’n Middelnederlandse teks vir die moderne Afrikaansklaskamer

  • 0

 

Abstract

A Medieval Dutch text for the modern Afrikaans classroom

Due to the fact that Afrikaans is such a young language with a young literary tradition, the Afrikaans classroom has no real equivalent to older texts like Chaucer or Shakespeare. The absence of these types of texts from the Afrikaans classroom may leave learners culturally and literarily impoverished. In an attempt to find a way to fill this gap this article proposes the use of Medieval Dutch literature like the plays Elckerlijc (Everyman), Walewein and Van den vos Reynaerde as a possible answer to an apparent need in especially the grade 12 Afrikaans classroom. What follows is a short discussion on the possible reasons why, and ways in which, a Medieval Dutch text can be adapted for classroom use by learners and teachers alike.

Opsomming

’n Middelnederlandse teks vir die moderne Afrikaansklaskamer

Weens die feit dat Afrikaans ’n betreklik jong taal is en ’n jong literêre tradisie het, bestaan daar geen werklike eweknieë vir tekste soos Chaucer of Shakespeare in die Afrikaansklaskamer nie. Die afwesigheid van hierdie tekste in die Afrikaansklaskamer kan leerders kultureel en letterkundig verarm laat. In ’n poging om dié leemte te vul, stel hierdie artikel voor dat Middelnederlandse tekste soos onder meer die dramas Elckerlijc, Walewein en Van den vos Reynaerde as alternatiewe teksmoontlikheid vir veral die graad 12-Afrikaansklaskamer oorweeg moet word. ’n Kort bespreking oor sowel die redes vir die gebruik van ’n Middelnederlandse teks as die maniere waarop só ’n teks vir skoolgebruik aangepas kan word, volg.

 

1. Inleiding en doelstelling

In 1987 is die Elckerlijc as deel van ’n reeks, Middelnederlandse tekste vir Suid-Afrika, uitgegee. Den Spieghel der Salicheit van Elckerlijc is volgens Schutte en De Klerk (1991:30) as gids vir die “(onervare) student of belangstellende leser” bedoel. As sodanige gids behoort die teks inleidend van sowel die mees resente navorsing as die nodige sosiohistoriese agtergrondinligting voorsien te word om as “betroubaar” beskou te word, aldus Schutte en De Klerk (1991:30). Dié artikel handel egter nie oor ’n herwaardering van die enigste Afrikaanse uitgawe van die Elckerlijc nie, maar stel eerder ’n nuwe uitgawe voor: ’n skooluitgawe vir graad 12-leerders om meer presies te wees.

Die onderrig van ouer letterkunde op skool is geen vreemde verskynsel nie. Trouens, Shakespeare word steeds met vrug in hoërskoolklaskamers onderrig, boonop aan leerders wat Engels as eerste en tweede addisionele taal praat. Waarom word ouer letterkunde dan nie ook in die Afrikaansklaskamer onderrig nie? Die probleem lê by die feit dat die Afrikaanse letterkunde nie so oud soos onder meer die Engelse, Duitse en Nederlandse letterkundes is nie. Die gebruik van Middelnederlandse tekste in die Afrikaansklaskamer sou ’n goeie alternatief wees. Om dié argument te onderskraag, sal daar op die volgende drie besprekingspunte gekonsentreer word:

  • Die verskynsel van ouer letterkunde in die klaskamer
  • Benaderings tot die onderrig van ouer letterkunde
  • Die formaat van ’n moontlike skooluitgawe van ’n Middelnederlandse teks.

 

2. Ouer letterkunde in die klaskamer

Die Nasionale Kurrikulumverklaring (NKV) (Departement van Onderwys 2003:2, 9 e.v.) lys ’n aantal doelwitte, uitkomste en ideale waaraan die leerder moet voldoen. Dié doelwitte, uitkomste en ideale het ook betrekking op die bestudering van tekste. Deur gebruik te maak van gegewe uitkomste en assesseringstandaarde kan die taalopvoeder sy/haar eie oordeel gebruik en self, waar moontlik, die gepaste tekste (literêr, visueel, ouditief, ens.) kies vir die bestudering daarvan in die klaskamer. Hoewel die NKV vir die taalopvoeder die geleentheid skep om onafhanklike keuses uit te oefen, voorsien dit die nodige riglyne waardeur hy/sy aangemoedig word om van ’n verskeidenheid tekste gebruik te maak.

