"Ek dink die paradys is binne elkeen van ons. Dit maak dit nie noodwendig minder werklik as om dit te sien as ’n plek onder die aarde nie."
....................
Chris L de Wet se artikel “Is die paradys in die hemel of op die aarde, en hoekom? Die aard en funksie van die paradys volgens die interpretasie van Johannes Chrusostomus” het onlangs in LitNet Akademies verskyn. Floris Voges en Remona Voges het met hom oor die onderwerp gesels.
Vertel my asseblief van jouself. Watter is jou beroep en met watter projekte is jy tans besig?
Ek is tans medeprofessor in Nuwe Testament en Vroeg-Christelike Studie in die Departement Bybelse en Antieke Studie by Unisa, en ’n navorsingsgenoot by die Australian Lutheran College in Adelaide, Australië. Ek is ook redakteur van die akademiese tydskrif Journal of Early Christian History, wat akademiese artikels oor die vroeë Christendom publiseer.
My navorsing tot op hede het veral gefokus op slawerny in die vroeë Christendom. Ek stel ook baie belang in die vierde-eeuse kerkvader, Johannes Chrusostomus. Ek is tans in die proses om twee projekte klaar te maak. Die eerste handel oor hoe slawerny as ’n diskoers in die vroeg-Christelike Siriese asketisme gefunksioneer het, en die ander oor hoe die eerste Christene manlikheid gekonseptualiseer het.
My volgende navorsingsprojek handel oor die verhouding tussen godsdiens, gender en die sosiale en kulturele geskiedenis van gesondheid, medisyne, genesing en gestremdheid in die laat-antieke wêreld. My werk oor antieke Romeinse en Christelike slawerny duur ook voort.
Wat het jou belangstelling in antieke studie en vroeë Christendom geprikkel?
Ek het in 2001 begin deur teologie aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit te studeer, met die oog om in die bediening in te gaan. Ek het baie vinnig besluit dat my passie by die akademie lê, en veral in die studie van antieke tale en geskiedenis. Ek is steeds by kerke betrokke, maar ek beskou die akademie as my eerste roeping. Ek het in 2005 na die Universiteit van Pretoria gegaan om antieke tale, met fokus op antieke Grieks en Latyn, te gaan studeer. Dit was juis in my meesters- en doktorale studies dat ek die wêreld van die vroeë Christendom ontdek het, en my belangstelling in hierdie vakgebied groei elke dag.
Wat is vir jou die mees fassinerende en ook uitdagende dele van jou werk?
Daar is min dinge wat vir my so lekker is soos om met ’n antieke teks te worstel. Dit bied vir jou ’n venster na ’n ander wêreld; selfs ’n ontvlugting of toevlug. Om te leer hoe mense, nes ek en jy, maar ook baie anders, gedink, gepraat en opgetree het, en waarom, bly my fassineer.
Wat verder baie lekker maar ook uitdagend is, is om moderne historiese en filosofiese kritiese teorieë en metodieke toe te pas op die antieke tekste. So, alhoewel my groot liefde in die antieke tekste en wêreld lê, benader ek dit altyd met die oog daarop om sin te gee aan hedendaagse vrae. Kwessies soos gender, seksualiteit, spiritualiteit, mag, verslawing, kolonialisme, rassisme en gesondheid is alles ook brandpunte in ons huidige samelewing. Soms help ’n goeie verstaan van hierdie kwessies in die antieke tyd ons om ook vandag sin te maak van hierdie verskynsels en probleme. Die werk wat ek doen is dus tot ’n mate dialekties. Ek benader dus die antieke materiaal met vrae wat vandag vir ons saak maak. Die Franse filosoof Michel Foucault verwys na die “geskiedenis van die hede” (“histories of the present”); en ek sien my eie werk in ’n soortgelyke lig.
Jy het ’n boek geskryf met die titel The unbound God: slavery and the formation of early Christian thought. Beplan jy om nog ’n boek te skryf? Indien ja, waaroor?
