Die Suid-Afrikaanse neerlandistiek, ’n terughunkering na die Ryk?

  • 0

<< Gaan terug na Poolshoogte
>> Nog menings
Lewer kommentaar heel onderaan die bladsy of stuur jou reaksie aan [email protected].

Die Suid-Afrikaanse neerlandistiek, ’n terughunkering na die Ryk?1

JM Coetzee

Koop Dusklands by Kalahari.com.

Koop Waiting for the barbarians by Kalahari.com.

Nederlanders en de Afrikaners, adhesie en aversie

Een van die lesse in natuurstudie op laerskool wat my steeds bybly, handel oor die sogenaamde parallaksfout, dit is die oënskynlike verplasing van ’n objek as gevolg van die verandering in die posisie van die waarnemer.

Daar bestaan steeds die gevaar van ’n parallaksfout wanneer ’n mens die Suider-Afrikaanse neerlandistiek teenoor die neerlandistiek in die Lae Lande stel. Dit geld ook die kombinasievak Afrikaans en Nederlands waarin die neerlandistiek in Suider-Afrika oorleef.

’n Bepaalde aspek van die probleem is deur JM Coetzee geformuleer, hoewel dit nie met Afrikaans en Nederlands te make gehad het nie. Dit kan reeds teruggevoer word na ’n voorval waar die skrywer as vyftienjarige vir die eerste keer ’n opname uit die werk van Bach gehoor (Kannemeyer 2012:7899) en opeens intens bewus geraak het van die grootsheid van klassieke musiek. Afgesien daarvan dat die seun ná hierdie voorval ’n liefhebber van klassieke musiek sou word, het dit ook, soos sy biograaf JC Kannemeyer dit stel, “’n meer praktiese nawerking [gehad], naamlik ’n besluit, al was dit nie volkome bewustelik nie, om hom simbolies te vereenselwig met ’n groter tradisie as die provinsiale, koloniale wêreld waaraan hy tot nog toe blootgestel was”. Hy probeer dan ook om te emigreer kort nadat hy afgestudeer is, eers na Engeland en daarna die VSA. In ’n wrede wending van die geskiedenis word hy egter teruggedwing na Suid-Afrika en beland hy min of meer as banneling met die nog onvoltooide manuskrip van sy eerste roman, Dusklands, in ’n beskeie plaashuisie naby die gehug Leeu Gamka in die Groot Karoo. Letterlik gemarginaliseer moet hy hier die res van die roman in ’n selfgemaakte skerm onder ’n boom voltooi.

Hierdie kwessie van koloniale marginaliteit teenoor die mag van die metropool kom later opnuut ter sprake in ’n lesing wat Coetzee aanbied by die ontvangs van die CNA-prys in 1979 vir Waiting for the barbarians. Sy vraag is eintlik of ’n Suid-Afrikaanse literatuur in Engels ’n nasionale literatuur genoem kan of behoort te word (Kannemeyer 2012:379). ’n Basiese probleem is hierby vir hom dat literatuur wat weg van die “metropool” tot stand kom, eintlik steeds weer daaraan uitgelewer is om onder meer die “vorme” of modelle (sowel literêr as linguisties) van die dominante sentrums te gebruik. Hy besluit na aanleiding hiervan dat die Suid-Afrikaanse Engelse literatuur met betrekking tot Wes-Europese en Noord-Amerikaanse sentra van dominansie steeds ’n provinsiale literatuur bly. Hiermee moet die Suid-Afrikaanse skrywer eenvoudig leer om saam te leef (Kannemeyer 2012:380–1).

Geld dit ook die Afrikaanse skrywer in sy verhouding tot die groter Nederlandse taalgebied en is die kombinasie Afrikaans en Nederlands ’n vergestalting hiervan?

Vergun my nou eers enkele opmerkings oor die historiese ontwikkeling van die koloniale verbintenis tussen Nederland en Suid-Afrika wat die konteks vorm vir ons kombinasievak Afrikaans en Nederlands. Maar voor ek dit doen, wil ek nog eers iets uitklaar. Wie in Suider-Afrika het vandag ’n kulturele en dus ’n postkoloniale verbintenis met die Nederlande? Ek sou dit wil stel dat iedereen in Suider-Afrika wat Afrikaans ken, selfs slegs as tweede of derde taal, ook ’n gebruiker van Xhosa of Ovambo wat Afrikaanse woorde in sy woordeskat opgeneem het, per definisie ’n postkoloniale band met die Nederlandse kultuur het.

Histories is die staatkundige koloniale verbintenis uiters ingewikkeld, en die amptelike Nederlandse standpunt dat Suid-Afrika nooit ’n kolonie was nie, is volgens die letter grotendeels korrek. Ek sou ’n uitgebreide historiese oorsig kon gee, maar die ruimte ontbreek. Twee boektitels som wel vir my die ontwikkelinge op. Allereers is daar Gerrit Schutte se studie getitel Nederlanders en de Afrikaners, adhesie en aversie. Daarteenoor staan Chris Schoeman se studie oor Nederlandse deelname aan die Suid-Afrikaanse Oorlog (Anglo-Boereoorlog), Broeders in die stryd. Soos Schutte se titel aandui, was alles dus nie koek en ei nie en ’n terughunkering deur die aan die Kaap agtergeblewe kolonialers om die Nederlandse kolonie as sodanig te herstel, bestaan selfs al gou na die slag van Blouberg in 1806 nie meer nie. Wat wel gebeur, is dat die Nederlands-Afrikaanse taalgebied daarná enorm uitgebrei is deur binnelandse sprekers van wat Kaaps-Hollands genoem kan word. In Noord-Kaap asook die suide en sentrale dele van Namibië was die taalverspreiders die volgelinge en onderdane van Jonker Afrikaner; in die huidige Vrystaat en wat tot onlangs die Transvaal genoem is, was dit die Voortrekkers .

