
Wium van Zyl (Foto: Janienke van Zyl)
...
Iemand wat na aan die natuur grootgeword het, is bedag op spore, die naelmerke van die muishond en die ratel, die ronde toonmerke van die rooikat en die luiperd, die sleepmerke van die geelslang.
...
Vir die digter en literêre vertaler Wium van Zyl gaan dit in albei dissiplines oor die toegewyde soeke na die juiste woord. Poëme, sy tweede digbundel, is die resultaat van hierdie praktyk wat oor dekades heen verfyn is. Van Zyl beskryf homself as ’n beskeie deelnemer aan ’n vrolike én ernstige spel. Die bundel getuig van ’n digter wat die geheime lewe van woorde ken en wat met elke gedig en vertaling kundig weet hoe om te meet en pas.
Hy het met Willem de Vries gesels.
Poëme het ’n opvallende omslag. Vertel asseblief meer oor die klipwerke. Waar kom dit voor en wat het jou keuse daarvan as omslagkuns gerig?

Oor die nader kom aan die landskap en die unieke natuur, die skokeffek by die herkenning en terugvoel van die hartland, het Leipoldt onverbeterlik geskryf in sy “Handvol gruis”. Sy “gruis” is eintlik maar ’n beeld, wel aanvoelbaar, ruikbaar. By Boerneef is dit in ’n groot mate die taal van die ongekunstelde boer en plaasarbeider; by Van Wyk Louw word dit die klip van sy klipbestrooide jeugland. Joan Hambidge het hoeka onlangs ’n raak opstel geskryf oor klip. My eie hartland lê in die Duiwenhoksvallei met weer ander soort klippe, grond en blare. Ek het oor die jare egter verskeie kere Boerneef-hulle se trekpad van die Koue Bokkeveld na die Seressekaro (Ceres se Karoo, die Tankwa, winterstaning vir die skaaptroppe) besoek. Hierdie spesifieke “murasie” langs die pad en die omringende kliplandskap het my steeds tot stilstand gedwing, tot kyk van naby, tot ronddwaal, tot die neem van hierdie foto’s. Het ons hier te make met afbraak of die opbouende geleentheid om ’n blik te kry op vakmanskap en die oer-egte materiaal? Aanvoel, meet en pas? Deur die vensteropening op die agterblad is ’n helling van ’n heuwel te sien. Dit is in werklikheid die deur-Boerneef-tot-onvergeetlikheid-gedigte-Pramberg. Die assosiasies wat dit inhou, gaan ek nie probeer noem nie, want ek sal dan slegs beperkend wees. Op die onderkant van die afwesige gewelvenster op die voorblad sal jy ’n klippie sien lê. Ek het dit daar neergesit vir Joan omdat sy by al my gedigte my geïmpliseerde leser is. Die omslag is ontwerp deur my grafiese kunstenaar-dogter Janienke wat beter as ekself begryp van wat ek “mits dese” probeer sê. Let wel die voorblad is bedoel om met die oggendson vol daarop pas heeltemal tot sy reg te kom.
Die bundel is aan Mari Lätti opgedra. Hoe het sy jou ontwikkeling as skrywer gevorm?
Ek het op my swerftogte met heelwat uitsonderlike leermeesters te make gekry. Dit wissel van ’n verloopte Kalahari-Boesman tot die uiters gesofistikeerde Nederlandse Guus Sötemann wat op net die regte moment tydens my navorsing oor die skrywer Willem Frederik Hermans vir my gesê het: “Gebruik je boerenverstand.” Ek het as plaasseun van kleinsaf alles gelees wat ek onder oë gekry het, maar op hoërskool was ’n duikslag waarmee jy ’n opponent laat hik esteties die hoogste goed. Toe kom hierdie bloedjong, entoesiastiese Afrikaans-juffrou die standerd nege-klaskamer binnegewaai. Watter bloesende energie! Sy lees vir ons voor uit Sestigers wat glad nie voorgeskryf is nie. Soos Chris Barnard se opstel in Herinnering se wei. Die voorgeskrewe lys was trouens ook uitstekend en sy het die vuur aangeblaas in Uys Krige se rugbystories oor Frankryk, die Nederlander Frederik van Eeden se prosa. Die Voorsienigheid het ook Opperman se bloemlesing Lied van die land op die lys geplaas. Toe sit sy ons aan die gang met skeppende skryfwerk en hoor my ramkietjie wat ek nie eens geweet het ek besit nie.
