Titel: Power in the New Testament
Redakteurs: Pieter GR de Villiers en Annette Merz
Uitgewer: Peeters Publishing
ISBN: 9789042947054
Te koop by Barnes & Noble
Mag bly een van die mees relevante dog ontwykende konsepte in ons samelewing. Ons vra dikwels hoe mag werk, wie het mag, en die uitwerking van mag op die magteloses. Hierdie uitstekende versameling studies spreek magkwessies in die Nuwe Testament en ander Bybelse en buite-Bybelse bronne aan. Die boek is in twee dele verdeel. Die eerste deel bevat “algemene bydraes” en die tweede deel fokus op vroeë Christelike geskrifte en mag. Die bundel begin dus met studies wat aan lesers ’n oorsig en oriëntasie van die boek se onderwerp bied, voordat daar na meer spesifieke en illustratiewe gevallestudies uit die vroeë Christelike literatuur beweeg word.
Die boek begin met ’n baie nuttige inleiding deur Jan Willem van Henten, “Perspectives on power and the New Testament”, waarin hy ’n belangrike konseptuele en teoretiese oorsig gee van die tema van mag, veral mag in akademiese diskoers en praktyke. Van Henten doen besonder goeie werk om die leser in magskwessies te oriënteer deur na die werk van Hannah Arendt en Michel Foucault te verwys. Veral belangrik hier is die komplekse verband wat tussen mag en godsdiens bestaan, en bepaalde teoretiese trajekte kan help om hierdie dinamiek te benader en beter te verstaan. Die vraag oor hoe ons mag in vroeë Christelike tekste kan benader, is egter sentraal tot hierdie inleiding, en Van Henten merk op dat aandag aan woordeskat van mag, magsnetwerke en subjekte betrokke by die verspreiding en vloei van mag, postkoloniale benaderings tot mag, wat redelik relevant is vir die Suid-Afrikaanse konteks, en die konsep van “barbarisme” as ’n lens nodig is om na mag in die Nuwe Testament te kyk. Dit is natuurlik onmoontlik om die hele krities-teoretiese magsveld in hierdie verband te dek, maar Van Henten se inleiding behoort gelees te word deur enige persoon wat daarin belangstel om mag in die Nuwe Testament en die vroeë Christendom verder na te vors.
Die tweede opstel onder die algemene bydraes, deur Wim Weren, bied ’n interessante lesing oor die toeken van mag aan die dood. Die belangrikheid van hoe die dood as ’n magsdiskoers in bybelse literatuur funksioneer, is nog nie volledig ontleed nie, en hierdie opstel verskaf ’n paar nuttige en interessante voorstelle oor hierdie kwessie. ’n Ander teoretikus van magsdinamika, Michel de Certeau, merk in sy invloedryke boek The practice of everyday life (1984:191–192) die volgende oor die dood op: “Beskou aan die een kant as ’n mislukking of ’n voorlopige halt in die mediese stryd, en aan die ander kant, verwyderd van algemene ervaring en wat sodoende by die grens van wetenskaplike mag en verby bekende praktyke uitkom, is die dood ’n elders ... oorgegee, byvoorbeeld, aan godsdienstige woordeskat wat nie meer aktueel is nie ... Die dood is die probleem van die subjek.”[i] Weren wys hoe hierdie heterotopiese probleem van die dood, die dood as ’n elders, in bybelse literatuur onderhandel word. Hy wys hoe die probleem van die afwesigheid van ’n konsep van die hiernamaals aan die dood verdere mag toeskryf, aangesien God nie die individu uit die mag van die dood kan red nie. Maar Weren lig dan ook enkele reaksies op hierdie probleem uit, veral uit die Hebreeuse Bybel, veral die vooruitsig op opstanding.
Johan Thom se bydrae bied ’n goeie vergelyking met Weren s’n oor die godsdienstige dinamika van mag, nou nie soseer uit bybelse literatuur nie as uit die interaksie tussen Hellenistiese Judaïsme en vroeë Christendom. Thom gebruik die peripatetiese filosofiese teks uit Pseudo-Aristoteles se De mundo kreatief as ’n lens om antieke sienswyses van die aard en impak van God se krag in ’n kosmologiese sin te verstaan. Die belangrikste bydrae van Thom is die voorstel dat ons die aard van Christus se bemiddelende mag, soos in die Nuwe Testament opgemerk, beter kan verstaan deur te kyk na filosofiese tekste, soos De mundo, wat mag benader “as ’n demiurgiese beginsel in die wêreld”. Thom se analise eindig hier met die Nuwe Testament, maar dit is opmerklik dat die vroeë Christelike denke (veral dié in die Christelike Platoniese en Neoplatoniese tradisies) in werklikheid blykbaar hierdie begrip van mag, met betrekking tot demiurgie, aan die mag van Christus toegeëien het. Hierdie twee bydraes demonstreer hoe onderling verwant magsdinamika in antieke Mediterreense kultuur was, en hoe magsdiskoers godsdiens deurdring.
