25 jaar later: Bettina Wyngaard kyk terug

  • 3

Dit is 25 jaar na die eerste demokratiese Suid-Afrikaanse verkiesing. Met verkiesingsdag 2019 om die draai, deel Bettina Wyngaard haar herinneringe van 27 April 1994.    

27 April 1994. Vir baie mense is dit die oomblik dat demokrasie aangebreek het.

Dit was nie.

Dit was dalk die eerste keer dat die oorgrote meerderheid van Suid-Afrikaners hulle reg om te stem kon uitoefen. Vir dié van ons wat agter die skerms gewerk het, was dit die kulminasie van maande se klipharde werk. Ek was opgelei as vredesmonitor. Ek het ook opleidingswerk gedoen vir die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK).

.....................................

“Die idee dat hulle ewe veel reg het om daar te wees, het maar moeilik gekom.”

.....................................

My werk as vredesmonitor het beteken dat ek enige politieke byeenkomste waar die moontlikheid vir konflik bestaan het, moes bywoon en bereid wees om op te tree as daar botsings kom. Vooraf was ons in konflikhantering en ontlonting opgelei. In ons blou pette en blou T-hemde moes ons die kalmerende teenwoordigheid wees wat troebel waters kon laat bedaar.

My opleidingswerk het beteken dat ek na plase en plakkerskampe moes gaan om mense te leer wat verkiesings beteken, wat hulle kan verwag op stemdag, en wat hulle mag doen en nie toegelaat was om te doen nie.

Baie plaaswerkers was ongeletterd, wat die opleiding soveel meer uitdagend, maar ook soveel meer bevredigend gemaak het. Ek het geweet dat ek aan elke persoon met wie ek in aanraking kom, se lewens ’n verskil maak. Soms, wanneer die plaaseienaars ons weggejaag het, ten spyte van die feit dat hulle geweet het ons kom namens die OVK, moes daai konflikhanteringsopleiding vinnig gebruik word.

Daar was wantroue en vrese van alle kante wat besweer moes word. Baie mense het geglo dat daar kameras in die stemlokaal is wat kan sien vir wie hulle stem. Plaasboere het geglo ons is opswepers wat hulle mense kom aanhits om te staak. Baie mense het geglo dat hulle die dag na die verkiesing huise en plase gaan kry.

Ons taak was om daai vrese te besweer, onwaarhede uit te lig en terselfdertyd mense aan te moedig om deel te neem aan die proses.

Toe kom 27 April 1994. As ek reg onthou, was ek net na 4-uur die oggend by die stemlokaal waar ek sou werk. Teen halfvyf het ons stemme begin hoor buite die lokaal. Ek het gaan kyk. Mense het groepies-groepies aangestap gekom. Sommige het flesse koffie en tee saamgebring. Sommige was warm toegedraai in komberse.

Kort na vyf het die spontane gesing begin. Tien minute voordat ons die lokaal oopgemaak het, is ek weer uit, om te kyk hoeveel mense daar is. Dis die laaste keer daai dag dat ek uit kon kom. Toe het die tou al by die lokaal se gronde uit en in die pad af gestrek.

Wat ek die beste onthou, is die absolute geduld waarmee mense hul beurt afgewag het. Ek moes die ongeletterde mense help – en daar was baie. Oumense het in trane uitgebars wanneer hulle vir die eerste keer hul kruisie kon maak. Ek het gehoor van my kollegas wat buite die saal diens gedoen het, moes ’n paar keer tussenbeide tree wanneer plaaswerkers hulle plek in die tou wou afgee vir ’n wit persoon. Die idee dat hulle ewe veel reg het om daar te wees, het maar moeilik gekom. Vir baie wit mense was die idee dat hulle nie net vorentoe kon stap en eerste gehelp word nie, ewe moeilik.

Maar saam het ons deur die dag gekom. Die mense het die hele dag lank net aangehou kom. En die gesing en die gedans buite die lokaal het aangehou. Dit was soos kermis, maar met mense in toue.

45 minute voor die stembusse sou sluit, kon ek vir die eerste keer wegglip om by my stemlokaal te gaan stem. Ek het gedink ek sou afgestomp wees nadat ek al heeldag met die stembriewe gewerk het. Ek was verkeerd.

Hier was ek, ’n volwasse vrou met twee grade en ’n verantwoordelike werk, en vir die eerste keer kon ek deelneem aan die besluitneming van my land se toekoms. Ek het eers later die woord “verklempt” geleer, maar dit was die emosie wat ek op daardie oomblik agter daardie kartonafskorting gevoel het. Verklempt. Oorstelp.

Terug by die lokaal waar ek gewerk het, was daar weer ’n tou. Mense wat nie afgekry het nie, ten spyte van die feit dat ’n vakansiedag verklaar was. Niemand is weggewys nie; ons het almal gehelp nadat ons spesiale toestemming gekry het om langer oop te bly.

Nadat die laaste mense weg is, en ons die dose met die stembriewe oorhandig het, het ons groepie verkiesingsbeamptes vir ’n oomblik in die stil, leë lokaal bly staan. Dankbaar dat daar nie probleme was nie. Moeg. Stom.

Toe loop ons.

Dit was amper 3-uur die volgende oggend toe ek by my huis aankom. Ek het in die tuin gaan sit en die koel luggie geniet. En toe ween ek. Vir elke persoon wat vir die eerste keer hul kruisie kon trek. Vir elke ouma en oupa wat met soveel hoop opgedaag het. Vir elke jongmens wat die nuwe Suid-Afrika kon ervaar. Vir elke lewe wat in die jare vooraf verloor is sodat ons ons vryheid kan geniet. Vir al die maande se harde werk wat nou tot ’n einde gekom het. Vir dit wat was, en vir dit wat nog sou kom.

Maar heel meeste was dit trane van verligting, want ons het gewen. Nie enige politieke party nie, maar gewone mense wat vrede gekies het bo oorlog. Vir elke panga en geweer wat neergelê was sodat daar saam gebou kon word aan iets nuuts. Ons het gewen. Teen alle verwagtinge in. Vredemakers, brugbouers. Gewone mense. Ons.

Lees ook

25 years later: Karabo Kgoleng reflects

25 jaar later: Michael le Cordeur kyk terug

25 years later: Christi van der Westhuizen reflects

25 jaar later: Hein Willemse kyk terug

  • 3

Kommentaar

  • Margaret Cordier
    Margaret Cordier

    Welgedaan Bettina!

    Aandoenlike stuk.

    Die Woord sê in Spreuke 31:8 en 9: "Maak jou mond oop vir die stomme, vir die regsaak van almal wat wegkwyn. Maak jou mond oop, oordeel regverdig, en verskaf reg aan die ellendige en die behoeftige."

    Saluut.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top