Om te kleef aan die amarant: Pirow Bekker se Van roes en amarant

  • 0

Pirow Bekker: Van roes en amarant
Protea Boekhuis (2008)
ISBN: 978 1 86919 258 7
Slapband, 115 bladsye

Pirow Bekker debuteer in 1965 as digter met Die klip sing, wat opgevolg word deur Toekomstige betrekkinge (1975), Definisies deur die bloed (1978), Eskarp (1987), Rasuur (1983) en Stillerlewe (2002). Daarbenewens is hy ook bekend as prosateur en dramaturg met onder meer etlike kortverhaalbundels en romans uit sy pen.

In sy bespreking oor die Afrikaanse poësie (1998-2003) wys Bernard Odendaal (2006:123) dat Pirow Bekker een van die eksponente van sogenaamde ouderdomspoësie in Afrikaans is en dat die "skadu's van siekte en sterflikheid" kenmerkend is van hierdie tipe verse. So meen hy dat Bekker in byvoorbeeld die bundel Stillerlewe die bejaardheidsproblematiek as vertrekpunt neem.1

Soos die titel van die bundel onder bespreking aantoon, het ons hier met onderskeidelik roes en amarant te make. Laasgenoemde verwys volgens HAT na "die kruid van die geslag Amaranthus, gekweek om sy mooi blomme". Interessant dat Collins English Dictionary dieselfde plant onder meer soos volg beskryf: "Poetic, an imaginary flower that never fades." Waar roes direk gekoppel word aan verval, bederf en vernietiging, word die amarant geassosieer met onsterflikheid. Die titel suggereer dat ons in hierdie bundel met die teenstelling sterflikheid/onsterflikheid te make het. Dit word ook gerugsteun deur die motto uit die werk van Horatius voorin, waarin die roemryke dade van die mensdom ondergeskik gestel word aan die treurspel van verganklikheid en sterflikheid.

Bekker se bundel word in sewe afdelings verdeel en elkeen word as titel ‘n bepaalde infinitiefkonstruksie gegee, naamlik "Om doodgewoon te lewe", "Om af te hemel", "Om te weet", "Om aan te pas", "Om te hart", "Om met woorde uit te gaan" en "Om tans aan te neem". Hieruit kan mens reeds aflei waaroor elke afdeling min of meer handel, byvoorbeeld die lewe, kennis, die liefde, die digkuns - almal deurlopende temas wat in die bundel verken word.

In die eerste afdeling word gedig oor klein insekte en oor figure soos die tjellis Jaqueline du Pré, en word die alledaagsheid van die bestaan op aarde verwoord. In ‘n gedig soos "Doodgewoon uitgedruk" word reeds na die dood verwys en op verfrissende wyse word die Egiptiese opvatting van die dood as synde "ekskreta van die hart" (15) verwoord. Problematies is die feit dat van die gedigte in hierdie afdeling, soos byvoorbeeld "Muskiet" (21), vol vaart wegtrek, maar teen die slot is die gedig minder geslaagd en word die res van die gedig heeltemal bederf. Reeds in hierdie afdeling word een van die probleme van die versameling in die geheel aangeraak, naamlik dat die digter so ingestem is op die ritme en die rym dat die soeke na die juiste rymwoord dikwels in rymdwangerigheid ontaard. Hoe selfondermynend is die volgende reël uit "Waarsê" (97) nie: "kom gryp na die stafrym vir gedugter steun".

Die tweede afdeling met sy buitengewone titel (ons ken immers "ophemel") open met 'n gedig oor die Sistynse kapel (32) en daar word verwys na die hemel wat neerdaal vanuit die koepel. Daar is ook 'n gedig oor Adam, die oervader wat die wêreld "rou ervaar [het]" (33), asook die ongelowige Thomas (34). Vernuftig word ook in hierdie afdeling die hemelliggame en die natuur betrek om kommentaar te lewer op die sterflikheid van die mensdom wat, ten spyte van "'n skeppingsknal", nou tevrede moet wees met "roes en dopluiskorse" (35). ‘n Gedig soos "Voortgesette sprokie van die koei wat vlieg" (36) kon maar uitgelaat gewees het.