Die tweede deel van die boek voorsien ons nou van nege baie insiggewende gevallestudies uit die Nuwe Testament. Die eerste studie is deur Mark Grundeken, wat aan politieke magsdiskoers aandag gee deur die Q-bron en sy begrip van Romeinse imperiale mag te ontleed. Hierdie kwessie is een wat sterk gedebatteer word onder geleerdes van die Nuwe Testament en die vroeë Christendom. Hoe het die vroeë Christene die Romeinse imperiale mag ervaar en daarop gereageer? Grundeken voer aan dat ons in Q ’n vyandige houding jeens Romeinse mag vind. Q bevorder egter “passiewe onmin” (“passive dissidence”) eerder as aktiewe weerstand teen hierdie mag. Dit is dus ’n kompromie, voer die studie aan, tussen idealisme (weerstand en omverwerping van Romeinse mag) en realisme (dat die vroeë Christendom en Judaïsme nie in staat was om die Romeinse heerskappy omver te werp nie). Daar is in hierdie siening nie van Christene verwag om revolusionêre te wees nie, maar realiste, wat dus ’n skeptiese siening teenoor die hegemoniese mag van die Romeinse Ryk toon.
Alhoewel die studies in die tweede deel kanoniek gerangskik is, is dit die moeite werd om die bevindinge van Grundeken oor Q in verband te bring met die twee studies oor Openbaring in die bundel, wat ook die laaste twee in die boek is. Paul Decock en Pieter de Villiers het studies oor magsdinamika in Openbaring bygedra, en beide kontekstualiseer ook die diskoers van mag in Openbaring met Romeinse imperiale mag. Decock argumenteer dat mag in Openbaring verstaan moet word vanuit die standpunt van individuele agentskap, en merk op dat die skrywer van Openbaring self ’n goeie voorbeeld is van hoe ’n individu, deur hierdie tipe profetiese mag en gesag, in staat is om Romeinse mag te ondermyn en te weerstaan. Dit kan ’n goeie voorbeeld wees van Grundeken se idee van passiewe onmin. Waar Decock en De Villiers se studies mekaar veral kruis, is die kwessie van die mag van taal en spraak. De Villiers toon aan dat Openbaring ’n dubbele siening van mag as positief en negatief vertoon. Die negatiewe onderdrukkende mag van die Romeinse Ryk word gekontrasteer met die positiewe mag – of “ware” mag – van die Christelike boodskap. Ons moet in hierdie verband noukeurig nadink oor die aard van vroeë Christelike magsdiskoers. Was dit antiimperiaal, of bloot ’n ander vorm van imperiale diskoers, veral in Openbaring? Dit is ’n vraag wat belangrik is om te oorweeg.
Die boek het dan ook twee studies oor mag in die Matteus-evangelie, deur Francois Viljoen en Hermie van Zyl. Beide hierdie studies is belangrik deurdat dit sommige van die interne magsdinamika wat ons in vroeë Christelike diskoers en gemeenskappe het, uitlig. Viljoen fokus veral op die vers in Matteus 7:29 uit die Bergpredikasie, wat lui (Matt. 7:28–29 NAV): “Toe Jesus klaar gepraat het, was die skare verbaas oor sy onderrig, want Hy het hulle geleer soos ’n man met gesag en nie soos hulle skrifgeleerdes nie.” Viljoen gee ons ’n wenk om die vraag aan te spreek wat so pas hier bo gevra is, naamlik of Christelike magsdiskoers sy eie merk van imperialiteit vertoon het. Viljoen bring die didaktiese gesag en mag van Jesus inderdaad in verband met imperiale en Joodse magsfigure destyds. Die Evangelie van Matteus bevestig dat Jesus die Messias en die kragtigste en mees gesaghebbende interpreteerder van die Wet is.
Van Zyl se studie analiseer die verspreiding van hierdie mag van Jesus aan sy dissipels, ’n verdere belangrike dinamiek van krag wat ’n mens in ag moet neem. Die aard van die mag wat Van Zyl hier identifiseer, is ietwat paradoksaal. Die dissipels oefen gesag uit om tot diens van die gemeenskap te wees. Dit is ’n goeie voorbeeld van wat sommiges onderworpe mag noem (in Engels, “subjugated power”) – mag wat meer deurdringend versprei word deur diskoers en praktyke van diensbaarheid en diens (en selfs, in sommige gevalle, slawerny).
Ons het dan uiteindelik vier gevallestudies oor tekste uit Paulus en die Pauliniese tradisie. Die aard en rol van mag in Paulus se denke en die Pauliniese tradisie is ’n baie ryk en robuuste studieveld. Reeds in 2007 het Kathy Ehrensperger byvoorbeeld ’n paar fundamentele vrae oor magsdiskoers in Paul in haar boek Paul and the dynamics of power: communication and interaction in the early Christ-movement, gevra. Sy kyk na die vraag na Paulus se gebruik van mag en gesag as ’n apostel wat homself verstaan as geroepe om die evangelie onder die heidene te verkondig. Sy ondersoek die wye verskeidenheid perspektiewe oor hoe hierdie gebruik van mag geëvalueer moet word. Dit wissel van die tradisionele interpretasie van onbetwisbare, as vanselfsprekend aanvaar vir ’n kerkleier, tot ’n feministiese interpretasie. Haar ondersoek is veral gemoeid daarmee of Paulus se magsgebruik ’n oop of verborge herinskripsie van hiërargiese strukture was. Hierdie vraag is eintlik onderliggend aan al vier kwessies. Die vier studies in hierdie boek kruis dus direk met kwessies wat Ehrensperger gemerk het.
