FMR-resensie: Aan die deur van die wis en die onwis deur Pirow Bekker

  • 0

Titel: Aan die deur van die wis en die onwis
Outeur: Pirow Bekker
Uitgewer: Imprimatur
ISBN: 9780620810890

Hierdie resensie is op 20 Junie 2019 in Boekkeuse olv Amanda Botha uitgesaai.

Pirow Bekker se bundel kortverhale Aan die deur van die wis en die onwis het verlede jaar by ’n relatief nuwe uitgewery, Imprimatur, in Pretoria verskyn.

Pirow Bekker het sedert die jare sestig ’n omvangryke bydrae gelewer tot die Afrikaanse letterkunde: drie verhandelings oor letterkunde; vier romans; sewe kortverhaalbundels en 10 digbundels. ’n Uitstekende oorsig oor sy lewe en werk deur Erika Terblanche is op LitNet beskikbaar.

In Aan die deur van die wis en die onwis word tekste versamel wat vantevore in tydskrifte en ander bloemlesings verskyn het.

Ek begin by die problematiese aangeleenthede en sluit af met lof. 

My eerste klag het te doen met die slot van ’n teks. In sekere tekste vind ek dit moeilik om gou die intrige te snap. Dis of daar nie genoeg sleutels gegee word nie. Maar ander lesers sal weer daarvan hou om te redeneer en sake uit te sorteer. Of ek het waardering vir die inhoud, maar dan is die eindes te duister of dit raak my nie juis emosioneel nie. Dit is byvoorbeeld die eindes van “Die liefde bedek alles” (bl 29), “Die wenduif” (bl 32), “Die appel” (bl 35) en “Mossie maar man”(bl 91). “Die plengoffer” (bl 36) het juis ’n ongewone aanloop. Hoe pa Theuns sy dogter Ester se vryer, Piet Pikster, in die skaapkraal toets of hy haar en die plaas werd is. Pa Theuns reël ’n heel anderse soort ramparty. Maar hoe moet ’n mens die slot interpreteer?

In “Die tyding” (bl 94) gaan dit om die kleinseun wat vir sy ouma ’n ongewone doodstyding moet oordra. Dit verloop boeiend, maar die slot se betekenis resoneer nie en is nie dadelik helder nie.

“Die tas” (bl. 95) bied ’n meevoerende insig in die gemoed van ’n meisietjie, die dogter van ’n huishulp, tydens haar eerste dag by ’n nuwe skool. Wat sy dink en doen tussen die ander rasse. Dis so uitstekend beskryf, maar die slot herinner aan die letterkundige Marius Crous se opmerking in ’n bespreking van sekere gedigte in ’n Pirow Bekker-bundel. Crous wil aan die einde van ’n gedig vra: “En? Dus ... ?” (Sien LitNet: “Skrywersprofiel”.)

’n Volgende hebbelikheid is ’n drukkunsprobleem wat deesdae nogal dikwels voorkom: oneweredige spasies tussen woorde. Dis asof die spasies uitgerek word en dan weer kleiner of normaal gedruk word. In hierdie bundel kom dit veral bo aan ’n bladsy en dan weer onderaan voor. Soos in “Die liefde bedek alles” (bl 23); “Die appel” (bl 39) en “Mossie maar man” (bl 90). In “Aanbod van die bose” kom dit vier maal voor (bladsye 44, 45, 48, 50) en in “Die rooi rusbank’’ vyf maal (bladsye 51, 52, 54, 59, 61).

Foute met leestekens kom voor in “Die muis” (bl 80) en “Gholf” (bl 83) en met paragraafbou in “Mossie maar man” (bl. 89).

Ek kom by nog verdienstelikhede. Verskeie gedeeltes is stilisties voortreflik. Ek gee ’n paar voorbeelde: in “Die liefde het nie ’n wysvinger nie” (bl 12) het die man “ ’n verditste sterk hand nogal, maar trou is nie kneukels kraak nie”. ’n Ent verder: “Trou kom soos ’n raapwind. Voor jy jou kom kry is jy gekardoes. Wat die raapwind kardoes, kan die stormwind konfoes.”

In “Die liefde bedek alles” (bl 27): “Selfs die verwoestende westerson het op daardie oomblik vriendelik gelyk.”

In “Die appel” (bl 33): Op die rugbypawiljoen sit die mense “die eerste ruk ineengekrimp en wag dat die son die oorhand oor die kil grond kry”.

In “Die rooi rusbank” (bl 56 ): “sy begin aanstap die geil gannaveld in”. Maar die perspektiefwisselinge bemoeilik dit vir die leser om die intrige te volg.

In “Die Humber-waterkar” (bl 67): “Hoe meer hulle die skuldgevoel met tiermelk wil verdrink, hoe hoër tier die skuld.” Op bladsy 68 staan: “Sarel wat ’n ou vendusievlieg is ...”

In “Waar ’n mens hoort” (bl 74) speel ’n eierkoker ’n vreemde, maar belangrike rol. Hieruit nog iets om aan te haal, iets eintlik humoristies. Dit gaan om ’n “wisselbeker wat toegeken is aan die beste pluksel volstruisvere doer in die tyd toe die modegier volstruise hoog laat trap het.” Uit “Die tyding” (bl 93): “Ouma staan voor die wastafel. Op die wit marmerblad blink poeletjies water of hy vet gesmeer is.”

In die slotafdeling sonder ek “Die agterryer weet te vertel” uit. Die jeugdige ek-verteller gesels met oompie Stoffel, die agterryer van generaal Krisjan de Wet. Hy wil graag iets gepubliseer kry. Dalk sal hy hierdie keer ’n geslaagde ware verhaal kan voorlê aan die Volksblad . Die agterryer is in hierdie tyd na die Anglo-Boereoorlog ’n alleenloper wat op Suidoostebank as waterleier werk. Vir die voornemende joernalis/skrywer lê die hele vertelling waterpas. Hy moet net die ou man se storie woord vir woord in sy notaboekie neerpen. Die agterryer se vertelling begin toe sy pa weggeloop het toe hy nog ’n “piekanien” was. Die titel van die verhaal “Die agteryer weet te vertel” word wonderlik gaandeweg geaktiveer: Dit is ’n uitdrukking “weet te vertel “ waardeur die aanhoorder effens twyfel te kenne gee. Blykbaar weet die spreker waarvan hy praat, maar verswyg of verdraai hy nie ook dinge nie? Ervarings van die Anglo-Boereoorlog word boeiend opgeroep. Vergelyk bv wat generaal De Wet alles met sy wit perd uitgerig kry en wat die agterryer se aandeel is. Hoe was hulle verhouding? Die kortverhaal eindig wonderlik suggestieryk en evokatief.

Daar is 'n paar verhale met 'n erotiese element, byvoorbeeld in “Die wenduif” (bl 31). Mynie het iets wat manne se aandag trek: ’n paar goed geplaaste sonsproete. Menige lid van die Duiweboerunie “sou al sy vlieggeheime wou gee om die spoor van daardie sonsproete verder te volg”. In “Die appel” kom ons te wete hoe Pratley Polisher iets ongewoon geword het. Manne kan dalk by hom leer. Pratley Polisher is ’n “pawiljoenvryer”.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top