Die saamstel en skaaf aan ’n bundel is ’n fyn kuns, omdat gesprekke tussen gedigte deel van die redigering is. Watter temas het die groeperings gerig? Watter gedigte is die vroegste en watter is die mees onlangse? Hoe het die manuskrip ontwikkel?
Enkele poëme is al van lank gelede, byvoorbeeld “Grootvadersbos” en “Jy met die vrolike oë”. Ek beskou myself nie as ’n liriese digter in die sin dat ek op ’n direkte manier persoonlike ervarings verwoord nie. Vanaf ’n prikkel, ’n woord of beeld, kom ’n proses aan die gang wat ’n gedig kan word. In so ’n proses is ek helaas kwetsbaar, word ek maklik ontwrig as iets van buite opduik. Ek is eintlik bang daarvoor. Daarom het ek my oor die jare dikwels verweer teen die impuls. Dit is een rede waarom hierdie bundel so langsaam tot stand gekom het. Bowendien is die uiteindelike afwerking vir my ’n ernstige saak. Dit is ’n aftasting van nuanse, klank, etimologie. Telkens die verkenning van die grense van suggestie en assosiasie – uiteraard op my beskeie manier as tog maar net ’n plaasseun. Die gedig “Die wit pad, Utrecht. 20.9.1948” is geskryf in antwoord op ’n versoek van Bernard Odendaal. Skielik het die gegewe vaart gekry tot in ’n slotreël wat ek uit Louw se “Klipwerk” gehaal het, maar daarna ook ’n verdere reël as’t ware hardop by kon verswyg. Of lesers laasgenoemde sal snap, weet ek nie. En dan nog die klein wonders. Dit het byvoorbeeld pas later weer by my gedaag dat die Latynse naam Utrecht verwys na deurgang of rivierdrif. Die versameling het wel oor ’n lang tyd ontstaan, maar uiteindelik taamlik vanself in vyf kategorieë ingepas: “I Hartland”, “II Amoreus”, “III Soms op ’n reis”, “IV Te velde” en “V (herdigte uit die Edda)”. Daar is enkele grensgevalle hoewel ek wel deeglik redes het vir elke plasing. “Soms op ’n reis” is ’n titel van Abraham de Vries, maar dan ook wel deeglik ’n buiging na my ou vriend en streekgenoot wat soos min kon balanseer tussen humor en diepe erns. Dit bevat ook ’n gedig wat direk aan hom opgedra is. In die laaste twee afdelings neem die grimmigheid toe uit wat ek opmerk en toenemend ervaar. Die slotreël van die bundel staan daar nie sonder rede nie.
Poëme verskyn meer as drie dekades ná Oggendvuur. Intussen het jy as letterkundige, vertaler en brugbouer wyd gereis – tussen lande, tale en ook binne ’n taal se gemeenskappe. Hierdie bewegings is merkbaar in jou werk, ook in Poëme. Watter van die reise wat in die bundel opduik, bly jou die meeste by en hoekom?