Jeremy Punt neem ons weer terug na die kwessie van imperiale mag in Paulus. Hy stel voor dat alhoewel ons baie ander raamwerke van mag het, Romeinse imperiale mag die primêre raamwerk van mag bly waarin Paulus se eie magsonderhandelinge funksioneer. Vanaf hierdie punt sluit Punt aan by wat Van Henten in sy inleidende opstel oor mag en postkoloniale Bybelse interpretasie opgemerk het. Punt voer aan dat postkoloniale Bybelkritiek een van die nuttigste benaderings bly om die dinamika van mag in die Nuwe Testament te verstaan.
Die volgende opstel, deur Kobus Kok, ondersoek 1 Tessalonisense en vra na die magsdinamika agter vroeë Christelike sienings oor sending. Kok wys ons op die kwessie van transformerende krag in Christelike diskoers, ’n punt wat ook deur Van Henten in die inleiding aangespreek word. Kok voer aan dat vroeë Christelike sending tradisionele imperiale idees oor dominansie, geslag, ras en etnisiteit omskep het in ’n alternatiewe simboliese wêreld. In hierdie verband sluit hy ook by Van Zyl aan deur daarop te let dat mag en bemagtiging in hierdie opsig verband hou met diens volgens die voorbeeld van Christus. Kok se analise toon goed die spanning tussen hegemoniese en onderworpe magsdiskoers in 1 Tessalonisense aan.
Kwessies van mag en geslag en sienings oor vroue in die Pauliniese tradisie en kerke bly hoogs omstrede, en die twee studies deur Annette Merz en Rob van Houwelingen demonstreer duidelik hoe gevarieerd en kompleks die diskoers word. Merz kyk na kruisings van mag en geslag in die konteks van 1 Timoteus en die Handelinge van Thecla, en wys dat hierdie twee tekste baie nuttig is om mee te “dink” wanneer die komplekse en veelvlakkige dinamika van mag in die konstruksie en uitvoering van geslag gekonseptualiseer word. Sy is veral gefokus op die betwiste rol van vroue se mag in die vroeë Christendom, en 1 Timoteus en die Handelinge van Thecla dien goed om die spanning selfs onder die vroeë Christene te wys. Hier word gedemonstreer hoe retoriese strategieë wat genre- en teksspesifiek is, gebruik word om die patriargale model van geslag te legitimeer. As ons terugkeer na wat in die studies oor Openbaring in hierdie boek gevind is, is dit weer duidelik hoe mag veral in retoriese en diskursiewe formasies manifesteer. Oor 1 Timoteus en kwessies wat verband hou met vroue en geslag, kyk Van Houwelingen met ’n ietwat ander perspektief na mag, magteloosheid en gemagtigde mag (“authorised power”) in 1 Timoteus 2:8–15. Hy is veral geïnteresseerd in hoe subdiskoerse van mag, soos die gesaghebbende kanonieke tradisie van Adam en Eva, funksioneer in die Nuwe-Testamentiese literêre dinamika wat met geslagtelike mag verband hou. Hy wyk ietwat af van Merz se sienings oor die onderliggende deurdringendheid van magsdiskoers teen vroue, wat as vrouehaat beskou kan word. Hy hou egter vol dat die argument meer gekompliseerd is en dat Paulus op sy eie terme en in die konteks van sy eie worsteling met en verstaan van apostoliese mag gelees moet word.
Ten slotte: Hierdie boek lewer belangrike nuwe bydraes oor hoe die diskoers van mag in die Nuwe Testament gefunksioneer het. Die inleidende en oorsigtelike studies, sowel as die spesifieke gevallestudies, toon duidelik die kompleksiteit van magsdiskoers, en hoe mag op intersosiale en intragodsdienstige vlakke gewerk het. Ek kan die boek sterk aanbeveel vir enigiemand met ’n belangstelling in die kritiese aard van mag in die Nuwe Testament en die Bybel oor die algemeen.
Bibliografie
De Certeau, M. 1984. The practice of everyday life. Vertaal deur SV Rendall. Berkeley: University of California Press.
Ehrensperger, K. 2007. Paul and the dynamics of power communication and interaction in the early Christ-movement. Londen: T&T Clark.
Eindnota
[i] Resensieskrywer se vertaling en skuinsdruk.
Lees ook:
Johannes Chrusostomus se pedagogiese eksegese: Die geval van die toring van Babel (Gen. 11:1–9)
Is siekte ’n straf van God? Teologiese perspektiewe uit die Bybel en die Apokriewe
Is die paradys in die hemel of op die aarde? ’n Onderhoud met Chris L de Wet