Pirow Bekker (1935–)

  • 0

Gebore en getoë

Petrus Jakobus (Pirow) Bekker is op 9 Desember 1935 op Smithfield in die Suid-Vrystaat gebore. “[Ek] het eintlik ’n ‘dubbeldoor’-jeug gehad: groei op in die vlakte-met-wind-en-los-berge van die Suidoos-Vrystaat, maar bring ook byna twee jaar van [my] jeug in die Oos-Kaaplandse bergwêreld deur,” vertel hy aan NALN.

Hulle bly op verskeie plase, onder meer op Suidoostebank in die distrik Reddersburg en die plase Draaifontein en Klipfontein neffens die Winterhoekberge in die Oos-Kaap. Sy pa raak ernstig siek en Pirow onthou ’n gedig wat hy in hierdie tyd geskryf het. Hy durf ook ’n speurverhaal aan, maar nie die gewone soort nie. Kort voor sy pa se dood verhuis die gesin terug na die Vrystaat. Op hoërskool sit hy sy skryfpogings voort met ’n onderwyser wat hom toelaat om soms ’n storie in plaas van ’n opstel te skryf.

Kleintyd was die boekery op die plaas maar skraal. “Veral die enkele digbundels het gou standaard-leesstof geword, een daarvan ’n bloemlesing Afrikaanse poësie. Saans na ’n ystervarkjag of iets dergeliks het ek met die Driemanskap in die bed gelê by kerslig. Dit het my pa my ‘’n man vir boeke’ laat noem. Hier van standerd vyf af het die prosa aantrekliker gelyk. [...] Toe eendag kom ek by ’n mooi niggie van my en daar lê ’n boek met die titel Barabbas. [...] ’n Vertaling uit Sweeds. [...] Die Barabbas-naam het net een ding beteken: skurk. Maar hier in Lagerkvist se boek het die skeidslyn tussen goed en kwaad begin vervaag namate menslikheid deurdrup. My haarrysende verhaal waaraan ek aan die skryf was, het ek nooit klaargemaak nie.”

Pirow matrikuleer in 1953 op Smithfield met onderskeidings in drie vakke.

Verdere studie en werk

Pirow vertrek na Bloemfontein, waar hy BA aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat (UOVS) studeer. Hy behaal die graad in 1956. Gedurende vakansies werk hy by Volksblad en ná verwerwing van sy graad tree hy in diens van dié koerant. Hy was vir ’n kort rukkie onderwyser op Dewetsdorp, maar keer terug na Volksblad, waar hy ’n tyd lank hoofsubredakteur was. Sy skryfwerk gedurende sy universiteitsjare sorg dat hy ’n draagbare Olivetti-tikmasjientjie kon bekostig waarop hy verder kon skryf.

Deur deeltydse studie verwerf hy in 1961 en 1962 die grade BA Honneurs en MA – albei met onderskeiding. Hy word tydelik aangestel as lektor in Afrikaans-Nederlands aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat, die Bloemfonteinse Onderwyskollege en later aan die Universiteit van Stellenbosch se Departement Opvoedkunde. In 1964 word hy lektor aan Unisa en in 1967 senior lektor.

Pirow verwerf sy DLitt et Phil in 1968 onder promotorskap van prof FIJ van Rensburg van RAU met sy proefskrif Die titel in die poësie, wat twee jaar later gepubliseer is. Sy MA-verhandeling oor die kwatryn word in die Blokboekreeks gepubliseer.

Pirow was die eerste student wat in die Fakulteit van Lettere en Wysbegeerte ’n graad aan RAU gekry het. By Unisa het hy binne ses maande ’n kursus in Afrikaanse prosa van die grond af op die been gebring.

Later gaan werk Pirow by die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing, waar hy in 1973 hoof van die Dokumentasiesentrum van die Instituut vir Taal, Lettere en Vertolkende Kunste word. Na 1979 gaan hy boer en lê hy hom al meer op sy skryfwerk toe.