’n Reis is nooit verby nie. En ek het by die vele veldkenners waartussen ek grootgeword het geleer kyk. Hulle was natuurlik baie oplettender as wat ek ooit kan word. Eintlik “herreis” ek steeds, keer verskynsels terug wat ek destyds nie so goed oordink het nie of waaroor ek intussen meer te wete gekom het. Oos-Europa lê my na aan die hart. Ek het in die afloop van die linkse studenterevolusies in Nederland gestudeer en baie geleer van my studiegenote. Daarna het ek dekades lank by ’n universiteit klasgegee wat daarna gestreef het om “the home of the radical left” te wees. In 1977 was ek reeds op besoek in die DDR. Die muur het nog stewig gestaan. Ná die val het ek en my vrou in 1991 ’n lang reis met ’n kampeerbussie in die gewese Oos-Blok onderneem, iets wat mens naby bring aan mens en land. Ek het meermale as gasdosent in Warschau gewoon. Ek het Russe, Pole, Tsjegge, Hongare en ’n gewaardeerde Tartaar leer ken, die verskil tussen kunsmatige, ideologiese ideaal en verslonste, lewensgevaarlike werklikheid. Die masker is gelig oor intellektuele pretensie en selfsug, ook hier tuis. Dit fassineer my steeds en spore daarvan sal jy vind in “Te velde”. Vir die mense in hierdie lande het ek alleen maar deernis en respek; vir die ideologiese kansvatters helaas minder. Nederland en Vlaandere is daarteenoor lankal nie meer buiteland vir my nie, eerder bakermat.
Wat aan jou dekadeslange werk as letterkundige skryf saam aan ’n vers? Is daar vir jou kreatiewe spanning tussen die kunsteoretiese van ’n gedig en die gedagte aan toeganklikheid? Hoe het jy dit in die komposisie van Poëme benader?
Ek sou ’n neerhalende opmerking wou maak oor literêre teorie en filosofie. Opperman het tereg daarteen gewaarsku vir ’n voornemende digter. Maar ek sou dan ten opsigte van myself nie die hele waarheid praat nie. Ek gee ook in een of twee poëme erkenning in hierdie rigting. Meermale lê van hierdie problematiek net onder die oppervlak (hoop ek) en kielie die draak daarmee. Dit het my egter ook toenemend uit verweer laat vasgryp aan die ongekunstelde; daar waar die ware menslike kondisie hardnekkig voortleef. En humor, selfs die platvloerse. Ek streef ook hard daarna om helder en toeganklik te kommunikeer, hoewel dit seker nie altyd vir alle lesers so sal lyk nie. Jammer. Trouens, ek twyfel of ek ooit meer as ’n handvol lesers sal bereik.
In sy Versindaba-resensie beskryf Fanie Olivier Poëme as “’n ruim hartland” met “uiteenlopende streke van die gees, kontreie en wêrelde”. Hoeveel van hierdie manier van kyk kom uit jou grootwordwêreld, en hoeveel het later gegroei uit jou werk as letterkundige in verskeie hoedanighede en skrywer in verskeie genres?
Al plek waar ek my ooit regtig tuis gevoel het, was die Duiwenhoksvallei van destyds. Daarvandaan het ek nogtans oormoedig beweeg van kontrei tot kontrei. Lesend en uiteindelik skrywend. Stellenbosch het vir geleenthede gesorg, nabye kennismaking met taalmense soos Opperman, inspirerende historici soos Diko van Zyl en Hermann Giliomee, kultuurhistorici soos Bun Booyens en Pieter Grobbelaar, die strak denke en styl van akademiese skryfwerk. Daarna het ek die blitsige skryfwerk van die joernalis aangeleer by Beeld, ’n ongelooflike leerskool. Dankie Johan Holtzapfel, Chris Karsten, Ebbe Dommisse. Hierdie soort skryfwerk gaan egter in teen die taalontginnende soort poësie wat in my aard is. Pas toe ek onlangs ’n rustiger leefstyl kon bekostig en met literêre vertaalwerk op dreef kom, het ek weer by die poësie uitgekom. Nie dat ek al is waar ek graag wil wees nie!
In Afrikaanse poësie bestaan ’n tradisie van streektaalverse waarin dikwels streng tegniese eise geld. Dit is ook ’n bewaarplek vir woorde, taal en wêreldbeskouings. Hoe beskou jy hierdie aspekte in jou eie werk?