Die uitkomste en doelwitte, wat in gedagte gehou moet word by die seleksie van tekste, sluit onder meer die volgende in (Departement van Onderwys, 2003:10-12): Leerders moet

  • met tekste omgaan wat menseregte, diskriminasie, ideologie, ander kulture, ens. belig
  • tekste wat perspektief, magsverhoudinge, norme en waardes uitbeeld, kan lees en gebruik
  • persoonlike, nasionale en globale kwessies in tekste verken
  • met tekste omgaan om só alternatiewe wêreldsieninge in ag te neem.

Die NKV is baie duidelik omtrent die feit dat ’n verskeidenheid tekste vir verskillende doeleindes bestudeer moet word. By die assessering van tekste in die Leerarea Tale word die volgende by die NKV ingesluit (Departement van Onderwys, 2003:52): “Die verskeidenheid tekste wat gebruik en geproduseer word, behoort leerders aan die volgende bloot te stel:

  • ryk en gepaste sosiale, kulturele en geskiedkundige ruimtes wat begrip van die taal se erfenis ontwikkel;
  • uitdagende en prikkelende temas wat ’n kritiese begrip van waardes en waardering vir belangrike sosio-kulturele en etiese kwessies van belang vir Suid-Afrikaanse leerders ontwikkel” (my kursivering).

Uit bostaande kan afgelei word dat die bestudering van ouer letterkunde in die klaskamer belangrik kan wees. Die leerder moet kennis neem van sowel sy/haar taalerfenis as sy/haar sosiokulturele agtergrond. Deur van ouer literêre tekste gebruik te maak, kan die taalopvoeder die leerder van albei bewus maak. Die probleme rondom die bestudering van ouer tekste is egter veelvoudig. Hedendaagse opvoeders beskik nie almal oor die nodige kennis om ouer tekste te selekteer nie en ouer tekste is dikwels ontoeganklik vir beide opvoeder en leerder.

Die onderrig en bestudering van ouer literêre tekste in die Suid-Afrikaanse klaskamer ontvang nie die nodige aandag nie. Volgens Paefgen (1999:153, 154) word die literêre tekste wat op skool behandel word, minder, korter en begrypliker. Ouer tekste word nie meer behandel nie, omdat die lees daarvan te moeisaam is. Taalopvoeders sal eerder hul vryheid gebruik om kontemporêre of reeds gevestigde tekste vir onderrigdoeleindes te selekteer, byvoorbeeld Die Keiser (1977) en Kringe in ’n Bos (1984).

Die onderrig van ouer tekste in die taalklas kan vergemaklik word indien die leerder (en opvoeder) van ’n skoolgids voorsien word wat reeds ’n seleksie van ouer tekste bevat. Maar ’n skoolgids dien nie alleen as versamelbundel nie; dit bied die tekste in ’n toeganklike formaat aan die leerder. So ’n studiegids bevat die nodige verklarende voetnote, agtergrondinligting en besprekings. Gevolglik hoef die opvoeder nie na tekste te soek nie en beide opvoeder en leerder hoef hulle nie te bekommer oor die ontoeganklikheid van die gegewe tekste nie. Hier behoort Schutte en De Klerk se Afrikaanse uitgawe van die Elckerlijc (1987) in gedagte gehou te word. Dié boek ontsluit die betrokke teks vir die leerder met behulp van die nodige agtergrondinligting, woordverklarings en bespreking van temas. Maar die Schutte en De Klerk-uitgawe is uitgegee met die tersiêre student in gedagte. Die teikengroep vir hierdie teks is meer akademies-wetenskaplik. Skoolleerders sal nie behoorlik met dié boek kan omgaan nie, weens die moeilikheidsgraad van sowel die inleidende bespreking wat die Middelnederlandse teks voorafgaan as die Middelnederlandse teks self. Tekste soos die Elckerlijc, Karel ende Elegast en Beatrijs, of enige ander Middelnederlandse tekste (soos gedigte), moet op ’n nuwe manier aan ’n nuwe generasie lesers bekend gestel word. Daar is dus ’n behoefte aan ’n gids wat vir skoolleerders bedoel is en wat hulle in staat sal stel om ouer letterkunde op skool te bestudeer sowel as te geniet.