Binne die ou Nederlandse koloniale grense van die VOC sou hierna ’n stryd uitbreek tussen Nederlandse puriste en diegene wat Nederlands wou vervang met die plaaslike variant, Kaaps-Hollands – dus met Afrikaans. Dit lei tot kompromisse wat insluit dat die studierigting Nederlands uiteindelik op die universiteite vervang is met ’n kombinasievak Nederlands en Afrikaans.

Die 20ste eeu sou nog een groot simboliese uitreiking vanuit ’n verenigde Suid-Afrikaanse staat na Nederland bied, die Van Riebeeck-fees van 1952 wat gehou is om die VOC-vestiging en sogenaamde “volksplanting” van 1652 te herdenk. En oor alles sou op daardie stadium die vlag van die “ou Suid-Afrika” wapper: die oranje blanje blou van die VOC met daarbinne ook nog twee miniature van die Nederlandse vlag ingeslote in die ou vlae van die gewese Nederlandse republieke. In hierdie kader sou ook ’n kultuurverdrag gesluit word. Twee dekades daarna sou die twee lande uiteen begin dryf juis op grond van etiese verskille oor wat in wese koloniale problematiek was. Ternouernood sou die kombinasievak egter aan die meeste Suider-Afrikaanse universiteite gehandhaaf word. Intussen is die breuk in ’n mate oorbrug, onder meer deur inisiatiewe van die Nederlandse Taalunie.

Die heftige dekoloniseringsgolf wat in die tweede helfte van die 20ste eeu oor die aarde gespoel het, het egter wel deeglik beklemtoon dat al wapper die Nederlandse vlag ongeveer nêrens meer oor die “resten van tropisch Nederland” nie, bly die metropool nog bestaan. Die kreet “Indië verloren, rampspoed geboren” het totaal onjuis geblyk. Nederland het selfs ’n kort nuwe Goue Eeu beleef en daar word gefluister dat die land eintlik besonder goedkoop van sy kolonies ontslae geraak het. Dieselfde geld waarskynlik België as laat toetreder tot die Europese koloniale avonture. Beide lande tel ná die globale dekoloniseringsproses steeds onder die sterkste ekonomieë van ter wêreld. Saam met die koloniale revolusie het daar naamlik ook ’n ekonomiese revolusie plaasgevind waardeur grondgebied en direkte beheer oor grondstowwe veel minder deurslaggewend geraak het. Vanuit lande soos Suid-Afrika gesien, lyk hierdie twee metropole soos dwerge, maar in werklikheid is dit beskeie ekonomiese reuse waarvan burgerskap uiters waardevol is. Die verenigde Suid-Afrika, daarenteen, wat in 1910 tot stand gekom het, het die voorkoms van ’n reus, maar is eerder ’n ekonomiese dwerg met burgerskapsvoordele wat veel te wense oorlaat.

Dit is die konteks waarbinne diegene met Nederlandse kultuurbande hulle vandag kan afvra of die Nederlandse metropool vir hulle nog iets te bied het.

Vergun my om ook nog te vertel van ’n slegte droom wat my steeds tormenteer: Ek is self ’n eksemplaar van iemand wat ’n loopbaan lank groot voordeel getrek het uit die doktoraal ouwe stijl (let wel!) wat ek in die jare sewentig danksy die kultuurbande toegelaat is om in Utrecht te voltooi. Daar kom egter gereeld ’n toneel by my op van iets wat plaasgevind het na afloop van die Slag van Blouberg in 1806 toe die Bataafse Republiek die Kaap finaal moes afgee. Die sendeling Henry Martyn skryf in sy dagboek hoe onder die vele gewondes wat hy op die slagveld besoek het, ook ’n gewonde Pandoer gelê het, ’n inlander wat die Kaap help verdedig het: “Sy been was in die heup afgeskiet en in sy doodsworsteling het hy die sand gebyt en die Hollanders met die vreeslikste woorde gevloek” (Krynauw 1999:105). Hy was iemand wat hom ten diepste in die steek gelaat gevoel het deur die koloniale verbintenis. Vir my as Suider-Afrikaanse neerlandikus om hom te vergeet, voel na bittere verraad. Hoe moet postkoloniale skakelpersone soos ek optree om hierdie landgenoot nie in die steek te laat nie? Maar daaroor later nog meer.

Omstreden paradijs, ooggetuigen van Nederlands-Indië

Koop Scramble for Africa by Kalahari.com.

Koop Congo by Kalahari.com.

