling van apartheid lei. Die NP-regime se reaksie was om die ANC en PAC te verban, waarna hierdie groepe geheime organisasies geword en hul na die gewapende stryd gewend het.

Swartbewussynsbeweging

........
In die laat 1960’s het die Swartbewussynsbeweging onder leiding van Steve Biko swart Suid-Afrikaners aangemoedig om hulle identiteit te omarm. Dit het ’n nuwe generasie geïnspireer en studente teen apartheid gemobiliseer.
........

In die laat 1960’s het die Swartbewussynsbeweging onder leiding van Steve Biko swart Suid-Afrikaners aangemoedig om hulle identiteit te omarm. Dit het ’n nuwe generasie geïnspireer en studente teen apartheid gemobiliseer. Die apartheidsregime se besluit om Afrikaans as die medium van onderrig in swart skole af te dwing, het die Soweto-opstand op 16 Junie 1976 ontketen. Duisende studente het geprotesteer en baie is deur die polisie doodgeskiet. Die jeugopstande was ’n kantelpunt in die struggle, omdat dit die brutale aard van apartheid ontmasker en globale druk op die apartheidsregering verskerp het.

United Democratic Front (UDF)

Die stigting van die United Democratic Front (UDF) in 1983 onder leiding van Allan Boesak het ’n nuwe tydvak ingelui. Meer as 400 anti-apartheidsorganisasies is verenig (soos die woord united aandui) met die gemeenskaplike doel om vir swart mense se demokratiese regte te veg. Suid-Afrikaners op voetsoolvlak is gemobiliseer, wat kerke, sportliggame, vakbonde, studente en burgerlike organisasies betrek het, wat nog nooit voorheen gebeur het nie.

Mandela vrygelaat

In 1989 het FW de Klerk president van Suid-Afrika geword en hervormings geïnisieer omdat apartheid onhoudbaar geword het. Die verbod op die ANC en die PAC is in 1990 opgehef en Nelson Mandela is na 27 jaar in die tronk vrygelaat. Onderhandelinge tussen die regering en bevrydingsorganisasies het tot ’n nuwe grondwet en Suid-Afrika se eerste demokratiese verkiesing op 27 April 1994 gelei. Mandela is tot die eerste swart president verkies.

Amptelik was dit die einde van apartheid in Suid-Afrika.

Postpartheid rassisme

Ongelukkig was dit nie die einde van rassisme nie, want die hartseer en skokkende feit is dat ’n land wat so hard vir sy vryheid moes veg, steeds nie van sy koloniale en apartheidsverlede kan ontsnap nie. In die lig van ons rassistiese en verdeelde verlede en ons strewe na  ’n nierassige Suid-Afrika soos uitgespel in die 1994-Grondwet, word voorvalle van rassisme gereeld in die media gerapporteer. Die doel van hierdie artikel is egter nie om individue te blame and shame nie, en baie gevalle is in elk geval sub judice, en die reg moet sy gang gaan.

........
Wat wel duidelik is, is dat rassisme nie kleur ken nie. Aanvanklik was die kollig slegs op wit mense wat rassisties teenoor swart mense opgetree het, maar deesdae kom rassistiese insidente op alle vlakke van die Suid-Afrikaanse samelewing voor.
........

Wat wel duidelik is, is dat rassisme nie kleur ken nie. Aanvanklik was die kollig slegs op wit mense wat rassisties teenoor swart mense opgetree het, maar deesdae kom rassistiese insidente op alle vlakke van die Suid-Afrikaanse samelewing voor. Nelson Mandela het reeds in 2001 die toenemende onverdraagsaamheid van swart Suid-Afrikaners teenoor ander rassegroepe gekritiseer. Milton Shain van die Universiteit van Kaapstad beweer dat Indiërs, bruin en wit minderhede toenemend deur die ANC en sy lede geteiken word, terwyl die Pan-Afrika Onafhanklike Navorsingsnetwerk aanvoer dat persepsies van diskriminasie onder minderheidsgroepe sedert 2011 toegeneem het.

Die DA wys by monde van Gwen Ngwenya, LP daarop dat rassisme gemik op wit mense dikwels onder die mat gevee word, en ’n vergelykende studie deur die vakbond Solidariteit het aan die lig gebring dat die Suid-Afrikaanse media meer fokus op wit-op-swart rassisme as andersom. Daar is ook bevind dat die Menseregtekommissie (MRK) meer geneig is om wit-op-swart rassisme te ondersoek. Die FW de Klerk Stigting rapporteer dat sommige sosialemediaplasings geweld teenoor wit Suid-Afrikaners aanmoedig en het ’n beroep gedoen op die MRK om tussenbeide te tree.

Enkele onlangse voorvalle verdien egter kommentaar.