As daar dan van die standpunt uitgegaan word dat ouer Nederlandse letterkunde binne klasverband bestudeer (behoort te) kan word en dat ’n gepaardgaande skoolgids – wat tans nie bestaan nie – die bestudering van dié tekste sal vergemaklik, kan ’n mens die afleiding maak dat daar ’n behoefte aan so ’n skoolgids bestaan. So ’n skoolgids kan aan sowel die opvoeder as die leerder die geleentheid bied om kennis te maak met die Afrikaanssprekende se (Europese) taal- en kultuurerfenis.

Daar word wel kennis geneem van die feit dat die Afrikaansklaskamer nie homogeen is nie. Uiteraard moet daar gepoog word om daarvoor voorsiening te maak.

Verder geld Schutte en De Klerk (1991:31) se eie motivering vir hul reeks, Middelnederlandse tekste vir Suid-Afrika, nog steeds:

Die idee ... het ontstaan uit die oortuiging dat daar op dié wyse vanuit Suid-Afrika ’n bydrae gelewer sal kan word om Afrikaans se verbondenheid met ou Nederlands te bevestig. Veral omdat daar tans weer vanuit Nederlandse (en Suid-Afrikaanse? – TRC) kant nagedink word oor die belang van die taal- en kulturele betrekkinge in Suid-Afrika, kom dit as sinvolle opdrag voor om vanuit Suid-Afrika aktief te toon dat die Middelnederlandse taal en letterkunde ook vir studie van Afrikaans van waarde is.

Dat die onderrig van ouer letterkunde funksioneel kan wees, is reeds deur Karg (1998) aangedui. Sy raak verskeie redes vir die onderrig van ouer (Duitse) letterkunde aan deur verskillende onderrigmoontlikhede te identifiseer, soos onder meer die bestudering van Middeleeuse liedtekste as historiese uitingsvorm; die ontwikkeling van die vertelinstansie oor die jare; die toepassing van die resepsieteorie; en die behandeling van die Middeleeuse kultuurgeskiedenis. Leeruitkomste soos die evaluering van agtergrond en milieu en hoe dit verband hou met karakters en behandelde temas, asook die evaluering van intriges, karakteruitbeelding, ens. (Departement van Onderwys, 2003:33, 35), sluit aan by die soorte onderrigmoontlikhede en by die redes vir die onderrig van ouer letterkunde, soos deur Karg uitgewys. ’n Nuwe skooluitgawe van onder meer die Elckerlijc kan derhalwe vir soortgelyke onderrigmoontlikhede aangewend word.

Een van die belangrikste redes vir letterkunde-onderrig is die gebruik van ’n literêre teks om verdraagsaamheid te bevorder. Karg (1998:264 e.v.) verwys hier na die gebruik van die 14de-eeuse verhaal Parzival, wat afspeel in die tyd van die Kruistogte in die Midde-Ooste toe Christen teenoor Moslem te staan gekom het. Die gebruik van letterkunde in Afrikaanse skole om diskriminerende praktyke te identifiseer en om verdraagsaamheid te bevorder, is reeds deur Kruger (1995; 2002) en ander (Combrink 1992; Du Plessis 1992; Van Jaarsveld 1994) uitgewys. Die kwessie van kultuurverskille en onverdraagsaamheid – soos dit ook in Parzival voorkom – sluit by die leerder se (Suid-Afrikaanse) wêreld aan. Waarom dan nie sowel ouer as moderne tekste vir dié doel gebruik nie? Ouer tekste – soos onder meer Die Hexe en Floris ende Blancefloer – is daarom relevant en bruikbaar.

 

3. Benaderings tot die onderrig van ouer letterkunde

Wat die onderrig van ouer letterkunde betref, staan twee benaderings voorop, naamlik sosiohistories en aktualiserend. Histories-sosiologies gesien word die historiese teks se agtergrond relevant gemaak deur die kontrastering daarvan met die hier en die nou uit te wys (Bärnthaler 1989:12 praat hier van ’n Kontrastmodell). Die opvoeder lê aan die leerders die wêreld van (byvoorbeeld) die Middeleeuer uit en kontekstualiseer die teks, sodat leerders die tyd en die kultuur van die karakters kan begryp. Sake soos kleredrag, eetgewoontes, godsdiens en behuising kom hier ter sprake. Deur bostaande aspekte met die leerder se eie kleredrag, eetgewoontes, godsdiens en behuising te kontrasteer, kan die leerder ’n beeld vorm sowel van die omstandighede en wyse waarop ’n Middeleeuer geleef het as van die wyse waarop hy/sy self leef (kyk ook Kish-Goodling 1998 en Petry 1981).