Suider-Afrikaanse neerlandici en mense wat ingelig is oor Nederland, weet vandag dat die metropool moreel nie so erg veel het om mee te spog as wat die swaaiende vingertjie in die jare sewentig en tagtig pretendeer het nie. Ek hoef in die verband slegs te verwys na twee boeke: Olf Praamstra en Peter van Zonneveld se Omstreden paradijs, ooggetuigen van Nederlands-Indië (2010) en Herman Vuisje se Correct, weldenkend Nederland sinds de jare zestig (2008). Omstreden paradijs bevat onder meer voorbeelde van verskriklike koloniale misstappe onder die Nederlandse vlag.Vuisje analiseer op sy beurt die teenstrydige en selfs korrupte aard van die politieke korrektheid waardeur die Nederlandse samelewing en politiek oorheers is juis toe die land probeer het om die status van internasionale etiese “gidsland” te verwerf. Ten opsigte van België – waar ek owerigens nooit ’n vingertjie gewaar het nie – kan mens maar Thomas Packenham se Scramble for Africa lees en dan Van Reybrouck se Congo.

Dit is wel geen rede om die moderne Nederlandse klem op demokrasie, inklusiwiteit en onderlinge mededoë, asook die debat oor die instandhouding van sodanige waardes, nie óók te beskou as iets positiefs wat die metropool te bied het nie.

Miskien is die vernaamste kenmerk van ’n metropool dat dit in staat is om enige kritiek en skuld te oorleef. Dit dui trouens op die voorwaarde van mag: soos Igor Bratoes2 ’n keer genoem het – ’n taal en kultuur bestaan pas as dit ook oor ’n leër beskik. Die verdedigingsmag kan natuurlik ook ekonomies van aard wees.

Die Afrikaanssprekendes op die rand van die Nederlandse Ryk verteenwoordig daarteenoor tans ’n kultuur sonder ’n leër en met min mag. Die postkoloniale verhouding ten opsigte van die Lae Lande waaroor vorige generasies Afrikaanssprekendes die illusie gehad het dat dit nagenoeg irrelevant is, word wel tans deur hierdie situasie geaksentueer.

Eie sisteem

Veral in die departemente Afrikaans en Nederlands is ’n mens hiervan bewus. Ek wil vervolgens, net soos JM Coetzee, die fokus plaas op die letterkunde as kultureleverhoudingsterrein.

Na aanleiding van Coetzee se uitsprake noem Kannemeyer (2012:377) dat die kwessie eintlik reeds 44 jaar tevore, in 1936, deur Coetzee se Afrikaanse landgenoot NP Van Wyk Louw in ’n lesing geopper is:

In dié lesing verset Van Wyk Louw hom teen die “gemoedelike lokale realisme” wat in die Afrikaanse literatuur (...) veral in die prosa oorheers. Dit kom volgens hom neer op ’n koloniale en dus “fragmentariese” literatuur wat nie die “volle menslikheid” omvat nie. Teenoor hierdie beperkte opvatting van dié literatuur kom Van Wyk Louw dan by die visioen wat hy vir die Afrikaanse literatuur het, naamlik dat skrywers en sprekers in Afrikaans alles moet kan sê wat ook in Europese tale geskryf en gepraat word. Solank mense sou sê dat dít of dát goed pas in die Europese tale, maar nie in Afrikaans nie, is dit ’n vorm van verknegting vir Afrikaans en vir die mense wat Afrikaans praat. Wanneer enige hartstog of gedagte wat ’n Afrikaanse mens kon beleef of kon gedink het, prinsipieel nie in die Afrikaanse letterkunde pas nie, is Afrikaans nog ’n kolonie van ’n vreemde kultuur. Dit veronderstel dat Engels, Duits en Nederlands universeel is, maar dat Afrikaans lokaal bly.

In die Afrikaanse letterkunde was die skatpligtigheid ten opsigte van die Nederlandse metropole teen 1936 nog groot. Wanneer die Afrikaanse poësie ná 1900 op dreef kom, soek twee van die voorste jong digters, sowel C Louis Leipoldt as Totius, byvoorbeeld nog advies by Albert Verwey. Verwey gee vervolgens wyslik voorkeur aan twee aspekte by Leipoldt: dat hy digby die spreektaal bly en dat hy stem gee aan die Suid-Afrikaanse natuur – omdat hy meer Suid-Afrikaans is (Van Halsema 1996).

Verskeie oorspronklik Nederlandstalige skrywers wat Afrikaans as medium aangegryp het, het op ’n deurslaggewende vroeë stadium enorme waarde toegevoeg. Ek noem maar twee wat elkeen verbind kan word met ingrypende historiese gebeurtenisse; daar is uiteraard heelwat meer. Die een skrywer wat kort na 1936 reeds gesorg het vir ’n roman op die vlak wat Van Wyk Louw dit gestel het, was J van Melle met sy En ek is nog hy in 1942 wat later die titel Bart Nel gekry het. Dit is ’n roman wat afspeel in die rampspoedige Rebellie van 1914 waaraan hy self deelgeneem het. Oor ’n tweede groot ramp, die ekonomiese insinking van 1933, skryf Jochem van Bruggen: in sy romantrilogie oor die Ampie-figuur probeer hy nie slegs indring in die mentaliteit van die slagoffers van armoede nie, maar dui hy ook oplossings aan.

