25 jaar later: Michael le Cordeur kyk terug

  • 1

Dit is 25 jaar na die eerste demokratiese Suid-Afrikaanse verkiesing. Met verkiesingsdag 2019 om die draai, deel Michael le Cordeur sy herinneringe van 27 April 1994.

Ontnugter, teleurgesteld en kwaad

Ek onthou die dag soos gister. Dit was ’n pragtige herfsdag in die Boland. Die krisante het begin blom en my tuin was ’n skouspel van kleure en geure. Byna gereed vir die skou in die eerste week van Mei.

Daar was nog drie redes waarom die dag in my geheue afgeëts is: Dit was my ouers se 37ste huweliksherdenking (hulle het verlede week hul 62ste herdenking gevier), ek sou later die dag na ’n nuwe woning verhuis, en vir die eerste keer in ons lewe sou ons stem. Sou ons kon besluit wie ons nuutgevonde demokrasie sou regeer, sou ons ook ’n sê kry in wie ons die beloofde land sou inlei.

.....................................

“Daarom gaan ek Woensdag stem. Dis my plig.

Dis waarvoor ek gestruggle het.”

.....................................

Ek kon die vorige aand nie slaap nie – die opwinding was net te veel. Die daglig kon nie gou genoeg kom nie; in my drome het ek al gesien hoe ek my kruisie sou trek agter die naam wat vir ons almal die verpersoonliking was van die struggle, die simbool van bevryding, die metafoor vir die toekoms. Hoe opwindend: ek was deel van my land se nuwe geskiedenis: ’n nuwe dag het vir ons aangebreek.

Die voorafgaande jare was onstuimig en gewelddadig. Die mense was in opstand, die destydse bedeling was uitgedien en die skrif vir apartheid was aan die muur. Daardie nag het my jong lewe voor my geestesoog afgespeel terwyl ek daar in my donker kamer gelê het, wagtend op die nuwe dag.

Daar was 16 Junie 1976. Ek was maar net 16 en in matriek. Reeds op daardie jeugdige ouderdom was ons betrokke by studentepolitiek.

Ek het pas teruggekeer van ’n reis na die Wêreldjamboree vir Boy Scouts in Noorweë, waar ek allerhande dinge oor die politiek van ons land wysgemaak is. Verskeie klaskamers van ons skool is in die proses in ’n brand verwoes. Ons kon eers heelwat later matriek skryf.

Gelukkig het ek geslaag, met ’n eerste klas en ’n matrikulasievrystelling nogal. Danksy harde werk. My ouers, ons gesin was brandarm en die staatsbeurs dus baie welkom. Ek was ’n eerste-generasie-student aan die Universiteit van die Werkersklas, of Bush College soos die UWK in die volksmond bekend gestaan het.

My paaie het gekruis met dié van toekomstige struggle-helde soos Cecyl Esau, Leonardo Appies, Russel Botman en Hein Willemse. Toe kom die groot opstande in die tagtigs. Ek was toe reeds nagraads.

Die woorde “Hek toe” het nuwe betekenis gekry: ’n kodewoord vir “Dis tyd om die veiligheidsmagte by die hekke van die kampus aan te vat.” Ons was vreesloos. Aangespoor deur ’n visie van ’n bevryde Suid-Afrika.

Tot ons eendag te ver gegaan het. Die polisie het losgebrand, geskiet, geslaan. In ons haas om te vlug het ek geval, ander het bo-oor my gehardloop. Toe val die houe van die polisie se knuppels op my rug. Weer, en weer, aanhoudend totdat ek my bewussyn verloor het.

Ek het later verneem dat my boesemvriendinne, die Oppelt-tweeling, Maxine en Evelyn, my opgetel het daar waar die polisie my vir dood agtergelaat het en na die tokkelokke se koshuis gesleep het, waar Russel my vir die nag weggesteek het. Ek is my lewe te danke aan daardie drie mense. Maar soos Totius se gedig lui: die boompie het weer gesond geword. Maar die letsels het gebly.

Die staatsbeurs moes afbetaal word. Ek het ’n pos gekry as Afrikaansonderwyser in my tuisdorp, waar ek vir Marlene le Roux skoolgehou het. Sy sou die hoofspeler wees in my heel eerste verhoogdrama. Maar toe kom die opstande. Vir ’n derde keer is my lewe was ek midde die stryd.

Toe die polisie storm, het almal gevlug na die saal waar ons dekor gereed gestaan het. Alles is vernietig. Maar nie ons gees nie. Dit sou aanhou brand. Daar sou ander produksies wees. Vandag lei Marlene die Kunstekaap.

En toe die nuus: Februarie 1992. Madiba gaan vrygelaat word. Die dag by Victor Verster se hekke was histories. Madiba se toespraak op die Parade ’n waterskeidingsoomblik.

Ek het steeds die kopie van Rapport waar Madiba vir die eerste keer aan die wêreld gewys is. Ons harte het gejubel. Die struggle was verby.

Ons het van vroegdag in die tou gestaan by die Wellingtonse stadsaal. Ons moes lank wag. Maar niemand het omgegee nie. Ons het vryheidsliedjies gesing. “We shall overcome some day …” is aangepas na “We will overcome today …” 

Helaas nie.

Ek en my gesin het later die dag na ons nuwe huis getrek. Dit was ons manier om die beloofde land binne te gaan. Die aand het ons saam met my ouers hul huweliksherdenking gevier en die nuwe Suid-Afrika feestelik tegemoet gegaan.

Daar was ’n lied in my hart. Ons was gevul met drome en ideale. Veral vir ons kinders. Maar die hoop het beskaam.

Na die aanvanklike euforie van Mandela se era het die krake begin wys. Die land wat eers as die wonderwerk van die moderne tyd beskou is, het stelselmatig weggekwyn danksy onbeholpe leierskap. Dit het begin met Thabo Mbeki se “Ek is ’n Afrikaan”-toespraak. Mense het begin om lyne in die sand te trek. MY kant en jou kant. Ons s’n en julle s’n. Ons en julle.

Die 10 jaar onder Zuma was ’n marteling. Korrupsie het ons land gestroop van sy natuurlike hulpbronne. Al wat ons het, is die menslike hulpbronne.

En nou het net geloof, hoop en liefde oorgebly. Hoop dat die verkiesing op 8 Mei lig sal bring in hierdie donker tydperk wat ons terug sal plaas op die pad na ware demokrasie.

Geloof dat ’n leier sal opstaan wat ons land met al sy kleure en geure kan saambind in ’n verenigde Suid-Afrika om hierdie hoop ’n werklikheid te maak. En liefde vir ons land en sy mense wat ons sal motiveer om aan te hou soek na harmonie. Dis mos rede om fees te vier!

Daarom gaan ek Woensdag stem. Dis my plig. Dis waarvoor ek gestruggle het.

Aluta continua. Die struggle duur voort.

..........................

Michael le Cordeur is verbonde aan die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Opvoedkunde.

Lees ook

25 years later: Karabo Kgoleng reflects

25 jaar later: Bettina Wyngaard kyk terug

25 years later: Christi van der Westhuizen reflects

25 jaar later: Hein Willemse kyk terug

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Lynnette Ferreira

    Dit is hartroerend en opreg. Ek lê vanoggend in die bed en moet gaan stem, maar watter party is werklik in staat om vir ons die lewe te gee waarna ALMAL in die land smag? Ek sukkel!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top