Hedendaagse rassisme

’n Aanlyn insetsel van ’n onlangse episode van die Open Chats-podsending het woede ontlok nadat vier swart tieneraanbieders aanstootlike opmerkings gemaak het oor lede van die bruin gemeenskap. Sosialemediagebruikers het woedend gereageer en die opmerkings as rassisties en diep oneerbiedig teenoor ’n gerespekteerde Suid-Afrikaanse gemeenskap bestempel. Die aanbieders het by monde van hul prokureur om verskoning gevra.

Terselfdertyd het dit aan die lig gekom dat Gayton McKenzie, ’n minister in die RNE, na bewering die k-woord gebruik het om na swart mense te verwys in plasings wat hy soveel as 14 jaar gelede gemaak het. McKenzie het sy verskoning aangebied en berou getoon vir dié uitlatings. Hy sê hy voel skaam daaroor, want hy is vandag ’n heel ander mens as destyds.

Die sing van die lied “Kill the boer, kill the farmer” deur die EFF-leier Julius Malema laat talle wit mense hulle kwaai vererg. Malema beweer die lied is en was nog altyd ’n vryheidslied en is nie op enige persoon gemik nie. Dit is ook die siening van die Konstitusionele Hof, alhoewel die sing van dié lied deur baie wit mense as rassisties ervaar word. (Lees ook hierdie onlangse berig aangaande die gelykheidshofbeslissing rondom Malema se sing van die betrokke lied.)

Quo vadis?

Dit is nie my plek om te veroordeel en sankies te bepleit nie (daar is prosesse wat hul gang moet gaan). Volwasse persone behoort te weet dat gegee Suid-Afrika se geskiedenis van rassisme, die gebruik van sulke woorde pynlik is. Enigeen in ’n leiersposisie moet verantwoordelikheid neem vir sy of haar optrede en respek betoon vir ander Suid-Afrikaners. Sulke uitlatings ondermyn ’n vredeliewende naasbestaan en die demokrasie waarvoor so baie mense hul lewens opgeoffer het, en maak ’n bespotting van die opofferings van struggle-helde soos Mandela, Beyers Naudé en Abduragman.

........
Die vraag is hoe ons vorentoe beweeg. ’n Nasionale dialoog is ’n goeie begin, maar beslis nie die enigste aksie wat nodig is nie. ’n Multidimensionele benadering is die enigste uitweg. Rassisme is te kompleks om te dink dit kan sito-sito opgelos word. Dit verg ’n doelgerigte en nasionaal onderhandelde tweeledige strategie: beide polities én opvoedkundig.
........

Die vraag is hoe ons vorentoe beweeg. ’n Nasionale dialoog is ’n goeie begin, maar beslis nie die enigste aksie wat nodig is nie. ’n Multidimensionele benadering is die enigste uitweg. Rassisme is te kompleks om te dink dit kan sito-sito opgelos word. Dit verg ’n doelgerigte en nasionaal onderhandelde tweeledige strategie: beide polities én opvoedkundig.

Opvoeding en onderwys

Eerstens vereis dit dat ons as ’n land sal erken dat ons ’n grondliggende en endemiese probleem met rassisme het wat oor ’n tydperk van vier eeue deel van die Suid-Afrikaanse DNA geword het. Eers wanneer ons erken ons het ’n probleem, kan ons begin fokus op die oplossings. Daardie oplossings begin by die huis. Daar is ’n goeie rede waarom tieners hul medelandsburgers rassistiese woorde toesnou: Hulle het dit by hul ouers gehoor.

Die opvoeding moet voortgesit word op skool. ’n Vak soos LO moet grondig hersien word met die voorvereiste dat slegs kundige, opgeleide onderwysers met ’n grondige kennis van sielkunde en ons land se geskiedenis die vak moet aanbied. Te veel word LO afgewater en deur elke Jan Rap en sy maat aangebied. So word ’n groot onreg teenoor die jeug gepleeg.

As volwassenes het ons die kinders in die steek gelaat, en ons moet uiters versigtig trap hieroor. In Elsa Joubert se bekroonde roman Die swerfjare van Poppie Nongena sê Poppie teen die einde (bl 276): “Want dis nou uit my hande geneem, dis oorgegee in my kinders se hande. Dis nou die kinders wat voortgaan.” Hierdie profetiese woorde het gelei tot die jeugopstande van 1976. Suid-Afrika het gebrand. Ek het 1976 eerstehands beleef as ’n student. Glo my, Suid-Afrika wil nie weer ’n 1976 beleef nie. Reeds het ons by die Nasionale Konvensie tekens gesien dat jongmense so jonk as graad 11 hul stemme begin dik maak.