Ook in die literêre kritiek is daar Nederlanders wat ’n uiters belangrike rol gespeel het. Dit begin al in die 19de eeu met CP Hoogenhout, ’n Nederlandse immigrant gemasker agter die uiters Afrikaans-klinkende pseudoniem “Oom Jan wat versies maak”. Hy is die poësieredakteur van die eerste Afrikaanstalige blad, Die Afrikaanse Patriot, wat digters aanmoedig, hul werk regstel en self ook skryf. In die 20ste eeu ken die Afrikaanse letterkunde veral twee groot inhaalpogings, vergelykbaar met die Beweging van Tachtig en die Vijftigers in Nederland: dit is die Dertigers en die Sestigers. In beide gevalle raak daar ’n belangrike Nederlandse kritikus as begeleier betrokke. In die geval van die Dertigers is dit HA Mulder en by die Sestigers Jan Greshoff.

JC Kannemeyer

NP Van Wyk Louw

Over grenzen, oor grense

Sowel die Dertigers as die Sestigers sorg dat Van Wyk Louw se ideaal grootliks verwesenlik word. Na dese kon nie meer gesê word dat die Afrikaanse literatuur nie ’n eie karakter, ’n eie sisteem met behoorlik veel kwaliteit tot stand gebring het nie. Die Nederlandse medewerking verdwyn nie, onder meer as gevolg van die vakkombinasie Afrikaans en Nederlands. Dit neem egter opvallend af.

Dus: hierdie ontwikkeling was oorsigtelik gestel ’n besonder suksesvolle en harmonieuse dekoloniseringsproses waaruit ’n eie literêre sisteem vir Afrikaans ontwikkel is. Die deelname van Nederlandse en Vlaamse letterkundiges aan Ronel Foster se projek met die bundels Over grenzen, oor grense (2009) en Toenaderingen (2013) asook aan my en Peter Liebrechts en Olf Praamstra se bundel Zo ver & zo dichtbij is ’n bevestiging van ’n hernude sfeer van vriendelike relasies al het die kulturele boikot dit op ’n stadium ernstig beperk. Die titel wat Praamstra bedink het, is trouens ’n sprekende definisie van hierdie betrekkinge. Die groter geheel van die Nederlandse taalgebied word hierdeur bevestig.

Omdat die Afrikaanse letterkunde ’n eie sisteem ontwikkel het, kan dit inderdaad met selfvertroue binne die vakkombinasie Afrikaans en Nederlands bestaan. Dit verkeer dus prinsipieel nie in die posisie wat Coetzee beskryf omtrent die Engelse Suid-Afrikaanse literatuur nie.

Wat die geskiedenis van die betrekkinge binne die groter Nederlandse taalgebied betref, kan daar natuurlik heelwat staaltjies en voorvalle genoem word. Steeds ontstellend vir my is die digter Leipoldt se desperate optrede toe hy in Mei 1940 die nuus ontvang van die Duitse inval in Nederland: hy het hom na die parlementsgebou in Kaapstad gehaas en leiers van alle partye genader om ’n gesamentlike protesverklaring uit te reik. Sy poging het klaaglik misluk. Hierteenoor staan NP Van Wyk Louw, WEG Louw en DB Bosman se bloemlesing wat in Augustus van dieselfde jaar gepubliseer is onder die titel Tussen die engtes, ’n Afrikaanse versameling ten behoewe van Nederlandse skrywers. Byna alle Afrikaanse skrywers van naam het bydraes gelewer. Greshoff noem in sy nawoord dat die boek “een getuigenis” is “van trouw en kameraadschap, waarvan men de beteekenis moeilijk overschatten kan”. Hy sluit sy stuk onder meer met die volgende uitspraak af: “Het is nu eenmaal de bittere taak van kunstenaars en denkers om in deze wereld telkens weer opnieuw de schade te herstellen door de mannen van de daad aangericht.”

Ek wil terugkeer na bepaalde aspekte van hierdie verbintenis wat die vakkombinasie Afrikaans en Nederlands raak.

Klassieke

’n Eerste punt wat ek in die opsig wil opper, word eintlik ook deur Greshoff in sy nawoord by Tussen die engtes aangeraak en het met die reeds genoemde parallaksfout te make. Greshoff sê: “De Afrikaansche litteratuur, welke het voorloopig zonder eeuwenoude overlevering en zonder een talrijke lezerskring moet stellen, heeft een onvergelijklijk toonbeeld van levenswil en levenskracht gesteld” (Bosman ea 1940:205). Dat die Afrikaanse letterkunde en taal “voorloopig zonder eeuwenoude overlevering” sou bestaan, is ondanks die vriendelikheid van Greshoff se woorde ’n ernstige koloniale misvatting van buite wat oor baie jare ook nog versterk is deur ’n verdraaide nasionalistiese blik van binne die Afrikaanssprekende wêreld. Ek verwys na die illusie dat Afrikaans ’n jong taal sou wees. Die Afrikaanse taal is inteendeel, soos Abraham de Vries by geleentheid uitgewys het, net so oud soos alle Germaanse tale.