Die aktualisering van die teks behels die relevantmaking van die teks vir die moderne leser. Aktuele temas en kwessies, soos onverdraagsaamheid en ontrouheid, kom in ouer tekste voor, wat aan leerders uitgewys kan word. Op dié manier besef die leerder dat sommige probleme of vraagstukke reeds eeue lank bestaan, byvoorbeeld ouers wat gekant is teen diegene wat hul kinders liefkry, politieke ongeregtigheid, ekonomiese en staatkundige kwessies, ens. Die wisselwerking tussen bogenoemde twee benaderings is belangrik as ’n mens ouer letterkunde met sukses in die hoërskoolklaskamer wil onderrig.

Slings (2000:159) gaan van die standpunt uit dat leerders nie alleen moet fokus op die belewings en opvattings waarmee hulle grootgeword het nie, maar dat hulle in aanraking gebring moet word met ander lewensvisies, ander kulture, ander tye, en vreemde en verrassende perspektiewe (vgl. ook die NKV, veral Kritieke Uitkoms 7). Ingevolge die Grondwet van Suid-Afrika en die NKV moet skole daarna streef om “die verdelings van die verlede te heel en ’n samelewing gegrond op demokratiese waardes, sosiale geregtigheid en fundamentele menseregte te skep” (Departement van Onderwys 2003:1). Dit kan geskied wanneer leerders besef hul eie kultuur en bestaan is nie die enigste of die belangrikste in die wêreld nie; wanneer hulle hul eie kultuur en identiteit relativeer deur vanuit die verlede na die hede te kyk. Dit is moontlik om leerders met hedendaagse kulture uit ander wêrelddele te konfronteer, maar dit is voordeliger om met voorbeelde uit jou eie verlede gekonfronteer te word: “… leerlingen [gaan] niet alleen inzien, dat het mogelijk is verschillende houdingen tegenover mens en wereld in te nemen, maar ook dat dat in Europa [en uiteraard in Suid-Afrika – TRC] werkelijk gebeurd is” (Wackers 1988:100). Bärnthaler (1989:11) sluit by Wackers aan:

Literaturunterricht soll die kritische Sozialisation des Jugendlichen mit Hilfe von Texten, die sich mit Problemen der Gegenwart direkt auseinandersetzen, fördern. Durch die Analyse älterer Texten soll er den Jugendlichen auf die prinzipielle Veränderbarkeit historischer Zustände hinweisen und so eine Relativierung seiner gegenwartsbezogenen Normen initieren. Einsicht in die Geschichtlichkeit menschlicher Institutionen, Prinzipien und Normen, in deren grundsätzliche Machbarkeit kann so zum Motor einer positiven zukunftsorientierten Innovationshaltung werden.

( Met behulp van tekste wat hedendaagse probleme verduidelik, behoort literatuuronderrig die kritiese sosialisering van die jeug te bevorder. Deur middel van analise behoort ouer tekste die jeug, in beginsel, die veranderlikheid van historiese omstandighede uit te wys en só ’n relativering van hedendaagse norme te inisieer. Insig in die historisiteit van menslike instansies, beginsels en norme, wat fundamenteel uitvoerbaar is, gee aanleiding tot ’n positiewe toekomsgeoriënteerde innovasiehouding.)

Leerders kan besef dat hul hede die produk is van ontwikkeling wat reeds honderde jare aan die gang is (Slings 2000:159) en dat die literêre tekste getuienis daarvan lewer. Die beleweniswêreld (die gevoelens, gedagtes, verwagtinge en opinies) (Geljon 1994:27) van die leerder sluit egter moeilik by die historiese teks aan. Die nuwe skooluitgawe van ’n teks soos die Elckerlijc of Esmoreit sal ’n manier moet vind waarop die aansluiting tussen teks en leerder moontlik is, juis deur die teks te aktualiseer.

Deur aktualisering word die literêre teks herlei na die leerder se eie ervaring en realiteit. Wanneer die leerder kan identifiseer met wat in die teks aangaan of bepaalde aspekte kan herken, slaag hy/sy daarin om aansluiting te vind by die teks. Carter en Long (1992:16, 19) dui aan dat letterkundestudie baie effektief is wanneer die leerder die verbintenis tussen die teks en sy/haar eie leefwêreld raaksien.