Nie al my gedigte het met Afrikaanse streke te doen nie. My blik verskuif egter maklik na die oë van iemand op velskoene in ’n voetpaadjie. Dit het te doen met opgaan in die assosiasie, die vraag na hoe ’n werklik ongekunstelde oopkopmens op verskynsels reageer. Daarom is die vrye praatvers met ’n baie besliste eie ritme vir my ’n tegniese leidster, die pouses, die vertragings en beklemtonings met enkelwoordreëls tussen langer uitlopers, die oënskynlik onverwagse herhalings of rym. Elke situasie het sy eie deuntjie.
Van oënskynlik eenvoudige natuurbeskrywings wat op idiomatiese vlak verdiep tot hul poëtiese reg, tot die samevoeging van uiteenlopende wêrelde en tye – soos naoorlogse Nederland en Oos- en Wes-Berlyn, asook antieke Ysland en die Ooste – jou verse is sprekend van jou vermoë om plekke en historiese kontekste op verrassende wyses te laat saampraat. Hoe het jou agtergrond en manier van kyk hierdie soort verbindings en verrassende samevoegings beïnvloed. Watter rol speel dit in jou digkuns?
Iemand wat na aan die natuur grootgeword het, is bedag op spore, die naelmerke van die muishond en die ratel, die ronde toonmerke van die rooikat en die luiperd, die sleepmerke van die geelslang. Dit is sulke soort merke wat ek op onverwagte oomblikke gewaar in Brugge, Finnmark of Bellville, spore van stories. Stories wat roep om net genoeg invulling, sodat die poësieleser self verder kan toevoeg.
Hoe het jy herdigting in Poëme benader?
Die bundel bevat meerdere herdigte, maar die vernaamste is in die slotafdeling. Ek het Willem Frederik Hermans se roman Nooit meer slapen (Nooit meer slaap nie, 2018) uit skatpligtigheid vertaal en toe opnuut gefassineer geraak met die Viking-kultuur. Daarna het ek minstens een koue Kaapse winter bibberend deur die Edda gaan reis, ’n antieke versameling Yslandse gedigte. Wat ek hier weergee, is as’t ware reisaantekeninge van hierdie tog. Ek bied vervormde reëls en strofes, kerne, waaromheen enorme oop ruimtes vir die bereidwillige leser wag om ingevul te word en wat hopelik soms die rillings van herkenbaarheid sal laat uitslaan.
Jy dra ’n gedig op aan Louw. Ook die invloed van Boerneef, wat in lewe ’n vriend van Louw was, sit in die taal en versvorme in Poëme. Watter aansluitings en/of kontraste tussen digters spreek tot jou as digter? Ek dink byvoorbeeld aan die “hoë koue paaie van ’n aristokratiese ideaal” by Louw, teenoor die veldwagters van Boerneef, wie se taal die Vijftigers se eksperimente op verrassende wyses in ander streke plaas.
Ek is opgelei en het klasgegee as Neerlandikus. Daarom het ek my dekades lank hoofsaaklik besig gehou met besielende Nederlandse en Vlaamse poësie: Rutger Kopland, Chris van Geel, HC Ten Berge en nog veel meer. Ek het egter ook studies gedoen oor “Klipwerk” en Boerneef se poësie, veral die verbintenis daartussen en ons eie mondelinge tradisie van volkspoësie. ’n Mens sou laasgenoemde ’n Afrikaanse korrektief kon noem, hoewel ek dit selde so ervaar. Alles lei terug na die geheime lewe van woorde. Die meer as duisend jaar oue Nederlandse woordeskat is presies wat die term sê, naamlik ’n skat tot beskikking van die Afrikaanssprekende wat intensief met taal wil werk. My reisaantekeninge en berigte te velde kom uit ’n onoorsigtelike, skaars nog verkende gebied.