Die radikale vernuwings, en selfs roekelose aanpassings, van Nederlandse variante waardeur Afrikaans gevorm is, het ’n basis gehad waarop dit gedoen is, anders was dit immers nie moontlik nie. Hierdie basis was Nederlands. Dit beteken dat sowel die historiese taalkunde as letterkunde van Nederlands ook erfgoed is van Afrikaans. Dit is natuurlik elke individu se keuse of hy of sy ’n erfenis wil opneem. By akademiese studie van Afrikaans het ons in beginsel egter nie so ’n keuse nie, want dan beperk ons die terrein kunsmatig en op ’n leuenagtige manier. Om hierdie erfgoed te ignoreer en volkome aan die metropool oor te laat, sou eweneens neerkom op ’n “verknegting”, om Van Wyk Louw se term oor te neem.

Wat die waarde van letterkundige klassieke betref, wil ek Herman Pleij aanhaal. Pleij (1994:17) wys daarop dat die erkenning van ’n taal se klassieke werke te make het met die erkenning van beskawing as sodanig. Grondliggend aan alle idees omtrent verbeteringe is daar telkens ’n gewysigde historiese besef: “[B]ruggen bouwen, opereren en naar de maan gaan (hebben te maken) met ideologie en ethiek, die vooral in de literatuur zijn aangemaakt. En hoe verder men teruggaat, hoe sterker de rol van literatuur daarbij blijkt te zijn. Literatuur maakt stemming en opinieert. Hoe kan men dan ooit deze tonteldoos of doofpot van standpunten en emoties terzijde schuiven, terwijl men zelf bij gratie daarvan rondloopt en over de toekomst mag denken? Een dergelijke besef van cultuur moet het lezen en koesteren van de eigen klassieken een bescheiden maar volwaardige plaats teruggeven in elk beschaafd opvoedingssysteem.” “Bescheiden” is sekerlik ’n belangrike kwalifikasie. En los van die eietydse aktualiteit hoef dit ook nie beskou te word nie. Soos die Italiaanse literator Italo Calvino (1994:163) dit stel: “Klassiek is dat wat de actualiteit tot achtergrondlawaai neigt te degraderen, maar wat tegelijkertijd niet zonder dat achtergrondlawaai kan.”

Aandag aan die Suider-Afrikaanse aktualiteit sou dus ’n rol kon speel by die keuse van die klassieke erfgoed wat ons onder ons studente se aandag bring. Met Elkerlyc hoef daar byvoorbeeld nooit ’n probleem te wees nie. Yves van Kempen (1994:138) noem: “Het gewetensonderzoek is vermoedelijk de belangrijkste erfenis die het christendom de moderne mens heeft nagelaten.” Elkerlyc vergestalt onder meer ’n belangrike stap in hierdie beskawingsontwikkeling. Hierteenoor staan “die wrede een met die rooi baard3”, die Reynaert,wat juis weer steeds aan die hakskeen van die beskawing byt by elke tree van vooruitgang. En mag ons Thomas Francois Burgers bly ignoreer wat in sy Toneelen uit ons dorp ’n Suid-Afrikaanse verhalende letterkunde aankondig en dit met ratse verbale rapierspel open?

Literêre kritiek

C Louis Leipoldt

Koop Alkant olifant, ’n inleiding tot die literatuurwetenskap by Kalahari.com

Koop Agaat by Kalahari.com.

’n Volgende blik wil ek werp op die literêre kritiek. Ontwikkel die gewese kolonie eie maatstawe wat by ’n eie situasie pas, of word pasklaar kriteria onderdanig uit die metropole oorgeneem?

In een van die eerste stadiums van die literêre kritiek vir Afrikaans was die kriterium dat werke “’n weerspieëling van die nasionale werklikheid” moet wees, soos Rialette Wiehahn (1965:1–5) dit stel. Dit is wel uitgesproke dekoloniserend, maar nie noodwendig deurgaans positief nie. Reeds in die jare dertig skep C Louis Leipoldt byvoorbeeld in sy roman The Mask ’n figuur, ene Mr Mabuis, wat op die negatiewe kant van hierdie soort benadering wys. Volgens hom lei hierdie eis omtrent die nasionale werklikheid daartoe dat literatuur geleidelik tot nasionalistiese propaganda-literatuur gereduseer word (Leipoldt 2001:559).

Die vernuwende beweging van die Dertigers sluit in teenstelling hiermee in wese aan by die Nederlandse Tachtigers en Willem Kloos se kriterium dat “poëzie moet zijn de allerindividueelste expressie van de allerindividueelste emotie”. Daar word dus met wins vir die ontwikkelende Afrikaanse literêre sisteem teruggegryp na standaarde uit die metropool.

’n Volgende belangrike sprong in die kritiek, die teksimmanente benadering van die jare vyftig, kan eweneens teruggevoer word na Nederland, en spesifiek na prof Hellinga in Amsterdam. Sy vernaamste medewerker is egter Merwe Scholtz. Hier is dus sprake van samewerking, ’n groot harmonie tussen die metropool en die voormalige kolonie. Helaas is ook dit nie sonder meer positief nie, want in Afrikaans veroorsaak dit dat die maatskappy-kritiese vorme van literêre kritiek te lank geïgnoreer word.

’n Onlangse baken is Chris van der Merwe en Hein Viljoen se studiegids Alkant olifant, ’n inleiding tot die literatuurwetenskap (1998). Hierdie boek is wel in ’n mate gemodelleer op Segers se Vormen van literatuurwetenschap. Dit bied in die proses ’n oop benadering waarmee die student en kritikus na alle kante kan beweeg. Van literêre ketterye kan hier geen sprake wees nie. Dit geld seker ook die huidige verhouding tussen metropool en die ekskolonie ten opsigte van literêre kritiek.

