Atlas teen die Vergeetrivier deur Pirow Bekker

  • 0

Title: Atlas teen die Vergeetrivier
Author: Pirow Bekker
Publisher: Protea
ISBN: 9781485300212

 

Koop Atlas teen die Vergeetrivier van Kalahari.com.

Atlas teen die vergeetrivier is ’n bundel wat verse met verskeie temas en heelwat interpretasiemoontlikhede bevat. Dit word reeds duidelik met die leser se eerste oogopslag van die buiteblad, wat ’n uitbeelding van ’n planeet is, asook die bundeltitel. “Atlas” verwys nie net na die mitologiese figuur wat die wêreld se lading op sy skouers moes dra nie. Dit kan ook dui op ’n kaart met paaie wat vir die “ou reisiger” (die digter self) aandui watter weg hy moet volg, soos in die gedig “Die pad is ’n pad is” (81). In die konteks van die bundel is die ouerwordingsproses (met tye) vir die spreker lastig – veral as hy begin om sekere dinge te vergeet (107: “Waar was ons nog laas gewees?”). Hy gaan dus gebuk onder die las van die jare. ’n Las is ook ’n verbindingstuk wat die oorbrugging van twee wêrelde (die “Welbekende” aarde en die “Onbekende” lewe na die dood) impliseer.

Die spreker in “Toekomende verlede” poog om die vergeetrivier, of vergetelheid, met behulp van ’n brug oor te steek. Die leser behoort van die tydsaspek bewus te wees, aangesien die spreker “deur tye reis” (111): die hede (die oomblik wat die mens op aarde is) en die toekoms (die afsterwe van die mens as hy/sy “die anderkant se ewigheid” betree). Daar is gedurig ’n tydspel tussen begin en einde, verlede en toekoms: “Die vraag se tyd het uitgeloop:/ Die eendag het gekom, gegaan,/ en weer gekom en weer gegaan/ en weer en weer en nou finaal/ gegaan” (18). In ’n vers soos “Om oud te gaan” (99) word die woord “gaan” in plaas van “word” gebruik. Die grens tussen die lewe en dood vervaag dus, soos wat die mens nader aan sy/haar dood beweeg.

Die bundel bevat ’n inleidende vers, gevolg deur ses afdelings: “Die aard van brûe”, “Verbrande hebbelikhede”, “Lyfdrif”, “Die wêreld het nog te veel oor jou”, “Ruigtelied” en “Vlugbrug”. Die hooftemas in die bundel, wat deels afgelei kan word uit die afdelingtitels, is: die mens se verganklikheid- en die doodsbesef; die hiernamaals; die ewige lewe; liggaamlikheid: liefde en hartstog; en ouers se verlange na hul kinders wat ver is.

Die ouerwordende, nietige mens en die verganklikheidsbesef wat daarmee gepaard gaan, word as natuurlike proses beskryf op bladsy 79: “Mooi is die lewe en die dood is/ asembenewend”. “Skuifmeul” (50-52) is ’n satiriese vers, waarin daar oor die mens se sterflikheid genoem word dat “Wat nie doodmaak nie, maak sterk/ en wat nie sterk maak nie,/ maak vetweet slim.” Dit gaan in Atlas teen die vergeetrivier nie soseer oor die finaliteit van die dood (die “fiasko-slot”) nie, maar oor “die volhou van die stryd teen die totnietmaker” (102). Dit gaan met ander woorde oor die doodsbesef en ’n bewustheid van ’n ewige lewe na die dood. Die gebruik van jeugdige sprokies en FAK-kindergesange en -sêgoed word as intertekste gebruik en binêr teenoor die ouerwordende liggaam met “huiwerende hande” en “skuifelende voete” geplaas. Daar word byvoorbeeld na Sneeuwitjie en die sewe dwergies en die prinses en die paddaprins verwys, asook na die liedjie “Kinders moenie met die water mors nie” en “die apie voor jou ma se agterdeur”.   