 

4. ’n Nuwe formaat vir ’n nuwe generasie

As ’n mens ’n ouer Nederlandse teks soos die Elckerlijc aan skoolleerders wil gee om te lees, moet die uitgawe van die teks modern wees. Die teks moet uiteraard ook toeganklik gemaak word, sodat die leerder die teks van meet af kan begryp. Stahmer (1983:15 e.v.) identifiseer drie soorte uitgawes van ouer tekste: (1) die algemene uitgawe, (2) die kritiese uitgawe en (3) die variorum-uitgawe. Die eerste soort uitgawe is vir die onervare leser bedoel; die tweede uitgawe is vir die gevorderde leser bedoel en die laaste uitgawe word uitgegee met die professionele leser in gedagte. Laasgenoemde uitgawe sluit vertalings, opsommings, besprekings, illustrasies, skemas, ens. in. Na regte sal ’n skoolpublikasie in die eerste kategorie moet val, aangesien die leerder as leek vir die eerste keer met ’n ouer Nederlandse teks in aanraking kom. Die algemene uitgawe is op sigself oudmodies en uitgedien. Die derde kategorie is belangriker en voldoen veel beter aan die behoeftes van leerders in die een-en-twintigste eeu en kan leerders ondersteun in hul poging om die ouer literêre teks beter te verstaan. ’n Kombinasie van die algemene en variorum-uitgawe sou die ideale keuse wees.

Maar hoe moet ’n skooluitgawe van byvoorbeeld die Elckerlijc juis daar uitsien? In Nederland word die Text in Context-reeks sedert 1999 in skole gebruik. Bekende tekste soos Reinaert de Vos, Karel en Elegast en Walewein is reeds as deel van dié reeks uitgegee en word vandag met sukses (dog nie sonder kritiek nie) in Nederlandse skole onderrig en is veel beter uitgewerk en saamgestel as ons eie Shakespeare-gidse. Die boeke wat deel uitmaak van die Text in Context-reeks bevat ’n inleiding wat ’n kort oorsig oor die betrokke Middeleeuse verhaal gee. Ander aspekte soos, vorm en taal, die opbou van die gids, ’n verduideliking van wat Middelnederlands is, ens., kry die nodige aandag. Hierdie boeke is visueel baie kleurvol, met talle foto’s, illustrasies en die gebruik van kleurkodes. Twee dele kom voor, naamlik “Text” en “Context”; hulle wissel mekaar as afsonderlike hoofstukke af. Onder “Text” vind ’n mens die ouer teks, wat parallel loop met ’n vertaling in Standaardnederlands. Die vertaling neem die plek van voetnotas in. Die teks word gereeld, maar kortliks, onderbreek met agtergrondinligting en verduidelikings van die maatskappy, die karakters en Middeleeuse praktyke soos dit betrekking het op die voorafgaande of daaropvolgende passasie. Daar word ook gereeld samevattings gegee van die voorafgaande verse.

Onder “Context” word inligting breedvoeriger aan die leser aangebied – aspekte soos wie die skrywer was, die rol wat diere in verhale en mites speel, en hoe Middeleeuse hofsake gewerk en verloop het, geniet aandag. Dié inligting is algemener en nie beperk tot ’n spesifieke passasie in die teks nie. Die gids sluit opdragte vir leerders in en voorsien aan lesers ’n “begrippenlijst” met woordverklarings. Hubert Slings, die samesteller van die eerste gids en tans redakteur van die reeks gidsboeke, het in 1996 met die konsepweergawe van Karel en Elegast leerders se reaksie op die skoolgids getoets (vgl. Slings 2000:182 e.v.). Die meeste leerders het positief op die teks gereageer, onder wie ook leerders wat aanvanklik geen belangstelling in Middelnederlandse tekste getoon het nie. Dié reeks is spesifiek vir skoolleerders geskep vir sowel “klassikale behandeling als voor zelfstudie, zowel voor integrale bestudering als voor gedeeltelijk gebruik, zowel voor een vrijblijvende kennismaking als voor toetsing” (Barendregt e.a. 2006:2). Die Text in Context-reeks is ’n goeie voorbeeld van ’n kombinasie van Stahmer se algemene en variorum-uitgawes. ’n Soortgelyke weergawe van die Elckerlijc of enige van die ander beskikbare tekste kan ewe suksesvol in Afrikaanse klaskamers gebruik word.