‘n Gedig soos "Die omte van weet" (55) in die derde afdeling illustreer ook ‘n verdere problematiek in van die verse in Bekker se bundel. Die gedigte steek dikwels vas in die een of ander vorm van stellerigheid en sodoende word die beeldrykheid in die res van die vers heeltemal oorskadu. ‘n Kort gediggie soos "Karoo" (57) is besonder treffend in sy eenvoudige inslag, terwyl "Visie" (63) lees soos ‘n bekende deuntjie op ‘n ou tema.

In die vierde afdeling, "Om aan te pas", word verse aangetref oor mense wat moet aanpas by veranderende omstandighede, soos byvoorbeeld die plaasboer wat terugkeer uit die hospitaal (77). Of ‘n gedig soos "Lyfkaart" (72) goed deurdink is, twyfel ek sterk, want ten spyte van die inkanterende inslag slaag die gedig nie.

"Om te hart" handel, soos die titel suggereer, oor die liefde teenoor die naaste. "Gerrit Achterberg val terug" (81) speel in op bekende Afrikaanse liedjies en betrek sodoende die tragiese lewensverhaal van dié bekende Nederlandse digter. Hoe wrang is die einde nie: "Wanneer kom ons troudag, Gertjie,/ hoe is dit dan so stil met jou?" (81). Of, aansluitend hierby, die storie van Orfeus (82) wat so baie met sy lied kon vermag.

"Om met woorde uit te gaan" handel nie net oor die digterskap nie, maar betrek ook die nosie van verganklikheid en die uitvaartswoord. In "Skrywersblok" (96) word juis besin oor die "alleenmandaat/ van die pen op papier". Die spreker in "Woordmens" (98) praat van homself as 'n "pennelekkerbekker", wat op sy eie manier met die woord en die lewe omgegaan het. "Anatomie van 'n miskenning" (99) handel oor die miskenning van die digter Toon van den Heever en daar word die draak gesteek met onder meer "'n hardlywige keurder" wat nie Van den Heever se werk na waarde kon skat nie. In skrille kontras met die res van die bundel word daar in "Die markies De Sade in die Bastille" (102) verwys na die "gutsende orgasmes" wat deur die markies ervaar is terwyl hy die blaaie gevul het met sy skunnige skryfsels. Die gedig lewer ook kommentaar op die skyn wat kenmerkend is van diegene wat hom veroordeel het.

Die slotafdeling bring ons nader aan die besinning oor die dood en die sterflikheid van die mens, aangesien die "aftel vir die narkosenaald" (105) reeds begin het. In "My testament" (114) word die motto van die bundel ook weer betrek: "Hoe hoog jy ook al draf op stilet en toon,/ die treurspel span nog steeds die kroon." Tog, merk die spreker op: "Treurspele is nie deel van my nalatenskap nie" (114). Suggereer die slotvers nie dalk ook aanvaarding van eie lot en die huidige bestaan voor die naderende dood nie?

Bekker se bundel laat hierdie "hardlywige [leser]" met 'n gevoel van ontevredenheid: ontevredenheid, veral oor die feit dat die digter so ooglopend sy verse dikwels ondermyn met rymwoordkeuses en stellings; met onafgeronde slotte. Dikwels het ek uitroepe van "En? Dus?" in die kantlyn geskryf. Maar, daar is ook heelwat verse in die bundel wat die teenoorgestelde reaksie ontlok het en die lees van die bundel die moeite loon.

1 Odendaal, Bernard. 2006. Tendense in die Afrikaanse poësie in die tydperk 1998 tot 2003; opgeneem in Van Coller, HP (red). Perspektief en profiel, Deel 3:105-48.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top