Die verse “Oorbrugging” (70), “Oorgang” (76), “Om ’n trae weg te brug” (90) en “Vlugbrug” (110-1) sluit aan by die vorige tema van die doodsbesef. Die brugmotief word gebruik om “wat wyd geaard was, nou die groot Onbekende in te dof” (111). Om die hooftema van die grensoorskryding tussen hierdie wêreld en die ewigheid te beklemtoon, verskyn “Vlugbrug” as slotvers in die bundel. Die brug wat die mens na die ewige lewe oorsteek, is duidelik religieus – vandaar ook die vele ander religieuse verwysings, onder meer: “Jesus wat ter helle neergedaal het” (11); “Daaglikse brood bly gebedsbelangrik” (39); “Adamsappel” (55); “Adam ek en Eva jy” (70); “boggelrugkameel/ deur jou naald se oog laat dring” en “Beloofde land” (72); “my-moses-in-die-mandjie” (73); “Isak op pad na Moría” (82); “... gepantserde Goliat plat te maak/ swaai jy dié spoelklip” (83); en “’n Jona-vis” (100).

Die tema van liefde en hartstog en die menslikheid van die liggaam se drifte kom ook sterk in die bundel na vore. In “Oor die uur van die donker dors” (63-4) word daar intertekstueel na NP Van Wyk Louw se “Ballade van die nagtelike ure” verwys.  In Pirow Bekker se erotiese vers word die liefde as vloeibaar beskryf, terwyl die brugmotief ’n metafoor word vir ’n vrou se liggaam (“wydsbeenstad bruggimnas”, 64). In “Verby die aarde se toedoen” (75) word die liefdestema en die tema van verganklikheid vervleg:

Op die ou end is ons die wêreld in, my lief,
sy smal genade sou ons nog bedroë laat:
Ons moes hom in die krop leer kyk
en verby na wat hy vrysinnig bied.
Dus het ons ons na sy aard geskik
en hy het goed en gul met ons geraak.      

’n Laaste belangrike aktuele tema in die bundel is ouers se verlange na hul kinders wat ver van hulle af (in die vreemde) is: “Te vroeg is die wêreld/ wat hy liefhet, ingewentel/ tussen hom en sy eersgebore seun” (107). Binne die konteks van die bundel met die inagneming van die ouerwordingsproses en die doodsbesef wat daarmee gepaard gaan, word die afstand tussen ouer en kind beklemtoon. Dit gaan dus daaroor dat die “bloedhondneus van die ouderdom” die mens mettertyd begin inhaal en dat die tyd wat ouers het om met hul kinders deur te bring, verminder en juis daarom so kosbaar is: “Onmoontlik kan hy dit verhelp/ om reikhalsend uit te sien/ na die koms van sy seun/ wat die tuisland moet deurreis/ vir toetse op pasiënte wêreldwyd” (107).

Atlas teen die vergeetrivier is ’n voortreflike bundel wat van ware digterskap getuig. Die fyn sintuiglike waarnemings van die natuur en ervarings word op ’n beeldryke, toeganklike en realistiese wyse aan die leser oorgedra. Die bundel bevat heelwat antieke en/of mitologiese verwysings (byvoorbeeld Hades, Babeloniërs, Grieke, Romeine, Stoïsyns, Titaan, Atlas, Eufraat, Mars, Juvenalis) en intertekste met ander Afrikaanse digters (soos Van Wyk Louw se “Ballade van die nagtelike ure” (63) en Malherbe se “Wat is die slaap, ’n wondersoete ding” (104)). Dus word daar van die leser verwag om oor ’n redelike agtergrondkennis van laasgenoemde aspekte te beskik. Die besef “Wat as my voetpad/ op ’n dag geepad?” (81) word by die leser gelaat om hom/haar verder oor dié tema te laat dink.


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.
 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top