Poëme verskyn by Turksvy Publikasies, met redaksionele sorg deur Daniel Hugo. Hoe ervaar jy dit om jou werk in 2025 via ’n onafhanklike uitgewery te publiseer, en wat beteken dit vir jou om saam met ’n mededigter aan die orde van Hugo aan die uitreiking van jou bundel te werk?
Ek het ’n aanvaring gehad met ’n groot uitgewer ten opsigte van ’n manuskrip kortverhale. Gelukkig. Want ek het gesnap dat neo-sensuur ’n gevaarlike ondier is wat hier tussen ons rondloop. In poësie en by ’n kleiner uitgewer kan mens dit ontglip. Daniel Hugo is een van die enkele poëtiese vakkundiges in Afrikaans in wie ek groot vertroue het. Samewerking met hom het inderdaad ’n groot rol gespeel by hierdie bundel en ek kan hom en Marlene nie genoeg bedank nie.
Toeganklikheid, vernuwing en die idee van die gedig as “well-wrought urn” vra om stiplees, aandagtigheid en bereidheid om gedronge taal te laat suurdeeg. Die lees van ’n gedig vra om aandag wat ingaan teen die oppervlakkige verbruik van gedigte. Hoe beskou jy die lees én die skryf van gedigte in hierdie verband?
Ek het ’n grondige wantroue in mense wat verwys na die werk van ernstige digters as “gediggies”, selfs al is die tekste kort. Al skrywende moet ek steeds weer terugkeer na my poëme en selfs ná publikasie is daar ’n drang om verder te meet en pas. Dit is seker vermetel om net soveel aandag van ’n leser te verwag. Ek wil maar volstaan met die klipwerk op die omslag. Let wel, my naam is doelbewus daarop in die stof neergesit, eintlik maar ’n deurmatjie.
Is jy as digter in die eerste instansie redigeerder, saamleser of vertaler vir dít wat ’n gedig benodig? Hoe werk hierdie soort alchemie by jou?
Ek het nie ’n eenvoudige antwoord nie, want dit gaan oor ervarings, kennis, indrukke wat oor ’n halwe leeftyd opgeslaan lê en dan deur ’n enkele prikkel, besef, beeld, woord geaktiveer word wat soos ’n magneet ’n spesifieke allooi aantrek. Dan volg die lees, herlees, selfs interpretasie en ’n baie pynlike loslaat.
Poëme betrek uiteenlopende wêrelddele en geskiedenisse, en jy verwys in Joan Hambidge se gesprek met jou op Versindaba na etimologieë wat in jou gedigte saampraat. Is hierdie aandag aan die oorsprong van woorde ’n voortsetting van jou werk as literêre vertaler? Wat aan literêre vertaling staan in noue verband met jou benadering tot die skryf van gedigte én herdigtings?
Dit gaan steeds om die toegewyde soeke na die juiste woord.
Is daar reeds sprake van ’n komende digbundel, ’n verdere literêre vertaling? Waaraan werk jy tans?
Onthou ek kom uit die kontrei van MER wat gesê het ’n mens kan pas ná 80 regtig begin skryf. Ek sien hierdie bundel as ’n begin en hoop op die nodige genade. Vertaalwerk loop daarnaas. My vertaling van Die ongelukkige en treurige verhaal van die skip die Gouden Buys 1693, na aanleiding van ’n skeepsramp by St Helenabaai aan die Weskus en ’n boek uit 1695, het onlangs verskyn. My niefiksieboek oor die Boere-rebelle in die Boland en Noord-Kaap nader voltooiing. Ek glo ’n letterkundige, vertaler én digter moet vlamme op sy hakke hê. Maar elke ding op die boerekalender het sy jaargety.
Lees ook:
Die Suid-Afrikaanse neerlandistiek, ’n terughunkering na die Ryk?
Suid-Afrikaanse skrywer Abraham H de Vries ontvang ’n eredoktorsgraad in die lettere