Hy is getroud met Annatjie Bosman, ’n onderwyseres van die Noord-Kaap, en hulle het twee seuns en ’n dogter en vier kleinseuns en drie kleindogters. Sy drie kinders het, nes hulle pa, ook die plaaslewe leer ken toe hulle die plaas Doornhoek aan die Vaalrivier aangeskaf het. Die plaas was 23 jaar in Pirow se besit en was die inspirasie agter sy gedigte "Doornhoek" en "Afskeid van Doornhoek". Hulle het ’n draai op Boggomsbaai naby Mosselbaai in die Suid-Kaap gemaak en is later terug na Pretoria.

Tydens Pirow se jare in die joernalistiek word gedigte van hom soos “Peins oor ’n plakkaat” en “hoger kon inklim” gepubliseer en later opgeneem in Stiebeuel 2 en in Opperman se Groot Verseboek. In 1965 verskyn sy eerste digbundel, Die klip sing. Heelwat kortverhaalbundels sowel as ’n paar romans verskyn ook uit sy pen. Hadihie hadida is ’n bundel kinderverse. Hy is ook die samesteller van die kortverhaalbundel Om laaste te kan lag. Hy skryf radiodramas en Herberg by die brug ontvang is in 1991 genomineer vir ’n Artes vir die beste radiodramateks. In 1992 word Dis die haan oor Radioteater van RSG uitgesaai. Ander radiodramas is Die vertoning moet voortgaan en Vishuis. 'n Paar eenakters vir verhoog, soos "Die boelie" en "Hitlers slaap ook" is deur Temple Hauptfleisch in sy publikasies opgeneem.

Oor die gedig "Peins oor ’n plakkaat" sê Bekker in 2013 aan JB Roux dat dit so "maklik lekker" was om die vers te skryf, "veral deur sy verletterliking van die uitdrukking 'jakkals trou met wolf se vrou', dat ek daar hopeloos verlei is tot die poësie."

In 1989, tydens die 150ste bestaansjaar van die Kaaplandse Onderwysdepartement, word ’n landwye kompetisie met prysgeld van R7 000 uitgeskryf om die tekort aan eenakters te probeer aanvul. Die opdrag aan die beoordelaars was om “opvoerbare en genotvolle werke van gehalte wat die onderwys en opvoeding eer sal aandoen” te identifiseer. Pirow was een van die drie pryswenners. In 1996 in die De Jager-HAUM-letterkundekompetisie het sy eenakter die derde prys verower. Hy is ook in 2008 deel van die Volksblad-Kunstefees se slypskool vir voornemende digters.

Oor sy skryfwerk, veral sy kortverhale, vertel Pirow aan Elfra Erasmus dat wanneer hy ’n storie skryf, hy selde aan die slot dink. “Dis die stof wat my interesseer. Dit moet vonk hê. Die vreugde van ’n kind se pril ervaring voordat hy van die dood bewus word, boei my. Ook die grootmens in die kind en die kind in die grootmens – ’n mens leer die kind in jou nooit af nie.” (Beeld, 10 Desember 1992)

Hy verduidelik aan Erasmus dat die stories in Lag byvoorbeeld ’n hele lewe omvang: "van die kind se ontwaking, sy bewustheid van sy omgewing, sy bewuswording van die dood en sy seksuele drange tot die liefdestryd en die aftakeling van die ouderdom (wat by my digwerk aansluit). Ek hoop nie die verhale stem die leser neerslagtig nie. Want, soos die ou boer in een van die stories sê, daar is te veel dinge wat in ’n mens neerslag gevind het dat jy die vreugde heeltemal kan negeer.”

Pirow se skryfwerk word oor die algemeen goed ontvang en hy is al beskryf as een van die mees onderskatte digters in Afrikaans. Pieter van der Lugt skryf in Die Burger van 21 Mei 1987 oor Eskarp dat "Bekker se werk dadelik toeganklik is omdat hy met sy statige styl en taamlik tradisionele versvorm op bekende terrein is. Dit is dalk sy vaardigheid met die prosa wat sorg vir die natuurlike taalritme van elke versreël."

Joan Hambidge (Die Burger, 28 September 1993) se uitspraak oor Rasuur (1993) is dat Pirow op sy oortuigendste is in die korter, bondiger verse en dat dit ’n goeie bundel is met veel om te geniet.