Polities

Vingers wys ook na die regering. Daar is ’n groeiende gevoel dat die ANC se voorgeskrewe rasverteenwoordiging eintlik neorassistiese wetgewing is omdat dit tot rassespanning lei. Helen Zille het al beweer daar is vandag meer rassistiese wette as onder apartheid. Die historikus Duncan du Bois stem saam. Hy verwys na die politieke ontleder James Myburgh, wie se navorsing toon dat die apartheidregering 59 rasgebaseerde wette in die jare wat hulle aan bewind was ingestel het, terwyl die postapartheid ANC-regering in net 25 jaar reeds 90 rasgedrewe wette aanvaar het. Die vorige vorm van nasionalisme is bloot vervang deur ’n nuwe vorm van nasionalisme.

........
Het dit nie tyd geword om wette wat rasgefundeerd is, te skrap nie? Die tendens om ons, 31 jaar na demokrasie, steeds met etikette om die nek te identifiseer in terme van velkleur, is uitgedien. Hoe gouer ons woorde soos swart, wit, bruin en Indiër verwyder uit ons woordeskat, hoe gouer sal almal, veral ons kinders, daarvan afsien om mekaar sekere skelname te noem.
........

Het dit nie tyd geword om wette wat rasgefundeerd is, te skrap nie? Die tendens om ons, 31 jaar na demokrasie, steeds met etikette om die nek te identifiseer in terme van velkleur, is uitgedien. Hoe gouer ons woorde soos swart, wit, bruin en Indiër verwyder uit ons woordeskat, hoe gouer sal almal, veral ons kinders, daarvan afsien om mekaar sekere skelname te noem. Meer as ooit benodig ons om minder te hoor van Afrikaner- en bruin belange. Wat ons nou nodig het, is ’n gemeenskaplike doelwit wat Suid-Afrikaners saambind en minder in hokkies plaas. Hierin speel leierskap ’n kardinale rol, iets waarin Ramaphosa jammerlik misluk. Het ons al sy stem oor die jongste rassistiese voorvalle gehoor?

In dieselfde asem moet ook wegdoen met Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB). Die redes wat Ramaphosa verskaf om hiermee voort te gaan, is lank reeds nie meer relevant nie. Danksy nuwe inligting weet ons nou dat slegs enkeles, in die binnekring van die ANC, daarby baat.

Dalk is dit tyd om Nelson Mandela se raad te volg: “As die ANC-regering aan julle doen wat die NP-regering aan ons gedoen het, moet julle aan die ANC doen wat ons aan die NP gedoen het: Raak van hulle ontslae!”

Bron

Wikipedia. Resistance to Apartheid in South Africa – World History Edu

Michael le Cordeur is emeritus professor in Opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch en voorsitter van die direksie van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans. 

Lees ook:

Onthou die gevare van ongeërgdheid

Bruin werknemer vlek beweerde boeliegedrag teen wittes oop by Stellenbosch Munisipaliteit

Yes for national dialogue, but don’t forget municipal services

Die Nasionale Dialoog: ’n berekende strategie, of ’n geldverkwistende “talkshop”?

25 jaar later: Hein Willemse kyk terug

25 years later: Christi van der Westhuizen reflects

25 jaar later: Bettina Wyngaard kyk terug

25 years later: Karabo Kgoleng reflects

25 jaar later: Michael le Cordeur kyk terug

 

  • 2

Kommentaar

  • Francois Verster

    "Hoe gouer ons woorde soos swart, wit, bruin en Indiër verwyder uit ons woordeskat, hoe gouer sal almal, veral ons kinders, daarvan afsien om mekaar sekere skelname te noem." Helaas, dit sal nooit gebeur nie, maar indien ons diversiteit eerder omarm en mekaar se kulture leer ken, kan vordering wel gemaak word. Bied vakrigting in daardie verband aan, soos Kultuurstudies, en voed die jonges as danig op.

  • Die Britse regeerders in SA was net so rassisties, bv verskillende konsentrasiekampe vir swartes en wittes. In Natal was daar ook 'n wet teen trou met anderskleuriges. Hulle het ook slawe besit. As jy geskiedenis wil aanhaal, gebruik meer bronne.

    Die woord rassisme het eers na die 2de Wéreldoorlog 'n gonswoord geword en word nou vrylik dwarsoor die wereld gebruik. Is dikwels erger as om moord te pleeg.

    Die Kannemeyer-saga se bewerings in Stellenbosch sou, indien dit blyk waar te wees, kon bewys dat sekere groepe rassisties sou kan wees om transformasie te bevorder. Amper 40 jaar van bevoordeling van plekke by universiteite, beurse en werkreservering, behoort daar genoeg voorheen benadeeldes te wees om poste vul.

    Kyk na skaars en noodsaaklike vaardighede en lei mense daarvoor op.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top