Van Oostrom en Pleij (1997:284 e.v.) argumenteer dat ouer tekste aantreklik en modern aangebied moet word om sodoende leerders se aandag en belangstelling aan te wakker. Hulle lê veral klem op kleurvolle uitgawes, uitgawes wat die nuuskierigheid van die leerder prikkel en tegelykertyd die leerder van die nodige inligting aangaande die teks en sy konteks voorsien. Daarom is dit belangrik dat die skooluitgawe van ’n Middelnederlandse teks die volgende moet insluit:

a. Agtergrondinligting

Die nodige agtergrondinligting help die leerder om die teks te kontekstualiseer aangaande die maatskappy, die taal en die mense van die betrokke tyd. Bepaalde temas – soos die Swart Dood – word geïdentifiseer en kortliks aangeraak. Dit is baie belangrik dat leerders die relevansie van sekere temas vir hul eie kultuur en samelewing raaksien (via onder meer aktiwiteite). Leerders moet kan begryp dat daar talle probleme in die hedendaagse samelewing voorkom wat reeds in die Middeleeue voorgekom het. Christ (1997:6) meen dat leerders hul agtergrondkennis met hulle na die teks toe saamneem. Maar daardie agtergrondkennis kan taamlik beperk wees, soos Slings bevind het. Slings (2000:96, 97) wys daarop dat leerders se kennis omtrent die mitologie en aspekte soos godsdiens besig is om te kwyn. Die Elckerlijc weerspieël ’n Katolieke lewensfilosofie. Hoewel Afrikaanssprekendes oorwegend godsdienstig (Protestants) is, ontbreek daar voorkennis omtrent die Katolisisme, om maar ’n enkele voorbeeld te noem.

b. Vertalings

Hoewel verklarende aantekeninge belangrik is, is dit soms nodig om ’n ouer teks te vertaal om dit sodoende meer verstaanbaar te maak. ’n Vertaling help om die teks toeganklik te maak wanneer die taalvariëteit waarin die teks oorspronklik geproduseer is, nie vir die leser verstaanbaar is nie. Die ideale oplossing is om die teks te vertaal en die vertaling naas die oorspronklike teks te plaas. Die vertaling voorkom ook dat die leerder telkens onderaan die bladsy moet soek na die voetnoot wat ’n woord of reël verklaar. Laasgenoemde kan sowel steurend as vermoeiend wees en die leesplesier belemmer (Slings 2000:176; Van Oostrom en Pleij 1997:286). Die vertaling hoef om praktiese redes nie te rym soos die oorspronklike nie – die opvoeder kan van die oorspronklike teks gebruik maak om aspekte soos die rympatrone uit te wys. In Nederland maak baie opvoeders van slegs ’n fragment van die oorspronklike teks gebruik voordat hulle oorslaan na die vertaling of die herspelde weergawe (Boven 1988:61; vgl. ook Geljon 1994:65). Dieselfde benadering kan in die Afrikaansklaskamer gevolg word.

c. Verklarende aantekeninge

Verklarende aantekeninge by tekste kan egter steeds belangrik wees, selfs wanneer die ouer teks vertaal en die agtergrond verduidelik word. Volgens Stahmer (1983:75, 90, 91) word ’n teks nie noodwendig toegankliker deur ’n vertaling nie. Soms is dit steeds nodig om ’n uitdrukking te verklaar, valse vriende2 uit te wys of ’n praktyk soos dit in ’n teks voorkom, kortliks te verduidelik. Verklarende aantekeninge – binne perke – kan dus nuttig wees om onduidelikhede op te klaar.

d. UGO-uitkomste en -aktiwiteite

Die skooluitgawe van ’n Middelnederlandse teks vir graad 12-leerders moet aan bepaalde UGO-vereistes voldoen en geskik wees vir gebruik in Suid-Afrikaanse skole. Die skooluitgawe moet daarom leeraktiwiteite insluit en die geleentheid vir leerders en opvoeders skep om dié aktiwiteite met ander leerareas (Kuns en Kultuur, Menslike Sosiale Wetenskappe, Natuurwetenskappe) te integreer. Tog behoort die skooluitgawe leerders nie van ’n diepgaande kennis betreffende die Middeleeue te voorsien nie, aangesien UGO van die standpunt uitgaan dat leerders self inligting moet insamel en verwerk. Derhalwe moet die skooluitgawe die leerders eerder via aktiwiteite aanmoedig om self meer uit te vind. Kritieke Uitkomste soos probleemoplossing, kreatiewe groepswerk, die doeltreffende organisasie en bestuur van aktiwiteite en die versamel en evaluering van inligting is daarom relevant. Dit sal leerders help om sistematies en kundig deur onbekende waters te seil.