Met betrekking tot Bekker se kortverhale skryf George Weideman (Die Burger, 11 Mei 1993) oor Lag byvoorbeeld (1982, 1992): "Dit is opmerklik watter wye verskeidenheid temas Pirow hanteer: onskuld van kindwees, inisiasie van die seun in ’n grootmenswêreld, verkennings van menseverhoudings en die vervreemding wat selfsug, verwerping, wraak en die gevolge van gesinsverbrokkeling meebring. Hierdie bundel bied vele uitdagings aan die fynproewer-leser."

Sy roman Die mikstuur van Mooies (1996) word deur AP Grové as volg beskryf: "’n Boeiende satire op verstokte denke in die politiek, die oorgevoeligheid en agterdog aan albei kante van die kleurlyn en die hoogheilige joernalistieke optrede en houding."

George Weideman skryf in Die Burger (21 April 2003) oor Stillerlewe (2002) dat dit ’n ryk hoogtepunt vir Bekker is: "Hy toon sedert sy debuut in bundel na bundel sy gevoeligheid vir die lewe daar buite – van die klein-menslike en die volkse en mitiese tot gebeure wat die verloop van die plaaslike aktualiteit en die tegnologie weerspieël."

Bernard Odendaal (Volksblad, 10 Maart 2003) beskou ook Stillerlewe as Pirow se beste tot op daardie stadium: "In hierdie bundel, waar hy in die aangesig van die stygende ouderdom en die naderende dood leef, word ’n beheerstheid en indringende wesenlikheid van segging bereik wat beïndruk en ontroer."

Pirow se laaste bundel, Van roes en amarant, verskyn in 2008. Volgens die uitgewers, Protea Boekhuis, is dit ’n bundel wat sterk gegrond is in die werklikheid "en die alledaagse word soms op vernuftige wyse in ’n ander lig gestel. Dit wentel om bekende temas uit sy vroeëre bundels, soos die aftakeling van die ouderdom, verknogtheid aan die aardse bestaan en die bewustheid van die dood as die groot onbekende. Daar is egter nooit sprake van selfbejammering nie, danksy sy satiriese en ironiese kyk na die werklikheid."

"Amarant" in die titel verwys volgens die HAT na ’n "kruid van die geslag Amaranthus, gekweek om sy mooi blomme", skryf Marius Crous op LitNet. In die Collins English dictionary beskryf hulle dieselfde plant as "poetic, an imaginary flower that never fades".

Crous gaan voort: "Waar roes direk gekoppel word aan verval, bederf en vernietiging, word die amarant geassosieer met onsterflikheid. Die titel suggereer dat ons in hierdie bundel met die teenstelling sterflikheid/onsterflikheid te make het. Dit word ook gerugsteun deur die motto uit die werk van Horatius voorin, waarin die roemryke dade van die mensdom ondergeskik gestel word aan die treurspel van verganklikheid en sterflikheid."

Crous sluit sy resensie op LitNet af met hierdie paragraaf: "Bekker se bundel laat hierdie 'hardlywige [leser]' met ’n gevoel van ontevredenheid: ontevredenheid, veral oor die feit dat die digter so ooglopend sy verse dikwels ondermyn met rymwoordkeuses en stellings; met onafgeronde slotte. Dikwels het ek uitroepe van 'En? Dus?' in die kantlyn geskryf. Maar, daar is ook heelwat verse in die bundel wat die teenoorgestelde reaksie ontlok het en die lees van die bundel die moeite loon."

In Die Burger van 10 November 2008 sê Louise Viljoen dat hierdie een, net soos sy vorige twee bundels, tref "omdat dit die tekstuur het van iets soos grond of grint. Dis ryk aan betekenis, spreek van ’n lewendige belangstelling in wat die aarde bied, en dra die geheue van verskillende soorte geskiedenis, lokaal en globaal. Die gedigte beloon in alle opsigte die aandagtige lees wat hulle vra."