Die kombinasie Afrikaans en Nederlands bied tans ook groter geleentheid vir individuele wedersydse kritiek oor die grense van die literatuursisteme heen. ’n Goeie voorbeeld is Annie van den Oever (2007:87) se opmerking in ’n artikel in Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans oor Marlene van Niekerk se Agaat. Sy skryf: “Hoewel alleen binnen de geschiedenis van de romankunst aan complexe romans recht kan worden gedaan, ligt in beladen politieke situaties als die waarin Zuid-Afrika momenteel verkeert een uitgesproken politieke lectuur niettemin op de loer. Romans dreigen in een dergelijke situatie te worden gelezen binnen de context van de vaderlandse geschiedenis en als een kritiek erop. Omdat het land in radicaal verschillende fracties en posities uiteen dreigt te vallen, is, ook voor de literaire kritiek, de verleiding groot om romans te reduceren tot een stem en een positie in dit politieke debat (waarin de critici bovendien zelf ook partij zijn).” ’n Waarskuwing soos hierdie aan die Afrikaanse kritiek sou ek nie wou mis of as ’n teken van meerderwaardigheid uit die metropool beskou nie. Ek voel trouens net soos sy by die lees van stompsinnighede wat sommige kritici in die Nederlande oor die werk van WF Hermans kwytgeraak het.

Eietydse literatuur

En dan nog ’n vraag: Hoe sinvol is dit om die twee (of as ’n mens Ton Anbeek mag glo, selfs drie) letterkundes in een studiering steeds naas en teenoor mekaar te plaas?

Daar het wel die afgelope twee dekades in dié opsig ’n ongekende uitwisseling tussen die ekskolonie en die metropole plaasgevind. As Susan van der Ree haar studie Caleidoscoop oor vertaalde werke uit Suid-Afrika in Nederlands uit 1996 vandag sou herskryf, sou dit flink in dikte moes toeneem. Ek verwys na die aanbod van wedersydse vertalings. ’n Uitspraak van Daniel Hugo in die begin van hierdie ontwikkeling was kennelik tereg. Hy het daarop gewys dat dit ’n illusie is dat die publiek in die Nederlande Afrikaans sou lees en Afrikaanse lesers Nederlands en dat so ’n idealistiese droom literêre uitwisseling ernstig ondermyn. Nuwe werke deur die belangrikste skrywers van literêre romans in Afrikaanse word tans byna outomaties in Nederlands vertaal en in ’n mindere mate Nederlandse werke ook in Afrikaans.

Hoewel die vertaalde werke uit Afrikaans maar ’n klein deel uitmaak van die groot korpus van vertaalde werke wat in Nederlands verskyn, is die handelsbalans wel deeglik in die guns van Afrikaans. Wat hierdeur bevestig word, is dat die ekskolonie daarin geslaag het om literêre produkte van uitvoergehalte te lewer en wat indien miskien nie voorheen nie, dan nou wel, met selfvertroue kan bestaan binne die vakkombinasie Afrikaans en Nederlands.

Hierdie ontwikkeling bied ook bykomende ruimte vir die Suider-Afrikaanse neerlandikus. Ek was die afgelope jare betrokke by verskeie vertalerswerkswinkels ten opsigte van die twee tale en dit het geblyk dat ons hier met ’n uitstekende didaktiese instrument te make het by die beoefening van die neerlandistiek in Suider-Afrika.

Adriaan van Dis

Daniel Hugo

Marlene van Niekerk

Dui die handelsbalans daarop dat die hedendaagse Nederlandstalige letterkunde dan minder te bied het vir die Afrikaanse leserspubliek? In ’n onderhoud met Herman Wasserman in Die Burger op 5 Maart 1999 beweer Adriaan van Dis dat die Nederlandse letterkunde “niks te sê” het vir die Afrikaanse letterkunde nie. Ek het gevoel dat ek daarop moet antwoord en ek haal aan uit my vervolgense koerantbrief: “Ek sou baie jammer wees as my landgenote (vir Adriaan van Dis) op sy woord neem. Dit is immers onsin dat vakmense nie by ander vakmense kan leer nie. Die Nederlandse skrywers van ons tyd beskik wel nie oor dieselfde skatkis van opwindende ellende as Suid-Afrikaners om temas vandaan te haal nie. Die beste roman oor die problematiek waaroor ons beroemde en berugte Waarheidskommissie hom gebuig het, bly vir my egter steeds Harry Mulisch se De Aanslag.

Hiermee het ek hopelik ook reeds die byna onnodige vraag beantwoord of die moderne Nederlandse letterkunde steeds sy posisie binne die kombinasie Afrikaans en Nederlands regverdig.