Ek is inderdaad besig met drie ander boekprojekte. Twee van die boeke is reeds geskryf en in die publikasieproses. Die een handel juis oor slawerny en die vroeg-Christelike asketisme in die laat-antieke Ooste. Hierdie boek volg eintlik op The unbound God; waar The unbound God gefokus het op die verskynsel van slawerny in Christelike denke en diskoers, fokus die opvolgboek op hoe slawerny Christelike godsdienstige praktyke, veral die kloosterwese, beïnvloed het. Die ander boek fokus weer op Johannes Chrusostomus, en hoe hy die formering van manlikheid, en gender oor die algemeen, verstaan het. Die derde projek, wat nog in ’n vroeë stadium is, handel oor bejaardheid en oudword in die laat-antieke wêreld.
Hoekom dink jy is dit belangrik vir mense om oor die geskiedenis van die aard en funksie van die paradys te leer?
Wanneer mense vandag oor hul godsdiens en geloofsoortuigings praat, verwys ons dikwels na konsepte soos die hemel, die hel, die vaevuur, die paradys en limbo. Ons stel almal belang in wat na die dood gebeur. Hierdie kort studie oor die paradys was ’n ontdekkingsreis om te sien hoe die eerste Christene sin gemaak het van die bonatuurlike en nadoodse wêreld. Dit is om drie redes belangrik om daaroor te leer:
- Dit demonstreer dat daar ’n verskeidenheid van denke oor hierdie tema (lewe na die dood) onder die eerste Christene was.
- Dit leer ons ook dat wanneer ons vandag van die hemel of die paradys praat, of selfs van die hel, daar verstaan moet word dat hierdie nie eenvoudige en vanselfsprekende konsepte is nie. Daar is ’n geskiedenis van ontwikkeling in hoe ons die hemel, die hel, die paradys en die nadoodse wêreld verstaan. Deur die antieke sienswyses van hierdie tema te begryp, kan ons dalk ook beter verstaan waarom ons vandag op ’n bepaalde manier oor die nadoodse wêreld dink.
- Laastens wys die studie dat die vroeg-Christelike diskoers oor die paradys, en die na-doodse wêreld oor die algemeen, ongelukkig van so aard was dat dit groepsgrense benadruk het, en gereeld só gefunksioneer het dat dit sommiges binne die groep bekragtig het en ander wat buite die groep was vervreem het. Dit help ons vandag, hopelik, om meer verantwoordelik te wees wanneer ons vrae vra soos: “Gaan hierdie groep mense hemel toe of nie?” Ons moet verstaan dat wanneer ons sulke vrae vra en op dieselfde gronde probeer beantwoord, ons onmiddellik een persoon of groep vervreem en as anders of selfs afwykend klassifiseer.
Hoekom dink jy het mense so ’n groot fassinasie met wat gebeur as jy doodgaan?
Want dit is die een vraag wat niemand kan beantwoord nie, maar waaroor ons almal wonder, en selfs vrees. Ons het al so diep in die ruimte in gekyk, die diepste bodem van die see verken; die dood bly die laaste groot onbekende. Dit is waarskynlik waarom godsdiens vir baie mense steeds sinvol is, want dit probeer sin gee aan hierdie groot verborgenheid van die lewe.
Die filosoof Michel De Certeau het die volgende oor die dood geskryf: “Considered on the one hand as a failure or a provisional halt in the medical struggle, and on the other, removed from common experience and thus arriving at the limit of scientific power and beyond familiar practices, death is an elsewhere ... given over, for example, to religious languages that are no longer current ... Death is the problem of the subject (1984, The practice of everyday life. Berkeley: University of California Press, pp 191–192, my kursivering). Ek dink hy was reg.
Wat beteken die paradys vir jou?