Pirow se dogter, Anke, vertel dat van haar eerste herinneringe die ongelooflike stories is wat hy vertel het. “Hy het dikwels voor slapenstyd op die naat van sy rug op die bed gelê met een van ons kinders wat op sy maag sit. Ons kon kies waaroor die storie moes gaan, hetsy ’n miskruier en ’n olifant, ’n vink en ’n luislang, of die storie van die hondjie wat in die meerkatgat vasgesit het. Hy het met die wonderlikste stories vorendag gekom. My pa se fyn waarnemingsin en sy droë humorsin het dikwels ’n onderwerp vir bespreking met koffietyd opgelewer. (...)

"My liefde vir Afrikaans het ek by my pa gekry. Ons is van kleins af aan die letterkunde blootgestel en dit was nog nooit vir my iets hoogdrawends of bo my vuurmaakplek nie. Een van die redes daarvoor is dat ons gesin se wedervarings dikwels in ’n kortverhaal of gedig van my pa neerslag gevind het.” (Rooi Rose, 17 Junie 1992)

In 2013 verskyn Pirow Bekker se digbundel, Atlas teen die vergeetrivier, by Protea Boekhuis. Dit is die laaste deel van ’n drieluik wat voorafgegaan is deur Stillerlewe (2002) en Van roes en amarant (2008).

In ’n onderhoud met JB Roux (Netwerk24, 8 November 2013) vertel Bekker dat die bundel baie met oorgange werk, "voltooid of onvoltooid. Daar is deurgaans die spanning van uitreiking, oorbrugging hangende, die 'aard' daarvan. Die spanning word weerspieël in die afdelingstitels, in woordpare, selfs enkelwoorde.

"Van my eerste pogings af werk ek graag met meerduidigheid. Atlas is byvoorbeeld nie net die mitologiese figuur of die geologiese kaartboek nie, dis ook ’n ster en die boonste nekwerwel wat die kop laat draai. Die vergeetrivier is natuurlik die Lete waaruit die reisiger wat die wêreld verlaat, moet drink om die aarde te vergeet.

"Op algemene vlak is dit die simbool van verlopende tyd wat almaardeur dreig om die geheue weg te kalwer. Ek hoop dat elke gedig op sy eie kan staan, al reik dit uit na ander gedigte in die bundel en ook in die vorige twee bundels. Ek sien hierdie bundel saam met die genoemde twee graag as ’n drieluik. By elkeen lê die aksent egter anders."

Susan Smith skryf op Netwerk24 (19 Januarie 2014) dat daar van die satiriese gedigte in Atlas is wat hul skerpheid inboet omdat die digter ’n "volkse, byna gedwonge poësie en geykte uitdrukkings" gebruik. Maar Atlas teen die vergeetrivier is, as mens wyer kyk, tog ’n bundel wat onthou kan word. "Die leser kan met vreugde hierdie digter se 'bevoelde aarde' meemaak."

In Oktober 2016 debuteer Pirow Bekker met sy drama Die tikmasjien in Radioteater op RSG. In hierdie drama is water die fokuspunt. Die soeke daarna, almal se afhanklikheid daarvan, asook die besef van die kwaliteite waaraan water lewe gee. Met hierdie drama beskryf Bekker die verband wat daar is tussen die tikmasjien en die waterboormasjien. Die boormasjien soek water op ’n direkte manier, terwyl die tikmasjien indirek lewe gee deur die woord. Albei word deur ou werktuie gedoen - ’n klassieke Olympia-handmodel-tikmasjien en ’n Star-waterboormasjien.

Op Netwerk24 (26 Oktober 2016) word so ietsie meer oor die storie vertel. Dit is ook ’n verhaal van ’n ontluikende liefde tussen twee jongmense, "maar die liefdesdraad kan ook verknoop raak en die boor- en tikmasjiene in wapens verander. Op die wyse raak dit ’n spanningsverhaal. Die drama beweeg dus op die vlak van die realistiese, maar fantasie en ook die absurde speel daarop in - uiteindelik ’n ode aan water."