’n Moderne teks

Die skooluitgawe moet ’n aantal illustrasies asook verwysings na relevante boeke, films, e.s.m. bevat. Die internet (soos vakspesifieke webblaaie, soekenjins en Facebook), CD’s (soos Gregoriaanse gesange en Middeleeuse musiek) en televisie moet ook nie as bronne onderskat word nie; baie nuttige inligting kan deur dié media bekom word. Leerders toon meer belangstelling wanneer ’n leerarea met hul belangstellings (internet, musiek, videospeletjies en films) verbind word. Voorbeelde van films sluit in A Knight’s Tale, Joan of Arc, King Arthur, Erik the Viking en animasiefilms soos die gewilde Shrek en Tales of Despereaux. Stahmer (1983:17) voer ook aan dat die gebruik van illustrasies die teks toelig. Mense word vandag deur visuele stimuli oorweldig weens televisie, tydskrifte en die internet. Illustrasies kan hier met vrug aangewend word en leerders kan selfs aangemoedig word om meer van die beeldende kunste te leer. Illustrasies en faksimilee-foto’s sal ook bydra om die leerders geïnteresseerd te kry (Slings 2000:178; Van Oostrom en Pleij 1997:286). As leerders ’n geleentheid kry om ’n afbeelding te sien van hoe oorspronklike tekste lyk, sal hulle moontlik ’n groter waardering vir ouer tekste ontwikkel.

 

5. Slot

Die onderrig van Middelnederlandse tekste in die graad 12 Afrikaans Huistaalklaskamer mag dalk vir sommige mense oorbodig, onnodig en onvanpas voorkom, maar leerders word ’n groter onreg aangedoen deur nooit ’n geleentheid gebied te word om kennis met die wonderlike verhaalskat van Middelnederlands te maak nie. Die onderrig van ouer letterkunde vind in verskeie wêrelddele met sukses plaas. Dieselfde suksesvolle aanbieding van Middelnederlandse tekste in die Afrikaansklaskamer kan verseker word indien die ou Nederlandse teks in ’n toeganklike formaat aan leerders voorsien word. Ouer tekste bied die opvoeder ’n legio onderrigmoontlikhede. Deur dié soort tekste deel te maak van die Afrikaanse literêre kurrikulum, kan skole enersyds begin wegbeweeg van die oorbekende tekste en andersyds die leerders met ’n gesonde literêre kennis, wat as basis vir verdere literêre studie sal dien, toerus. Sowel ou as jong Afrikaanse skrywers het immers self die Middelnederlandse tekste geken en in hul eie literêre werke daarna verwys (vgl. byvoorbeeld D.J. Opperman, Reza de Wet en Gerda Taljaard).

Verder kan ’n skooluitgawe van Middelnederlandse tekste juis ’n voortsetting wees van Schutte en De Klerk se ideaal om die kulturele en literêre verhouding tussen Afrikaans en Nederlands te versterk en om Afrikaans se verbondenheid met ou Nederlands te bevestig. Só ’n skooluitgawe kan ook ’n nuwe tradisie in die Afrikaanse taalklaskamer begin en die kwynende Middelnederlandse studie op tersiêre vlak moontlik ondersteun. Die gebruik van ’n Middelnederlandse teks in die Afrikaansklaskamer is daarom nuttig en relevant en moet sterk deur onderwysowerhede en leerkragte oorweeg word.

 

Bibliografie

Barendregt, P., N. Bloem en J. Verbeek (samest.). 2006. Walewein. Amsterdam:

Amsterdam University Press.

Bärnthaler, G. 1989. Deutsche Sprache und Literatur im Unterricht 14. Literatur des Mittelalters im Deutschunterricht: Lyrik. Wien: Österreichischer Bundesverlag.

Boven, J. 1988. Literatuurgeschiedenis in leerplannen en leerboeken. In Van Assche 1988.

Carter, R. en M.N. Long. 1992. Teaching Literature. Harlow: Longman Group UK Ltd.