Dit is ’n moeilike vraag. Die vroeë Christene gebruik konkrete konsepte op verskeie maniere om eintlik die onsegbare uit te druk. Ek aanvaar nie noodwendig ’n antieke, pre-moderne wêreldbeeld nie. Om die paradys vandag te sien as ’n plek onder die aarde of bo in die lug is moeilik om te doen. So om die vraag te beantwoord: Ek dink die paradys is binne elkeen van ons. Dit maak dit nie noodwendig minder werklik as om dit te sien as ’n plek onder die aarde nie. Die paradys kan binne elkeen van ons wees, maar ons moet dit ontdek deur onsself te leer ken, en deur gesonde verhoudings met ander, en met God.
Wie is Johannes Chrusostomus waaroor jy in jou artikel skryf, en watter impak het hy op die Christendom gehad?
Johannes Chrusostomus was ’n kerkvader van die vierde eeu n.C. (ca. 349–407 n.C.). Hy was aanvanklik eers, vir ’n kort ruk, ’n monnik in die gebied wat vandag in Sirië en oostelike Turkye lê. Daarna het hy teruggegaan na Groot Antiogië (in Turkye), waar hy gepreek en geleer het, en baie gewild geraak het. Hy het so gewild geraak dat hy later ook die biskop van Konstantinopel geword het. Dit was ’n baie groot eer – dit was die tweede belangrikste en grootste bisdom in die ryk, naas Rome. Dit is ook waar die keiser gewoon het.
Hy het baie sukses daar gehad, maar was uiteindelik, na ’n lang en ingewikkelde politieke stryd met die bisdom van Aleksandrië in Egipte, en die keiserlike huis self, in ballingskap na Armenië gestuur, waar hy ook op 14 September 407 gesterf het.
Hy is belangrik om verskeie redes. Hy is een van die vroeg-Christelike skrywers wat die meeste geskrifte geskryf het – ons het meer as ’n 1 000 van sy werke, baie daarvan preke. Hy is juis bekend vir sy prediking. Die bynaam Chrusostomus wat hy na sy dood gekry het, beteken “die goue mond”. Hy het in antieke Grieks geskryf, en word dikwels gesien as die Augustinus van die Ooste. Wat hom verder besonders maak, is die feit dat hy, saam met ’n paar ander Oosterse skrywers, ’n unieke vorm van Bybelinterpretasie gehandhaaf het wat aandag gee aan die historiese konteks en die retoriek van die teks, en wat allegorie vermy het. Hy kan dus beskou word as een van die antieke voorgangers van wat later bekend sou staan as die histories-kritiese metode van eksegese, wat vandag so te sê die standaard is. Hy is ’n baie groot en sentrale figuur in die Oosters-Ortodokse Kerk, in word in die Katolieke en Ortodokse Kerke beskou as een van die vier Doktors van die Oosterse kerk. Hy was ook baie invloedryk in die Ortodokse liturgie – vandag is die Liturgie van Johannes Chrusostomus een van die belangrikstes in die Ortodokse Kerk, selfs al het hy die dit self geskryf nie.
Hoekom het jy besluit om in jou navorsing spesifiek op hom te fokus?
Ek werk al vir jare op die werke van Chrusostomus. Ek stel eintlik belang in die kulturele en sosiale geskiedenis van die vroeë Christendom. Vir hierdie rede is Chrusostomus baie belangrik, want sy preke gee vir ons heelwat inligting oor alledaagse lewe in die vroeë kerk. Ek stel ook belang in sy werk juis omrede hy ’n meer historiese en retoriese lees van die Bybel volg. Ek dink Chrusostomus se werke is steeds vandag vir die kerk baie waardevol.
Jou artikel lê klem op die feit dat die debat rakende die paradys hoofsaaklik vroeë Christen-denkers die geleentheid gebied het om hulself binne hul eie teologiese raamwerke te oriënteer. Dink jy dat alle geloofsdebatte fundamenteel hierdie selfde funksie verrig? Dit wil sê, is geloofsdebatte bloot ’n spel waaraan mense deelneem om hul reeds bestaande oortuigings en verstaansraamwerke te verfyn en te versterk?