JB Roux wou weet of Pirow Bekker ’n negende bundel in sy agterkop het. Hierop het Pirow geantwoord dat Atlas die einde van ’n pad waarop hy nie verder kan gaan nie, aandui. "In die 'kopatlas' lê daar nie nou gedigte voor nie. ’n Mens hou in alle geval maar ’n pen aan, al is dit net omdat jy gewoond geraak het aan twee keer lewe." (Netwerk24, 8 November 2013)

Daar was toe inderdaad ’n negende bundel uit Pirow Bekker se pen op pad. In 2017 verskyn Voor ek my kom kry (Protea Boekhuis) en vir Joan Hambidge is die verse in die bundel ’n bevestiging van die temas in Bekker se vroeëre bundels, naamlik die spel met vorige bundels, verse wat fokus op die siekte, ouderdom en die dood wat al naderkom, die verganklikheid, nie net van die mens nie, maar van alles en ook sosiale kommentaar.

Hambidge gaan voort (Woorde wat weeg): "En hierdie bundel is ’n belangrike publikasie, omdat dit die eis van vernuwing die nek inslaan. ’n Digter hoef nie nuwe temas te ondersoek nie; of dramaties te vernuut nie. Solank daar bestendigheid is, behoort die digkuns-leser tevrede te wees. ’n Mens dink hier aan Eybers wat dieselfde temas bly ondersoek het: met groter en selfs met minder drif – maar altyd goed."

Hambidge noem dit ook ’n "ryk-geskakeerde bundel" met sy korter gedigte of punt-digte wat "uitstekend" is. Vir haar het sy die grootste leesplesier gehad aan die verse wat in gesprek tree met Leipoldt, Totius en Marais: "Vergete is die aarde nie" (p 16) wat saamgelees moet word met Totius se "Die wêreld is ons woning nie"; "Erd-af mens" waarin daar na Leipoldt gekyk word; en die "suinige digter Marais wat deur vele verse trek".

Daar is ook gedigte wat toespelings is op NP van Wyk Louw en Toon van den Heever. Hier haal René Bohnen die volgende gedig aan:

Opdrag vir ’n vroeë herfs
(Van Wyk Louw se “Vroegherfs” betrokke)

Ruim op die regop bome,
hulle wat kwansuis die winde vang,
hulle is die grondstelers, die waterputters,
sodat die sorghum verlep, die koppe hang
van kruie wat selfs ’n koggelram ’n loslyf gee.

Die witter staan is nie van witvoetjie soek:
die bas onder reeds afgestroop, ’n gat
in die stam geboor tot in die bloed,
deur dun tregters diesel ingetap – só bewerk
raak enige kalander tjop-tjop vuurmaakhout.

Julle werk vlerkloos stil in die nag, nie verlei
deur hoe die son herfs maak nie, sloop
wanneer die blare dood is, die takke droog,
en omdat die liewe aarde bloeiend moet bly,
sal hy pluimpies luisgras voor jul voete sprei.

Op Versindaba is Marlies Taljard die resensent en sy skryf as volg: "Globaal gesproke is Voor ek my kom kry ’n redelike sterk bundel wat in tematiek en tegniek aansluit by die digter se voorafgaande werk. Sterker besinning oor eindes en die dood is redelik algemeen in die werk van ouer digters. Bekker se woordrykheid en sy opsetlike omseiling van eenvoudige woorde en begrippe in ’n tegniek wat aan die raaisel herinner, doen ook in hierdie bundel (soos in voriges) soms afbreuk aan sy gedigte. So ook steur die gebrek aan duidelike denkspronge – soms is dit nie duidelik op welke wyse die uitgeborduurde beeld toeligtend ten opsigte van die stof staan nie. Ek dink hier onder andere aan die boom-beeld in die gedig 'Voortrekker ken agterna'. Tom Gouws verwys in sy resensie van ’n vorige bundel na hierdie tegnieke as 'vernufpoësie'. Daar is sekerlik heelwat gedigte in die bundel wat die illusie van spontane ontstaan skep, maar daar is te veel gedigte waarin die digter nog te duidelik aan die dig is, onder andere by wyse van te veel onsubtiele woordspelings, los en vas gebruikte vaste uitdrukkings en verklarings.

"Aan die positiewe kant van die balansstaat moet egter die digter se poëtiese bedrewenheid, sy fyn sin vir die ironie en die satire en sy kennis en ervaring van digterlike tegnieke genoem word. Bekker se kwatryne is steeds skerp soos ’n tweesnydende swaard. Wat kontraswerking betref, is hy ’n meester wat die leser soms koue rillings gee. Sy poësie word gekenmerk deur die saambestaan van teenstrydighede binne dieselfde gedig wat dui op ’n insig in die meerduidigheid en gevarieerdheid van die lewe wat min ander digters in Afrikaans beskore is."