Woordeskat

Ek wil ’n volgende kwessie aanraak. Ek het al meermale goedbedoelende Nederlandse kollegas hoor sê dit is nou alles goed en wel om ’n taal soos Afrikaans te hê, maar hulle sou nie weet hoe om met so ’n beperkte woordeskat om te gaan nie. So ’n vraag verwoord nogeens ’n koloniale parallaksfout. Deel van die erfgoed van Afrikaans is immers die totale Nederlandse woordeskat plus ’n aantal woorde wat oor die onlangse eeue tot die taal toegevoeg is. Sowel Nederlands as Afrikaans is ook steeds dinamiese woordfabrieke. Dit keuse lê by die ekskolonie om gebruik te maak van sy erfenis, wat trouens daagliks rente trek. Afrikaans beleef tans wel ’n tyd van selfopgelegde woordeskatsarmoede. Sprekers voel hulself geroepe tot ’n bedelorde van die taal. Hierteenoor staan egter Afrikaanse skrywers soos Marlene van Niekerk en Daniel Hugo wat steeds meer intensief van die groter Nederlands-Afrikaanse taalbron gebruik maak. Dit is deel van die Suider-Afrikaanse neerlandikus se taak om die bedelorde te ignoreer en die aandag op hierdie groot bate te vestig.

Leefruimte

Dit moet uit my relaas vir u duidelik wees dat die verbintenis van die metropool, in soverre ’n mens die Nederlande ’n metropool kan noem, wel ’n lang en nogal ingewikkelde geskiedenis het, maar wel bestaan. Die behoud daarvan hou ten minste vir die ekskolonie waarde in. ’n Verbreking hiervan sou skadelik wees en is ook solank Afrikaans bestaan nie werklik moontlik nie. ’n Mens sou trouens heelwat meer voordele kon opnoem. Die snelle ontwikkeling van Afrikaans was immers moontlik slegs omdat dit in wese die standaardisering van ’n variant van ’n reeds deeglik gevestigde taal was.

Die skrywer François Bloemhof het by geleentheid omtrent die kombinasievak Afrikaans en Nederlands genoem dat hy liewer in ’n swembad swem as in ’n bad. Hiermee het hy bedoel die kombinasievak, die verbintenis met die Ryk, bied vir hom die groter ruimte wat hy soek. Dit raak aan Van Wyk Louw se bekende argument dat Nederlands vir Afrikaans ’n venster bied op Europa. Intussen het ten minste sommige van ons vasgestel dat hierdie venster nie slegs op Europa uitkyk nie: ook die Ooste en Suid-Amerika kan hierby ingesluit word. Hierdie winste vir die Afrikaanssprekende is egter op die terrein van die Afrikanistiek moontlik slegs as die kombinasie Afrikaans en Nederlands as vakdissipline gehandhaaf word ondanks die probleme wat dit inhou, soos die beperking op doseertyd en akademiese inhoud.

Die vertrekpunt by ’n kombinasie Afrikaans en Nederlands in ons land kan egter nooit iets anders wees nie as die Suider-Afrikaanse situasie en behoeftes en dus Afrikaans. Dit is waarom daar binne die kombinasie ’n tradisie ontwikkel het van die beoefening van die neerlandistiek deur medium van Afrikaans. Hierdeur is die gevaar van intimidasie deur die metropole na die agtergrond verskuif en kan die toetredende Afrikaanssprekende neerlandikus selfvertroue en mede-eienaarskap ervaar. Nederlands is bowendien nie een van die wêreld se kannibaal-tale nie.

Ek wil ten slotte terugkeer na daardie sterwende landgenoot wat in die Nederlandse taal, of moontlik in Afrikaans, lê en vloek in die sand op die slagveld by Blouberg.

Dit wat die groot Afrikaans-projek genoem kan word, kan in sekuriteit voortgesit word slegs as alle aandeelhouers daar dividende en voordeel aan behaal. En wie is die aandeelhouers? Dit is iedereen wat Afrikaans gebruik, nie eens slegs moedertaalsprekers nie. Dit geld ook die ontginning van die voordele wat die groter Nederlandse taalgebied en die metropole bied. Toegang tot Nederlands en die Nederlande is duidelik as een van die hoër funksies van Afrikaans en mag die aandeelhouers nie ontneem word nie. Dit hou onder meer in dat dit vir knap studente in Afrikaans en Nederlands so maklik moontlik gemaak moet word om sigbaar die groter ruimte te benut deur byvoorbeeld ’n tyd lank in Nederland of Vlaandere te gaan studeer. Hierby wil ek nie die studierigting Nederlands elders ter wêreld uitsluit nie. En ek hoop dat daar uiteindelik ook geleentheid by die derde taalunie-partner, Suriname, sal ontstaan vir Afrikaanse studente. ’n Departement Afrikaans en Nederlands wat nie aktief hieraan werk nie, ontgin nie die moontlikhede van die kombinasie, en eintlik die moontlikhede wat Afrikaans bied, maksimaal nie. Dit kan die Nederlandse komponent binne die kombinasie trouens tot ’n gehate obstruksie laat verval. ’n Mens sou selfs verder kon gaan: ’n departement Afrikaans en Nederlands sou ook vir die res van die universiteit waaraan dit verbonde is, as ’n aantreklike skakel met die Nederlande kon dien en so te meer voordele uit die ekskoloniale verbintenis maak.

As alle aandeelhouers danksy die Suider-Afrikaanse neerlandistiek toegang het tot dividende uit hierdie Afrikaans-Nederlandse projek, sal ons seker wees dat daardie pandoer wat by Blouberg lê en sterf het, nie verniet gesneuwel het nie en in vrede kan rus.