Dit is ’n baie goeie waarneming en vraag. Ongelukkig dink ek dit is waar dat baie mense slegs aan debatte deelneem om hul voorveronderstellings te bevestig – dit geld vir geloofsdebatte in die kerk, maar ook debatte oor die algemeen. Ons sien dit veral in politiese debatvoering.
Maar ek dink tog dat ons, deur gesprek en debat, tot ander oortuigings kan kom. Maar dit vereis dat ons die ander persoon of groep met wie ons debatteer, ontmoet waar hulle is, hulle standpunt probeer verstaan, en eers luister. Verdraagsaamheid is die sleutel tot gesonde debat.
Wat lig hierdie artikel uit aangaande die mens se soeke na waarheid?
Wat die artikel uitlig is dat “waarheid” deur ’n bepaalde magsdiskoers geskep word, en dié diskoers is altyd kultureel en sosiaal begrond. Ons kan waarheid slegs binne ons eie verwysingsraamwerke definieer. Maar wanneer waarheid gekonstrueer word, gebeur dit dikwels ook dat valsheid geskep word – dikwels word waarheid en valsheid dan aangewend om ons eie magsbelange ten koste van ander te bevorder. Waarheid en valsheid word dan beliggaam deur individue, en naderhand gebeur dit dat ons onsself of ons groep personifieer as die waarheid, en ander mense word as valsheid gepersonifieer. Dít is wanneer die skepping van waarheid en valsheid gevaarlik raak.
Wat kan Christen-gemeenskappe wat tans deel vorm van die gaydebat, moontlik uit hierdie artikel leer?
Ongelukkig spreek niks in die artikel spreek direk tot die gaydebat nie. Maar wanneer my bogenoemde antwoord (oor die skepping van waarheid) in ag geneem word, moet ons dalk vra teen watter koste ons reg wil wees en ander as verkeerd wil bestempel. Wanneer ons eie godsdienstige diskoerse bydra tot die vervreemding van ons medemens, en lei tot geweld in woord en daad, ongeag seksuele oriëntasie, dan is dit dringend nodig om hierdie diskoerse te hersien. Alhoewel godsdiens een van die min dinge in die lewe is wat mense bymekaar kan bring (saam met musiek en stories, dink ek), is dit tragies dat dit steeds gebruik word om ons van mekaar te vervreem. Hoe is dit moontlik dat ons met soveel ander verskille tussen ons tog onder mekaar kan leef en laat leef, maar wanneer ons praat van hoe mense ander liefhet, ons nie bereid is om hierdie verskille te duld nie?
Met betrekking tot die idee dat Niceense Christendom gesien kan word as ’n lappieskombers van uiteenlopende stemme wat ’n geheel vorm: In watter opsigte kan die hedendaagse, meesal gepolariseerde, sekulêre wêreld baat deur besinning oor die inhoud van hierdie artikel?
Om weer ’n bekende aanhaling van Foucault te gee, uit sy Madness and civilization (1961): “People know what they do; frequently they know why they do what they do; but what they don’t know is what what they do does.” Ek hoop die artikel sal dien as ’n voorbeeld van hoe ’n eenvoudige godsdienstige diskoers, soos dié van die paradys, groot gevolge kan hê vir hoe ons ander beskou en behandel.
Sou jy sê dat daar ’n groot gaping is tussen akademiese kennis en verstaan van godsdiens en godsdienstige gemeenskappe se kennis en verstaan van godsdiens?
In sommige gevalle dink ek dit is waar, maar ek dink daardie gaping raak al hoe kleiner, en dat mense vandag baie meer ingelig is as in die verlede. Daar is wel steeds ’n behoefte dat mense binne godsdienstige gemeenskappe deur lering en formasie gaan om meer krities en verantwoordelik met godsdiens om te gaan.