Christ, H. 1996. Fremdverstehen und interkulturelles Lernen. Zeitschrift für Interkulturellen Fremdsprachenunterricht, 1 (3):22.

Combrink, L. 1992. Die literêre teks as vertrekpunt vir temagerigte en integrerende literatuuronderrig. Tydskrif vir Taalonderrig, 26 (3):17-37.

Departement van Onderwys. 2003. Nasionale Kurrikulumverklaring Graad 10–12

(Algemeen) Tale – Afrikaans Huistaal . Pretoria: Departement van Onderwys.

Du Plessis, C.W. 1992. Multikulturele kinderlektuur in die Suid-Afrikaanse samelewing. Magisterskripsie. Johannesburg: Randse Afrikaanse Universiteit.

Durlinger, B. e.a. (reds.). 1985. Verslag van het symposium: Historische teksten in het literatuuronderwijs (12–14 juni 1985). Nijmegen: Katholieke Universiteit Nijmegen.

Geljon, C. 1994. Literatuur en leerling: een praktische didactiek voor het

literatuuronderwijs . Bussum: Dick Coutinho.

Hattingh, M. en H. Willemse. (reds.). Vernuwing in Afrikaanse letterkunde. Bundel referate gelewer tydens ALV-kongres, Port Elizabeth.

Karg, I. 1998. Und waz si guoter lêre wernt. Mittelalterliche Literatur und heutige

Literaturdidaktik. Beiträge zur Geschichte des Deutschunterrichts 35. Frankfurt am Main: Peter Lang GmbH.

Kish-Goodling, D.M. 1998. Using The Merchant of Venice in Teaching Monetary Economics. Journal of Economic Education, 29 (4):330–39.

Kruger, E. 1995. ’n Imagologiese analise: F.A. Venter se Wit Oemfaan in die Afrikaans tweedetaalklaskamer. M.A.-verhandeling. Durban: Universiteit van Natal.

—. 2002. Imagologie en die bestudering van literêre stereotipes vir die onderrig van Afrikaans as addisionele taal. Literator, 23 (3):197-219.

Matthee, D. 1984. Kringe in ’n bos. Kaapstad: Tafelberg-Uitgewers.

Paefgen, E.K. 1999. Einführung in die Literaturdidaktik. Stuttgart: J.B. Metzler Verlag.

Petry, K.L. 1981. La Chanson de Roland in the Elementary School Classroom: A Case for Medieval Literature and Young Language Students, Modern Language Journal, 65:137-40.

Schutte, H.J. en G.J. De Klerk. 1987. Den Spieghel der Salicheit van Elckerlijc. Pretoria: HAUM-Literêr Uitgewers.

—. 1991. Die lees en studie van ou tekste soos die Elckerlijc. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 31 (1):30–38.

Slings, H. 2000. Toekomst voor de Middeleeuwen: Middelnederlandse literatuur in het voortgezet onderwijs. Amsterdam: Prometheus.

Smit, B. 1977. Die keiser: variasie op ’n sprokie van Hans Andersen. Doornfontein: Perskor.

Stahmer, I. 1983. Die aard van kommentaar by ouer en vreemdtalige werke. M.A.-verhandeling. Pretoria: Universiteit van Pretoria.

Van Assche, A. (red.). Literatuurgeschiedenis op school? Leuven: Uitgeverij Acco.

Van Jaarsveld, A. 1994. Literatuuronderrig binne ’n multikulturele samelewing. In Hattingh, M. en H. Willemse. (reds.) 1994.

Van Oostrom, F.P. en H. Pleij. 1997. Middelnederlandse letterkunde op middelbare school: het doel is heilig – nu de middelen nog. Literatuur, 14 (5):282–88.

Wackers, P. 1986. Inzicht in het verleden, zicht op de toekomst. In Durlinger e.a. (reds.) 1986.

 

Eindnotas

1 Dié artikel is gebaseer op navorsing vir `n MA onder leiding van prof. Heinrich Ohlhoff in die Departement Afrikaans, Universiteit van Pretoria.

2 ' n Valse vriend is ’n woord wat in meer as een taal voorkom, maar wat verskil in betekenis en dikwels weens sy gelyksoortigheid in voorkoms tot misverstande kan lei. Vgl. bv. die betekenis van die woord simpel/simple in Afrikaans en Engels.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top