Dit is 25 jaar na die eerste demokratiese Suid-Afrikaanse verkiesing. Met verkiesingsdag 2019 om die draai, deel Hein Willemse sy herinneringe van 27 April 1994.
Dit was ’n lang pad tot hier
Dit het gereën, ’n fyn Kaapse reën. Oor die damme aan die voet van die Helderberg het ’n dynserigheid opgeslaan tot onder by Paardevlei, aan die kus by die Strand.
Ten spyte daarvan dat ons eers laatnag, of liewer vroegoggend, tuisgekom het, was ons reeds vroeg op, besig met die gewone dinge wat rigting aan ’n dag gee.
.....................................
“Ek wou nie aan iets anders dink nie: dit was ’n lang pad tot hier.”
.....................................
Ons het die vorige aand by vriende gekuier en langer as beplan gebly, want net toe ons wou loop, het een van hul vriende, Clarey, opgedaag en verslag kom doen oor die stryk van die ou vlag om middernag in die Kaapse middestad en die einde van die ou Suid-Afrika, en die hys van die nuwe vlag.
“Die vlag met die onderbroeksnit,” het een van die geselskap geskerts.
“Nee, dis nogals mooi, warm helder kleure,” het Clarey volgehou en vertel hoe hulle “Freedom, Freedom!” geskree en “Nkosi sikelel’ iAfrika” gesing het toe die nuwe vlag gehys is.
En daar en dan het een van ons ’n heildronk op die NSA, die Nuwe Suid-Afrika, ingestel.
Koffie in die hand het ons na die eerste televisiebeelde gekyk van mense wat in lang toue geduldig staan en wag, en geluister vir nuus oor die motorbom wat by Jan Smuts-lughawe ontplof het.
“There’s no news about the Cape,” het my vrou gesê en gevra wanneer ek reg is om te gaan stem.
“… laat die reën eers opklaar.”
Toe ons uiteindelik by die stemlokaal opdaag, staan die tou vyftig of meer diep, en later is daar ’n rumoer met mense wat gevra word om opsy te skuif sodat ’n Baie Belangrike Persoon kan kom stem.
Die polisie vorm ’n kordonnetjie om Allan Boesak, die Wes-Kaapse ANC-premierskandidaat, en begelei hom en sy gesin en sy bejaarde ma na die stadsaaldeur.
In die oploop tot stemdag was daar kennisse wat besluit het dat hulle glad nie gaan stem nie, “Dié is ’n Westerse komplot met die Wêreldbank, IMF en Amerika vooraan, en Mandela-hulle het ingekoop op die charade!”
Ek het ’n ander keuse gemaak en kon nie verhelp om, nadat ek my kruisies op die verskillende stembriewe getrek het, te dink aan ons lang pad tot hier nie: aan moederskant, my grootgrootgrootoupagrootjie van die Coromandelkus in Indië wat in kettings aan die Kaap de Goede Hoop aangekom het; my oupa, die aarbeikleinboer, wat gesê dat “elke keer as die grondmeter” kom meet het, is sy grondjie in Raithby kleiner; my Chainokwa-grootgrootouma van Genadendal; my oumagrootjie en ouma wie se mense, die Oliviers van Somerset-Wes, moeite gemaak het om hulle aan die ander kant van die grensdraad te kom besoek; aan vaderskant, my grootoupagrootjie, die wamaker van Waenmakersvallei; my oupa, die skrynwerker wat die balkonne in die Paarlse stadsaal gemaak het; my ouma wat, nadat die Groepsgebiedewet haar uit haar huis geskop het, bitterlik gehuil het, ’n beroerte gekry het en voor haar dood vir elf jaar bedlêend was.
Ek wou nie aan iets anders dink nie: dit was ’n lang pad tot hier.
Al het die triestigheid van die oggend gelig, het ons ’n kaggelvuur aangesteek en later die middag het ons vriende, Christa en Trevor, oorgekom, en nog later meer mense, en ons het ’n glasie port geskink. Trevor het gesê dat hy gehoor het dat daar ’n tekort aan stembriewe en vingerink in Nyanga en Gugulethu is.
“Last kick of a dying horse,” het my vrou gesê.
Pretoria
30 April 2019
Kommentaar
Is Hein Willemse se vrou nie Afrikaans magtig nie?