Bronnelys

Bosman, DB, NP Van Wyk Louw en WEG Louw (reds). 1940. Tussen die engtes, ’n Afrikaanse versameling ten behoewe van Nederlandse skrywers. Kaapstad: Hollands-Afrikaanse Uitgewersmaatskappy.

Calvino, I. 1994. Waarom je klassieke boeken moet lezen. Raster 68.

Foster, R en Y T’Sjoen (reds). 2012. Toenaderingen. Leuven/Den Haag: Acco.

Foster, R, Y T’Sjoen en T Vaessens (reds). 2009. Over grenzen, oor grense. Leuven/Den Haag: Acco.

Kannemeyer, JC. 2012. JM Coetzee, ’n geskryfde lewe. Johannesburg en Kaapstad: Jonathan Ball Uitgewers.

Krynauw, DW. 1999. Beslissing by Blouberg. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers.

Leipoldt, C Louis. 2001. The valley, a trilogy. Kaapstad: Stormberg Publishers.

Liebregts, P, O Praamstra en W van Zyl. 2013. Zo ver & zo dichtbij, literaire betrekkingen tussen Nederland en Zuid-Afrika. Amsterdam: Suid-Afrikaanse Instituut.

Packenham, T. 1991. The Scramble for Africa. Johannesburg: Jonathan Ball Publishers.

Pleij, H. 1994. Moderne wanbeheer van de Nederlandse klassieken. Raster 68.

Praamstra, O en P van Zonneveld. 2010. Omstreden paradijs, ooggetuigen van Nederlands-Indië. Amsterdam: Uitgeverij Bert Bakker.

Schoeman, C. 2011. Broers in die stryd, Hollanders in die Anglo-Boereoorlog. Kaapstad: Zebra Press.

Schutte, GJ. 1986. Nederland en de Afrikaners, adhesie en adversie. Franeker: Uitgeverij T Wever BV.

Segers, RT. 1985. Vormen van literatuurwetenschap. Groningen: Wolters-Noordhoff.

Van Bruggen, J. 1965. Ampie, die trilogie. (Eerste uitgawes onderskeidelik in 1924, 1928 en 1942.) Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel.

Van der Merwe, CN en H Viljoen. 1998. Alkant olifant, ’n inleiding tot die literatuurwetenskap. Pretoria: JL van Schaik Akademies.

Van der Oever, A. 2007. Twee “vrolijke schrijvers”. Boon, Van Niekerk en de vernieuwing van de roman. Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans, 14(2).

Van der Ree, S. 1996. Caleidoscoop, een bibliografisch overzicht van literatuur uit Zuid-Afrika in Nederlandse vertaling. Amsterdam: Suid-Afrikaanse Instituut.

Van Halsema, JDF. 1996. “Spraak” en “schriftuur” of Leipoldt versus Totius. Voortgang 16.

Van Kempen, Y. 1994. Den Spyegel der Salicheyt van Elckerlijc (ca 1475). Raster 68.

Van Melle, J. 1942. “En ek is … nog hy”. Johannesburg, ens: Voortrekkerpers. Bpk.

Van Reybrouck, D. 2010. Congo. Antwerpen: De Bezige Bij.

Vuisje, H. 2008. Correct, Weldenkend Nederland sinds de jaren sestig. Derde druk, geactualiseerde editie. Amsterdam: Olympus.

Wiehahn, R. 1965. Die Afrikaanse poësiekritiek. Kaapstad/Pretoria: Academica.


Eindnotas

1 Hierdie opstel is ’n gewysigde weergawe van ’n referaat gelewer by die 8ste Internasionale Kongres van die Suider-Afrikaanse Vereniging vir Neerlandistiek aangebied deur die Universiteit van die Vrystaat in Thaba Nchu, 30 Junie tot 2 Julie 2014.

2 Neerlandikus aan die Universiteit van St Petersburg, ’n goeie vriend van die skrywer.

3 Ek haal aan uit Daniel Hugo se Afrikaanse vertaling van die gemoderniseerde Reinaard die vos van Henri van Daele wat in 2013 by Protea Uitgewers verskyn het.

<< Gaan terug na Poolshoogte

Uit die LitNet-argief
LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)
Die beeld is duursamer as die begrip
– Heilna du Plooy
2014-06-17
Poolshoogte
Afrikaanse literatuur in de Lage Landen
– Ingrid Glorie
2014-07-30
Akademies
Afrikaans-wees in Afrika en die Wêreld
– Johan Degenaar
2000
LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)
Funksionaliteit van die parateks in Lina Spies se vertaling van Anne Frank se dagboek, Het Achterhuis, in Afrikaans
– Carla-Marié Spies
2011-02-28
LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)
Die Oosgrenshipotese as geografiese en teoretiese konstruk
– Heinrich Grebe
2010-10-06
Onderhoud
Week van de Afrikaanse roman
– Naomi Meyer
2014-05-30
LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)
'n Middelnederlandse teks vir die moderne Afrikaansklaskamer
– Terrence R Carney
2009-02-05
Briewe deur die lug
Een lied van schijn en wezen
– Alfred Schaffer
2000

Young Voices Conference 2004
Die mond het klaar gelag
– Tom Dreyer
2004-11-03

LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)
Die diagnostiese waarde van ’n Nederlandse woordeskattoets vir Afrikaanssprekende aanleerders
– Nerina Bosman
2011-10-13

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top