In ’n onderhoud met René Bohnen op Versindaba verwys sy na die humor in Pirow Bekker se bundels. Sy wou weet of hy dit doelbewus gebruik en of dit ’n "lewensperspektief is wat hy maklik in sy poësie aanwend". Bekker antwoord dat die ironie en satire in sy verse spontaan ontstaan en was dit eienskappe wat reeds vroeg in sy werk te bespeur was. ’n Resensent wat Stiebeuel 2 bespreek het ("Peins oor ’n plakkaat" het daarin verskyn), het reeds gepraat van die "siniese en lughartige met die kritiese ook in die konglomeraat".

Publikasies:

Publikasie

Die kwatryn as digvorm: ’n stilistiese studie

Publikasiedatum

[1962]

ISBN

(hb)

Uitgewer

Bloemfontein” P.J. Bekker

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die klip sing

Publikasiedatum

1965

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die titel in die poësie

Publikasiedatum

1970

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Doktorale tesis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die kwatryn

Publikasiedatum

1974

ISBN

0949964301 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Academica

Literêre vorm

Literêre kritiek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Toekomstige betrekkinge

Publikasiedatum

1975

ISBN

0624007758 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die liefdeskronieke van Basilika

Publikasiedatum

1975

ISBN

090923115X (hb)

Uitgewer

Bethlehem: Op Safari

Literêre vorm

Prosa

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die peerboom en ander verhale

Publikasiedatum

  • 1975
  • 1978
  • 1979
  • 1980
  • 1982
  • 1984
  • 1985
  • 1986
  • 1987

ISBN

  • 0624006824 (hb)
  • 0624012107 (hb)
  • 0624021459 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Hadihie hadida

Publikasiedatum

1977

ISBN

079810726 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderpoësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Vangs

Publikasiedatum

  • 1977
  • 1991

ISBN

  • 0628011725 (hb)
  • 0624029646 (sb)

Uitgewer

  • Johannesburg: Perskor
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die sentrum

Publikasiedatum

  • 1977
  • 1978

ISBN

  • 0624009807 (hb)
  • 0624012131 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Definisies deur die bloed

Publikasiedatum

1978

ISBN

0624011267 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Manna kommering: veldtogte om ’n stem liederlik verdraai deur inmenginge en onthoudinge

Publikasiedatum

1980

ISBN

0624013995 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Trap sag terwyl jy hardloop

Publikasiedatum

1981

ISBN

0624016072 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Lag byvoorbeeld

Publikasiedatum

  • 1982
  • 1983
  • 1992

ISBN

  • 0624030377 (sb)
  • 0624016072 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Witsalpeter: ’n ridderroman

Publikasiedatum

1983

ISBN

0624022749 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Voordat berge gebore word

Publikasiedatum

1985

ISBN

0624021300 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Eskarp

Publikasiedatum

1987

ISBN

0624023966 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Rasuur

Publikasiedatum

1993

ISBN

0624032019 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Stillerlewe

Publikasiedatum

2002

ISBN

1919825967 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die mikstuur van Mooies

Publikasiedatum

1996

ISBN

0624035085 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Toorop-stories

Publikasiedatum

2005

ISBN

0799334421 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Van roes en amarant

Publikasiedatum

2008

ISBN

97819192587 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Atlas teen die vergeetrivier

Publikasiedatum

2013

ISBN

9781485300090 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Voor ek my kom kry

Publikasiedatum

2017

ISBN

9781485306481 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Pirow Bekker as samesteller

  • Digters op die toring: ’n keuse uit die werk van die Twintigers ; saam met H.J. Schutte. Pretoria: Van Schaik, 1970, 1976 [ISBN 0627004083 (hb)]
  • Om laaste te kan lag: verhaalbundel. Kaapstad: Tafelberg, 1984, 1985, 1986, 1987,1988 [ISBN 0624020746 (sb)]

Artikels oor Pirow Bekker beskikbaar op die internet

Gedig deur Pirow Bekker

 

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top